PSALMS 13
Hoe
lank nog, Here?
1Vir die koorleier. 'n Psalm
van Dawid.
2Hoe lank gaan U my nog bly
vergeet, Here?
Vir
altyd?
Hoe
lank gaan U nog van my af weg kyk?
3Hoe lank moet ek nog my eie
planne maak
en
my dae met kommer deurbring?
Hoe
lank sal die vyand my nog oorheers?
4Luister tog en antwoord my,
Here my God!
Gee
my tog nuwe lewenskrag.
Ek
wil nie sterwe nie,
5anders sê my vyand hy het my
oorwin
en
juig my verdrukkers oor my ondergang.
6Ek hou vas aan u troue liefde,
oor
die uitkoms wat U gee, juig my hart.
Ek
wil sing tot eer van die Here,
omdat
Hy aan my goed gedoen het.
Inleiding
Hoe lank nog HERE? Dis die noodroep
van gelowiges oor al die eeue heen. Hoe lank gaan U ons vergeet Here? Hoe lank
moet ons nog swaarkry in hierdie lewe? Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms
gee?
In hierdie Psalm hoor ons ’n dringende
roep na verlossing en dit is iets waarmee ons kan identifiseer. In hierdie
Psalm hoor ons hoe Dawid sy nood na die Here toe bring. Ons weet nie presies
wat die omstandighede was waarin Dawid verkeer het toe hy hierdie Psalm gedig
het nie. Uit Dawid se geskiedenis weet ons wel dat hy tye in sy lewe beleef het
waar hy onder erge vervolging gely het waar sy lewe in gevaar was. Dink maar
aan die tyd toe hy as jongman vir sy lewe moes vlug toe koning Saul hom wou
doodmaak of die tyd toe sy eie seun Absolom hom van die troon wou afsit om in
sy plek koning te word.
In die Psalm self kry ons nie ’n
aanduiding in watter van hierdie omstandighede Dawid in verkeer het nie. Wat
wel duidelik is, is dat Dawid in ’n erge sielewroeging was toe hy hierdie Psalm
geskryf het. Daarin sien ons hoe Dawid vorder vanaf wanhopige vrae na angstige
versoeke tot by lofprysing en vertroue in die Here se liefde. Dawid se pad uit
wanhoop deur gebed tot vertroue in die Here se liefde gee vir ons ook troos en
hoop wanneer die stampe en die stote van die lewe ons moedeloos maak. Hierin
sien ons hoe die Here se troue verbondsliefde ons optel wanneer ons wanhoop
verval. In hierdie Psalm sien ons dat ons, ons nood na die Here toe mag bring.
Ons mag vir uitkoms vra en ons sien dat ons op die Here se troue verbondsliefde
kan vertrou.
Bring jou nood na die Here toe
Hierdie Psalm begin by wanhoop. Vier
keer vra Dawid die vraag “Hoe lank nog?”
s Hoe lank gaan
U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd?
s Hoe lank gaan
U nog van my af weg kyk?
s Hoe lank moet
ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring?
s Hoe lank sal
die vyand my nog oorheers?
Die viervoudige herhaling van die
vraag wys vir ons sy intense lyding. Hierin sien ons ook dat hierdie lyding
baie meer is as die fisiese omstandighede wat daartoe aanleiding gegee het. Dit
is ’n absolute sielewroeging waarin Dawid verkeer. Dit voel vir hom of die Here
van hom vergeet het en dat Hy nie Dawid se ellende raaksien nie. Dit voel vir
hom of hy alleen staan in hierdie stryd en dat hy absoluut op homself aangewese
is. Hy is op daardie punt dat hy net nie meer weet watter kant toe.
In hierdie worstelstryd van Dawid is
daar vir ons geweldig baie troos. Wanneer dit voel of die lewe vir ons te veel
word, dan mag ons, ons lot teenoor die Here bekla. Hier sien ons hoe Dawid wat
een van die groot geloofshelde in die Bybel is na die Here toe kom met sy nood.
Hiermee sê die Here vir ons: “jy mag na My toe kom wanneer die lewe vir jou te
veel word.” Ons mag na die Here toe kom en vir Hom sê: “Here ek kan nie meer
nie. Ek sien nie meer kans nie!” Wanneer die lewe te veel word, bring jou nood
na die Here toe.
Vra vir uitkoms
Dawid het sy nood na die Here toe
gebring en daarmee saam het hy die Here gesmeek om uitkoms te gee. Hy bring ’n
dringende pleidooi na die HERE toe:
Luister
tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe
nie, anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers oor my
ondergang.
Te midde van sy diepste vertwyfeling
roep Dawid angstig tot Here vir uitkoms. As sy vyand oorwin, dan oorwin die
boosheid die goeie en dan is alles verlore.
Soms is dit nodig dat ons tot die
besef gebring moet word dat die enigste werklike uitkoms alleen by God te vinde
is. In hierdie situasie besef Dawid dat daar alleen by die Here uitkoms is en
daarom sy dringende gebed dat die HERE hom moet antwoord. Hy kan nie meer nie
en daarom vra hy dat die HERE vir nuwe lewenskrag gee.
Wanneer dit met ons goed gaan dan
vergeet ons so maklik dat dit maar alleen die HERE se genade is wat ons staande
laat bly. As dit met my goedgaan dan dink ek maklik dat ek nie die HERE nodig
het nie. Soms is dit nodig dat ’n krisis in my lewe my tot die besef moet bring
dat dit net God is wat my hierdeur kan dra. Wanneer dit goed gaan plaas ons so
maklik ons vertroue in ander dinge en nie op die HERE nie. Daarom moet ons weet
dat ons in die goeie tye en die slegte tye alleen op die HERE moet vertrou.
Die krisisse in ons lewens help ons om
te besef dat ons in goeie en slegte tye alleen op Hom moet vertrou. Wanneer die
lewe te veel word mag ons, ons nood na die Here toe bring en ons mag vir
uitkoms vra. Dit sal ons by die punt bring waar ons die HERE kan loof en prys
uit dankbaarheid vir sy troue verbondliefde.
Vertrou op die HERE se troue verbondsliefde
Die Psalm se einde verskil radikaal
van sy begin. Dawid se wanhoop het verander in ’n loflied van dankbaarheid
omdat hy nou God se liefde raaksien. In Ps. 13v6 hoor ons:
Ek
hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil
sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.
Dawid se vertroue staan op die HERE se
troue verbondsliefde. Hierin sien ons die liefdevolle karakter van God raak. Hy
kan ons nie laat gaan nie omdat dit teen sy natuur sou wees om dit te doen.
God het Homself voorgeneem om sy
liefde aan ons te gee. Daardie liefde sien ons raak in sy handelinge deur al
die eeue heen. Nadat Adam en Eva teen Hom gerebelleer het, het Hy steeds in
liefde na hulle toe uitgereik. Uit sy liefde het Hy ’n ewige verbond met
Abraham aangegaan. “Ek sal vir jou ’n God wees en jy en jou nageslag moet My
dien.” Daardie verbond het Hy weer met Abraham se nageslag bevestig by Sinai.
Hy het aan Dawid belowe dat een uit Dawid se nageslag vir ewig Koning sal wees.
Dit is hierdie troue verbondsliefde wat Dawid deur sy krisis gedra het.
Die belofte van ’n ewige Koning het in
Jesus Christus vir ons waar geword. In sy diepste nood het Jesus Christus in
bange Godverlatenheid uitgeroep:
“Eloï,
Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?
(Mat 15v34)
Hy het dit gedoen sodat ons kan weet
dat ons selfs in ons diepste krisis en nood nooit alleen sal wees nie, omdat
God daar by ons is. Deur ons diepste nood en krisisse dra God se liefde ons,
daardie liefde wat Hy vir ons in Jesus Christus aan die kruis bewys het. Wanneer
ons na die kruis kyk, dan weet ons dat ons op die HERE se troue verbondsliefde
kan vertrou.
Samevatting
Wanneer ons in nood verkeer moet ons
nie die fout maak om ons blind te staar teen die omstandighede nie. Ons moet
ons krisisse sien teen die wyer agtergrond van God se liefdesdade teenoor ons.
God se liefde wat ons so duidelik sien teen die agtergrond van die kruisgebeure
beteken nie dat ons nooit in ’n krisis sal beland nie. Dit beteken wel dat
wanneer ons daarin beland dat sy troue verbondsliefde ons daardeur dra.
Wanneer ons dus in ’n krisis beland
moet ons weet dat ons, ons nood voor die HERE se voete mag kom neerlê. Ons mag
vir Hom vra om uitkoms te gee en ons moet weet dat sy liefde ons daardeur sal
dra net soos Hy ons in die verlede gedra het. Hou dus vas aan die wete dat Die
HERE se troue verbondsliefde dra ons wanneer moedeloosheid ons oorweldig.
Amen

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking