2 Kor. 1 v 8 - 9
Ons wil
hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie
Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte
gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. Trouens, dit
het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit
het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die
dooies opwek tot die lewe.
Die Here laat soms toe dat daar dinge oor jou pad
kom wat bitter swaar en moeilik is. Dan maak ons dikwels die fout om ons broers
en susters wat daardeur gaan te troos met die woorde: “Staan net sterk, die
Here sal nie toelaat dat jy bo jou kragte beproef word nie!”
Dis ongelukkig 'n leë troostelose boodskap waarin
geen waarheid steek nie, want ons hoor juis in 2 Kor. 1 v 8 dat die Here soms
toelaat dat daar swaarkry oor jou pad kom wat ver bo jou kragte gaan. Toe dit
met Paulus gebeur het, was dit erg genoeg dat hulle selfs, hul hoop om te bly
lewe laat vaar het.
Maar wat dan van 1 Kor. 10 v 13 waar ons hoor: “God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle
bo julle kragte versoek word nie.” Let mooi op waarvan die Here hier praat.
Hy praat nie hier van tragiese omstandighede wat swaarkry, verlies, pyn en lyding
meebring nie.
Dit gaan hier oor versoeking en self dissipline
waar die Here jou op grond van die nuwe lewe in Christus wat jy as Christin
ontvang het dit vir jou moontlik maak om teen versoeking te stry in die krag
van Christus.
Wanneer dit by swaarkry kom laat die Here egter
soms toe dat daar dinge oor jou pad kom wat meer is as wat jy kan hanteer soos
ons ook gehoor het in 2 Kor. 1 v 8 & 9. Die troos wat die Here vir ons hier
gee is dat wanneer dit gebeur, Hy jou nie alleen laat nie. Wanneer die lewe te
veel raak, moenie op jou eie krag staatmaak nie, want dit sal te veel wees vir
jou.
Soek jou krag by God wat dooies opwek om te lewe.
Christus is eenmaal op die kruis deur God verlaat sodat ons nooit weer deur God
verlaat sal word nie. Hy het die dood oorwin sodat ons die reg het om tot God
te nader wanneer die lewe te veel word.
Wanneer die lewe te veel word, kom na jou Vader
toe. Hy sal jou nie alleen laat nie. Hy sal jou dra wanneer jyself nie meer kan
nie.
Amen

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking