Wys tans plasings met die etiket redding. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket redding. Wys alle plasings

31 Mei 2026

Die HERE se troue verbondsliefde dra ons wanneer moedeloosheid ons oorweldig


 PSALMS 13

Hoe lank nog, Here?

1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.

2Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here?

Vir altyd?

Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?

3Hoe lank moet ek nog my eie planne maak

en my dae met kommer deurbring?

Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?

4Luister tog en antwoord my, Here my God!

Gee my tog nuwe lewenskrag.

Ek wil nie sterwe nie,

5anders sê my vyand hy het my oorwin

en juig my verdrukkers oor my ondergang.

6Ek hou vas aan u troue liefde,

oor die uitkoms wat U gee, juig my hart.

Ek wil sing tot eer van die Here,

omdat Hy aan my goed gedoen het.

Inleiding

Hoe lank nog HERE? Dis die noodroep van gelowiges oor al die eeue heen. Hoe lank gaan U ons vergeet Here? Hoe lank moet ons nog swaarkry in hierdie lewe? Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee?

In hierdie Psalm hoor ons ’n dringende roep na verlossing en dit is iets waarmee ons kan identifiseer. In hierdie Psalm hoor ons hoe Dawid sy nood na die Here toe bring. Ons weet nie presies wat die omstandighede was waarin Dawid verkeer het toe hy hierdie Psalm gedig het nie. Uit Dawid se geskiedenis weet ons wel dat hy tye in sy lewe beleef het waar hy onder erge vervolging gely het waar sy lewe in gevaar was. Dink maar aan die tyd toe hy as jongman vir sy lewe moes vlug toe koning Saul hom wou doodmaak of die tyd toe sy eie seun Absolom hom van die troon wou afsit om in sy plek koning te word.

In die Psalm self kry ons nie ’n aanduiding in watter van hierdie omstandighede Dawid in verkeer het nie. Wat wel duidelik is, is dat Dawid in ’n erge sielewroeging was toe hy hierdie Psalm geskryf het. Daarin sien ons hoe Dawid vorder vanaf wanhopige vrae na angstige versoeke tot by lofprysing en vertroue in die Here se liefde. Dawid se pad uit wanhoop deur gebed tot vertroue in die Here se liefde gee vir ons ook troos en hoop wanneer die stampe en die stote van die lewe ons moedeloos maak. Hierin sien ons hoe die Here se troue verbondsliefde ons optel wanneer ons wanhoop verval. In hierdie Psalm sien ons dat ons, ons nood na die Here toe mag bring. Ons mag vir uitkoms vra en ons sien dat ons op die Here se troue verbondsliefde kan vertrou.

Bring jou nood na die Here toe

Hierdie Psalm begin by wanhoop. Vier keer vra Dawid die vraag “Hoe lank nog?”

s Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd?

s Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?

s Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring?

s Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?

Die viervoudige herhaling van die vraag wys vir ons sy intense lyding. Hierin sien ons ook dat hierdie lyding baie meer is as die fisiese omstandighede wat daartoe aanleiding gegee het. Dit is ’n absolute sielewroeging waarin Dawid verkeer. Dit voel vir hom of die Here van hom vergeet het en dat Hy nie Dawid se ellende raaksien nie. Dit voel vir hom of hy alleen staan in hierdie stryd en dat hy absoluut op homself aangewese is. Hy is op daardie punt dat hy net nie meer weet watter kant toe.

In hierdie worstelstryd van Dawid is daar vir ons geweldig baie troos. Wanneer dit voel of die lewe vir ons te veel word, dan mag ons, ons lot teenoor die Here bekla. Hier sien ons hoe Dawid wat een van die groot geloofshelde in die Bybel is na die Here toe kom met sy nood. Hiermee sê die Here vir ons: “jy mag na My toe kom wanneer die lewe vir jou te veel word.” Ons mag na die Here toe kom en vir Hom sê: “Here ek kan nie meer nie. Ek sien nie meer kans nie!” Wanneer die lewe te veel word, bring jou nood na die Here toe.

Vra vir uitkoms

Dawid het sy nood na die Here toe gebring en daarmee saam het hy die Here gesmeek om uitkoms te gee. Hy bring ’n dringende pleidooi na die HERE toe:

Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie, anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers oor my ondergang.

Te midde van sy diepste vertwyfeling roep Dawid angstig tot Here vir uitkoms. As sy vyand oorwin, dan oorwin die boosheid die goeie en dan is alles verlore.

Soms is dit nodig dat ons tot die besef gebring moet word dat die enigste werklike uitkoms alleen by God te vinde is. In hierdie situasie besef Dawid dat daar alleen by die Here uitkoms is en daarom sy dringende gebed dat die HERE hom moet antwoord. Hy kan nie meer nie en daarom vra hy dat die HERE vir nuwe lewenskrag gee.

Wanneer dit met ons goed gaan dan vergeet ons so maklik dat dit maar alleen die HERE se genade is wat ons staande laat bly. As dit met my goedgaan dan dink ek maklik dat ek nie die HERE nodig het nie. Soms is dit nodig dat ’n krisis in my lewe my tot die besef moet bring dat dit net God is wat my hierdeur kan dra. Wanneer dit goed gaan plaas ons so maklik ons vertroue in ander dinge en nie op die HERE nie. Daarom moet ons weet dat ons in die goeie tye en die slegte tye alleen op die HERE moet vertrou.

Die krisisse in ons lewens help ons om te besef dat ons in goeie en slegte tye alleen op Hom moet vertrou. Wanneer die lewe te veel word mag ons, ons nood na die Here toe bring en ons mag vir uitkoms vra. Dit sal ons by die punt bring waar ons die HERE kan loof en prys uit dankbaarheid vir sy troue verbondliefde.

Vertrou op die HERE se troue verbondsliefde

Die Psalm se einde verskil radikaal van sy begin. Dawid se wanhoop het verander in ’n loflied van dankbaarheid omdat hy nou God se liefde raaksien. In Ps. 13v6 hoor ons:

Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.

Dawid se vertroue staan op die HERE se troue verbondsliefde. Hierin sien ons die liefdevolle karakter van God raak. Hy kan ons nie laat gaan nie omdat dit teen sy natuur sou wees om dit te doen.

God het Homself voorgeneem om sy liefde aan ons te gee. Daardie liefde sien ons raak in sy handelinge deur al die eeue heen. Nadat Adam en Eva teen Hom gerebelleer het, het Hy steeds in liefde na hulle toe uitgereik. Uit sy liefde het Hy ’n ewige verbond met Abraham aangegaan. “Ek sal vir jou ’n God wees en jy en jou nageslag moet My dien.” Daardie verbond het Hy weer met Abraham se nageslag bevestig by Sinai. Hy het aan Dawid belowe dat een uit Dawid se nageslag vir ewig Koning sal wees. Dit is hierdie troue verbondsliefde wat Dawid deur sy krisis gedra het.

Die belofte van ’n ewige Koning het in Jesus Christus vir ons waar geword. In sy diepste nood het Jesus Christus in bange Godverlatenheid uitgeroep:

“Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Mat 15v34)

Hy het dit gedoen sodat ons kan weet dat ons selfs in ons diepste krisis en nood nooit alleen sal wees nie, omdat God daar by ons is. Deur ons diepste nood en krisisse dra God se liefde ons, daardie liefde wat Hy vir ons in Jesus Christus aan die kruis bewys het. Wanneer ons na die kruis kyk, dan weet ons dat ons op die HERE se troue verbondsliefde kan vertrou.

Samevatting

Wanneer ons in nood verkeer moet ons nie die fout maak om ons blind te staar teen die omstandighede nie. Ons moet ons krisisse sien teen die wyer agtergrond van God se liefdesdade teenoor ons. God se liefde wat ons so duidelik sien teen die agtergrond van die kruisgebeure beteken nie dat ons nooit in ’n krisis sal beland nie. Dit beteken wel dat wanneer ons daarin beland dat sy troue verbondsliefde ons daardeur dra.

Wanneer ons dus in ’n krisis beland moet ons weet dat ons, ons nood voor die HERE se voete mag kom neerlê. Ons mag vir Hom vra om uitkoms te gee en ons moet weet dat sy liefde ons daardeur sal dra net soos Hy ons in die verlede gedra het. Hou dus vas aan die wete dat Die HERE se troue verbondsliefde dra ons wanneer moedeloosheid ons oorweldig.

Amen

15 Maart 2014

Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?

9 Mar. 2014        

Mat 19:16-30 tkv’se 16 ; 21 (Sien ook Mar 10:17-31 & Luk 18:18-30)
Ps. 128-1:1&4
Ps. 1-1:1&2
Ps. 130-1:1-4
Sb 17-1:1,5&6

Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Dit is een van die belangrikste lewensvrae waarvoor elke mens ’n antwoord moet kry. Die alternatief, ewige dood is nie ’n aantreklike alternatief nie. Of ek nou daarvan hou of nie, een van die twee alternatiewe is my voorland en daarom moet ek seker maak watter alternatief vir my gaan geld.

Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Dit is die vraag waarmee die ryk jongman in ons teks ook mee geworstel het. Uit die jongman se vraag is dit duidelik dat hy gedink het dat hy iets moes doen om die ewige lewe te verdien en ook dat hy onseker was oor sy ewige bestemming. Geliefdes is u seker oor u ewige bestemming? Wonder u ook soos hierdie jongman of daar nog iets kortkom? Omdat hierdie so ’n belangrike saak is, is dit natuurlik dat ek 100% seker wil maak.

Wanneer Jesus die jongman daarop wys dat net God goed is sê Jesus vir hom dat daar niks inherent goeds is in die mens nie. Die Here sê tog vir ons, “daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie” (Ps. 14:3; 53:4 ; Rom. 3:10 & 12). Hiermee is Jesus besig om hom voor te berei vir die boodskap wat volg sodat die jongman sal verstaan wat Jesus bedoel wanneer Hy vir hom sê: “as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.” Die jongman wil doodseker maak en daarom vra hy: “Watter gebooie bedoel u?” Jesus noem die gebooie wat almal oor verhoudings met ons naaste handel. Hy som dit op met: “jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Die jongman se antwoord wys vir ons dat hy volgens hom ’n goeie lewe gelei het. Hy kom al die gebooie wat Jesus noem stiptelik na van jongs af. Geliefdes is ons nie ook maar soos hierdie jongman nie? Ek is mos ’n goeie mens. Ek kom my plig na. Ek is aktief in die kerk. Ek gee om vir my naaste. Ek sorg vir die armes want ek gooi mos bydrae vir die Diakonie in die sakie. Ek gee my fooitjie vir die karwag wat heeldag daar in die son staan. As daar ’n oproep vir nood is soos byvoorbeeld die aardbewings oorsee ’n jaar of wat terug en die droogte. Ek gee ook vir die kinderhuise. Ek is nie so sleg nie!

Dis wat hierdie jongman ook gedink het, maar tog is ’n daar onsekerheid by hom en daarom vra hy ook: “In watter opsig skiet ek nog te kort?” Dit is hier waar die kern van Jesus se boodskap na vore kom. Met hierdie hele aanloop het Jesus vir die jongman gewys dat daar niks inherent goed is in die mens nie. Die begin van die gesprek was eintlik nog baie onpersoonlik ten opsigte van wie is goed en wie is sleg. Hier maak Jesus dit egter persoonlik. Want tot op hierdie punt is die jongman nog daar waar hy na mense om hom rondkyk en dit is waar ons ook baie maal vashaak. Ek is nie so sleg nie, maar hierdie broers en susters saam met my beter hulle sokkies so bietjie optrek om nie eens te praat van die sondaars daar buite nie!

Die lewensles wat hierdie jongman en ons uit hierdie verhaal moet leer is dat ons onsself nie deur goeie dade kan red nie. Met sy opdrag aan die jongman om al sy besittings te gaan verkoop druk Jesus sy vinger op die seerplek van hierdie jongman se probleem. Vir hierdie jongman was dit sy besittings en sy rykdom. Hy was nie bereid om dit op te gee en homself en sy hele lewe aan die Here toe te wy nie. Dis die vraag wat elkeen van ons vandag ook moet antwoord. Wat staan tussen my en God? Geliefdes dit gaan hier oor meer as geld. Hierdie verhaal se doel is nie om ons te beveel om alles te verkoop en soos ’n monnik in afgesonderde toewyding te gaan leef nie.

Die doel is dat ek moet raaksien wat is dit wat tussen my en die Here staan? Wat is dit wat ek nie bereid is om vir die Here op te gee nie? Vir sommige van ons kan dit dalk ons besittings wees, maar dit kan ook iets anders wees. My werk, my sport, my gesin .....
Luther het gesê: “dit waaraan jy bereid is om die meeste tyd en geld te bestee is jou god, al sê jy ook dat jy ’n ander een dien.” Wat is dit wat ek nie bereid is om afstand van te doen nie?

Toe Jesus hierdie les vir sy dissipels verduidelik was hulle verslae soos ons hoor in Mat 19:25:
Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel, en hulle het gesê: “Wie kan dan gered word?”
Volgens die Joodse godsdiens van daardie tyd het die ryk mense ’n beter kans gestaan op die ewige lewe vanweë hul rykdom en aansien. As dit vir ’n ryk mens net so onmoontlik was as wat dit vir ’n kameel is om deur ’n naald se oog te pas, watse kans is daar dan vir gewone mense?

Dit is eers wanneer ek besef dat dit vir my onmoontlik is om God se liefde te verdien dat ek werklik die troos in Jesus se antwoord in Mat 19:26 aan sy dissipels sal verstaan:
“Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”
Vir die mens is dit onmoontlik om God se straf vir die sonde te dra, maar dit was moontlik vir Jesus om dit in ons plek aan die kruis te dra. Dit is vir my onmoontlik om die ewige lewe te verdien, maar vir Jesus was dit moontlik want met sy opstanding het Hy die dood oorwin sodat ons kan lewe.

Jesus verseker sy dissipels in Mat 19:28 & 29 dat die ewige lewe nou reeds begin. Dat ons nou reeds kan deel in die vreugde God werklik te ken. Dit wat ons in hierdie lewe moet opgee om ’n navolger van Jesus te word is niks in vergelyking met die lewe wat ons saam met God sal hê nie.
En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.

Diegene wat dit egter self in eie krag probeer verdien sal laaste wees en nie die vreugde van ’n lewe saam met God ervaar nie. Die wat laaste is ter wille van God sal eerste wees.

Geliefdes, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Ek moet besef dat ek met my goeie dade niks voor God kan verdien nie. Ek moet weet dat ek nie goed is nie, maar dat net God goed en volmaak is. Ek moet verstaan dat dit net God se genade is wat aan my die ewige lewe gee. Ek moet glo dat Jesus my straf aan die kruis in my plek gedra het en dat Hy met sy opstanding aan my lewe gegee het. Wanneer ek dit glo dan sal ek insien dat ek dit wat tussen my en God staan aan God kan opdra en dat ek in die plek daarvan ware lewe saam met God sal hê, nou en ook in die ewige toekoms waarheen ek op pad is.

Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Glo. Glo in Jesus Christus.

Amen