15 Maart 2014

Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?

9 Mar. 2014        

Mat 19:16-30 tkv’se 16 ; 21 (Sien ook Mar 10:17-31 & Luk 18:18-30)
Ps. 128-1:1&4
Ps. 1-1:1&2
Ps. 130-1:1-4
Sb 17-1:1,5&6

Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Dit is een van die belangrikste lewensvrae waarvoor elke mens ’n antwoord moet kry. Die alternatief, ewige dood is nie ’n aantreklike alternatief nie. Of ek nou daarvan hou of nie, een van die twee alternatiewe is my voorland en daarom moet ek seker maak watter alternatief vir my gaan geld.

Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Dit is die vraag waarmee die ryk jongman in ons teks ook mee geworstel het. Uit die jongman se vraag is dit duidelik dat hy gedink het dat hy iets moes doen om die ewige lewe te verdien en ook dat hy onseker was oor sy ewige bestemming. Geliefdes is u seker oor u ewige bestemming? Wonder u ook soos hierdie jongman of daar nog iets kortkom? Omdat hierdie so ’n belangrike saak is, is dit natuurlik dat ek 100% seker wil maak.

Wanneer Jesus die jongman daarop wys dat net God goed is sê Jesus vir hom dat daar niks inherent goeds is in die mens nie. Die Here sê tog vir ons, “daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie” (Ps. 14:3; 53:4 ; Rom. 3:10 & 12). Hiermee is Jesus besig om hom voor te berei vir die boodskap wat volg sodat die jongman sal verstaan wat Jesus bedoel wanneer Hy vir hom sê: “as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.” Die jongman wil doodseker maak en daarom vra hy: “Watter gebooie bedoel u?” Jesus noem die gebooie wat almal oor verhoudings met ons naaste handel. Hy som dit op met: “jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Die jongman se antwoord wys vir ons dat hy volgens hom ’n goeie lewe gelei het. Hy kom al die gebooie wat Jesus noem stiptelik na van jongs af. Geliefdes is ons nie ook maar soos hierdie jongman nie? Ek is mos ’n goeie mens. Ek kom my plig na. Ek is aktief in die kerk. Ek gee om vir my naaste. Ek sorg vir die armes want ek gooi mos bydrae vir die Diakonie in die sakie. Ek gee my fooitjie vir die karwag wat heeldag daar in die son staan. As daar ’n oproep vir nood is soos byvoorbeeld die aardbewings oorsee ’n jaar of wat terug en die droogte. Ek gee ook vir die kinderhuise. Ek is nie so sleg nie!

Dis wat hierdie jongman ook gedink het, maar tog is ’n daar onsekerheid by hom en daarom vra hy ook: “In watter opsig skiet ek nog te kort?” Dit is hier waar die kern van Jesus se boodskap na vore kom. Met hierdie hele aanloop het Jesus vir die jongman gewys dat daar niks inherent goed is in die mens nie. Die begin van die gesprek was eintlik nog baie onpersoonlik ten opsigte van wie is goed en wie is sleg. Hier maak Jesus dit egter persoonlik. Want tot op hierdie punt is die jongman nog daar waar hy na mense om hom rondkyk en dit is waar ons ook baie maal vashaak. Ek is nie so sleg nie, maar hierdie broers en susters saam met my beter hulle sokkies so bietjie optrek om nie eens te praat van die sondaars daar buite nie!

Die lewensles wat hierdie jongman en ons uit hierdie verhaal moet leer is dat ons onsself nie deur goeie dade kan red nie. Met sy opdrag aan die jongman om al sy besittings te gaan verkoop druk Jesus sy vinger op die seerplek van hierdie jongman se probleem. Vir hierdie jongman was dit sy besittings en sy rykdom. Hy was nie bereid om dit op te gee en homself en sy hele lewe aan die Here toe te wy nie. Dis die vraag wat elkeen van ons vandag ook moet antwoord. Wat staan tussen my en God? Geliefdes dit gaan hier oor meer as geld. Hierdie verhaal se doel is nie om ons te beveel om alles te verkoop en soos ’n monnik in afgesonderde toewyding te gaan leef nie.

Die doel is dat ek moet raaksien wat is dit wat tussen my en die Here staan? Wat is dit wat ek nie bereid is om vir die Here op te gee nie? Vir sommige van ons kan dit dalk ons besittings wees, maar dit kan ook iets anders wees. My werk, my sport, my gesin .....
Luther het gesê: “dit waaraan jy bereid is om die meeste tyd en geld te bestee is jou god, al sê jy ook dat jy ’n ander een dien.” Wat is dit wat ek nie bereid is om afstand van te doen nie?

Toe Jesus hierdie les vir sy dissipels verduidelik was hulle verslae soos ons hoor in Mat 19:25:
Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel, en hulle het gesê: “Wie kan dan gered word?”
Volgens die Joodse godsdiens van daardie tyd het die ryk mense ’n beter kans gestaan op die ewige lewe vanweë hul rykdom en aansien. As dit vir ’n ryk mens net so onmoontlik was as wat dit vir ’n kameel is om deur ’n naald se oog te pas, watse kans is daar dan vir gewone mense?

Dit is eers wanneer ek besef dat dit vir my onmoontlik is om God se liefde te verdien dat ek werklik die troos in Jesus se antwoord in Mat 19:26 aan sy dissipels sal verstaan:
“Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”
Vir die mens is dit onmoontlik om God se straf vir die sonde te dra, maar dit was moontlik vir Jesus om dit in ons plek aan die kruis te dra. Dit is vir my onmoontlik om die ewige lewe te verdien, maar vir Jesus was dit moontlik want met sy opstanding het Hy die dood oorwin sodat ons kan lewe.

Jesus verseker sy dissipels in Mat 19:28 & 29 dat die ewige lewe nou reeds begin. Dat ons nou reeds kan deel in die vreugde God werklik te ken. Dit wat ons in hierdie lewe moet opgee om ’n navolger van Jesus te word is niks in vergelyking met die lewe wat ons saam met God sal hê nie.
En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.

Diegene wat dit egter self in eie krag probeer verdien sal laaste wees en nie die vreugde van ’n lewe saam met God ervaar nie. Die wat laaste is ter wille van God sal eerste wees.

Geliefdes, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Ek moet besef dat ek met my goeie dade niks voor God kan verdien nie. Ek moet weet dat ek nie goed is nie, maar dat net God goed en volmaak is. Ek moet verstaan dat dit net God se genade is wat aan my die ewige lewe gee. Ek moet glo dat Jesus my straf aan die kruis in my plek gedra het en dat Hy met sy opstanding aan my lewe gegee het. Wanneer ek dit glo dan sal ek insien dat ek dit wat tussen my en God staan aan God kan opdra en dat ek in die plek daarvan ware lewe saam met God sal hê, nou en ook in die ewige toekoms waarheen ek op pad is.

Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Glo. Glo in Jesus Christus.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking