04 Maart 2014

Die ewige God roep ons om die nood van die wêreld te verlig, daarom mag ons nie vol verskonings wees nie.

19 Jan 2014         Eks. 3 : 1 – 4 : 17 . Teksverse Eks. 3 : 14 & 15

Lof-Psalm     Ps. 33-1 v 1 & 2
Na Wet         Ps. 103-1 v 1 & 2        
Na Gebed     Ps. 86-1 v 3 & 6
Slotsang       Sb. 2-4 v1 & 3   

Inleiding
Besef u dat God elkeen van ons geroep het? Hy roep elkeen van ons individueel en ook gesamentlik as gemeente. Die Here roep ons om ’n seën vir die wêreld te wees. Hy roep ons om sout vir die aarde en ’n lig vir die wêreld te wees. Hy roep ons om die nood van die wêreld te verlig.

In hierdie verhaal van Moses leer die Here ons dat Hy ’n spesifieke doel met elkeen van ons het. Ons leer:
i       dat God gewone mense roep om die nood van die wêreld te verlig;
ii      Wie God werklik is wat ons roep en
iii     dat mens so maklik vol verskonings kan wees vir die werk waarvoor God ons roep!

God roep gewone mense om die nood van die wêreld te verlig
Ons ontmoet Moses hier waar hy maar net ’n gewone skaapwagter was. Hy het ’n lang pad gestap tot hier om hom voor te berei vir die werk waarvoor God hom geroep het. Hy is groot gemaak in ’n koninglike paleis. Hy moes as misdadiger vlug nadat hy ’n Egiptenaar doodgeslaan het en nou is hy maar net ’n doodgewone skaapwagter.

Hy was niks spesiaal nie, maar net nog ’n gewone mens van sy tyd net soos wat ons ook maar gewone mense van ons tyd is. Op ’n dag verskyn die Here aan Moses in ’n brandende doringbos terwyl hy besig was om skape op te pas. Moses was besig met ’n alledaagse dagtaak ver van enige altaar af toe die Here aan hom verskyn het.

Ons is so geneig om God in die buitegewone te soek, maar God is in ons alledaagse lewe teenwoordig, daar waar ons besig is om ons dagtaak te verrig. God het egter ’n spesiale roeping vir Moses gehad soos ons hoor in Eks 3:7:
Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.
Moses is geroep om die Israeliete uit die ellende van hul slawerny in Egipte te gaan verlos.

Hoor ons die noodkrete van mense wat in sonde vasgevang is? Sien ons die ellende daarvan raak? God hoor en sien dit en Hy neem hulle lyding ter harte. God sien die nood van mense wat Hom nie ken nie raak. Hy gebruik gewone mense soos ek en julle om verligting te bring vir die nood van die wêreld.

Eksodus vertel vir ons die verhaal van God wat die Israeliete verlos het uit die slawerny van Egipte. Die Jode wat in ballingskap was het moed geput uit hierdie verhaal dat hulle uit die ballingskap verlos sou word en beide die verlossings wys heen na Jesus Christus wat die mensdom uit hul nood van sondeslawerny kom verlos het. Die grootste nood wat ’n mens kan hê is om van God vervreem te wees.

God roep ons as gewone mense om diegene wat in die slawerny van sonde vasgevang is van hul nood en ellende te verlos deur die goeie nuus van Jesus Christus se verlossing na hulle te bring. Die goeie nuus dat die mens wat van God vervreem is deur Jesus Christus se soenverdienste aan die kruis weer in ’n lewende verhouding met die lewende God kan leef.

Wie is hierdie God wat ons roep?
In Eks 3:5 & 6 hoor ons:
Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”
God is heilig en dit is Hy wat vanaf die begin die God van die voorvaders was. Moses is egter nog onseker en daarom vra hy wat is God se eienaam?

Dan antwoord God vir Moses soos ons hoor in Eks 3:14 & 15:
Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”
Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam , dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.

In die eerste plek antwoord die Here met “Ek is wat Ek is.” Hy is die enigste ware God wat van die begin af daar is en ook in die toekoms daar sal wees, want die Hebreeus vir Ek is wat Ek is kan ook met Ek sal wees wat Ek sal wees vertaal word. Christus sluit ook hierby aan met die “Ek is” uitsprake wat ons in die evangelie volgens Johannes hoor en waarby ons ook in die loop van die jaar by gaan uitkom. In Open. 21:6 hoor ons:
Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.

En hiermee saam maak God ook sy verbondsnaam bekend. In Hebreeus word dit met die konsonante JHWH weergegee. Om die naam te kan uitspreek word daar gewoonlik die a en e vokale ingevoeg en word die Naam as JaHWeh uitgespreek. Die Jode het die naam nie uitgespreek nie uit eerbied vir die gebod dat mens nie die naam van God mag misbruik nie. Wanneer hulle die naam JHWH moes lees het hulle dit uit respek vervang met Adonai wat Heer of meneer beteken. In die Afrikaanse Bybels word die naam met Here / HERE vertaal terwyl dit in Engels met Lord/LORD vertaal word. Daar is ’n baie ryke betekenis aan hierdie Naam gekoppel. In wese beteken dit: “die Een wat altyd teenwoordig is” en dit beklemtoon God se vaste voorneme om altyd daar te wees vir sy kinders. Dit het Hy ook weer bevestig met Jesus Christus, Immanuel dit wil sê God by ons.
Dit is die alomteenwoordige God wat van die begin af daar was en wat ook in die toekoms daar sal wees wat ons roep om die nood van mense wat in sonde vasgevang is te verlig.
Verskonings, verskonings, verskonings!
Ten spyte van die wonderbaarlike verskyning van God in die brandende doringbos en ook dat Hy persoonlik vir Moses vertel wie en wat Hy werklik is, het Moses nog steeds verskonings! “Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie?” Vir hierdie verskoning het die Here ’n antwoord. Die wonderteken van Moses se kierie wat in ’n slang verander en weer terug na ’n kierie toe. Sy hand wat melaats word en weer gesond word. Die water wat in bloed verander!
Nou kom Moses met ’n tweede verskoning soos ons hoor in Eks. 4:10:
“Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.”
En dan sê die Here vir Moses dat ook dit nie ’n probleem is nie en Hy sê vir hom: “Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.” Nou het Moses nie meer verskonings nie, maar nog steeds is hy onwillig: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.
Is dit nie hoe ons ook maar is nie geliefdes? Eers het ons allerlei verskonings wat op die oog af klink of dit baie meriete het. Ons het elkeen goeie redes oor waarom ons nie betrokke kan wees in die gemeente met die werk wat nodig is sodat die evangelie van Jesus Christus uitgedra kan word nie. Ek het ’n besige skedule, ek het nie tyd nie, ek is nie daarvoor geskik nie, ek kan nie goed praat nie, ek is te oud, ek is te jonk. U weet wat al die verskonings is wat ons so maklik voorhou. Geliefdes, hoe lank wil ons nog die Here se geduld beproef?
Slot

Die Here roep ons om die nood van die wêreld te verlos met die goeie nuus van Jesus Christus se verlossing. Hy rus ons toe vir die werk. Ons staan nie alleen nie, want ons is daar om mekaar te ondersteun. Laat ons Hom daarom nie kwaad maak met al ons verskonings nie! Kom ons wees gehoorsaam aan ons roeping om die evangelie uit te dra na almal wat God nog nie ken nie.          
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking