16 Maart 2014

Toewyding aan die Here kom uit die hart, nie deur middel van menslike tradisies nie

16 Mar. 2014        

Mar 7:1-23 teksverse 7 & 14
Ps. 31-1:1 & 3
Sb 7-2: 1 – 2
Ps. 86-1:6
Sb 9-3:1 & 2

Kan mens oorywerig wees in jou diens aan God? Kan mens te veel doen? Ja, mens kan! Wanneer mens die Here probeer dien deur menslike gebruike wat nie in die Skrif voorgeskryf word nie loop mens die gevaar om die Here op jou eie manier te probeer dien in teenstelling met wat God van ons vra. In Jes. 29:13 hoor ons hoe die Here Israel daarteen waarsku:
Die Here het gesê:
Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê,
nie soos Ek wil nie.
Dit is dan ook hierdie teks wat Jesus aanhaal wanneer die Fariseërs Hom konfronteer met die vraag (Mar. 7:5)
“Waarom handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte nie en eet hulle met onrein hande?”

Jesus se antwoord aan die Fariseërs en Skrifgeleerdes wys vir ons dat hierdie nie ’n ligtelike saak is nie (Mar. 7:6)
Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom. Julle is skynheiliges
Jesus noem hulle skynheilig! Met ander woorde hulle gee voor dat hulle vreeslik heilig is, maar eintlik is hulle dit glad nie. Jesus wys hulle op hierdie valsheid deur hulle te wys op wat in Jes. 29:13 geskryf is:
soos daar geskrywe staan:
Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af.
Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense
as gebooie van God voor te hou nie.

Op die oog af klink dit of die Fariseërs ’n punt het. Mens moet tog jou hande was voordat jy eet. Dit gaan egter nie hier daaroor nie. Die dissipels se hande was nie vuil nie. Dit was volgens die Fariseërs en die Skrifgeleerdes onrein, met ander woorde hulle was nie vir God aanvaarbaar nie. Die Jode het ’n magdom voorskrifte en rituele by die Skrif bygevoeg wat nie deur God voorgeskryf is nie. Een daarvan was dat hulle, hul hande op ’n plegtige wyse voor ete moes was, nie noodwendig omdat hulle vuil is nie, maar omdat hulle onrein is.

Hierdie gebruik was oënskynlik gegrond op ’n Bybelse voorskrif. Volgens Eks. 30:18–19;  40:31–32 moes die priesters hulle hande en voete by die tabernakel en tempel was. Dit was ’n plegtigheid wat by die diens van God gehoort het. Later is dit uitgebrei na alle Jode en by elke ete. Wat dus eintlik hier gebeur het is dat ’n voorskrif van God verdraai is en dat daar ’n heel ander betekenis daaraan geheg is as wat God bedoel het. Die werklike motief agter hierdie voorskrifte was om deur middel van die gebruike hulself vir God aanvaarbaar te maak. So word die genade van God opsy geskuif vir ’n werke gebaseerde godsdiens.

Soos ons laas week gehoor het kan ons met ons goeie dade niks voor God verdien nie. Hierdie week leer ons dat ons met mensgemaak tradisies en gebruike ook nie God se guns kan verdien nie. God gee aan ons die ewige lewe op grond van sy genade alleen soos ons hoor in Joh. 3:16-18
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.

Die Fariseërs en die Skrifgeleerdes het voorgegee dat hulle baie vroom en opreg was in hul diens aan God. Jesus wys hulle egter op hulle valsheid soos ons hoor in Mar.7:6&7. Jesus gaan egter verder om hulle te ontmasker. Hy wys hulle daarop dat hulle eintlik nie net iets byvoeg nie, maar dat hulle die opdrag van die Here opsy skuif en dit vervang met iets wat teenstrydig is met die God se opdrag (Mar. 7:9-12)
“Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuiwe en julle oorgelewerde gebruike in stand te hou. Moses het gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ Maar julle sê: ‘Iemand kan vir sy pa of sy ma sê: Enige gawe wat u van my sou kon kry, is korban,’ dit wil sê: ’n offergawe vir God. En so laat julle hom toe om hoegenaamd niks vir sy pa of sy ma te doen nie.

Die gevolg hiervan is baie ernstig soos ons hoor in Mar. 7:13
So ontneem julle die woord van God sy gesag deur julle oorgelewerde gebruike wat julle op julle beurt weer oorgelewer het.
Wanneer mens God op ’n ander manier dien as wat Hy wil hê, dan is jy nie besig om God te dien en eer nie. Inteendeel dan onteer jy God.

Dan brei Jesus nog verder uit om die saak aan almal wat gekom het om na Hom te luister te verduidelik soos ons hoor in Mar. 7:15
Niks wat van buite af in ’n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ’n mens uitkom, dit maak hom onrein.”
Na sy dissipels Hom verder daaroor uitgevra het, het Hy dit soos volg aan hulle verduidelik (Mar 7:18-19)
“So, dan verstaan julle dit ook nie? Begryp julle nie dat niks wat van buite af in ’n mens ingaan, hom onrein kan maak nie, omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan?”

Dit wat uit die hart uitkom word deur ons gesindheid bepaal. Dis nie allerlei gebruike wat bepaal hoe opreg ons in ons diens teenoor God is nie. Op die oog af lyk die tradisies en rituele vroom en voorbeeldig, maar eintlik beteken dit niks soos ons hoor in 2 Tim. 3:5
Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.
Enkele voorbeeld daarvan: Onlangs was dit in die nuus van die pastoor wat sy gemeente laat gras eet het sodat hulle kan wys hoe toegewyd hulle aan God is. Hierdie voorbeeld klink dalk absurd. Ons sal ons nooit so iets doen nie. Ons sien maklik die ekstreme voorbeelde raak vir die gekheid wat dit is. Maar ons kyk dikwels die subtiele voorbeelde mis. Dink maar byvoorbeeld aan die gebruik dat die ds. en die kerkraad wit dasse met swart pakke moes dra. Nee, dis nie net die NG kerk waar dit gebeur nie. Daar was Gereformeerde Kerke waar hierdie gebruik ook voorgekom het!

Iets wat deesdae baie algemeen by Christene voorkom is die handhawing van ’n 46 dae vastyd voor Paasfees. “Ash Wednesday” soos dit in Engels genoem word, is die eerste dag van daardie vastyd. Dan word daar as op die voorkop aangesmeer. Dit dien dan as ’n teken van rou en verootmoediging voor die Here. Verder onderneem die mense wat daaraan deelneem dan ook om van iets te vas waarvan hulle baie hou. So is daar baie mense wat byvoorbeeld geen sjokolade en lekkernye eet in hierdie tyd nie. Hulle offer as te ware dit op vir die Here. Wat sê die Here daarvan? Luister na wat Hy in Kol. 2:23 daaroor sê:
Hierdie leerstellings het wel ’n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie.

Geliefdes, nou kan ons maklik dink: “sjoe ons doen dit darem nie in ons gemeente nie!” Ons probeer nie om met mensgemaakte tradisies onsself rein, dit wil sê aanvaarbaar vir God maak nie. Maar is ons harte nie ook maar dikwels soos dié van die Fariseërs en Skrifgeleerdes nie? In Mar. 7:20-23 hoor ons:
“Maar,” het Hy verder gesê, “wat van binne af uit ’n mens kom, dit maak ’n mens onrein. Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ’n mens onrein.”
Hou ons nie maar alte dikwels onself baie vroom voor nie, maar in ons harte is al hierdie slegte dinge steeds teenwoordig. Ek is mos ’n goeie Christen, maar ons optrede wys die teendeel. Ons optrede getuig nie daarvan dat ons gehoorsaam is aan God se gebod nie.

Waar kry ons die krag vandaan om hierdie sondige drifte in toom te hou? Ons kry ons krag in by God alleen. Saam met Christus is ons deur die krag van die Heilige Gees uit die dood opgewek en daarom kan ons ook nou ’n nuwe lewe lei. Wanneer ons lewens deur die Gees van God beheers word, het ons Goddelike krag om te stry teen ons sondige drifte.

Samevatting
Mensgemaakte tradisies en gebruike skuif die genade van God opsy vir ’n werke gebaseerde godsdiens wat nog die uiterlike skyn van godsdiens het, terwyl dit heeltemal sonder krag is.

Met ons goeie dade kan ons niks voor God verdien nie. Netso kan ons met mensgemaak tradisies en gebruike ook nie God se guns kan verdien nie.

Wanneer ons God op ’n ander manier dien as wat Hy wil hê, dan is ons nie besig om Hom te dien en eer nie. Inteendeel dan onteer ons God.

Dit is net God se genade in Jesus Christus se soenoffer aan die kruis wat ons rein maak en dit is net wanneer ons lewens deur die Gees van God beheers word dat ons Goddelike krag het om te stry teen ons sondige drifte.

Geliefdes, kom ons wees waaksaam teen mensgemaakte tradisies en gebruike wanneer ons God aanbid.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking