04 Maart 2014

Het jy My onvoorwaardelik lief?

9 Feb. 2014         Joh. 21 : 1 -19 ; 1 Joh. 2 :12 – 15 ; Teksvers 1 Joh. 2:19b

Lof-Psalm     Ps. 18-1:1 & 14 
Na Wet         Sb 9-2:1 & 9      
Na Gebed     Ps. 92-1:1 & 6   
Slotsang       Sb 9-5

Het jy My baie lief? Drie keer vra Jesus hierdie vraag aan Petrus. Petrus wat so selfvoldaan gesê het dat Hy Jesus nooit in die steek sal laat nie! (Mat 26:33)
Daarop het Petrus vir Hom gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.”
Petrus wat ontken het dat hy Jesus ken toe dinge begin rof raak!

“Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” Dis die vraag Jesus aan Petrus gevra het en dit is die vraag wat Hy vandag nog aan gelowiges, sy kerk vra. Dis die vraag wat Hy vandag vir ons vra, geliefdes.

Verlede week het ons stilgestaan by die vraag of ons God werklik ken, want mens kan nie praat van liefde vir iemand as jy hom nie ken nie. Vandag is ons by die vraag of ons God werklik liefhet.

Hoe beantwoord ons God se alles opofferende liefde aan ons? God het alles gegee soos ons hoor in Joh. 3:16
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Petrus het daardie liefde met verraad beantwoord. Hoe beantwoord ons dit? Ook met verraad? Is ons maar ook maar net mooiweersvriende?

Het ons God net lief wanneer dit ons pas? Het ons Hom lief solank ons God se seëninge ontvang? Die Bybel vergelyk Jesus se kerk met ’n bruid. Ons is die bruid van Christus. Het ons ook net getrou vir “geld” soos die vrou wat ’n ryk man uitsoek en hoop dat hy gou sal doodgaan sodat sy ryk kan erf?

Die Here waarsku ons teen verleidelikhede van die sondige wêreld. (1 Joh. 2:15-17)
Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge—alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit—kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.

Sal ons die Here nog steeds liefhê as Hy ophou om ons met aardse rykdom en besittings te seën? Dit is ’n vraag wat ek myself moet afvra om te bepaal of ek die Here onvoorwaardelik liefhet.

Het jy My onvoorwaardelik lief? As ons eerlik met onsself is, dan moet ons, ons kop in skaamte laat sak en sê nee. Dan moet ons ook maar soos Petrus buitentoe gaan en bitterlik huil.

Dink net hoe Petrus moes gevoel het daardie dag. Vir drie jaar het hy saam met Jesus geleef en in sy voetspore gevolg en nou lê alles in skerwe! Alles verniet! Soveel so dat Petrus maar weer terugkeer na sy ou lewe as visserman. Keer ons nie ook maar alte dikwels terug na die lewe wat ons in die wêreld gelei het nie? Ons dag tot dag bestaan asof ons nooit van Jesus gehoor het nie en ons word weer deel van die wêreld. Die lig wat ons vir die wêreld moet wees so te sê uitgedoof. Ons vermy God en heimlik is ons bang vir Hom.

Wat is die Here se reaksie wanneer ons in sonde verval? Is dit net straf en oordeel? Nee, geliefdes. In die eerste plek is dit nie vir Hom ’n verassing nie. Jesus het vooraf geweet en daarom het Hy vir Petrus gebid. (Vgl. Luk. 22v31-32):
“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif . Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”

Hierin sien ons ook die genade van die Here. Die Heilige Gees hou ons geloof in stand. Ons geloof hang nie van ons af nie. Verder het Jesus die pad gestap. Hy was bereid om ’n kruisdood te sterf. Hy kon weerstand gebied het toe hulle Hom gevange geneem het, maar Hy doen dit nie.. (Vgl. Mat 26v52-54):
Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?”

Na Jesus se opstanding het Hy Petrus weer in ere in sy amp herstel sonder verwyte. Drie maal het Petrus Jesus verloën. Drie maal gee Jesus aan hom die geleentheid om sy liefde vir Jesus te bevestig. Hiermee herstel Jesus vir Petrus in sy amp as herder. Die wêreld gooi iemand wat misluk het op die ashoop, maar die Here herstel. Hy vertrou weer aan Petrus sy kosbare kudde toe: Laat My lammers wei, pas My skape op, laat My skape wei.

Petrus wat maar weer na sy ou lewe as visserman wou terugkeer word weer in ere herstel in die amp as herder van Jesus se kerk. Hiermee saam sê Jesus egter ook vir hom dat dit nie maklik gaan wees nie. Petrus moet selfs hoor dat hy ’n marteldood moes sterf. In sy dood sou Petrus God verheerlik, want selfs ’n marteldood kan ons nie van die liefde van Jesus skei nie. Jesus gee ook ’n laaste opdrag aan Petrus “Volg My!” Hiermee bevestig Jesus die opdrag van dissipelskap waarmee Hy Petrus oorspronklik geroep het. Hy sê egter ook vir hom dat dit nie ’n maklike pad gaan wees nie.

Dissipelskap beteken onder andere toegewydheid aan Jesus, nederige diens, om die wil van God te doen, om lief te wees vir mekaar, onderlinge mededeelsaamheid en om dissipels te gaan maak van al die nasies. Dit is die roeping waarmee Jesus elke Christen roep: “volg My!” Langs die pad gebeur dit soms dat ons struikel en val. Dit veroorsaak dat ons nie meer ons roeping tot dissipelskap uitleef nie.

Wanneer dit gebeur moet ons nie aan die genade van God twyfel of in die sonde bly lê nie, want SAAM MET JESUS KRY ONS WEER ’N KANS OM NUUT TE BEGIN. Die Here is nie daarop uit om ons te straf en te veroordeel wanneer ons die pad byster raak nie. Sy doel is dat ons moet wegdraai van die verkeerde paaie af sodat ons weer as sy dissipels in sy voetspore kan volg. Deur sy liefde gee Hy vir ons kans om nuut te begin soos Hy ook in 1 Joh. 1v9 bevestig:
Maar as ons, ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons, ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Hiermee saam moet ons egter weet dat om Jesus te volg nie altyd maklik is nie. Die troos wat ons egter het is dat ons nie alleen is in die stryd nie en dat niks ons van Jesus se liefde kan skei nie.

Geliefdes, wat is my antwoord wanneer vir my vra: “Het jy my onvoorwaardelik lief?” Is ek ook bedroef soos Petrus en is my antwoord ook: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” As ons so antwoord, dan kan ons weet dat God se genade en liefde ook onvoorwaardelik aan ons gegee word. Kom ons volg die Here wanneer Hy vir ons sê: “Volg My.” Kom ons volg Hom al weet ons ook dat dit nie altyd maklik gaan wees nie.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking