Wys tans plasings met die etiket Het jy my lief. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Het jy my lief. Wys alle plasings

27 Maart 2015

By die Here is daar weer ’n geleentheid om weer te begin

15 Maart 2015 GKE
Mar 14:26-31 : Petrus se voortvarendheid – Voortvarende oppervlakkige Christene
Teksvers Mar 14:29
Luk. 22:54-62: Petrus se verraad & berou – Die dieptepunt van my sonde en                 ellende.
Teksvers Luk. 22:62
Joh. 21:15-19 Petrus ontvang vergifnis - God se genade
Teksvers Joh. 21:19
Sing        Lofsang:   Ps. 8 v 1 & 4          (OAB)
              Na wet:           Ps. 91 v 1 & 3   (OAB)
              Na gebed  Ps. 86 v 1 & 3        (OAB)
              Tydens Nagmaal Ps. 23 v 3 & Ps. 116 (OAB)
              Slotsang   Ps. 18 v 1 & 2        (OAB)


Inleiding
Die verhaal van Petrus is kenmerkend van ons lewens saam met ons Here. Dit is ’n verhaal van bittere teleurstelling. ’n Verhaal van hartseer. ’n Verhaal van vergifnis. ’n Verhaal van ’n nuwe lewe saam met ons Here.

Voordat hy Jesus ontmoet het was Petrus ’n eenvoudige visserman sonder enige geleerdheid. Sy ontmoeting met Jesus verander sy hele lewe. Hy het ’n nuwe mens met nuwe doelwitte en prioriteite geword. Hy het egter nie ’n volmaakte mens geword nie, maar het nog altyd Simon Petrus gebly.
Simon die seun van Johannes,
Simon die voortvarende een.
Simon die een wat eers gedoen en dan gedink het.
Simon die een wat Jesus in sy uur van nood en benoudheid bitter teleurgestel het
       .

Wanneer ons na die lewe van Petrus kyk dan sien ons, ons eie lewens saam met die Here raak. Alhoewel ons ontmoeting met die Here ’n nuwe mens van ons gemaak het, bly ons nog steeds wie ons is. Die Here verander nie ons persoonlikheid en menswees nie. Hy gebruik dit in sy diens. Ons het nie nou skielik volmaakte mense geword na ons ontmoeting met die Here nie. Wat wel verander is dat ons nou nuwe doelwitte en prioriteite in ons lewens het.

In ons voorgelese gedeeltes hoor ons dat daar drie fases in Petrus se lewe saam met Christus was.
1) Die eerste fase was die tyd van sy voortvarendheid.
    Kom ons noem dit die fase van voortvarende oppervlakkige Christenwees.
2) Die tweede fase is Petrus se verraad & berou.
     Kom ons noem dit die dieptepunt van my sonde en ellende.
3) Die derde fase is waar Petrus vergifnis ontvang.
     Kom ons noem dit God se genade in ons lewens.

Petrus se voortvarendheid – Voortvarende oppervlakkige Christene
Nadat Jesus sy dissipels van sy dood en opstanding vertel hoor ons in Mar 14:29 hoe Petrus ewe selfvoldaan verklaar:
“Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”

Kenmerkend van Christene wat in hierdie fase is, is ’n selfvoldane trotsheid. Dis tipies daai houding van die Fariseër wat saam met die tollenaar gebid het soos ons hoor in Luk 18:11 & 12:
O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.’

Dis die Christene wat baie maklik hulle medebroers en susters veroordeel omdat hulle manier van aanbidding nie volgens hulle oordeel korrek is nie.

Hoe maklik beland ons self nie ook daar nie? My lewe is reg, kyk maar self hoe goeie lewe ek ly! As die ander in die gemeente maar net soos ek kon wees soos Petrus verklaar, “al sal hulle ook, ek sal nie!”

’n Christen met so ’n houding en gesindheid is nie baie bruikbaar in God se koninkryk nie en doen selfs die koninkryk skade aan deur mense af te sit met hulle arrogansie en selfvoldaanheid. Die Here waarsku ons ook inderdaad daarteen soos ons hoor in 1 Kor. 10:12:
Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.

Dit is inderdaad wat ook met Petrus gebeur het soos ons in die volgende deel van sy verhaal hoor.

Petrus se verraad & berou – Die dieptepunt van my sonde en ellende

Kan u, uself indink hoe Petrus gevoel het toe hy opkyk en hy kyk in die hartseer oë van Jesus vas? Ons hoor so ietsie daarvan in Luk 22:62:
En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.



Dit was nie maar net ’n oppervlakkige berou nie. Dit wat ons so maklik doen wanneer ons met ons sonde gekonfronteer word: ja ek het dit of dat gedoen, maar ......  en dan voer ons allerlei verskonings aan om ons sondige gedrag te regverdig. Hierdie oppervlakkige berou is nog steeds deel van die voortvarende oppervlakkige Christen!

Petrus het ’n diepe berou gehad waar hy in absolute wanhoop besef het wat sy sonde aan die Here gedoen het. Geliefdes, het u al opgekyk en die pyn en hartseer in Jesus se oë raakgesien? Besef ek werklik die erns van my sonde wat ek daagliks teenoor die Here begaan? Is ek al op daardie punt dat ek vra: “hoekom doen die Here nog moeite met my?”

Geliefdes, voordat ek nie die dieptepunt van my sonde ellende ervaar nie Voordat dit my nie aan my hart gryp nie, voordat ek nie op daai punt is waar ek besef wat het ek nou gedoen nie, sal ek nooit werklik die diepere betekenis van God se genade ervaar nie. Ek sal nie werklik verstaan wat Jesus aan die kruis vir my deurgemaak het nie.

Het ek al soos Petrus buitentoe gegaan en bitterlik gehuil oor my sonde en ellende? Is ek op daai punt waar ek in absolute wanhoop oor my sonde treur? Is daar by my daai absolute sielesmart oor die elende wat my sonde aan ander mense gedoen het?

Nie die oppervlakkige spyt wat eintlik daaroor gaan dat ek jammer is omdat ek uitgevang is nie, maar daardie diepe berou oor my lewe? Sien ek die hartseer in Jesus se oë raak en gryp dit my aan die hart? Dis wat verootmoediging is. Daardie diepe besef in my dat ek nie die mens is wat ek graag wil wees nie. Dat ek nie die goeie mens is wat ek so graag aan ander voorhou om te wees nie.

Het ek al soos Petrus buitentoe gegaan en bitterlik gehuil oor my sonde en ellende? Wanneer ek op daardie punt kom is ek reg vir die genesende salf van God se genade. Dit bring ons by die derde deel van Petrus se verhaal:
Petrus ontvang vergifnis - God se genade
Petrus het Jesus langs ’n vuur verloën en nou langs ’n vuur ervaar Petrus die helende salf van God se genade. Drie maal vra die Here vir Petrus of hy Hom liefhet en driemaal antwoord Petrus positief. Wanneer Jesus vir Petrus vra of hy Hom liefhet, vra Hy vir Petrus of hy lojaal teenoor Jesus is en of hy bereid is om homself op te offer. Die derde maal antwoord Petrus deur middel van totale onderwerping wanneer hy erken dat Jesus alles weet.

Petrus het Jesus regtig lief, hoe skeef en krom sy optrede ook al is. Hy ken Jesus en het Hom werklik lief, al is sy menslike pogings vol gebreke. Jesus verwyt nie. Hy beskuldig nie. Hy vra: Het jy my waarlik lief????????? Dis die vraag wat elkeen van ons vanoggend moet beantwoord: “het ek Jesus waarlik lief?”

Die wonder van God se genade is dat Hy nie verwag dat ons volmaak moet wees voordat ons in sy diens kan staan nie. Al is ons menslike pogings ook krom en skeef, het Hy ons onvoorwaardelik lief. Daarom moet ons nie by die dieptepunt van ons sonde en ellende in wanhoop bly vassteek nie. My diepe berou bring my by die wonder van God se genade waar ek waarlik sy liefde ervaar.

Jesus sluit sy gesprek met Petrus af met die opdrag “Volg My!” En ja dit is nie altyd ’n maklike pad om Jesus te volg nie soos Hy Petrus ook gewaarsku het. Maar dit is die moeite werd want dit sal jou lewe verander!!!!

Alhoewel die pad moeilik is, is ons nie alleen nie. Die Heilige Gees is daar om ons oor die pad te help. Ons doen dit nie in eie krag nie, maar in sy krag. Al wat ons moet doen is om te bid en die Here waarborg ons dat Hy ons gebed sal verhoor. As ek tot die Here bid “Here help my om U te volg, waar U ook al gaan”, dan sal Hy dit doen! Maak nie saak wat in my verlede lê nie, daar is vir my ’n nuwe begin by Jesus.
Hy sê vir ons “Volg My!”

Kom ons volg Hom!
Amen

04 Maart 2014

Het jy My onvoorwaardelik lief?

9 Feb. 2014         Joh. 21 : 1 -19 ; 1 Joh. 2 :12 – 15 ; Teksvers 1 Joh. 2:19b

Lof-Psalm     Ps. 18-1:1 & 14 
Na Wet         Sb 9-2:1 & 9      
Na Gebed     Ps. 92-1:1 & 6   
Slotsang       Sb 9-5

Het jy My baie lief? Drie keer vra Jesus hierdie vraag aan Petrus. Petrus wat so selfvoldaan gesê het dat Hy Jesus nooit in die steek sal laat nie! (Mat 26:33)
Daarop het Petrus vir Hom gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.”
Petrus wat ontken het dat hy Jesus ken toe dinge begin rof raak!

“Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” Dis die vraag Jesus aan Petrus gevra het en dit is die vraag wat Hy vandag nog aan gelowiges, sy kerk vra. Dis die vraag wat Hy vandag vir ons vra, geliefdes.

Verlede week het ons stilgestaan by die vraag of ons God werklik ken, want mens kan nie praat van liefde vir iemand as jy hom nie ken nie. Vandag is ons by die vraag of ons God werklik liefhet.

Hoe beantwoord ons God se alles opofferende liefde aan ons? God het alles gegee soos ons hoor in Joh. 3:16
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Petrus het daardie liefde met verraad beantwoord. Hoe beantwoord ons dit? Ook met verraad? Is ons maar ook maar net mooiweersvriende?

Het ons God net lief wanneer dit ons pas? Het ons Hom lief solank ons God se seëninge ontvang? Die Bybel vergelyk Jesus se kerk met ’n bruid. Ons is die bruid van Christus. Het ons ook net getrou vir “geld” soos die vrou wat ’n ryk man uitsoek en hoop dat hy gou sal doodgaan sodat sy ryk kan erf?

Die Here waarsku ons teen verleidelikhede van die sondige wêreld. (1 Joh. 2:15-17)
Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge—alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit—kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.

Sal ons die Here nog steeds liefhê as Hy ophou om ons met aardse rykdom en besittings te seën? Dit is ’n vraag wat ek myself moet afvra om te bepaal of ek die Here onvoorwaardelik liefhet.

Het jy My onvoorwaardelik lief? As ons eerlik met onsself is, dan moet ons, ons kop in skaamte laat sak en sê nee. Dan moet ons ook maar soos Petrus buitentoe gaan en bitterlik huil.

Dink net hoe Petrus moes gevoel het daardie dag. Vir drie jaar het hy saam met Jesus geleef en in sy voetspore gevolg en nou lê alles in skerwe! Alles verniet! Soveel so dat Petrus maar weer terugkeer na sy ou lewe as visserman. Keer ons nie ook maar alte dikwels terug na die lewe wat ons in die wêreld gelei het nie? Ons dag tot dag bestaan asof ons nooit van Jesus gehoor het nie en ons word weer deel van die wêreld. Die lig wat ons vir die wêreld moet wees so te sê uitgedoof. Ons vermy God en heimlik is ons bang vir Hom.

Wat is die Here se reaksie wanneer ons in sonde verval? Is dit net straf en oordeel? Nee, geliefdes. In die eerste plek is dit nie vir Hom ’n verassing nie. Jesus het vooraf geweet en daarom het Hy vir Petrus gebid. (Vgl. Luk. 22v31-32):
“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif . Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”

Hierin sien ons ook die genade van die Here. Die Heilige Gees hou ons geloof in stand. Ons geloof hang nie van ons af nie. Verder het Jesus die pad gestap. Hy was bereid om ’n kruisdood te sterf. Hy kon weerstand gebied het toe hulle Hom gevange geneem het, maar Hy doen dit nie.. (Vgl. Mat 26v52-54):
Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?”

Na Jesus se opstanding het Hy Petrus weer in ere in sy amp herstel sonder verwyte. Drie maal het Petrus Jesus verloën. Drie maal gee Jesus aan hom die geleentheid om sy liefde vir Jesus te bevestig. Hiermee herstel Jesus vir Petrus in sy amp as herder. Die wêreld gooi iemand wat misluk het op die ashoop, maar die Here herstel. Hy vertrou weer aan Petrus sy kosbare kudde toe: Laat My lammers wei, pas My skape op, laat My skape wei.

Petrus wat maar weer na sy ou lewe as visserman wou terugkeer word weer in ere herstel in die amp as herder van Jesus se kerk. Hiermee saam sê Jesus egter ook vir hom dat dit nie maklik gaan wees nie. Petrus moet selfs hoor dat hy ’n marteldood moes sterf. In sy dood sou Petrus God verheerlik, want selfs ’n marteldood kan ons nie van die liefde van Jesus skei nie. Jesus gee ook ’n laaste opdrag aan Petrus “Volg My!” Hiermee bevestig Jesus die opdrag van dissipelskap waarmee Hy Petrus oorspronklik geroep het. Hy sê egter ook vir hom dat dit nie ’n maklike pad gaan wees nie.

Dissipelskap beteken onder andere toegewydheid aan Jesus, nederige diens, om die wil van God te doen, om lief te wees vir mekaar, onderlinge mededeelsaamheid en om dissipels te gaan maak van al die nasies. Dit is die roeping waarmee Jesus elke Christen roep: “volg My!” Langs die pad gebeur dit soms dat ons struikel en val. Dit veroorsaak dat ons nie meer ons roeping tot dissipelskap uitleef nie.

Wanneer dit gebeur moet ons nie aan die genade van God twyfel of in die sonde bly lê nie, want SAAM MET JESUS KRY ONS WEER ’N KANS OM NUUT TE BEGIN. Die Here is nie daarop uit om ons te straf en te veroordeel wanneer ons die pad byster raak nie. Sy doel is dat ons moet wegdraai van die verkeerde paaie af sodat ons weer as sy dissipels in sy voetspore kan volg. Deur sy liefde gee Hy vir ons kans om nuut te begin soos Hy ook in 1 Joh. 1v9 bevestig:
Maar as ons, ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons, ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Hiermee saam moet ons egter weet dat om Jesus te volg nie altyd maklik is nie. Die troos wat ons egter het is dat ons nie alleen is in die stryd nie en dat niks ons van Jesus se liefde kan skei nie.

Geliefdes, wat is my antwoord wanneer vir my vra: “Het jy my onvoorwaardelik lief?” Is ek ook bedroef soos Petrus en is my antwoord ook: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” As ons so antwoord, dan kan ons weet dat God se genade en liefde ook onvoorwaardelik aan ons gegee word. Kom ons volg die Here wanneer Hy vir ons sê: “Volg My.” Kom ons volg Hom al weet ons ook dat dit nie altyd maklik gaan wees nie.
Amen