16 November 2025

Uit die wanhoop van die doodloopstrate van sonde, gee die Here lewe en hoop

Eseg. 37v1 tot 14

Teksvers Eseg. 37v3

Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom? Dit is seker een van die ingrypendste vrae wat die Here vir ’n mens kan vra. Kan daar weer lewe kom in dit waar daar geen hoop meer vir lewe is nie?

Die Here gebruik hier ’n baie grafiese beeld om ’n situasie van doodsheid uit te beeld. Dit beskryf die situasie van die Jode wat in Ballingskap weggevoer is. Hier sit hulle in Babel in ’n vreemde land ver van hulle eie land sonder ’n tempel waar hulle God kan aanbid. Die tempel wat die sentrum is van die Jode se ontmoeting met God in Jerusalem is afgebreek.

Esegiël het as profeet opgetree in hierdie tyd van die Jode se Ballingskap. Hier in ons teksgedeelte gebruik die Here hierdie beeld om die Jode se wanhoop en hopeloosheid vir ons te teken. In Ps. 137 kry ons ook ’n idee van die Jode se hopelose situasie:

1By die riviere van Babel,

daar het ons gesit,

en ons trane het gevloei

as ons aan Sion dink.

2Aan die wilgerbome in daardie land

het ons ons liere opgehang

3toe dié wat vir ons gevange

weggevoer het,

ons gevra het om ’n lied te sing,

toe dié wat vir ons leed aangedoen het,

van ons vrolikheid wou hê:

“Sing vir ons ’n lied oor Sion!”

4Hoe kan ons die lied van die Here sing in ’n vreemde land?

Kan u hierdie prentjie sien wat die Here vir ons skets? ’n Laagte vol bene! Dink net as ons so op die kruin van die laagte se rand staan. Hier voor ons lê die hele laagte vol ou uitgedroogte mensbeendere alles deurmekaar en uitgebleik deur die son en die weer. Hulle is al so droog en uitgebleik dat die bekende doodsreuk van ’n dooie nie eers meer daar is nie.

Effektief beskryf hierdie beeld die doodsheid wat daar bestaan het in Israel se verhouding met die Here. Vanweë hulle afgodery is daar van hulle verbondsverhouding met die Here geen sprake meer nie. Daar is vir hulle geen lewe meer in die verbondswoorde nie:

julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees

Dit is wat sonde doen. Dit bring verwydering tussen ’n mens en die Bron van lewe. As jy byvoorbeeld ’n tak van ’n boom afbreek dan is dit verwyder van die hoofstam wat lewe verskaf. Daardie tak verdroog en gaan dood. Dit is dan ook daardie geestelike doodsheid wat hier beskryf word. Israel het bly afdwaal en wegdraai van God af.

Die Here beskryf vir ons in Eseg. 36v18-19 wat die gevolg was van Israel se sondes:

18Ek het my toorn oor hulle laat losbreek oor die bloed wat hulle vergiet het en oor die afgode  waarmee hulle die land verontreinig het. 19Ek het hulle verstrooi onder die ander nasies en hulle na ander lande toe uitmekaargejaag. Ek het hulle gestraf oor hulle optrede en hulle gedrag.

Die vraag is nou geliefdes: “Wat het hierdie donker somber prentjie van Israel se geskiedenis van bykans twee en ’n half duisend jaar gelede met ons te maak? Is dit nodig dat ons met so ’n swartgallige prentjie van ’n vallei vol doodsbeendere gekonfronteer word? Het ons nie eerder ’n boodskap van hoop nodig om ons te inspireer vir die pad vorentoe nie?

Geliefdes, hierdie IS ’n boodskap van hoop!

Hierdie verhaal beskryf vir ons hoe die Here ook vir ons uit die wanhoop van ons doodloopstrate weer nuwe lewe en hoop kan gee. Dit is nodig dat ons opnuut weer ’n voorraadopname maak van waar ons staan met ons verhouding met die Here. Ons raak so maklik in ’n gemaksone vasgevang. Ons is mos besig met godsdiensbeoefening. Ons kom dan kerk toe. Ons doen al die “regte” dinge. Die probleem is egter dat ons so maklik in ’n valse gerustheid vasgevang kan word net soos Simson was toe Delila hom aan die Filistyne oorgegee het. (Vgl. Rig. 16v19-20)

19Sy het vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak en ’n man geroep, en hy het Simson se sewe haarlokke afgeskeer. So het sy hom laat swak word, sy krag het verdwyn. 20Toe sy sê: “Die Filistyne is hier, Simson!” het hy wakker geskrik en gedink: ek sal weer uitstap soos die vorige kere en my losruk.

Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie.

Ons wonder dikwels hoekom groei die kerk nie? Is dit nie maar ook omdat daar ’n geestelike doodsheid in die kerk teenwoordig is nie? Is die beskrywing van 2 Tim. 3v5 nie ook waar van ons nie?

Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie.

Is die krag van die Heilige Gees nog in ons lewens teenwoordig? Dit is ’n vraag wat elkeen persoonlik antwoorde voor moet gaan soek. Die Here gee vandag vir ons boodskap van troos. Uit die wanhoop van doodloopstrate gee die Here lewe en hoop.

 Hy beveel vir Esegiël om vir daardie dooie bene te profeteer. Met ander woorde, Esegiël moet die Woord van God verkondig. Wanneer hy dit doen dan gebeur daar ’n wonderwerk.

(Vgl. Eseg. 37v7-8a)

7Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek ’n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. 8Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek.

In Heb. 1v1-2 sê die Here vir ons dat Jesus Christus die Woord van God is:

1In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.

In Joh. 1v1 sê Hy dit ook baie pertinent vir ons:

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.

Daar is net een manier waarop herlewing kan plaasvind vir diegene wat vassit in die doodloopstrate van wanhoop. Jesus Christus is die antwoord. Daar kort egter ook nog iets: In Eseg. 37v8b hoor ons:

Maar daar was nog nie gees in hulle nie.

Die Hebreeuse woord wat hier met gees vertaal is het ook die betekenis van asem of wind. Ons kan dus ook sê dat hierdie klomp beendere nou in liggame verander is, maar dat daar nog geen lewensasem in hulle is nie. Daarom gee die Here dan ook die opdrag in Eseg. 3v9-10:

9Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.”

10Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was ’n baie groot menigte.

Sonder die Heilige Gees kan ons nie deel in die lewe wat Jesus Christus vir ons verwerf het met sy kruisiging en opstanding nie. Dan gaan dit in ons lewens ook maar net soos met daardie doodsbeendere. ’n Groot gedruis en baie beweging, maar sonder die Heilige Gees se lewendgewende asem bly hulle maar net ’n klomp dooie liggame. Dit is hier waar God se genade op sy duidelikste skyn, want Hy weet dat die mens op sy eie niks kan vermag nie. Daarom gee Hy ook die belofte in Eseg. 37v14:

Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe

Geliefdes, God gee nuwe lewe uit die wanhoop van doodloopstrate waarin sonde ons laat beland soos die Here ook in Tit. 3v5 vir ons bevestig:

Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.

Geliefdes, staan u vandag in ’n doodloopstraat en u weet nie watter kant toe nie? By Jesus is daar uitkoms. Die enigste bron van vrede en blydskap is Jesus Christus, want Hy is die enigste bron van lewe.

Ons kan daardie lewe alleen verkry wanneer God dit vir ons gee. As die Heilige Gees nie vir ons die ware lewe gee nie, dan sal daar geen lewe wees nie. Die Here belowe ons egter in Luk. 11v13 dat hy die Heilige Gees sal gee as ons daarvoor bid.

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee — die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”

Geliefdes om die nuwe lewe te ervaar wat die Here ons gee: glo in Jesus Christus. Glo dat Hy vir jou sondes aan die kruis gesterf het. Glo dat Hy die dood met sy opstanding oorwin het en bid vir die krag wat die Heilige Gees ons gee. Bid dat die Heilige Gees nuwe lewe in jou verhouding met God sal gee.

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking