Psalm 22
Teksvers Ps. 22:2
My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?
Waar
was God toe dit gebeur het? Waar was God toe die inbrekers ons in ons huis
oorval het? Waar was God toe die ongeluk gebeur het? Hoekom het Hy dit nie
gekeer nie? So is daar so baie situasies in ons lewe wat aanleiding gee tot
hierdie vrae. Elkeen van ons beleef op een of ander stadium die ellende van die
lewe en dit is een van die tergendste vrae wat daar oor die lewe is. Hiermee
saam probeer die satan ons oortuig dat God nie omgee nie.
Waar
was God toe dit gebeur het? Dit is ’n vraag wat deur al die eeue heen maar net
dieselfde bly. Die omstandighede wat aanleiding tot die vraag gee het dalk
verander, maar die noodroep bly dieselfde. Ons weet nie wat Dawid se
omstandighede was toe hy Psalm 22 gedig het nie. Moontlik was dit toe hy vir sy
lewe moes vlug toe Saul hom wou doodmaak. Moontlik daardie keer toe sy eie seun
Absolom sy troon wou afneem. Ons weet nie, maar wat wel duidelik in die Psalm
is, is dat dit die dieptes van ellende beskryf wat Dawid op ’n stadium ervaar
het.
Die
diepste nood wat ’n gelowige kan beleef is die ervaring dat God ons verlaat
het. Dit is die ervaring wat Dawid verwoord in Ps. 22:2
My
God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?
Ons
hoor hierin sy intense pyn wat hy beleef het. Die God wat my God is. Die God
met wie ek ’n persoonlike verhouding het, het Hom van my onttrek. Hy was nie
daar toe ek Hom nodig gehad het nie!
Sy
teleurstelling is nog meer intens as ons luister na wat sy voorvaders beleef het
in soortgelyke omstandighede soos ons hoor in Ps. 22:5
Op
U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered
Sy
ervaring is egter presies die teenoorgestelde. Hy voel soos ’n wurm, ’n
voorwerp van bespotting. Sy situasie is so hopeloos dat mense vir hom lag en
met hom spot omdat hy in sulke omstandighede nog steeds aan die Here bly
vashou. As hy dan so baie van die Here hou, laat Hy hom dan red. So klink die
spotstem van hulle wat op hul eie vermoëns staatmaak.
Tog
het hy in die verlede ervaar dat God daar is. Dis dan God wat hom sy eerste
lewenslig laat sien het en van sy geboorte by hom betrokke was. Dit is wat sy
lyding soveel erger maak. Dit voel vir hom of God hom in die steek gelaat het.
Dit
is wat lyding aan ’n mens doen. Dit laat jou voel of jy so weerloos is soos
water wat uitgestort is. Dis asof jou bene uitmekaar val en jou hart so sag
soos was word. Dit voel vir jou of jou lewe net so min as ’n potskerf werd is
soos ons hoor in Ps. 22 v 16.
Ek
is so min werd soos 'n potskerf,
my
tong kleef aan my verhemelte,
U
laat lê my asof ek dood is.
Hierdie
beeld wat die digter gebruik, verwys na die erdepotte wat destyds in Israel gebruik
is. Solank die erdepot heel is, is dit nuttig omdat mens allerlei goed daarin
kan bere. Maar as dit gebreek is, is dit niks werd nie. Al wat mens met die stukkende
potskerwe kan doen wat oorbly is om dit weg te gooi. Dit is wat lyding doen.
Daardie gevoel dat God my in die steek gelaat het en dat ek nikswerd is nie.
Groter nood kan geen mens hom voorstel nie.
Wat
doen mens wanneer jy in so ’n situasie verkeer? Wat het Dawid gedoen? Ten spyte
van sy negatiewe ervaring, vlug hy nog steeds na God toe, want hy weet daar is
niemand anders wat kan help nie. Ps. 22:12 – 22 beskryf sy gebed om hulp. Hy
beskryf sy lyding in beeldryke taal. Sy vyande is soos wilde beeste uit Basan
wat hom omsingel. Hulle is soos verskeurende brullende leeus wat op hom
afstorm.
Wat
doen mens wanneer jy in so ’n situasie verkeer? Jy wend jou na God toe in gebed
en jy stort jou hart teenoor Hom uit. Jy beskryf vir Hom presies hoe jy voel.
Al jou emosies van woede en vrees stort jy voor die Here uit. Dit help nie om
die emosies wat jy ervaar te onderdruk nie, want hulle is daar. Die Here
verstaan dat jy so voel en daarom kan en moet jy dit vir Hom vertel.
Psalm
22 beskryf die intense lyding van ’n mens wat swaar gely het, maar dit beskryf
ook sy dank teenoor die Here wat hom van sy smart verlos het. Alhoewel dit vir
Dawid gevoel het dat die Here hom in die steek gelaat het en dit soms vir ons
ook so voel, is die werklikheid dat daar net een mens in die hele geskiedenis
van die mensdom is wat werklik deur God verlaat was.
In
Mat 27:45-46 hoor ons hoe Jesus uitroep
45Van
twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot
drie-uur geduur. 46Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli,
Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?
God
is al deur die eeue ontelbaar baie keer aangeroep met die klag: “My God, waarom
het u my verlaat?” Waar was God toe dit gebeur het? Maar tog was hierdie klag
nog net een keer waar, naamlik toe Jesus dit aan die kruis uitgeroep het.
Hierdie
middelste van sewe kruiswoorde is die dieptepunt van Jesus se lyding. Dit volg
na drie ure van duisternis en stilte waar God en mense geswyg het. Wat het in
daardie drie ure gebeur? Die Seun van God het die ewige dood van
Godverlatenheid gely. Daarom kan elkeen wat glo in die verlossing van Jesus
Christus verseker weet dat hulle nooit weer Godverlatenheid sal ervaar nie.
Daarom kon Dawid ook in hierdie gebed waar hy sy ellende in gebed teenoor God
verwoord, in die laaste gedeelte God ook dank vir die verlossing wat Hy gee.
Waar
was God toe dit gebeur het? Hy was daar! Dit is Hy wat jou deur die krisis
gedra het! Dit is Hy wat by jou is waar jy midde in die krisis staan. Dit is Hy
wat die uitkoms gegee het. Dit is Hy wat jou vashou wanneer die aanslae van die
lewe op hulle felste op jou afstorm. God is daar.
Ons
moet verstaan dat God ons nie altyd uit die situasie neem nie. In hierdie
wêreld is ons nog steeds onderwerp aan die gevolge van sonde. Die diepste nood
wat ’n persoon kan ervaar, is om van God vervreem te wees. Dit is wat Jesus kom
herstel het. Dit is wat Jesus kom herstel het. Met sy kruisdood en opstanding, het
Hy die gebroke verhouding tussen God en mens herstel. Ons is egter nog in die
wêreld en ons voel nog die nagevolge van die mens se opstand teen God. Ware
vrede is nie om vry te wees van moeilike omstandighede nie, ware vrede vind ons
in die teenwoordigheid van God.
Wanneer
ons in moeilike omstandighede beland voel dit soms of God nie daar is nie, maar
Hy is daar en dit is wat Dawid op die uiteinde ook besef het, naamlik dat God ook
midde in sy moeilike omstandighede daar was. Daarom verklaar Dawid dat hy voor
almal sal getuig wat God vir hom gedoen het en dit is waaroor ons ook moet
getuig. Jesus het die skeidsmuur wat sonde tussen ons en God geplaas het,
weggeneem en daarom kan ons verseker wees dat God ons nooit alleen sal laat
nie. Deur sy Gees is Hy elke oomblik van elke dag by jou. Ons verstaan nie
altyd hoekom sekere omstandighede oor ons pad kom nie, maar ons moet vertrou
dat God in beheer is en dat Hy ons nooit alleen sal laat nie.
In
Ps. 22:28-29 hoor ons
Mense
oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer.
Alle
volke sal Hom as koning erken, want die koningskap behoort aan die Here; Hy
heers oor die volke.
Hier
sien ons dat God besig is om die gebrokenheid van die sondige wêreld te
herstel. Dit is die lewende hoop waaraan ons vashou. Daar kom ’n tyd waar ons
nie meer aan die ellende van hierdie wêreld onderwerp gaan wees nie. Dit gee
ook vir ons ’n perspektief op die huidige werklikheid waarin ons leef. Selfs
die gebrokenheid van hierdie wêreld is nie groter as God nie. Wat is die ergste
wat die ergste wat met ons kan gebeur in hierdie lewe? Ons kan ons lewe verloor
en selfs wanneer dit gebeur, is God steeds daar. Die liggaamlike dood is nie
die einde nie, maar slegs die begin van ’n ewigheid saam met God. Daarom hoef
ons ook nie die dood te vrees nie.
Waar
was God toe dit gebeur het? Hy is daar. Hy laat ons nooit alleen nie, selfs al
voel dit soms of Hy nie daar is nie. Wanneer dit voel of God jou verlaat het,
neem steeds jou toevlug tot Hom. Jesus het eenmaal ware Godverlatenheid ervaar
sodat elkeen wat in Hom glo nooit weer sonder God sal wees nie. Wanneer die
lewe vir jou te veel word, stort jou hart teenoor Hom uit en weet dat Hy daar
is en dat Hy jou nooit alleen sal laat nie. Selfs al gebeur dit dat jou lewe
geneem word is Hy steeds daar.
Wanneer
jy in jou nood na God toe vlug en nie weg van Hom af nie sal jy ’n nuwe
perspektief daarop ontdek sodat jy Hom selfs midde in jou nood kan loof en
prys. Hou in vertroue vas aan God se genade en weet dat Hy daar is, selfs al
voel dit nie altyd so nie.
Amen
