Wys tans plasings met die etiket Psalm 130. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Psalm 130. Wys alle plasings

26 April 2026

Die wonder van God se genade oortref die nare werklikheid van ons sonde

 

Psalm 130; Teksverse Ps. 130:1 & 8

Inleiding

Waar vind mens ware geluk en wat keer dat ons dit vind?” Indien mens nie jou lewensgeluk op die regte plek soek nie, sal jy dit nooit vind nie. Wanneer mens jou lewensgeluk op die verkeerde plek soek dryf jy net al hoe verder van die ware bron van geluk af weg.

Die harde werklikheid is dat dit sonde is om lewensgeluk op die verkeerde plek te soek. Mens kan net by God ware vrede en lewensgeluk vind.

In Ps. 130 hoor ons dan ook hoe sonde die mens van God vervreem. Ons hoor ook van die Psalmdigter se intense verlange om sy gebroke verhouding wat deur sonde verbreek is, met God te herstel.

In hierdie Psalm hoor ons hoe die wonder van God se genade die nare werklikheid van ons sondes oortref. Ons hoor hoe die Psalmdigter by God pleit om hom te red ten spyte van sy sondige korruptheid. Hy pleit by God op grond van sy genade en dan hoor ons hoe God antwoord op die pleidooi.

Wag op die Here en Hy sal jou bevry van die sonde slawerny.

In die eerste plek hoor ons die Psalmdigter se pleidooi:

Here red ons ten spyte van die korruptheid van ons sonde

Ons hoor hoe hy sug: “Uit die dieptes  roep  ek na U, Here.” Dan hoor ons hoe hierdie soeke na God al hoe intenser word: “luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.”

Hierdie soeke na God is alleen omdat die Psalmdigter intens bewus is van sy sonde teenoor die Here soos ons hoor in vers 3:

As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan?

Voordat ons nie intens bewus word van ons sonde en die verwoestende effek daarvan nie, sal daar nooit ’n ware begeerte na God wees nie.

Die rede waarom ons nie altyd werklik besef hoe ernstig sonde is en die effek wat dit op ons lewens het nie, is omdat ons dikwels net teen die simptome van sonde vaskyk.

Liefdeloosheid teenoor ons naaste, selfsug, woede, haat, onsedelikheid is alles net simptome van ’n baie dieper probleem.

Die dieper probleem is dat ons afgode dien in plaas van die ware lewende God. Die afgode in ons lewens lyk miskien anders as die afgode wat die Israeliete gedien het, maar die effek daarvan is net so verwoestend as wat dit vir Israel was. Ons verhouding met die enigste ware lewende God ly skade.

Die afgode in ons lewens is ook nie opsigself noodwendig altyd boos of sleg nie. Ons sien maklik die bose afgode raak, soos die smag na mag en die misbruik van mag. By die meeste van ons is dit nie noodwendig ’n probleem nie.

Die meeste afgode in ons lewens is baie goed vermom in dit wat eintlik mooi en goed is. Dinge soos ons my kinders, my loopbaan, my prestasies in die lewe, my vaardighede, my stokperdjie om maar enkele voorbeelde te noem.

Dit is nie verkeerd om ambisie te hê om te vorder in my loopbaan nie. Dit is nie verkeerd om my talente te gebruik om te presteer in die lewe nie. Dit is nie verkeerd om ’n stokperdjie te hê of om sport te geniet nie.

Wanneer ek egter my sekuriteit en eiewaarde in hierdie dinge begin soek dan begin ek afgode daarvan maak. Wanneer ek byvoorbeeld op my eie prestasies staat maak om vir my sekuriteit en lewensgeluk te verskaf, dan begin ek meer op dit vertrou as wat ek op God vertrou.

Die probleem lê nie daarin dat ek my kinders te lief het nie, maar eerder daarin dat ek God minder liefhet as wat ek hulle het.

Hoe bepaal ek wat is die afgode in my lewe?

Ek moet myself afvra, wat is dit in die lewe wat ek nie bereid is om op te gee nie? Wat is dit wat na my mening vir my sin en betekenis in die lewe gee? Wat is dit in die lewe waarop ek my sekuriteit bou? Wat is dit wat my kwaad maak of wat laat my benoud voel? Wat maak my moedeloos en verskaf aan my ’n skuldgevoel?

Wanneer ek op die gawes van God in die lewe begin fokus sonder om God wat dit gee raak te sien, dan maak ek selfs van die goeie dinge in die lewe afgode. Wanneer ek my vertroue nie in die Here stel nie, maar in die gawes wat Hy gee, dan is ek besig met afgodery.

Op ons eie sal ons nooit die afgode in ons lewe raak sien nie. Dit is die Heilige Gees wat dit vir ons uitwys. Dit is die Gees wat dit vir ons moontlik maak om soos die Psalmdigter na die Here te roep uit die diepte van ons ellende. Daarom moet ons bid dat die Heilige Gees ons lei en dan kan ons ook die Here aanroep en vra:

Red ons van ons sondes op grond van U genade

In Ps. 130:4 hoor ons:

Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.

God openbaar sy vergifnis aan ons deur die soenverdienste van Jesus Christus aan die kruis en sy oorwinning van die dood. Die Psalmdigter het vooruit daarna gekyk terwyl ons terugkyk na daarna. Ons en die Psalmdigter se hoop is dat ons uitsien na Jesus wat weer op die wolke sal kom om ons finaal van die pyn en leiding te kom verlos.

Dit is alleen op grond van sy offer aan die kruis dat ons kan bely: “Maar by U is daar vergifnis.” Dit is alleen op grond van hierdie genade van God dat ons kan weet dat ons nie goedkeuring en aanvaarding van God en die mense om ons moet verdien nie, omdat Jesus reeds God se goedkeuring, aanvaarding en liefde vir ons aan die kruis verdien het.

Op grond van God se liefde vir ons in Jesus Christus kan ons saam met Psalmdigter bely dat ons, ons hoop alleen op God plaas en dat ons ’n intense verlange het om saam met Hom te wees soos ons hoor in
Ps. 130:5-6

Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.

Sonder die Here se genade sal ons Hom wat die enigste ware bron van vrede en lewensgeluk is, nooit vind nie. Dit is alleen God wat dit moontlik maak omdat Hy deur sy Gees vir ons alles gee wat nodig is om op Hom te vertrou.

Dit wat die Here vir ons gee, vra Hy egter ook van ons

Hoop op God en glo sy belofte dat Hy ons sal bevry van ons sondeslawerny

In Ps. 130:7 hoor ons:

Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.

Om op die Here te wag beteken dat ons Hom moet vertrou. Dit beteken om "met groot verwagting uit te kyk." soos iemand wat op die uitkykpos staan en die horison dophou omdat hy weet die hulp is op pad.

Dit is nie net ’n kortstondige hoop nie, maar ’n doelbewuste keuse om jou fokus op die Here gevestig te hou, ten spyte van die omstandighede.

Dis nie ’n passiewe aksie van wag maar om te sien wat sal gebeur nie, maar ’n aktiewe wilsbesluit om met jou hele wese volhardend in geloof en gespanne verwagting op die Here wag vir die sekere uitkoms wat Hy gaan gee.

Ons moet op sy troue verbondsliefde vertrou wat Hy deur Jesus Christus op Golgota vir ons gewys het. Om God te vertrou beteken om te glo dat die verlossing by Hom alleen seker is, om te glo dat Jesus die enigste weg na God is soos Hy ook vir ons in Joh. 14:6 sê:

Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Om die Here te vertrou beteken dat Hy alleen ons van ons sondes, dit wil sê die afgode in ons lewens sal verlos soos ons hoor in Ps. 130:8:

Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.

Die afgode in ons lewens maak van ons slawe deur ons afhanklik van hulle te maak. Dan soek mens jou geluk byvoorbeeld in die uitleef van jou loopbaan eerder as wat mens jou geluk by God alleen soek.

Die Here verlos ons daarvan sodat ons maar alleen ons geluk by Hom soek. Dan kan mens ook die vreugdes, gawes en talente wat die Here vir ons gee geniet in die wete dat dit ’n gawe uit God se hand is. Dan kan ons weet dat God ons lewensgeluk bepaal, want lewensgeluk is nie in ons omstandighede gevestig nie. Dit is in die persoon en karakter van God wat die hemel en die aarde geskep het gesetel.

slot

Waar vind mens ware geluk en wat keer dat ons dit vind?” Sonde beroof ons van ware lewensgeluk in die lewe omdat dit keer dat ons, ons geluk by God alleen soek.

Deur God se genade in Jesus Christus verlos Hy ons van die sonde in ons lewe. Beleef daarom hoe die wonder van God se genade die nare werklikheid van ons sonde oortref.

Soek jou vrede en lewensgeluk net by God alleen en nie in die dinge van hierdie lewe nie en geniet so die goeie in die lewe as gawes uit God se hand sonder om afgode daarvan te maak.

Soek jou vrede en lewensgeluk by die Here alleen in Jesus Christus, want die wonder van God se genade oortref die nare werklikheid van ons sonde.

Amen