Wys tans plasings met die etiket genade. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket genade. Wys alle plasings

12 Julie 2026

Jesus, dink ook aan my!

 

Luk. 23:26-43 & Mat. 1:21

Teks Luk. 23:43

Inleiding

Kruisig Hom! Kruisig Hom! So het die skare nog kort tevore geskreeu tydens Jesus se verhoor. En nou is Hy op pad na Golgota, die kopbeenplek toe. So uitgeput is Hy dat Hy nie in staat is om selfs die dwarsbalk van sy kruis dra nie. ’n Sekere Simon van Serena word gedwing om dit te dra. Hoe eensaam is dit nie? Niemand is bereid om Hom te help nie.

 Jesus word gekruisig

’n Groot klomp mense loop agterna om te sien wat gaan gebeur. Onder hulle is daar ook ’n groep vroue wat by voorbaat oor Hom getreur en gehuil het. Jesus se reaksie hieroor is op die oog af vreemd. Hy sê vir die vroue om nie oor Hom te huil nie, maar dat hulle oor hulself moet huil. Wat Hy hiermee bedoel is dat die oordeel van God oppad is daarom moet hulle daaroor bekommerd wees want niemand gaan dit vryspring nie. Jesus verwag nie simpatie nie. Wat Hy verwag is geloof, berou en bekering.

 Uiteindelik bereik die stoet Golgota met die skedelagtige voorkoms net buite Jerusalem langs ’n groot pad. Die Romeinse soldate het die regop paal in die grond ingeplant. Nadat hulle Jesus se klere uitgetrek het moes Hy op sy rug met sy arms oopgesper bo-op die dwarsbalk gaan lê sodat hulle Hom daarop kon vasspyker. Daarna is Hy met dwarsbalk en al aan die regop paal opgehys en daarna is die twee balke aan mekaar vasgebind. Laastens is sy voete aan die regop paal vasgespyker. Bokant sy kop is daar ’n bord wat sy sogenaamde misdaad aangedui het: “die Koning van die Jode” in drie tale sodat almal kon verstaan, maar hoeveel het werklik verstaan?

 So is daar ook twee misdadigers saam met Hom gekruisig en nou hang Hy tussen hulle, een aan sy linkerkant en een aan sy regterkant. So is die profesie van Jes. 53 en Ps. 22 vervul. Hy is as misdadiger beskou. Die soldate verdeel sy klere onder mekaar, maar loot oor wie sy onderkleed moet kry.

 Jesus se reaksie

Jesus se reaksie hierop is nie woede en verbittering nie, maar vergifnis:

“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

Hier demonstreer Jesus sy opdrag, julle moet julle vyande liefhê (Mat 5:44)

“Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir dié wat julle vervolg”

maar ten spyte van hierdie liefdesdaad is daar nog steeds mense wat onaangeraak is daardeur. Die raadslede lag Hom uit en spot Hom. Smalend snou hulle Hom toe (vgl. Luk. 23:25):

Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.

Die soldate neem ook deel aan hierdie gespottery. Selfs een van die misdadigers wat saam met Hom die pyn van die kruis ervaar, doen mee aan die gespottery.

Twee antwoorde op God se genade: negatief of positief:

Negatief

In hierdie misdadiger sien ons die kenmerkende reaksie van mense wat geen berou het oor hul dade nie. Hulle sien nie hul eie foute raak nie, maar die foute van ander mense sien hulle alte maklik raak. Hulle sien nie die erns van hul probleem raak nie. Mense sonder sondebesef mis die genade van God. Dis mense wat God die skuld gee vir hul eie sondige optrede. Dit is nooit hulle skuld wanneer dinge verkeerd loop nie, maar altyd iemand anders se skuld. Dis een van die belangrikste kentekens van ’n geharde sondaar en ons sien dit reeds direk na die sondeval daar in die paradys. Dis nie my skuld, maar altyd iemand anders se skuld. Eva het die slang blameer, Adam het Eva blameer en op die uiteinde het hy God blameer. Dit is wat hierdie misdadiger doen. Hy blameer God.

 Positief

Teenoor hierdie misdadiger se optrede is die ander misdadiger. Tot hier toe het hulle dieselfde lot gehad. Beide het ’n lewe van misdaad gekies. Beide ontvang nou die straf waarmee misdaad beloon word, maar op die kruis langs Christus loop hul paaie uitmekaar. Die een kies die ewige dood en die ander kies die ewige lewe. Beide het Jesus se gebed gehoor: (vgl. Luk 23:33)

“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

 In hierdie gebed hoor ons die Evangelie, die goeie nuus van verlossing deur Jesus Christus. In dit wat Hy hier bid, vra Hy die Vader: “moet hulle nie straf nie, maar straf my!” Een misdadiger verhard sy hart en die een hoor die Evangelie, die goeie nuus dat daar deur Christus vergifnis van sonde is omdat Hyself die straf daarvoor dra. Die Evangelie van die kruis stel elke mens voor ’n besliste keuse: verharding of bekering. Die kruise aan weerskante van die Christus dui die pad na bo, maar ook die pad na onder.

 In die gebed van die tweede misdadiger (Luk. 23:42):

“Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

hoor ons die onmisbare vereiste vir die gebed van iemand wat Hom voor God verootmoedig. Hy het sy skuld ontdek en besef hoe verlore hy voor die regverdige oordeel van God staan. Hy besef dat hy reeds verlore is, maar hy gryp na die reddingstou van liefde wat Jesus met die gebed van sy eerste kruiswoorde na hom toe uitgegooi het. Hy besef dat Hy in homself niks goed het wat hom kan red nie. Al waarop hy sy hoop kan plaas is God se genade.

 Die inhoud van die gebed van verootmoediging is dit wat net ’n mens wat sy eie onvermoë besef kan bid. Hy smeek nie vir ’n plek in die koninkryk nie, want hy besef dat hy geen aanspraak daarop kan maak nie. Al wat hy vra is dat Jesus maar net aan DINK. Hy smeek nie om saligheid of iets spesifiek nie, hy vra net die aandag van Jesus die Koning. Al wat hy vra is maar net ’n krummeltjie van God se genade want hy besef dat hy op niks aanspraak kan maak nie. Hy het alles prys gegee.

 Hoe is so ’n eenvoudige, maar diep opregte gebed moontlik? Dit is alleen maar net moontlik wanneer die Heilige Gees ’n mens se hart verbrysel. Dit is wanneer die Gees die eiegeregtigheid en eie belangrikheid, die eie ek in my afbreek. Dit sien ons wanneer hy die ander misdadiger met sy verharde hart bestraf (vgl. Luk. 23:40&41):

“Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”

Daarom durf hy eintlik nie om iets van Jesus te vra nie. Hy smeek maar net “Jesus, dink ook aan my!” God se genade vra nie, ’n hoogdawerende gebed nie. In eenvoud kan ons ook maar net gelowig bid, “Jesus, dink ook aan my!”

 In Jesus se antwoord sien ons die grootheid van God se liefde en genade. Jesus kan en wil verlossing gee en daarom antwoord Hy hierdie misdager (vgl. Luk. 23:43):

“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

In plaas van die krummeltjie wat hierdie misdadiger vra, gee Jesus alles, nie net kwytskelding van skuld nie, maar ook die heerlikheid van die Paradys. Om die Paradys te ontvang moet mens eers gelowig by Golgota verbygaan.

 In sy antwoord maak Jesus ook die belofte “....... saam met My”. Wanneer Ek gaan, gaan jy ook! Dit is die klimaks van God se genade, naamlik om gemeenskap met God te beleef. God is by my en ek is in sy teenwoordigheid. Dit is ook nie maar net ’n vae belofte nie, nee dit is vas en seker. Jesus sê: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.” Nie eers eendag daar ver nie, maar VANDAG nog. Die ewige lewe saam met God begin vandag nog waar ons die heerlike teenwoordigheid van God kan beleef.

 Persoonlike boodskap

Die vraag is nou geliefdes: “wat hou die kruiswoorde van Jesus vir my in?” Wanneer ons voor die kruis van Jesus Christus te staan kom, kan ons nie maar net passief daaroor wees nie. Niemand word onaangeraak agtergelaat nie! Die kruis vra van elkeen wat is jou antwoord? Is dit die onverskilligheid van die eerste misdadiger? Ten spyte van die Evangelie wat ek gehoor het, gaan ek hier weg asof niks verander het nie. Ek onthou dalk vir so ’n kort rukkie die mooi preek, maar dit verander niks aan my lewe nie. Ek gaan maar net nog steeds aan en leef my lewe asof God nie bestaan nie. Die eerste misdadiger was so naby aan God, maar tog het Hy vir ewig verlore gegaan! Hy het sy Verlosser gesien en gehoor. Hy is gewaarsku, maar het nie gehoor gegee nie.

 Of is my reaksie ook die eenvoudige gebed van die tweede misdadiger? “Jesus, dink ook aan my!” Die belofte op hierdie gebed word egter net vir my ontsluit wanneer ek dit in ware ootmoed bid. Dit tree slegs in werking wanneer ek my eie skuld ontdek en besef hoe verlore ek werklik is wanneer ek voor die regverdige oordeel van God staan. Luister ek na die stem van die Heilige Gees in my lewe? Gryp ek God se genade in geloof aan deur hulpeloos met opregte bekering uit die diepte van my elende te smeek: “Jesus, dink ook aan my!” As dit my reaksie is, dan kan ek met vaste sekerheid weet dat Jesus se antwoord: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” ook vir my bedoel is.

 Geliefdes, wat is my reaksie op die kruisboodskap van Jesus Christus? Is ek soos die eerste misdadigers wat ten spyte daarvan dat ek die Evangelie gehoor my hart verhard, of is ek soos die tweede misdadiger wat sy eie skuld ontdek het in die diepe besef van sy verlorenheid bid: “Jesus, dink ook aan my!”

Amen

14 Junie 2026

Genade onbeskryflik groot - 02


 2 Kor. 12:1-10

2 Kor. 12:1-10

Teksverse 2 Kor. 12:7-9

Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Inleiding

Wat is genade? Ons het verlede week gehoor dat genade nie maar net ’n geskenkpakkie is wat ons uit die hemel ontvang nie. Dit is soveel meer. Genade is God wat die hemel en die aarde uit niks geskep het wat Homself aan ons gee. Ons het gehoor dat die aard en karakter van God se genade is dat Hy omgee vir ons. Hy het ’n diep, deernisvolle liefde vir ons en daarom buk Hy af na ons sonder dat ons iets hoef te doen om dit te verdien en dat ons op Hom kan reken omdat Hy betroubaar is.

Vandag gaan ons hoor wat God se genade vir ons beteken. Paulus beskryf hier in 2 Kor. 12 wat God se genade vir hom beteken het en daarmee saam ook wat dit vir ons beteken.

Agtergrond

Ons kry dikwels gedeeltes in die Skrif wat so ’n bietjie kripties is en wat nie baie detail deurgee nie. In vandag se teks vind ons twee voorbeelde daarvan. Om te verstaan moet ons kyk na die konteks van die brief wat Paulus aan die gemeente in Korinte geskryf het.

Die gemeente in Korinte was soos ’n tiener kind wat vol moeilikheid was wat vir Paulus grys hare gegee het. Tog was Paulus baie lief vir die gemeente en daarom het hy verskeie briewe aan die gemeente geskryf. Soms was hulle net so rebels soos ’n tiener in die sin dat daar sommige lidmate was wat Paulus se gesag as apostel bevraagteken het. In hierdie brief klaar hy ’n paar misverstande op en verdedig hy sy gesag as apostel.

Hy doen dit egter nie uit ’n posisie van eie gesag of dat hy so ’n wonderlike begaafde mens is nie. Paulus se gesag as apostel lê nie in sy eie krag nie, maar daarin dat hy deur God se genade die bediening ontvang het.

In 2 Kor. 12: 2 hoor ons:

Ek ken 'n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel.

Paulus beskryf hier ’n ervaring wat hy gehad het om God te ontmoet, maar hy gee nie baie detail daarvan nie en daarom moet ons versigtig wees dat ons nie meer in die Skrif in lees as wat daar staan nie want die fokus is nie daarop nie.

Daarom verwys hy ook na homself in die derde persoon omdat die fokus nie op hom is nie. Paulus gee doelbewus nie detail nie omdat die fokus op God se genade is en dat dit die basis is van sy apostelskap.

Die doring in die vlees

Die fokus is God se genade en daarom vertel Paulus ook van ’n intense pynlike persoonlike ervaring wat hy gehad het wat verduidelik wat God se genade vir hom beteken het en hier kom ons by nog ’n kriptiese beskrywing van Paulus se doring in die vlees sonder dat hy detail daaroor gee.

Weereens moet ons oppas om nie op ’n dwaalspoor te gaan nie, want dan mis ons dit waaroor dit werklik gaan. Verskillende kommentare en verklarings gee dikwels heel party moontlike verklarings van wat Paulus se doring kan wees, maar ek gaan dit nie eers noem nie, want op die uiteinde bly dit maar net bloot spekulasie.

Ons hoor nie hier wat Paulus se doring was nie, omdat Paulus se doring nie noodwendig beskrywend is van wat ons eie dorings is nie. Elke persoon se doring is uniek en wat hier belangrik is, is dat net soos wat God sy genade vir Paulus se doring gegee het, dat God se genade daar is vir elkeen om ons te dra in ons swaarkry in ons eie unieke situasie.

Ons weet nie wat Paulus se doring is nie, maar wat ons wel hoor, is dat dit nie maar net lastigheid was nie. Dit was ’n intense beproewing. Paulus gebruik die beeld van ’n boodskapper van satan wat hom met vuiste slaan om te verduidelik hoe swaar hy gekry het.

Die tweede ding is dat God dit toegelaat het. Die perspektief hierop is dat niks buite om God gebeur nie en dat Hy nie onverhoeds gevang word nie. God is in beheer en ons is nie maar bloot net aan die noodlot uitgelewer nie.

Wat was Paulus se reaksie? Sy reaksie was maar net tipes wat ons reaksie is oor die swaarkry in ons lewens. “HERE vat dit asb. Weg!” Paulus het drie maal gebid dat sy doring weggeneem moet word en hier kom ons by ’n moeilike werklikheid in die lewe. God laat swaarkry en pyn in ons lewens toe. Hier kry ons die perspektief daarop.

Die prys van God se genade

God se antwoord op Paulus se pleidooi om die doring weg te vat verduidelik vir ons wat sy genade vir ons beteken. Paulus vra: “HERE vat dit asb. Weg!” en God antwoord: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

God sê nie hier vir Paulus, “Nee, Ek gaan nie jou pyn wegvat en jy moet nou maar sien kom klaar nie.” Sy antwoord is: Hy gee Homself, die ewige God, Skepper van die hemel en aarde wat in deernis en omgee afbuk na jou pyn met die waarborg van sy onbreekbare verbondstrou om daar te wees vir jou wanneer die dorings in die lewe jou steek.

Sonde het skeiding gebring tussen ons en God en om dit moontlik te maak vir God om daar te wees midde in jou pyn moet die prys vir sonde betaal word. Die prys vir ons sonde is die dood en dit moet betaal word sodat geregtigheid kan geskied. God die Vader het sy Seun gestuur om die prys van ons sonde aan die kruis te betaal, en die Heilige Gees het Hom uit die dood opgewek sodat ons kan lewe.

Wanneer God vir Paulus sê: "My genade is vir jou genoeg," sê Hy eintlik: "Paulus, kyk na die prys wat Ek betaal het om jou in my teenwoordigheid te hê. As my genade só duur was, dink jy Ek sal jou nou alleen los met hierdie doring? As my genade genoeg was om jou ewige skuld te betaal, is dit meer as genoeg om jou daaglikse swakheid te dra."

Waarom is daar dorings in die lewe?

Ons kry hier die perspektief van hoe God se genade ons dra deur die swaarkry en pyn van die lewe. Hoogmoed is wanneer jy net op eie krag wil staatmaak en dit is die wortel van sonde wat skeiding tussen die mens en God gebring het.

Die probleem is dat ons eie krag ons nie kan dra nie. Ons is op pad na die ewige heerlikheid waar die gevolge van sonde, naamlik die pyn en swaarkry van die lewe nie meer daar gaan wees nie, maar ons is nog nie daar nie en ons het God se krag nodig om in hierdie lewe staande te kan bly.

As God vir Paulus bloot die doring weggeneem het, sou Paulus dalk 'n hoogmoedige, selfvoldane apostel geword het wat in sy eie krag probeer werk het. Deur die doring te los, moes Paulus elke oggend op sy knieë gaan en sê: "Here, ek kan nie vandag sonder U nie." En in daardie afhanklikheid het Paulus die "soveel meer" van God se genade beleef. Hy het God se eie teenwoordigheid en krag gekry.

Genade beteken soms dat God my so lief het, dat Hy my nie sal spaar van die doring as die doring die enigste manier is om my naby aan Sy hart te hou nie.

Ons hoor in Mat. 5:3:

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Ons het dikwels ons eie oplossings en dan wil ons net hê dat God daardie oplossings implementeer. Die probleem is dat daardie oplossings dikwels nie die beste oplossing is nie en dat dit die gevaar inhou om ons op die uiteinde in die verderf te stort omdat dit ons van God vervreem.

Om kommer- en sorgvry te wees ver van God is veel erger as om ’n doring te hê met God aan jou sy.

Slot

God se genade is dat Hy Homself aan ons gee en dikwels het ons die dorings in die lewe nodig om dit raak te sien sodat ons vanuit God se krag begin leef en nie op ons eie krag staatmaak nie.

Moenie in die dorings van die lewe vaskyk nie. Sien God se genade raak en leef vanuit God se krag want God se genade is al wat ons in die lewe nodig het. Sien raak dat jy sonder God nie een enkele tree kan gaan nie. Vra die HERE elke dag: "Here, gee my U genade. Moenie my vandag alleen los nie. Trek saam met my in my dag in."

Amen

07 Junie 2026

Genade onbeskryflik groot 01

Lees: Eksodus 34:1 – 10 Teksvers Eks. 34:6 & 7

Inleiding

Wat is genade? Ons haak so maklik vas by die gedagte dat genade bloot ons skuld uitvee deur sondevergifnis. Dit is soos om die sleutel vir ’n paleis te kry, maar dan bly jy net op die drumpel sit sonder om ooit binnetoe te gaan.

Sondevergifnis maak die deur van die paleis oop, maar binne in die paleis is soveel meer! As ons maar net aan genade dink as die geskenk van sondevergifnis, dan mis ons iets groots in die lewe. Wanneer ons so aan genade dink, maak dit van ons oppervlakkige Christene wat Sondae so bietjie lafenis en rus by God kom soek en dan leef ons die res van die week asof God nie bestaan nie.

Geliefdes, genade is soveel meer! Dis nie net ’n geskenk van God nie. God se genade is God self waar Hy Homself vir ons gee. En dit is juis hier in Eksodus 34:6 & 7 waar die Heilige Gees dit so duidelik vir ons uitspel wat God se genade werklik is.

Agtergrond

Om die werklike impak te verstaan van wat God hier vir ons sê moet ons net weer kyk wat voor dit gebeur het in Eksodus 32 en 33. Terwyl Moses op die berg was om die tien gebooie te ontvang, het die volk as te ware owerspel gepleeg deur ’n goue kalf afgod te maak. Dit is net so goed as ’n man wat tydens sy huweliksonthaal owerspel pleeg. Die verhouding is basies in skerwe!

Moses pleit vir die volk en vra dan vir God 'n radikale vraag soos ons in Eks. 33:18 hoor:

"Laat my tog u heerlikheid sien."

Wanneer God Sy "heerlikheid" aan Moses wys, gee Hy nie vir hom 'n indrukwekkende ligvertoning nie. Hy kondig sy Naam aan en Hy openbaar sy karakter aan Moses.

Wat is God se genade werklik?

Moses het die HERE gevra "Laat my tog u heerlikheid sien." En hier in Eks. 34:6 & 7 wys die HERE sy heerlikheid aan Moses deur sy Naam aan te kondig en om sy karakter aan Moses te openbaar.

“Die Here, die Here,

'n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag. ”

Hy begin deur sê wie Hy is met die aankondiging van sy verbondsnaam: “Die Here, die Here”. Dit is dieselfde verbondsnaam wat God aan Moses by die brandende braambos geopenbaar het in Eksodus 3:14. Die letterlike betekenis is “Ek Is”. Met ander woorde God alleen bestaan uit Homself. Hy het geen oorsprong nie. Hy het geen Skepper nie. Hy is nie afhanklik van enigiets buite Homself nie. Hy is die Skepper van hemel en aarde.

In Hebreeuse literatuur is die herhaling van 'n woord die hoogste vorm van beklemtoning. Deur "Jahwe, Jahwe" te roep, sê God: "Ek is onveranderlik en absoluut Wie Ek is. Ek word deur niks en niemand buite Myself gedefinieer of beïnvloed nie.

Nadat God gesê het wie Hy is, beskryf Hy sy karakter. Hy begin met “barmhartig”. Letterlik beteken dit die diepe ontferming van 'n moeder teenoor die kind wat sy gedra het. Met ander woorde God se karakter is dat Hy van nature ontfermend is.

God sê vir Moses: "Die eerste ding wat jy van My heerlikheid moet weet, is dat my hart vir hierdie opstandige volk ineen trek soos 'n ma se hart vir haar siek kind." Met ander woorde dit is 'n diep, emosionele, koesterende konneksie van God met ons broosheid.

Dan volg Hy op met “genadig”. Die letterlike betekenis van hierdie woord is ’n Koning wat afbuk. Nadat Israel 'n afgod gemaak het, het hulle alle status verloor. Hulle was niks. Maar God kom buk doelbewus af om hierdie gevalle volk op te tel. God se Genade beteken God verander Sy postuur teenoor ons vanaf die verhewe Regter na 'n Vader wat laag afbuk om ons in die oë te kyk.

Die Ewige, Selfbestaande Skepper van die heelal (Jahwe / Ek is) buk af na ons as nietige mense. Dit beteken genade is nie bloot dat God van 'n afstand af vriendelik is nie. God se genade is die rangorde van die heelal wat omgedraai word: Die Een wat bo alles verhewe is, kies doelbewus die postuur van 'n Dienskneg wat afbuig om Sy stukkende, ontroue volk op te tel en aan Sy eie bors vas te druk.

En hier kry ons ’n direkte heenwysing na Jesus. In Joh. 1:14 hoor ons: "En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon..." En hoe word Jesus hier beskryf? "...vol van genade en waarheid." Johannes gebruik doelbewus die taal van Eksodus 34. Die Woord wat mens word, is God wat nie meer net van 'n berg af Sy karakter aankondig nie, maar wat Sy karakter vlees en bloed gee.

En in Fil. 2:6-8 hoor ons:

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

God se genade is nie 'n pakkie wat Hy uit die hemel gooi nie. Jesus Christus is die afbukkende God. In die Menswording sien ons hoe die Ewige God die stof van ons aarde tussen Sy tone kry. Hy buk af tot in die krip, tot by dieselfde vlak van ons menswees, tot by ons siekbeddens en ons swaarkry.

En dan hoor ons in Eks. 34:6 God is “geduldig”. God se oordeel word nie haastig uitgeoefen nie. Hy gee ruimte vir bekering en dit is dit juis wat in Eksodus 32-34 gebeur ná die sonde met die goue kalf. Genade is nie net 'n eenmalige kwitansie nie; dit is die skep van tyd en ruimte waarin ons kan foute maak en herstel sonder dat God dadelik tou opgooi.

En dan voeg Hy ook by: oorvloedig in troue liefde”. Dit is God se liefde wat sê: "Ek het my aan jou verbind en daarom sal Ek jou nie los nie." God gee hier ’n waarborg dat Hy Homself daartoe verbind dat Hy môre nog daar gaan wees, selfs al het ek vandag gefaal.

En dan sluit Hy af dat Hy sonde vergewe, maar dit tog nie ongestraf laat bly nie. Hier kom ons by die dieptepunt van God se genade want Hy ignoreer nie net jou sonde nie, Hy wis dit uit deurdat sy Seun die volle skuld daarvan aan die kruis betaal het.

Genade is iets wat ons verniet ontvang maar dit is nie gratis nie. Dit kos BAIE DUUR! En dit is God wat in die persoon van sy Seun daardie prys met sy bloed betaal.

Genade is dus nie maar net die geskenkpakkie van skuldvergiffenis nie, wat sê: "Ek hou nie meer jou verlede teen jou nie." Dit is soveel meer: God se Genade sê: "Ek gee My hele self vir jou vir die toekoms. Ek gee my deernis en omgee, my guns, my geduld en my ewige lojaliteit vir jou."

Wat is jou reaksie op God se genade?

Die vraag is nou: “Wat is jou reaksie op God se genade?” Wanneer ons God se genade maar net as ’n geskenkpakkie beskou dan is ons reaksie dikwels "O, dis gaaf van God," en dan gaan ons aan met ons lewens asof niks verander het nie.

In Eks. 34:8 & 9 sien ons wat se lewensveranderende effek die genade van God op ’n mens het:

Moses het haastig op die grond gekniel en in aanbidding gebuig.

Toe Moses die volle impak van Wie God is besef, het hy nie begin argumenteer, dinge verduidelik of sy eie gedrag probeer regverdig nie. Sy eerste reaksie was liggaamlik en onmiddellik: hy val plat op sy gesig. Wanneer ons God se genade regtig begin raaksien, krimp ons behoefte om onsself te verdedig of te bewys. Dan is ons reaksie op genade nie "O, dis gaaf van God nie," maar 'n diep, oorweldigende ontwapening. Ons buig voor die grootheid van God, nie uit angs of vrees nie, maar in verwondering.

God se genade bevestig sy verbintenis en daarom het Moses die vrymoedigheid om te vra: “Al is dit 'n hardnekkige volk, moet U ons skuld en ons sonde vergewe, en ons as u eiendom aanvaar.”  Hy probeer nie vir God sê: "Here, dankie vir U genade, ons sal van nou af beter probeer en belowe om nooit weer 'n goue kalf te maak nie." Nee, hy kyk vir God reg in die oë en sê die rou waarheid: "Ons is 'n hardnekkige, opstandige volk."

Goedkoop genade maak dat mense hul sonde ligtelik opneem of wegsteek. Maar duur, eensydige genade skep 'n veilige ruimte vir absolute eerlikheid. Omdat ons weet God se verhouding met ons is reeds vasgemaak deur Sy karakter (nie ons prestasie nie), hoef ons nie meer voor te gee dat ons "alles bymekaar het" nie. Ons kan ons mislukkings en ons hardnekkigheid bely sonder die vrees dat Hy ons gaan verwerp, want dit juis wanneer jy by ’n eerlike sonde belydenis uitkom dat jy werklik besef hoe afhanklik jy van God is.

Die belangrikste reaksie van Moses is egter sy diepe besef dat hy die lewe nie durf aanpak sonder God se teenwoordigheid nie. Hy vra: “As ek wel guns gevind het in u oë, my Heer, moet my Heer asseblief in ons midde saamtrek.” 

Die regte reaksie op genade is nooit: "Dankie vir die vergifnis, nou is my lisensie hernu en kan ek aangaan met my eie lewe" nie. Die regte reaksie is 'n diepe desperaatheid na God se teenwoordigheid. Dis om te besef: sonder God wat afbuk, gaan ons dit nie maak nie. Ons het baie meer as net Sy vergifnis nodig. Ons kort God Homself as ons metgesel op ons reis deur die lewe.

Die “soveel meer” van God se genade

Wanneer jy die "soveel meer" van genade verstaan is dit onmoontlik om maar net soos voorheen onveranderd aan te gaan nie. Jy word radikaal eerlik oor jou eie swakhede en jou hardnekkigheid en dit bring jou tot die diepe besef dat Jy sonder God nie een enkele tree kan gaan nie.

Vra die HERE elke dag: "Here, gee my U genade. Moenie my vandag alleen los nie. Trek saam met my in my dag in."

Amen

 

26 April 2026

Die wonder van God se genade oortref die nare werklikheid van ons sonde

 

Psalm 130; Teksverse Ps. 130:1 & 8

Inleiding

Waar vind mens ware geluk en wat keer dat ons dit vind?” Indien mens nie jou lewensgeluk op die regte plek soek nie, sal jy dit nooit vind nie. Wanneer mens jou lewensgeluk op die verkeerde plek soek dryf jy net al hoe verder van die ware bron van geluk af weg.

Die harde werklikheid is dat dit sonde is om lewensgeluk op die verkeerde plek te soek. Mens kan net by God ware vrede en lewensgeluk vind.

In Ps. 130 hoor ons dan ook hoe sonde die mens van God vervreem. Ons hoor ook van die Psalmdigter se intense verlange om sy gebroke verhouding wat deur sonde verbreek is, met God te herstel.

In hierdie Psalm hoor ons hoe die wonder van God se genade die nare werklikheid van ons sondes oortref. Ons hoor hoe die Psalmdigter by God pleit om hom te red ten spyte van sy sondige korruptheid. Hy pleit by God op grond van sy genade en dan hoor ons hoe God antwoord op die pleidooi.

Wag op die Here en Hy sal jou bevry van die sonde slawerny.

In die eerste plek hoor ons die Psalmdigter se pleidooi:

Here red ons ten spyte van die korruptheid van ons sonde

Ons hoor hoe hy sug: “Uit die dieptes  roep  ek na U, Here.” Dan hoor ons hoe hierdie soeke na God al hoe intenser word: “luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.”

Hierdie soeke na God is alleen omdat die Psalmdigter intens bewus is van sy sonde teenoor die Here soos ons hoor in vers 3:

As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan?

Voordat ons nie intens bewus word van ons sonde en die verwoestende effek daarvan nie, sal daar nooit ’n ware begeerte na God wees nie.

Die rede waarom ons nie altyd werklik besef hoe ernstig sonde is en die effek wat dit op ons lewens het nie, is omdat ons dikwels net teen die simptome van sonde vaskyk.

Liefdeloosheid teenoor ons naaste, selfsug, woede, haat, onsedelikheid is alles net simptome van ’n baie dieper probleem.

Die dieper probleem is dat ons afgode dien in plaas van die ware lewende God. Die afgode in ons lewens lyk miskien anders as die afgode wat die Israeliete gedien het, maar die effek daarvan is net so verwoestend as wat dit vir Israel was. Ons verhouding met die enigste ware lewende God ly skade.

Die afgode in ons lewens is ook nie opsigself noodwendig altyd boos of sleg nie. Ons sien maklik die bose afgode raak, soos die smag na mag en die misbruik van mag. By die meeste van ons is dit nie noodwendig ’n probleem nie.

Die meeste afgode in ons lewens is baie goed vermom in dit wat eintlik mooi en goed is. Dinge soos ons my kinders, my loopbaan, my prestasies in die lewe, my vaardighede, my stokperdjie om maar enkele voorbeelde te noem.

Dit is nie verkeerd om ambisie te hê om te vorder in my loopbaan nie. Dit is nie verkeerd om my talente te gebruik om te presteer in die lewe nie. Dit is nie verkeerd om ’n stokperdjie te hê of om sport te geniet nie.

Wanneer ek egter my sekuriteit en eiewaarde in hierdie dinge begin soek dan begin ek afgode daarvan maak. Wanneer ek byvoorbeeld op my eie prestasies staat maak om vir my sekuriteit en lewensgeluk te verskaf, dan begin ek meer op dit vertrou as wat ek op God vertrou.

Die probleem lê nie daarin dat ek my kinders te lief het nie, maar eerder daarin dat ek God minder liefhet as wat ek hulle het.

Hoe bepaal ek wat is die afgode in my lewe?

Ek moet myself afvra, wat is dit in die lewe wat ek nie bereid is om op te gee nie? Wat is dit wat na my mening vir my sin en betekenis in die lewe gee? Wat is dit in die lewe waarop ek my sekuriteit bou? Wat is dit wat my kwaad maak of wat laat my benoud voel? Wat maak my moedeloos en verskaf aan my ’n skuldgevoel?

Wanneer ek op die gawes van God in die lewe begin fokus sonder om God wat dit gee raak te sien, dan maak ek selfs van die goeie dinge in die lewe afgode. Wanneer ek my vertroue nie in die Here stel nie, maar in die gawes wat Hy gee, dan is ek besig met afgodery.

Op ons eie sal ons nooit die afgode in ons lewe raak sien nie. Dit is die Heilige Gees wat dit vir ons uitwys. Dit is die Gees wat dit vir ons moontlik maak om soos die Psalmdigter na die Here te roep uit die diepte van ons ellende. Daarom moet ons bid dat die Heilige Gees ons lei en dan kan ons ook die Here aanroep en vra:

Red ons van ons sondes op grond van U genade

In Ps. 130:4 hoor ons:

Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.

God openbaar sy vergifnis aan ons deur die soenverdienste van Jesus Christus aan die kruis en sy oorwinning van die dood. Die Psalmdigter het vooruit daarna gekyk terwyl ons terugkyk na daarna. Ons en die Psalmdigter se hoop is dat ons uitsien na Jesus wat weer op die wolke sal kom om ons finaal van die pyn en leiding te kom verlos.

Dit is alleen op grond van sy offer aan die kruis dat ons kan bely: “Maar by U is daar vergifnis.” Dit is alleen op grond van hierdie genade van God dat ons kan weet dat ons nie goedkeuring en aanvaarding van God en die mense om ons moet verdien nie, omdat Jesus reeds God se goedkeuring, aanvaarding en liefde vir ons aan die kruis verdien het.

Op grond van God se liefde vir ons in Jesus Christus kan ons saam met Psalmdigter bely dat ons, ons hoop alleen op God plaas en dat ons ’n intense verlange het om saam met Hom te wees soos ons hoor in
Ps. 130:5-6

Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.

Sonder die Here se genade sal ons Hom wat die enigste ware bron van vrede en lewensgeluk is, nooit vind nie. Dit is alleen God wat dit moontlik maak omdat Hy deur sy Gees vir ons alles gee wat nodig is om op Hom te vertrou.

Dit wat die Here vir ons gee, vra Hy egter ook van ons

Hoop op God en glo sy belofte dat Hy ons sal bevry van ons sondeslawerny

In Ps. 130:7 hoor ons:

Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.

Om op die Here te wag beteken dat ons Hom moet vertrou. Dit beteken om "met groot verwagting uit te kyk." soos iemand wat op die uitkykpos staan en die horison dophou omdat hy weet die hulp is op pad.

Dit is nie net ’n kortstondige hoop nie, maar ’n doelbewuste keuse om jou fokus op die Here gevestig te hou, ten spyte van die omstandighede.

Dis nie ’n passiewe aksie van wag maar om te sien wat sal gebeur nie, maar ’n aktiewe wilsbesluit om met jou hele wese volhardend in geloof en gespanne verwagting op die Here wag vir die sekere uitkoms wat Hy gaan gee.

Ons moet op sy troue verbondsliefde vertrou wat Hy deur Jesus Christus op Golgota vir ons gewys het. Om God te vertrou beteken om te glo dat die verlossing by Hom alleen seker is, om te glo dat Jesus die enigste weg na God is soos Hy ook vir ons in Joh. 14:6 sê:

Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Om die Here te vertrou beteken dat Hy alleen ons van ons sondes, dit wil sê die afgode in ons lewens sal verlos soos ons hoor in Ps. 130:8:

Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.

Die afgode in ons lewens maak van ons slawe deur ons afhanklik van hulle te maak. Dan soek mens jou geluk byvoorbeeld in die uitleef van jou loopbaan eerder as wat mens jou geluk by God alleen soek.

Die Here verlos ons daarvan sodat ons maar alleen ons geluk by Hom soek. Dan kan mens ook die vreugdes, gawes en talente wat die Here vir ons gee geniet in die wete dat dit ’n gawe uit God se hand is. Dan kan ons weet dat God ons lewensgeluk bepaal, want lewensgeluk is nie in ons omstandighede gevestig nie. Dit is in die persoon en karakter van God wat die hemel en die aarde geskep het gesetel.

slot

Waar vind mens ware geluk en wat keer dat ons dit vind?” Sonde beroof ons van ware lewensgeluk in die lewe omdat dit keer dat ons, ons geluk by God alleen soek.

Deur God se genade in Jesus Christus verlos Hy ons van die sonde in ons lewe. Beleef daarom hoe die wonder van God se genade die nare werklikheid van ons sonde oortref.

Soek jou vrede en lewensgeluk net by God alleen en nie in die dinge van hierdie lewe nie en geniet so die goeie in die lewe as gawes uit God se hand sonder om afgode daarvan te maak.

Soek jou vrede en lewensgeluk by die Here alleen in Jesus Christus, want die wonder van God se genade oortref die nare werklikheid van ons sonde.

Amen


29 Maart 2026

Nader aan God 02 – Nader aan God deur genade

 


Lees: 

Luk. 22:31-34; Luk. 22:54-62; Joh. 21:15-19

Inleiding

Waar staan jy in jou verhouding met God? Ons lewens raak soms so besig en gejaagd dat ons nie eers agterkom dat ons besig is om weg te dryf van God af nie.

Daarom is dit nodig dat ons net weer so bietjie stilstaan by wat dit beteken om nader aan God te beweeg, want op die uiteinde is ons grootste doel in die lewe om in ’n verhouding met God saam te leef en ons dag tot bestaanstryd maak so maklik dat ons dit uit die oog verloor.

Om nader aan God te kom, begin by die erkenning van hoe ver ons eintlik weg gedryf het. In die verhaal van Petrus en die dramatiese gebeure waarin hy betrokke was kort voor Jesus gekruisig is, leer ons om net weer opnuut na onsself te kyk om ons prioriteite in die lewe weer raak te sien.

Hierin sien ons ook dat ons nie deur ons eie krag en inspanning nader aan God kan beweeg nie. Inteendeel, dit is juis dit wat ons so dikwels verder van God af laat beweeg. Ons het nodig om raak te sien dat ons net deur God se genade nader aan Hom kan beweeg.

Hierdie verhaal van Petrus kort voor Jesus se kruisiging wys vir ons hoe om nader aan God deur sy genade te beweeg.

Jesus is hier in gesprek met sy dissipels tydens die laaste Paasmaal wat Hy saam met hulle gevier het kort voor Hy gekruisig is. Hy is besig om hulle voor te berei vir dit wat gaan kom. Alhoewel Hy reeds vir hulle by vorige geleenthede verduidelik het, het hulle nog nie regtig verstaan nie.

Ons hoor in Mat. 26:31 dat Jesus vir die dissipels sê dat hulle Hom op daardie selfde aand in die steek sal laat. Lukas voeg egter ’n belangrike detail van daardie gesprek by soos ons hoor in Luk. 22:31:

Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”

Jesus waarsku hier oor die geestelike oorlogvoering. En dis iets wat ons so maklik miskyk, geliefdes. Ons is so vasgevang in die rasionele denkraamwerk van ons tyd dat ons dikwels vergeet dat ons in ’n geestelik oorlog betrokke is.

In Ef. 6:12 hoor ons:

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

Hierdie geestelike stryd is maar nog steeds net dieselfde stryd wat reeds daar in die Paradys begin het. Die satan probeer om ’n wig tussen die mens en God in te dryf.

Ons moet egter nie die fout maak om te dink dat die satan kan doen net wat hy wil nie. Hy kan net doen wat God hom toelaat om te doen. Verder ook moet ons ook verstaan dat God hom nie toelaat om sy bose doelwitte te bereik nie.

Die beeld wat Jesus hier gebruik is die kaf van die koring te skei. Nadat koring geoes en getrap is om dit los te maak, is dit in ’n sif of ’n vlak mandjie geplaas. Die persoon het hierdie sif dan gewelddadig heen en weer geskud.

Jesus waarsku Petrus dat hier ’n baie moeilike toets voorlê. Petrus kyk egter mis dat dit ’n geestelike stryd is en hy dink dat hy die toets sal deurstaan deur sterk te probeer wees, want hy sien dit net as ’n fisiese uitdaging soos ons hoor in Luk. 22:33:

Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”

Jesus sê ook vir Petrus hoe hy die stryd moet aanvoer. Gebed dat jou geloof versterk kan word.

Hoe jy die geestelike stryd benader bepaal of jy nader aan God beweeg en of jy weg van God af beweeg.

Jesus waarsku Petrus soos ons hoor in Luk. 22:34:

“Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.”

Die satan se motief was vernietiging. Hy wou Petrus so hard "skud" in die hoop dat hy heeltemal uitmekaar sou val en sy geloof weggooi.

En aanvanklik lyk dit of die satan in sy doel slaag. Daar waar die dinge begin warm raak het vir Petrus het sy bravade hom in die steek gelaat. Nou was dit vrees wat hom gedryf het. Hy vergeet wat Jesus net ’n paar uur van tevore vir hom gesê het.

En is dit nie maar ook hoe dit dikwels met ons gaan nie geliefdes? Daar waar ons in die spervuur beland en die koeëls om ons koppe begin vlieg, vergeet ons van God. Dan probeer ons maar net om op enige manier daaruit te kom en soms begin ons ook twyfel of God regtig vir ons omgee.

Die draaipunt vir Petrus het gekom nadat hy die haan hoor kraai het en dit het hom laat opkyk waar hy in Jesus se oë vasgekyk het. En dis waar Petrus God se genade raakgesien het.

Jesus het nie met oordeel en verwyt na Petrus gekyk nie. Jesus se kyk het nie vir Petrus gesê: “sien jy nou! Ek het jou mos gesê nie!” Nee, geliefdes met daardie kyk het Jesus vir Petrus gesê: “Onthou, ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie sal begewe nie!”

Selfs daar waar Jesus in sy eie krisis was op pad na die kruis en Godverlatenheid toe, het Hy nog steeds tyd gehad vir Petrus om inderwaarheid vir hom te sê: “Ek doen dit vir jou!”

En dit was die keerpunt vir Petrus wat hom tot inkeer laat kom het. Geliefdes, het jy al die haan hoor kraai? Het jy al opgekyk na Jesus toe? Het jy al saam met Petrus bitterlik gehuil?

Dit was nie Petrus se bravade en sterk wees wat hom deur die krisis gedra het nie. Dit was God se genade.

Satan wou Petrus skud om hom te vernietig en dit is wat hy met ons ook wil doen. Maar weet dat God nie toelaat dat satan se bose planne slaag nie.

God laat toe dat ons soos kaf geskud word, maar vir ’n ander rede as wat die satan graag wou hê. God laat die sifting toe om ons kaf te verwyder: ons oormoed en vertroue op eie krag en ons valse bravade sodat die koring van geloof en vertroue in God se genade oorbly.

In Joh. 21:15-19 sien ons nog verder hoe groot God se genade is. Petrus het Jesus drie maal verloën. Drie maal vra Jesus vir Petrus of hy Hom liefhet en drie maal kry Petrus die geleentheid om dit te bevestig en drie maal gee Jesus vir Petrus die opdrag om te gaan werk in God se Koninkryk. Dan som Hy dit op met sy opdrag in
Joh. 21:19: “Volg My!”

Slot

Hoe beweeg mens nader aan God? Nie deur eie krag en bravade om vir God te bewys hoe goed ons is nie.

Weet dat ons betrokke is in ’n geestelike stryd, maar weet ook dat die vyand, die satan nie mag oor ons het nie en daarom moet ons nie toelaat dat ons deur vrees oorweldig moet word nie.

God se genade in Jesus Christus sê vir ons: “ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.”

Die kernpunte wat ons moet onthou is dat moet bid dat ons geloof sterk bly. Verder dat daar waar ons soos koring geskud word, dat ons moet vashou aan ons geloof en vertroue in God.

Daar waar ons wegdwaal, en begin twyfel in God omdat die lewe moeilik raak, kyk op na Jesus en sien sy liefde en genade raak.

Onthou sy opdrag om te werk in die Koninkryk van God om Jesus se liefde in jou lewe sigbaar te maak vir die wêreld.

Beweeg nader aan God deur sy genade deur ’n volgeling van Jesus te wees.

Amen


08 Februarie 2026

Genade Onbeskryflik Groot: God se liefde Maak jou Vry!

 


Lees: Jes. 52:13 – 53

Die Ou Testament verkondig die evangelie, die goeie nuus van Jesus Christus! Eeue voor Jesus se geboorte kry ons hierdie profesie oor God se Dienskneg en wanneer ons dit lees, dan sien ons die Dienskneg is niemand anders as Jesus Christus nie. Inderdaad lyk dit of Jesaja 53 deel moet wees van die Nuwe Testament. Hier sien ons inderdaad hoe groot God se genade is en hoe God se liefde jou vry maak.

Genade Onbeskryflik Groot. Genade is ’n reusewoord. Amper TE GROOT om te verstaan omdat genade ons NUUT MAAK. Genade is God se liefde aan die werk.

Genade is dat ons nie ontvang wat ons verdien nie.

Wat verdien ons?

Ons verdien die dood, want dit is wat die straf is, omdat ons teen God gerebeleer het. Met ons sonde het ons die perfekte leefwêreld wat God vir ons gegee het verander in die stukkende wêreld waarin ons vandag leef.

Dit is een van die grootste krisisse in die geskiedenis van die wêreld, want as God nie ingryp nie dan is alle hoop verlore. Die manier waarop God besluit het om in te gryp is vir die mensdom onverstaanbaar. Iets waaraan hulle nooit eers gedink het nie soos ons hoor in
Jes. 52:15 & 53:1

Maar hy gaan baie nasies laat opspring van verbasing. Konings sal sprakeloos wees oor hom, want hulle sal iets sien wat nie aan hulle vertel is nie, hulle sal iets te wete kom wat hulle nog nooit gehoor het nie. Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?

God se manier is vir die mens onsinnig want die helde van mense werk anders. Die mens se helde is imposante figure. Iemand wat respek afdwing en wat met krag en mag oorwin. God se Dienaar wie Hy gekies het om die grootste krisis van die mensdom op te los is, nie iemand waarna jy twee keer sou kyk as jy Hom op straat sou raakloop nie soos ons hoor in Jes. 53:2b - 3

Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.

Waar het jy nou al gehoor van ’n held wat doodgemaak word. In ons verwysingsraamwerk oorwin die held altyd, maak nie saak watse gevare hy aan blootgestel word nie. By God werk sy genade egter anders soos ons hoor in
Jes. 53:4 & 5

Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

Dit is dan ook wat ons elke keer met die Nagmaal herdenk soos ons hoor in 1 Kor. 11:26

Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

Hierdeur herinner God ons dat die wonde wat ons sonde en die sondige gevolge van die wêreld en die lewe ons toegedien het, deur Christus se wonde genees word. Hy herinner ons dat die gees in my wat deur die sonde gedood is, weer lewend gemaak word deur Christus se dood aan die kruis.

Hoe verduidelik mens iets abstrak wat jy nie kan sien nie? Jy gebruik ’n voorbeeld uit die leefwêreld wat almal ken en verstaan. Dit is wat God met brood en die wyn doen tydens Nagmaal.

Hy verduidelik twee sake naamlik hoe Christus dit gedoen het. Net soos wat die brood gebreek word, is Christus se liggaam aan die kruis gebreek en net soos die wyn uitgegooi word, is Jesus se bloed uitgestort.

Verder verduidelik die brood en wyn ook hoe daar deur sý wonde vir ons genesing gekom het. Net soos wat brood en wyn die liggaam se krag hernu sodat die liggaam die wonde wat opgedoen word kan genees net so word ons geloofskrag in die verlossing wat Christus bewerk het deur die Heilige Gees hernu.

Die Heilige Gees bind ons deur die geloof al hoe stywer aan Christus vas sodat daar vir ons genesing kan kom van die geestelike wonde wat die sonde ons toegedien het.

Dit is hoe die liefde van God ons vrymaak. Sy genade in aksie. Dit beweeg ons vanaf ons sondige natuur na God se genade gewende liefde. Die troos wat ons ontvang is dat ons nie God se liefde hoef te verdien nie. Goddelike genade stel nie voorwaardes nie, het nie verwagtinge nie, deel nie reëls uit nie en verwyt nooit nie.

Deur sy genade sê God vir jou: “Ek het jou lief net soos jy is. Jy hoef nie ’n eers-’n goeie mens te wees nie. Jy hoef nie eers te doen, of te werk, of goed te lyk, of te gee en dien nie. Ek gee aan jou My vergifnis, aanvaarding en liefde terwyl jy is wat jy is. Want Ek het gekom om uitgetorringde laslappie-mense se lewens aanmekaar te werk tot ’n hemelse eenheid. Hy gee dit net eenvoudig vir ons sonder dat ons iets in ruil daarvoor hoef te gee.

Genade neem die onbruikbare stukkies van ons laslappielewens en werk dit, nog voor ons vra, aanmekaar in pragtige heelwees-prentjies. Dit neem die hart wat deur die modder gesleep is na die hemelse wassery toe en hang dit weer - silwerskoon en netjies gestryk - op die hanger van die lewe.

Dit gee vir moedeloses mense weer hoop, verander bitterheid in vergifnis en herskep verlorenes in Ewigheidskinders. Deur genade word ’n troostelose toekoms omskep in ’n lewe wat uitsien na more. Mense wat deur God se genade aangeraak word, word deur God se liefde vrygemaak van die hopelose bestaan van ’n sondige lewe.

Van die hopeloosheid van die doodsheid van sonde verander Christus met sy soenoffer aan die kruis en sy opstanding, hopeloosheid in hoop. Hoop van ’n nuwe lewe saam met God.

Al wat jy moet doen is om God se genade deur geloof aan te neem. Glo dat Jesus deurboor is vir jou oortredings, verbrysel is vir jou sondeskuld.

Glo dat die straf wat ons vrede bewerk, op hom was, en dat daar deur sy wonde vir genesing is. Glo dat Hy jou sondeskuld op Homself gelaai het.

Wanneer jy opreg glo, sal jy vind hoe God se genade jou lewe verander. Dan sal jy nie meer op jou ou sondige wee verder wil stap nie, want daar is ’n beter pad. ’n Nuwe lewe saam met God.

Geliefdes kom ons gaan sit nou aan by die tafel van die Here sodat Hy ons geloof kan versterk sodat ons sy genade daardeur kan vasgryp.

Amen