Wys tans plasings met die etiket verlossing. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket verlossing. Wys alle plasings

12 Julie 2026

Jesus, dink ook aan my!

Luk. 23:26-43 & Mat. 1:21

Teks Luk. 23:43

Inleiding

Kruisig Hom! Kruisig Hom! So het die skare nog kort tevore geskreeu tydens Jesus se verhoor. En nou is Hy op pad na Golgota, die kopbeenplek toe. So uitgeput is Hy dat Hy nie in staat is om selfs die dwarsbalk van sy kruis dra nie. ’n Sekere Simon van Serena word gedwing om dit te dra. Hoe eensaam is dit nie? Niemand is bereid om Hom te help nie.

 Jesus word gekruisig

’n Groot klomp mense loop agterna om te sien wat gaan gebeur. Onder hulle is daar ook ’n groep vroue wat by voorbaat oor Hom getreur en gehuil het. Jesus se reaksie hieroor is op die oog af vreemd. Hy sê vir die vroue om nie oor Hom te huil nie, maar dat hulle oor hulself moet huil. Wat Hy hiermee bedoel is dat die oordeel van God oppad is daarom moet hulle daaroor bekommerd wees want niemand gaan dit vryspring nie. Jesus verwag nie simpatie nie. Wat Hy verwag is geloof, berou en bekering.

 Uiteindelik bereik die stoet Golgota met die skedelagtige voorkoms net buite Jerusalem langs ’n groot pad. Die Romeinse soldate het die regop paal in die grond ingeplant. Nadat hulle Jesus se klere uitgetrek het moes Hy op sy rug met sy arms oopgesper bo-op die dwarsbalk gaan lê sodat hulle Hom daarop kon vasspyker. Daarna is Hy met dwarsbalk en al aan die regop paal opgehys en daarna is die twee balke aan mekaar vasgebind. Laastens is sy voete aan die regop paal vasgespyker. Bokant sy kop is daar ’n bord wat sy sogenaamde misdaad aangedui het: “die Koning van die Jode” in drie tale sodat almal kon verstaan, maar hoeveel het werklik verstaan?

 So is daar ook twee misdadigers saam met Hom gekruisig en nou hang Hy tussen hulle, een aan sy linkerkant en een aan sy regterkant. So is die profesie van Jes. 53 en Ps. 22 vervul. Hy is as misdadiger beskou. Die soldate verdeel sy klere onder mekaar, maar loot oor wie sy onderkleed moet kry.

 Jesus se reaksie

Jesus se reaksie hierop is nie woede en verbittering nie, maar vergifnis:

“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

Hier demonstreer Jesus sy opdrag, julle moet julle vyande liefhê (Mat 5:44)

“Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir dié wat julle vervolg”

maar ten spyte van hierdie liefdesdaad is daar nog steeds mense wat onaangeraak is daardeur. Die raadslede lag Hom uit en spot Hom. Smalend snou hulle Hom toe (vgl. Luk. 23:25):

Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.

Die soldate neem ook deel aan hierdie gespottery. Selfs een van die misdadigers wat saam met Hom die pyn van die kruis ervaar, doen mee aan die gespottery.

Twee antwoorde op God se genade: negatief of positief:

Negatief

In hierdie misdadiger sien ons die kenmerkende reaksie van mense wat geen berou het oor hul dade nie. Hulle sien nie hul eie foute raak nie, maar die foute van ander mense sien hulle alte maklik raak. Hulle sien nie die erns van hul probleem raak nie. Mense sonder sondebesef mis die genade van God. Dis mense wat God die skuld gee vir hul eie sondige optrede. Dit is nooit hulle skuld wanneer dinge verkeerd loop nie, maar altyd iemand anders se skuld. Dis een van die belangrikste kentekens van ’n geharde sondaar en ons sien dit reeds direk na die sondeval daar in die paradys. Dis nie my skuld, maar altyd iemand anders se skuld. Eva het die slang blameer, Adam het Eva blameer en op die uiteinde het hy God blameer. Dit is wat hierdie misdadiger doen. Hy blameer God.

 Positief

Teenoor hierdie misdadiger se optrede is die ander misdadiger. Tot hier toe het hulle dieselfde lot gehad. Beide het ’n lewe van misdaad gekies. Beide ontvang nou die straf waarmee misdaad beloon word, maar op die kruis langs Christus loop hul paaie uitmekaar. Die een kies die ewige dood en die ander kies die ewige lewe. Beide het Jesus se gebed gehoor: (vgl. Luk 23:33)

“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

 In hierdie gebed hoor ons die Evangelie, die goeie nuus van verlossing deur Jesus Christus. In dit wat Hy hier bid, vra Hy die Vader: “moet hulle nie straf nie, maar straf my!” Een misdadiger verhard sy hart en die een hoor die Evangelie, die goeie nuus dat daar deur Christus vergifnis van sonde is omdat Hyself die straf daarvoor dra. Die Evangelie van die kruis stel elke mens voor ’n besliste keuse: verharding of bekering. Die kruise aan weerskante van die Christus dui die pad na bo, maar ook die pad na onder.

 In die gebed van die tweede misdadiger (Luk. 23:42):

“Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

hoor ons die onmisbare vereiste vir die gebed van iemand wat Hom voor God verootmoedig. Hy het sy skuld ontdek en besef hoe verlore hy voor die regverdige oordeel van God staan. Hy besef dat hy reeds verlore is, maar hy gryp na die reddingstou van liefde wat Jesus met die gebed van sy eerste kruiswoorde na hom toe uitgegooi het. Hy besef dat Hy in homself niks goed het wat hom kan red nie. Al waarop hy sy hoop kan plaas is God se genade.

 Die inhoud van die gebed van verootmoediging is dit wat net ’n mens wat sy eie onvermoë besef kan bid. Hy smeek nie vir ’n plek in die koninkryk nie, want hy besef dat hy geen aanspraak daarop kan maak nie. Al wat hy vra is dat Jesus maar net aan DINK. Hy smeek nie om saligheid of iets spesifiek nie, hy vra net die aandag van Jesus die Koning. Al wat hy vra is maar net ’n krummeltjie van God se genade want hy besef dat hy op niks aanspraak kan maak nie. Hy het alles prys gegee.

 Hoe is so ’n eenvoudige, maar diep opregte gebed moontlik? Dit is alleen maar net moontlik wanneer die Heilige Gees ’n mens se hart verbrysel. Dit is wanneer die Gees die eiegeregtigheid en eie belangrikheid, die eie ek in my afbreek. Dit sien ons wanneer hy die ander misdadiger met sy verharde hart bestraf (vgl. Luk. 23:40&41):

“Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”

Daarom durf hy eintlik nie om iets van Jesus te vra nie. Hy smeek maar net “Jesus, dink ook aan my!” God se genade vra nie, ’n hoogdawerende gebed nie. In eenvoud kan ons ook maar net gelowig bid, “Jesus, dink ook aan my!”

 In Jesus se antwoord sien ons die grootheid van God se liefde en genade. Jesus kan en wil verlossing gee en daarom antwoord Hy hierdie misdager (vgl. Luk. 23:43):

“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

In plaas van die krummeltjie wat hierdie misdadiger vra, gee Jesus alles, nie net kwytskelding van skuld nie, maar ook die heerlikheid van die Paradys. Om die Paradys te ontvang moet mens eers gelowig by Golgota verbygaan.

 In sy antwoord maak Jesus ook die belofte “....... saam met My”. Wanneer Ek gaan, gaan jy ook! Dit is die klimaks van God se genade, naamlik om gemeenskap met God te beleef. God is by my en ek is in sy teenwoordigheid. Dit is ook nie maar net ’n vae belofte nie, nee dit is vas en seker. Jesus sê: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.” Nie eers eendag daar ver nie, maar VANDAG nog. Die ewige lewe saam met God begin vandag nog waar ons die heerlike teenwoordigheid van God kan beleef.

 Persoonlike boodskap

Die vraag is nou geliefdes: “wat hou die kruiswoorde van Jesus vir my in?” Wanneer ons voor die kruis van Jesus Christus te staan kom, kan ons nie maar net passief daaroor wees nie. Niemand word onaangeraak agtergelaat nie! Die kruis vra van elkeen wat is jou antwoord? Is dit die onverskilligheid van die eerste misdadiger? Ten spyte van die Evangelie wat ek gehoor het, gaan ek hier weg asof niks verander het nie. Ek onthou dalk vir so ’n kort rukkie die mooi preek, maar dit verander niks aan my lewe nie. Ek gaan maar net nog steeds aan en leef my lewe asof God nie bestaan nie. Die eerste misdadiger was so naby aan God, maar tog het Hy vir ewig verlore gegaan! Hy het sy Verlosser gesien en gehoor. Hy is gewaarsku, maar het nie gehoor gegee nie.

 Of is my reaksie ook die eenvoudige gebed van die tweede misdadiger? “Jesus, dink ook aan my!” Die belofte op hierdie gebed word egter net vir my ontsluit wanneer ek dit in ware ootmoed bid. Dit tree slegs in werking wanneer ek my eie skuld ontdek en besef hoe verlore ek werklik is wanneer ek voor die regverdige oordeel van God staan. Luister ek na die stem van die Heilige Gees in my lewe? Gryp ek God se genade in geloof aan deur hulpeloos met opregte bekering uit die diepte van my elende te smeek: “Jesus, dink ook aan my!” As dit my reaksie is, dan kan ek met vaste sekerheid weet dat Jesus se antwoord: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” ook vir my bedoel is.

 Geliefdes, wat is my reaksie op die kruisboodskap van Jesus Christus? Is ek soos die eerste misdadigers wat ten spyte daarvan dat ek die Evangelie gehoor my hart verhard, of is ek soos die tweede misdadiger wat sy eie skuld ontdek het in die diepe besef van sy verlorenheid bid: “Jesus, dink ook aan my!”

Amen

25 Augustus 2019

God word verheerlik deur Jesus se selfopofferende liefde en dit verander jou lewe

25 Aug. 2019 - Nagmaal
Joh. 13 v 31 – 35

Geliefdes ons het die voorreg om vandag weer saam Nagmaal te gebruik. Die gevaar is egter dat ons so maklik net by die praktyk van Nagmaal gebruik vashaak en dat ons nie die diepere betekenis daarvan raaksien nie.

In ons teksgedeelte vir vandag berei Jesus sy dissipels voor vir sy kruisdood waarheen Hy op pad is en in hierdie voorbereiding maak Hy dit duidelik wat is die praktiese implikasie van sy kruisdood wat ons met Nagmaal herdenk.

Jesus lig hier vir sy dissipels drie faktore uit oor hoe 'n Christin se lewe anders is as die wêreld daar buite:
1) Hulle sal 'n Nuwe heerlikheid aanskou v 31 & 32
2) Hulle sal 'n situasie beleef V 33
3) Hulle moet 'n nuwe opdrag leef v 34 & 35

1. 'n Nuwe heerlikheid
In 1 Joh. 13 v 31 & 32 hoor ons:
Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik.

In Joh. 13 v 18 – 30 hoor ons hoe Jesus Judas as sy verraaier identifiseer. Vers 31 begin met Judas wat Jesus en die dissipels verlaat. Hier word die gebeure van Jesus se kruisiging aan die gang gesit. Judas is op pad om Jesus te verraai. Wat op die oog af na 'n nederlaag lyk, is inderwaarheid God se grootste oomblik. Judas wat die groep verlaat het sê vir ons dat die gebeure wat daartoe gaan ly dat God verheerlik gaan word is aan die gang gesit.

Die Vader word verheerlik omdat Jesus ten volle gehoorsaam is aan Hom en deur sy gehoorsaamheid word Jesus ook verheerlik. God se plan om verlore sondaars van die slawekettings van die sonde te verlos is aan die gang gesit.

Jesus het Homself verneder deur van sy Godheid afstand te doen om volledig mens te word. Hy word nou aan dieselfde versoekings as die mens onderwerp. Die enigste verskil is dat Hy sonder sonde was. Hy het die wet ten volle gehoorsaam. Hy was getrou aan die wet soos dit in die liefdes gebod opgesom word, naamlik liefde vir God en liefde vir die mens (sy naaste).

Sy liefde vir die Vader wys Hy deurdat Hy Homself ten volle aan die wil van die Vader onderwerp deurdat Hy die straf vir die sonde (die dood) ten volle op Hom geneem het toe Hy op die kruis gesterf het. Deurdat Hy bereid was om te sterf vir die sonde bewys Hy ook sy liefde vir 'n verlore mensdom.

2 'n Nuwe situasie.
In Joh. 13 v 33 hoor ons:
My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.
Sy dissipels moes die skokkende nuus hoor dat Jesus weggaan. Op daardie stadium het sy dissipels nog nie verstaan dat Hy moes sterf nie. Dit het vir hulle gelyk of Jesus verslaan is deur die vyand. Hulle moes leer dat dit wat vir hulle soos 'n nederlaag gelyk het, God se grootste oorwinning was.

Jesus noem sy dissipels hier “My kinders” en daarmee sê Hy vir hulle dat Hy hulle moet verlaat omdat Hy so lief is vir hulle. Hy verlaat hulle nie omdat Hy nie meer vir hulle omgee nie, nee, dit is uit liefde uit.

Hierdie boodskap aan sy dissipels is vandag nog vir ons ook relevant. Die lewe werk nie altyd uit soos ons dit wil hê nie. Ons moet God egter vertrou, al lyk dit of die lewe heeltemal in 'n verkeerde koers ingaan. God is steeds in beheer en Hy is steeds besig om sy ewige raadsplan uit te voer. Ons sien nie die einddoel, die groter prentjie waarmee Hy besig is nie, maar ons moet Hom vertrou.

Jesus sê vir sy dissipels dat Hy nog net 'n klein rukkie saam met hulle sal wees. Daarmee sê Hy: “koop die tyd uit.” Benut die tyd wat julle nou het. Hiermee sê God vir ons ook: “MOENIE UITSTEL NIE!” Ons leef so maklik met die gedagte gang dat “môre is nog 'n dag.” Nie een van ons weet of daar vir ons 'n môre gaan wees nie. Daarom, maak nou gebruik van die geleenthede om goed te doen wat God oor jou pad stuur.

Wanneer Jesus vir sy dissipels sê “julle sal my soek”, sê Hy vir hulle dat daar 'n nuwe situasie gaan wees. Jesus gaan nie meer fisies persoonlik met hulle wees nie. Hulle moet nou self aangaan om sy opdragte uit te voer. Hy laat hulle egter nie soos weeskinders alleen agter nie soos ons in Joh. 14:18 hoor. Hy stuur die Heilige Gees in sy plek.

Dit sê vir ons dat alhoewel ons Jesus nie meer persoonlik kan sien en hier fisies saam met Hom wees nie, is ons nie alleen nie. Die Heilige Gees is steeds met ons en daarmee sê Jesus dan ook dat die fisiese kameraadskap verander na 'n geestelike saamwees.

Jesus sê ook vir sy dissipels dat hulle Hom nie kan volg nie. Die pad deur die dood om sonde te oorwin is iets wat Net Hy kan doen. Niemand kan Hom daarmee help nie. Dit sê ook vir ons dat Jesus die enigste weg is na verlossing van die sonde. Dis nie iets wat ons kan doen nie. Dis net Jesus wat dit kan doen.

Jesus sê ook hiermee, dat hulle Hom nie kan volg nie, want daar is nog werk vir hulle om te doen. Die taak wat ons ook opgelê is. “Gaan dan heen en maak dissipels, (dit wil sê volgelinge van Jesus) en leer hulle om my bevele (God se liefdes gebod) te gehoorsaam.

3 Nuwe Opdrag
Noudat u geloof versterk is met die gebruik van die Nagmaal, luister nou na Jesus se nuwe opdrag.

In Joh. 13 v 34a hoor ons:
Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê.
Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.
Hier hoor ons die nuwe opdrag wat saam met 'n ou gebod saamgaan. Ons het immers vanoggend reeds in Lev. 19 v 18 gehoor dat God ons beveel: “jy moet jou naaste soos jouself liefhê.”

Hoe is dit dan nou 'n nuwe opdrag? Jesus maak die verskil. In die opdrag van die wet word 'n maatstaf gestel waarteen jy gemeet word. Is jy gehoorsaam aan die opdrag? Die wet het egter geen mag om jou aan die opdrag gehoorsaam te maak nie.

Met Jesus se kruisdood en opstanding het daar 'n nuwe dimensie bygekom. Daardeur het Jesus die mag van die sonde gebreek. Jesus stel ons in staat om aan sy opdrag gehoorsaam te wees. Nou is dit nie meer jy in jou sondige menslike natuur wat die opdrag moet gehoorsaam nie.

Jou verlossing en die teenwoordigheid van die Heilige Gees in jou lewe gee aan jou goddelike mag om teen die sonde te baklei. Daar waar jou sondige natuur nog geneig is om God en jou naaste te haat, plant God sy liefde in jou en deur die hulp van die Heilige Gees is jy nou in staat om jou naaste lief te hê.

Jesus is dan ook die voorbeeld wat ons moet navolg. Dit is wel so dat ons in hierdie bedeling nooit Jesus se perfekte voorbeeld sal kan navolg nie, maar dit is waarna ons streef. Hoe meer jy in jou geloof groei, hoe nader kom jy daaraan. Daar waar jy reeds gehoorsaam is aan die gebod, sien raak dat dit God se liefde is wat in jou werk.

In Joh. 13 v 35 hoor ons:
As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
Die nuwe opdrag begin by die binnekring binne in die gesin (gemeente) waar God jou geplaas het. Die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het, is ook die voorbeeld wat ons aan die wêreld moet wys. Ons sal nie buitestaanders oortuig van God se liefde as hulle dit nie in ons verhouding met nekaar raaksien nie. Mense hoor nie wat ons sê nie. Hulle hoor dit wat hulle ons sien doen.

Geliefdes, u het nou vanoggend in die tekens van brood en wyn gesien hoe Christus ons van ons sondes bevry het en ook hoe die Heilige Gees ons geloof versterk om as dissipels van Jesus uit te gaan en vir die wêreld te wys hoe lyk God se liefde.

Wanneer u hier weggaan terug in die wêreld in, gaan leef die nuwe lewe waar die slawekettings van die sonde wat jou so vasgebind het nou gebreek is deur Christus. Wys vir die wêreld daar buite hoe lyk God se liefde.
Amen

19 Junie 2016

Jou geloof in Jesus Christus gee aan jou ware lewe

29 Mei 2016 (GKE - Nagmaal)
Kol. 2 Teksverse kol. 2v6&7
Sing    Lofsang: Ps. 91 v 1 & 5        (OAB)
           Na wet:    Ps. 32 v 1               (Sb 26 in swart Psalmboek)
           Na gebed                                Ps. 33 v 1 & 5  (OAB)
           Slotsang  Ps. 48 v 1 & 4        (OAB)
Inleiding
Verlede week het ons gehoor dat die grootste struikelblok wat tussen ons en God staan, ons eie godsdienstigheid is. Dit wil sê wanneer ons nog steeds aan die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld gebonde is, is ons ver van God af. Wanneer ons nog steeds allerlei voorskrifte soos “Hieraan mag jy nie vat nie!” “Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!” “Daaraan mag jy nie raak nie!” as voorvereiste aanvaar om God se guns te wen is ons nog in die doodsheid van die sonde vasgevang.

In Kol 2 hoor ons dat jou geloof in Jesus Christus aan jou die ware lewe gee. Met ander woorde, leef deur geloof in verbondenheid met Jesus Christus. Hoe doen mens dit? Waar begin ons en hoe begin ons om in verbondenheid met Jesus Christus te leef?

Waar begin ons?
In Kol 2: 13 sê die Here vir ons waar ons begin:
Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie.
Wat ’n troostelose vooruitsig! Is daar vir ’n dooie enige hoop om vooruit te gaan? Nee, daar is geen hoop nie! Dit is ’n situasie waarin elke mens homself bevind. Hy besef dat hy binne homself geen rus of vrede kan vind nie. In homself vind die mens geen sin en betekenis in die lewe nie en daarom gaan soek die mens dit buite homself.

Die probleem is dat die ons altyd op die verkeerde plek gaan soek. Sommige van ons soek dit in geld en besittings. Dit hou egter geen bevrediging in nie, want mens kan nooit genoeg hê nie. Hoeveel geld en besittings is genoeg? Net nog ’n bietjie meer! Ander soek dit weer in status en magsposisies in die samelewing. Dit is egter ook leeg sonder inhoud en bring geen bevrediging nie. Die soeke na mag en status laat mens altyd bang en swak voel. Hoe meer mag en status mens het, hoe groter is jou gebrek aan vertroue in mense. Jy vertrou niemand nie en daar is altyd die agterdog dat iemand jou van jou mag wil beroof en daarom soek mens net na al hoe meer mag om hierdie vrees te besweer.
Sommige van ons soek dit in ons uiterlike voorkoms. Vrouens in skoonheid en fietse lyfies en mans in spiere. Ook dit bring geen bevrediging nie. Hoe meer jy skoonheid en voorkoms najaag, hoe meer voel dit of jy lelik en onaantreklik is. Dink maar aan jong meisies wat so fanaties oor gewig raak dat hulle hulself letterlik so uithonger dat dit hul dood kos. ’n Ander plek waar die mens na sin en betekenis in die lewe soek is deur middel van sy intellek. Dit word ’n obsessie dat almal kan sien hoeveel kennis ek het en dit is op daardie kennis wat ek my sekerheid bou. Ook dit is ’n gejaag na wind. Hoe meer ek my sekerheid in kennis soek, hoe meer voel dit vir my dat ek te min weet en jaag die vrees my dat almal eventueel gaan agterkom dat ek nie werklik soveel kennis het as wat ek voorgee nie.

Die hartseer is dat die mens se soeke na sin en betekenis hom al hoe verder daarvan wegneem. Ten spyte van die mens se beste pogings kan hy dit nie vind nie.

Hoe kan die mens lewend word uit die doodstoestand waarin hy homself gedompel het?
In Kol 2:13b-14 sê die Here vir ons:
God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak.
Deur God se genade en liefde gee hy aan ons dit wat ons nooit self kan doen of verdien nie. Die mens is dood in sy sonde en kan daarom nie rus en vrede in sy gemoed vind nie. Hy kan dit egter ook nie buite homself vind nie en daarom gryp God op ’n radikale wyse in. Christus gee sy bestaan op Godgelyke wyse prys deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem soos ons hoor in Fil. 2:5-8:
Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Dit wat die mens nie kon doen nie het God self vir die mens kom doen. Hy bring die mens weer by die ware bron van rus en vrede uit naamlik Hyself. Dit is dan ook wat God op ’n sigbare wyse deur middel van die Nagmaal aan ons wys. God die Vader stuur sy Seun wat gewillig die straf vir die sonde in ons plek dra. God die Heilige Gees wek die mens op uit sy doodsbestaan en gee aan die mens hierdie versoeningswonder. Die proses waardeur Hy dit doen is om aan die mens geloof te gee om daaraan vas te hou. Met Nagmaal versterk God daardie geloof wat Hy aan ons gee sodat ons die nuwe lewe kan leef wat Jesus vir ons verwerf het.

Hoe leef ons die nuwe lewe?
In Kol 2:14b hoor ons hoe Christus met sy soenoffer aan die kruis die mag van die sonde gebreek het:
Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.
Die mag van die sonde is gebreek, maar die mens is so geneig om terug te draai na sy sondige natuur. Die opdrag wat uit Nagmaal voortvloei is daarom ook dat die mens nie moet terugdraai na die valse gode van geld, mag, uiterlike voorkoms of intellek nie. Moenie na sin en betekenis soek in die nakom van leë godsdienstige rituele nie soos ons hoor in Kol 2:16:
Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die Sabbatdag moet vier nie.

Wanneer mens dit doen, dan word ons maar net weer vasgevang in die leegheid van godsdienstige rituele wat net so frustrerend en onbevredigend is as die wêreldse dinge waarin ons voorheen sin en betekenis gesoek het. Dit is ’n leë dop wat geen krag het nie. Godsdienstige rituele is nie die nuwe lewe wat God vir ons gee nie!

Die nuwe lewe wat God vir ons gee behels dat ons die aardse dinge doodmaak wat nog deel van ons lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is soos ons in Kol 3:5 hoor. Die nuwe lewe word geleef deur te breek met die ou sondige natuur soos ons hoor in Kol 3:8-10:
Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God

Slot
Ons kan ons self nie verlos uit die doodsheid van die sonde nie. Dit is alleen God se genade in Jesus Christus wat ons daaruit kan lewend maak. Uit die krag van Jesus Christus se soendood aan die kruis word ons lewend gemaak en kan ons die nuwe lewe leef wat God aan ons gee. Ons kan dit maar alleen doen wanneer ons deur ons geloof leef in verbondenheid met Jesus Christus. Ons doen dit wanneer ons besef hoe groot ons sonde en ellende is en dat ons slegs deur Jesus Christus daarvan verlos kan word. Wanneer ons dit doen dan wil ons ook in dankbaarheid die nuwe lewe leef wat God aan ons gee. Kom ons soek die sin en betekenis van die lewe in Jesus Christus om te leef deur ons geloof in verbondenheid met Jesus Christus.

Amen

29 Maart 2015

Jesus, dink ook aan my!

GKE 29 Mar 2015
Luk. 23:26-43 & Mat. 1:21
Teks Luk. 23:43
Sing:
Sb 5-3v1 & 2
Ps. 51-1 v 8
Sb 5–1 v 2
Ps. 73–1 v 9, 10 & 11

Inleiding
Kruisig Hom! Kruisig Hom! So het die skare nog kort tevore geskreeu tydens Jesus se verhoor. En nou is Hy op pad na Golgota, die kopbeenplek toe. So uitgeput is Hy dat Hy nie in staat is om selfs die dwarsbalk van sy kruis dra nie. ’n Sekere Simon van Serena word gedwing om dit te dra. Hoe eensaam is dit nie? Niemand is bereid om Hom te help nie.

Jesus word gekruisig
’n Groot klomp mense loop agterna om te sien wat gaan gebeur. Onder hulle is daar ook ’n groep vroue wat by voorbaat oor Hom getreur en gehuil het. Jesus se reaksie hieroor is op die oog af vreemd. Hy sê vir die vroue om nie oor Hom te huil nie, maar dat hulle oor hulself moet huil. Wat Hy hiermee bedoel is dat die oordeel van God oppad is daarom moet hulle daaroor bekommerd wees want niemand gaan dit vryspring nie. Jesus verwag nie simpatie nie. Wat Hy verwag is geloof, berou en bekering.

Uiteindelik bereik die stoet Golgota met die skedelagtige voorkoms net buite Jerusalem langs ’n groot pad. Die Romeinse soldate het die regop paal in die grond ingeplant. Nadat hulle Jesus se klere uitgetrek het moes Hy op sy rug met sy arms oopgesper bo-op die dwarsbalk gaan lê sodat hulle Hom daarop kon vasspyker. Daarna is Hy met dwarsbalk en al aan die regop paal opgehys en daarna is die twee balke aan mekaar vasgebind. Laastens is sy voete aan die regop paal vasgespyker. Bokant sy kop is daar ’n bord wat sy sogenaamde misdaad aangedui het: “die Koning van die Jode” in drie tale sodat almal kon verstaan, maar hoeveel het werklik verstaan?

So is daar ook twee misdadigers saam met Hom gekruisig en nou hang Hy tussen hulle, een aan sy linkerkant en een aan sy regterkant. So is die profesie van Jes. 53 en Ps. 22 vervul. Hy is as misdadiger beskou. Die soldate verdeel sy klere onder mekaar, maar loot oor wie sy onderkleed moet kry.

Jesus se reaksie
Jesus se reaksie hierop is nie woede en verbittering nie, maar vergifnis:
“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Hier demonstreer Jesus sy opdrag, julle moet julle vyande liefhê (Mat 5:44)
“Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir dié wat julle vervolg”
maar ten spyte van hierdie liefdesdaad is daar nog steeds mense wat onaangeraak is daardeur. Die raadslede lag Hom uit en spot Hom. Smalend snou hulle Hom toe (vgl. Luk. 23:25):
Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.
Die soldate neem ook deel aan hierdie gespottery. Selfs een van die misdadigers wat saam met Hom die pyn van die kruis ervaar, doen mee aan die gespottery.

Twee antwoorde op God se genade: negatief of positief:
Negatief
In hierdie misdadiger sien ons die kenmerkende reaksie van mense wat geen berou het oor hul dade nie. Hulle sien nie hul eie foute raak nie, maar die foute van ander mense sien hulle alte maklik raak. Hulle sien nie die erns van hul probleem raak nie. Mense sonder sondebesef mis die genade van God. Dis mense wat God die skuld gee vir hul eie sondige optrede. Dit is nooit hulle skuld wanneer dinge verkeerd loop nie, maar altyd iemand anders se skuld. Dis een van die belangrikste kentekens van ’n geharde sondaar en ons sien dit reeds direk na die sondeval daar in die paradys. Dis nie my skuld, maar altyd iemand anders se skuld. Eva het die slang blameer, Adam het Eva blameer en op die uiteinde het hy God blameer. Dit is wat hierdie misdadiger doen. Hy blameer God.

Positief
Teenoor hierdie misdadiger se optrede is die ander misdadiger. Tot hier toe het hulle dieselfde lot gehad. Beide het ’n lewe van misdaad gekies. Beide ontvang nou die straf waarmee misdaad beloon word, maar op die kruis langs Christus loop hul paaie uitmekaar. Die een kies die ewige dood en die ander kies die ewige lewe. Beide het Jesus se gebed gehoor: (vgl. Luk 23:33)
“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

In hierdie gebed hoor ons die Evangelie, die goeie nuus van verlossing deur Jesus Christus. In dit wat Hy hier bid, vra Hy die Vader: “moet hulle nie straf nie, maar straf my!” Een misdadiger verhard sy hart en die een hoor die Evangelie, die goeie nuus dat daar deur Christus vergifnis van sonde is omdat Hyself die straf daarvoor dra. Die Evangelie van die kruis stel elke mens voor ’n besliste keuse: verharding of bekering. Die kruise aan weerskante van die Christus dui die pad na bo, maar ook die pad na onder.

In die gebed van die tweede misdadiger (Luk. 23:42):
“Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”
hoor ons die onmisbare vereiste vir die gebed van iemand wat Hom voor God verootmoedig. Hy het sy skuld ontdek en besef hoe verlore hy voor die regverdige oordeel van God staan. Hy besef dat hy reeds verlore is, maar hy gryp na die reddingstou van liefde wat Jesus met die gebed van sy eerste kruiswoorde na hom toe uitgegooi het. Hy besef dat Hy in homself niks goed het wat hom kan red nie. Al waarop hy sy hoop kan plaas is God se genade.

Die inhoud van die gebed van verootmoediging is dit wat net ’n mens wat sy eie onvermoë besef kan bid. Hy smeek nie vir ’n plek in die koninkryk nie, want hy besef dat hy geen aanspraak daarop kan maak nie. Al wat hy vra is dat Jesus maar net aan DINK. Hy smeek nie om saligheid of iets spesifiek nie, hy vra net die aandag van Jesus die Koning. Al wat hy vra is maar net ’n krummeltjie van God se genade want hy besef dat hy op niks aanspraak kan maak nie. Hy het alles prys gegee.

Hoe is so ’n eenvoudige, maar diep opregte gebed moontlik? Dit is alleen maar net moontlik wanneer die Heilige Gees ’n mens se hart verbrysel. Dit is wanneer die Gees die eiegeregtigheid en eie belangrikheid, die eie ek in my afbreek. Dit sien ons wanneer hy die ander misdadiger met sy verharde hart bestraf (vgl. Luk. 23:40&41):
“Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”
Daarom durf hy eintlik nie om iets van Jesus te vra nie. Hy smeek maar net “Jesus, dink ook aan my!” God se genade vra nie, ’n hoogdawerende gebed nie. In eenvoud kan ons ook maar net gelowig bid, “Jesus, dink ook aan my!”

In Jesus se antwoord sien ons die grootheid van God se liefde en genade. Jesus kan en wil verlossing gee en daarom antwoord Hy hierdie misdager (vgl. Luk. 23:43):
“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
In plaas van die krummeltjie wat hierdie misdadiger vra, gee Jesus alles, nie net kwytskelding van skuld nie, maar ook die heerlikheid van die Paradys. Om die Paradys te ontvang moet mens eers gelowig by Golgota verbygaan.

In sy antwoord maak Jesus ook die belofte “....... saam met My”. Wanneer Ek gaan, gaan jy ook! Dit is die klimaks van God se genade, naamlik om gemeenskap met God te beleef. God is by my en ek is in sy teenwoordigheid. Dit is ook nie maar net ’n vae belofte nie, nee dit is vas en seker. Jesus sê: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.” Nie eers eendag daar ver nie, maar VANDAG nog. Die ewige lewe saam met God begin vandag nog waar ons die heerlike teenwoordigheid van God kan beleef.

Persoonlike boodskap
Die vraag is nou geliefdes: “wat hou die kruiswoorde van Jesus vir my in?” Wanneer ons voor die kruis van Jesus Christus te staan kom, kan ons nie maar net passief daaroor wees nie. Niemand word onaangeraak agtergelaat nie! Die kruis vra van elkeen wat is jou antwoord? Is dit die onverskilligheid van die eerste misdadiger? Ten spyte van die Evangelie wat ek gehoor het, gaan ek hier weg asof niks verander het nie. Ek onthou dalk vir so ’n kort rukkie die mooi preek, maar dit verander niks aan my lewe nie. Ek gaan maar net nog steeds aan en leef my lewe asof God nie bestaan nie. Die eerste misdadiger was so naby aan God, maar tog het Hy vir ewig verlore gegaan! Hy het sy Verlosser gesien en gehoor. Hy is gewaarsku, maar het nie gehoor gegee nie.

Of is my reaksie ook die eenvoudige gebed van die tweede misdadiger? “Jesus, dink ook aan my!” Die belofte op hierdie gebed word egter net vir my ontsluit wanneer ek dit in ware ootmoed bid. Dit tree slegs in werking wanneer ek my eie skuld ontdek en besef hoe verlore ek werklik is wanneer ek voor die regverdige oordeel van God staan. Luister ek na die stem van die Heilige Gees in my lewe? Gryp ek God se genade in geloof aan deur hulpeloos met opregte bekering uit die diepte van my elende te smeek: “Jesus, dink ook aan my!” As dit my reaksie is, dan kan ek met vaste sekerheid weet dat Jesus se antwoord: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” ook vir my bedoel is.

Geliefdes, wat is my reaksie op die kruisboodskap van Jesus Christus? Is ek soos die eerste misdadigers wat ten spyte daarvan dat ek die Evangelie gehoor my hart verhard, of is ek soos die tweede misdadiger wat sy eie skuld ontdek het in die diepe besef van sy verlorenheid bid: “Jesus, dink ook aan my!”
Amen

15 Februarie 2015

Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.

1 Tim 1 teksvers 1 Tim 1:15
15 Feb. 2015 GKE

Sb 12-3 v 1 & 2
Sb 9-1 v 1 & 11
Ps. 143-1:1
Gebed na die preek SB 10-1 v 1 - 4
Sb 3-4 v 1 – 5

Inleiding
Twee weke gelede het ons gehoor dat die kerk van die Here onsigbaar word in die wêreld wanneer die kerk aan die sondige wêreld gelyk word. Verlede week het ons gehoor hoedat ’n verkeerde verstaan van wat kerkwees eintlik is ons as kerk kan verhoed om ’n verskil te maak in hierdie wêreld. Hierdie week gaan ons na nog ’n rede kyk wat kan veroorsaak dat die kerk onsigbaar word in die wêreld (dit wil sê, die kerk is nie meer effektief om die koninkryk van God in die wêreld sigbaar te maak nie). Hoogmoed, wat ’n groot struikelblok vir ’n Christen kan wees. Ek begin dink dat ek so ’n bietjie beter as ander mense is. Ek kyk so bietjie neer op ander mense. Ek is darem nie sleg soos hulle nie. Mense wat nie op my standaard is nie gaan in die hel brand. Mense wat nie my godsdiens rituele of tradisies onderhou of op my manier aanbid nie is in die moeilikheid by God.

Hoogmoed is ’n klip waaroor ons as Doppers baie maklik val. Hoogmoed is een van die sondes wat die Here haat soos ons in Spr. 6:16 – 19 hoor
Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ’n afsku het:
oë wat straal van hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, ’n getuie wat lieg
en iemand wat rusie stook tussen broers.
Hoogmoed word 1ste genoem!

Hoogmoed is nie net ’n probleem van ons tyd nie. Dit is iets wat deel is van die mense se geskiedenis vanaf die vroegste jare. Dis hoogmoed wat die satan tot ’n val gebring het en dit is hoogmoed wat veroorsaak het dat die mens in opstand teen God se gesag gekom het. Hoogmoed was ook ’n probleem in Efese waar Timoteus gearbei het. In hoofstuk 1 van die eerste brief wat Paulus aan Timoteus geskryf het om hom te bemoedig gee Paulus vir Timoteus raad oor hoe om die probleem aan te spreek.

Paulus gee aan hom ’n opdrag wat ons in twee dele kan onderskei. Hy moet keer dat sekere dinge nie plaasvind nie en daar is sekere dinge wat wel gedoen moet word.

Wat mag nie gebeur nie?
In 1 Tim 1:3b & 4 hoor ons
Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied. Hulle moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagsregisters besig hou nie. Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming bevorder wat God deur die geloof gee.
Vals leerstellings is nie altyd so maklik om te onderskei nie omdat die mense wat hulle daarmee besig hou dit baie subtiel en onskuldig inbring. Hier vind ons ’n paar riglyne wat ons kan help om dit te onderskei.

Lei dit tot onenigheid? Mense hou so maklik aan rituele en tradisionele gebruike vas. Die argument van “maar ons het nog altyd sus of so gemaak” word dikwels in ’n twisgesprek gebruik waarmee daar gepoog word om iemand se gewete te bind. Met ander woorde as jy nie op my manier aanbid nie is jy in die moeilikheid by God. Dit dui dikwels op ’n vorm van hoogmoed.

Is ons besig met teologiese haarklowery? Daar in Efese het dit gegaan oor geslagsregister. Geslagsregisters was in daardie tyd baie belangrik vir die Jode want daarmee kon hulle bewys dat hulle van Joodse afkoms (dit wil sê die uitverkore volk) was. Die valse leerstelling wat hierin vasgevang is, is dat jou Joodse afkoms jou saligheid verseker. Ons stry nie vandag meer oor geslagsregisters nie, maar daar is baie ander sake waaroor ons wel stry. Dink maar aan die debatte wat vandag in die kerk woed.

Die sake waaroor gestry word is dikwels so ingewikkeld dat dit jou eintlik hoofpyn gee wanneer jy probeer bepaal wat is nou eintlik reg en wat is verkeerd. As ’n teologiese saak nie ly tot Jesus se verlossingswerk en liefde bevorder nie moet mens versigtig wees daarvoor.

Dan word die wet (dit wil sê die Skrif) dikwels aangehaal om ’n standpunt te regverdig. Paulus gee hier vir ons duidelik die doel van die wet. Die hooftaak van die wet is om aan te toon wat sonde is. Ons gebruik so dikwels die wet (die Bybel) om ander se sonde raak te sien. As ek nie op daardie punt kom dat die wet (Bybel) my oortuig van die sonde in my eie lewe nie, dan moet ek myself die vraag afvra of ek nie dalk in die valstrik van hoogmoed getrap het nie.

Ons moet versigtig wees om nie soveel tyd aan die klein puntjies in die Bybel spandeer nie dat ons nie meer tyd het vir die hoofsaak, dit wil sê die evangelie in die Bybel het nie. Hiermee het ons gehoor wat die evangelie nie is nie.

Wat is die evangelie dan wel?
Die woord evangelie is ’n Griekse leenwoord wat goeie nuus beteken. In ons teks hoor ons wat is hierdie goeie nuus is. In 1 Tim. 1:14 hoor ons wat die fondament van die evangelie is:
Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.
God se genade en nie omdat ek so oulik of goed is nie. Wat is genade? Dit is God se liefde wat jou opsoek wanneer jy niks het om in ruil te gee nie.

Dan hoor ons wat die hart van die evangelie is in 1 Tim 1:15
Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.
Jesus Christus het as ’n eenvoudige mens in die wêreld ingekom. Hy het die prys van die sonde betaal sodat sondaars verlos kan word. Dit is die waarheid van die evangelie. Die valstrik van hoogmoed is in stryd met die evangelie. Hoogmoed sê: “kyk hoe goed en oulik is ek. Omdat ek so goed en oulik is, is God verplig om my saligheid vir my te gee. Dit gaan nie oor God nie, maar oor myself! Kan u insien hoe hoogmoed in die pad staan van ’n Christin se koninkrykswerk. Wanneer dit net oor myself gaan sien ek nie die nood van ander mense raak nie.

Teenoor dit staan die evangelie. Deur God se genade gee Hy vir my, my saligheid deur middel van Christus Jesus wat in die wêreld gekom het om sondaars te verlos. Dan voeg Paulus in 1 Tim 1:15 by: Van die sondaars wat Jesus gekom het om te verlos, is ek die grootste! Ons kan gerus so bietjie na onsself kyk en vra: “het ek al ooit so van myself gedink?” Die grootste sondaar onder al die sondaars wat daar is!

Ons vier DV oor twee weke die Heilige Nagmaal en daarom is ons nou in ’n tyd van voorbereiding. Voorbereiding gaan ten diepste daaroor dat ek bietjie introspeksie doen en biddend vir God vra om die hoogmoed van my sonde uit te wys. Voordat ek nie onder diepe besef van my eie onvermoë om my saligheid te bewerk kom nie, sal ek nooit die werklike diepte van God se genade in Christus Jesus begryp nie. As ek ook soos Paulus kan bely dat onder die sondaars wat Jesus gekom het om te verlos dat ek die grootste is, dan sal die Nagmaal my geloof versterk sodat ek ook saam met Paulus kan bely (vgl. 1 Tim 1:16):
God was my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kan wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry.

Slot
Geliefdes, laat ons hierdie week ingaan met die vaste voorneme om die goeie stryd te stry en vas te aan die geloof terwyl ons nie in stryd met ons gewetens optree nie. Onthou die kern van ons geloof is die goeie nuus (evangelie) naamlik Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.

Amen

29 Junie 2014

God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming

6 Apr 2014
Skriflesing Ps. 46 teksvers fokusvers Ps. 46:2
Liturgie
Ps. 46-1:1 & 6
Sb. 9-3:1 & 2
Sb. 15-7:4 & 5
Ps. 46-2:1 – 3

Inleiding
Die lewe is vol onsekerheid en benoudheid. Ons weet nie wat die toekoms vir ons inhou nie. Wie van ons weet of ons more nog hier gaan wees? Een van die lewensvrae wat baie onsekerheid en benoudheid by baie mense veroorsaak is: “wat wag vir my anderkant die dood?” Die hoofrede waarom mense bang is vir wat anderkant die dood lê is as gevolg van die mens se opstandigheid teen God. Die mens wat God se gesag in sy lewe verwerp en dit veroorsaak dat daar skeiding tussen mens en God is.

God se straf daarvoor is die ewige dood waar die mens vir ewig van God en sy liefde geskei sal wees. Elkeen van ons verdien daardie straf. As dit jou nie benoud maak nie, dan verstaan jy nie werklik die erns van die saak nie. Geliefdes, weet u wat wag anderkant die dood? Daar is twee alternatiewe, of ewig beskerm en getroetel in God se liefde of ewig sonder Hom in uiterste nood en ellende.

Waar kry ek sekerheid daaroor? In Ps. 46 hoor ons waar die Psalmdigter gaan troos en sekerheid soek het. Hy vertrou dat God se volk veilig en beskut is onder God se beskerming. In hierdie Psalm word God se konkrete bystand aan sy bedreigde volk in die loop van die geskiedenis besing. Dwarsdeur die Ou Testament is die verdrukking van Israel en God se verlossing ’n heenwysing na Christus wat die mensdom van die slawerny van die sonde verlos. Die uittog uit Egipte waar God sy volk verlos van die slawerny van Egipte. Die verlossing van die Jode uit die slawerny van die Ballingskap. Die doel van hierdie Psalm is om die aandag op die God van Israel wat op Sion in die tempel woon, te vestig en hoe Hy sy volk verlos van hul vyande. Ons grootste vyand is die sonde wat ons van God af wegskeur.

God beskerm ons (Ps. 46:2-4)
In Ps. 46:2-4 hoor ons hoe God sy volk beskerm teen hul vyande. In vers 2 bevestig die Psalmdigter :
God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming ;
Hy was nog altyd bereid om te help in nood
Die Hebreeuse woord wat met “toevlug” vertaal is, wys op die absolute vertroue wat op iets of iemand geplaas word om jou teen gevaar te beskerm. Die Hebreeuse woord wat met “beskerming” vertaal is, beteken letterlik ’n plek van veiligheid. God is vir die wat by Hom skuiling soek so ’n plek van veiligheid.

Mens kan God vertrou, want Hy is altyd te bereid om te help wanneer jy in nood verkeer. Die Hebreeuse woord wat met “nood” vertaal is, beteken ’n diepe emosionele pyn en ellende wat mens ervaar as gevolg van ’n sekere situasie of omstandigheid. Die mens se grootste nood is dat hy vanweë sy sondige opstand teen God van Hom geskei is. God het die mens gemaak om in ’n verhouding met Hom te leef. Wanneer daardie verhouding gebreek is, ervaar die mens diep emosionele pyn en ellende.

Wanneer jy so voel dan moet jy weet, jy kan God vertrou, maak nie saak wat gebeur nie. Al skud die berge. As daar aardbewings is wat ’n tsoenami veroorsaak kan jy God vertrou om jou te help. ’n Gevaar wat egter groter is as enige nood wat deur aardbewings, tsoenami, siekte of wat ook al hier op aarde is, is die gevaar van die ewige dood weens ons sondige opstand teen God. Wat is die ergste wat mens hier op aarde kan tref? Die liggaamlike dood. Wat is erger as die liggaamlike dood? Die ewige dood waar mens vir ewig helse smart en pyn sonder God se vertroosting ervaar.

God is nog altyd bereid om te help met die nood wat ons ervaar omdat ons sonde die verhouding tussen ons en God gebreek het.

Blydskap in die Godstad (Ps. 46:5-8)
Om te beklemtoon dat mens veilig by God is, beskryf die Psalmdigter op ’n ander manier God se sorg vir sy volk. In verse 5-8 word die volk se blydskap beskryf omdat God Homself as ’n lewendgewende rivierstroom aan sy volk gee. Water verteenwoordig lewe. Sonder water is daar nie lewe nie. In Open 21:6 hoor ons:
Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.
God is die lewende water wat aan sy uitverkore kinders die ewige lewe gee.

Hy is snags teenwoordig by sy volk en daarom sal die Godstad niks oorkom nie. Die volke en nasies kan maar probeer om teenoor God in opstand te kom, dit sal hulle niks baat nie want God is almagtig.

In vers 8 word God se almag vir ons beskryf met sy Hebreeuse Naam Sebaot. Dit beteken letterlik ’n Almagtige heerser wat oor die heelal heers. Alles, dit wil sê elke mag of natuurkrag en elke volk en nasie, elke mens is aan sy heerskappy onderworpe. In die 83 Vertaling is sy naam vertaal met “die Here die almagtige” en in die Ou Vertaling is dit met “die Here van die Leërskare” vertaal. Ons kan dit ook vertaal met “die Here wat oor alles regeer.”

Die klem is dus hier op die almag van God. Daarom kan ons met vertroue by Hom skuiling soek omdat daardie skuiling wat Hy gee nie deur die vyand ingeneem kan word nie. Dit is soos ’n fort wat op ’n hoë berg wat omring is deur onklimbare steil kranse met hoë mure wat die fort bo-op daardie kranse omring. Dit is dus ’n vesting wat nie deur die vyand ingeneem kan word nie. Ons kan God dus vertrou om te help wanneer ons in nood verkeer omdat Hy almagtig is en daarom vir ons ’n veilige skuilplek gee. Die situasie of omstandighede verander nie, maar daai hopelose benoudheid (verlammende vrees) wat jy ervaar neem Hy weg en Hy dra jou veilig deur die gevaar. As ons eers eenmaal deur God se genade gered is, is daar niks wat ons van sy liefde kan skei nie.

Kom kyk wat die Here gedoen het (Ps. 46:9-12)
In hierdie laaste verse val die klem nou op wat die Here vir sy volk doen. God die Almagtige laat oorloë ophou. Hy breek die opstandige nasies se spiese en verbrand hulle oorlogswaens sodat hulle kan weet en erken dat Hy alleen God is. Daarom voel sy volk veilig by Hom.

In hierdie Psalm sê die Here vir ons hoekom sy volk vir niks bang was nie. Hulle het in hul nood gedink aan God se dade in die verlede en terwyl hulle dit gedoen het, het hulle onthou wat Hy alles vir hulle beteken het. Toe het hulle geweet dat hulle Hom kan vertrou en dat hulle vir niks meer bang hoef te wees nie. Op grond van God se troue verbondsliefde kan ons ook die beloftes vertrou wat Hy in Open 21:3-5 vir ons gee.
3Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. 4Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
5Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”

Hoe vind ons troos in hierdie Psalm?
As daar by my nog enige onsekerheid is oor wat anderkant die dood vir my wag en as dit my doodsbenoud maak kan ek my troos in Jesus Christus vind. Dan kan ons vashou aan ons belydenis in Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus dat my enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek aan Jesus Christus behoort.

Toe ons op die punt gestaan het om veroordeel te word tot die ewige dood het God sy Seun in ons plek laat sterwe. Toe Jesus so benoud was dat Hy bloed gesweet het, was daar vir Hom geen skuilplek teen gevaar gewees nie. Daar was nie vir Hom ’n toevlug en beskerming gewees nie. In helse pyn en smart het Hy in bange Godverlatenheid uitgeroep: “My God my God, waarom het U my verlaat?” Daar was vir Hom geen troos of beskerming toe Hy die dood tegemoed gegaan het nie. Hy het dit gedoen sodat daar vir ons ’n toevlug en beskerming kan wees teen die vyand van ons sondige geaardheid. Op grond van wat Jesus Christus vir ons aan die kruis gedoen het kan ons ook met sekerheid sê:
Die Here, die Almagtige , is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting

God is vir ons ’n toevlug en beskerming en daarom kan ons ook daarna uitsien dat Hy Homself as ’n lewendgewende rivierstroom aan ons sal gee. Hy is in die persoon van die Heilige Gees altyd by ons teenwoordig en daarom kan ons veilig by Hom voel. Kom ons soek skuiling teen die vyand van die sonde by God, want Jesus is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming.

Amen

04 Maart 2014

God maak die stukkende verhouding tussen ons en Hom weer reg

23 Feb. 2014         1 Kor. 5:17-21 teksvers 1 Kor. 5:21

Ps. 107-1:1 & 10
Ps. 119-2 v 19
Ps. 119-2 v 26 & 27
Ps. 23-1 v 3
Ps. 116-2
Sb 12-3 v 1 & 2

Inleiding / sonde
As daar nou een ding in die lewe wat skadelik vir ’n verhouding is, is dit ontrouheid. Dit is immers die enige grond wat Jesus gee om ’n egskeiding te regverdig. Om jou man of vrou jou verneuk is nie ’n goeie taktiek om ’n sterk verhouding te bou nie. Die Bybel gebruik die beeld van ’n huwelik om die verhouding tussen God en mens uit te beeld. (kerk is bruid en God bruidegom )

Die mens was ontrou in daardie verhouding. Die ontrou was nie agteraf en weggesteek nie. Nee, dit was openlik blatant. Soos ’n bruid wat na die huweliksonthaal saam met ’n ander man weggaan terwyl die bruidegom alleen agterbly. Dis wat die mens met God gedoen het. Deur ons sonde het ons van ons liefdevolle Vader weggedraai. (Vroue ruil vir hulself die rolle van bruid en bruidegom om. Bruidegom het weggeloop en bruid agtergelaat)

Nagmaal / verlossing
Wat sou u gedoen het as u die bruidegom was in so ’n situasie? Sal u haar weer gaan opsoek het nadat sy heel nag saam met ’n ander man ontrou was? Dit is presies wat God gedoen het! Deur sy groot liefde het Hy vir ons ’n manier gevind om die gebroke verhouding weer te herstel.

Ek gebruik verskillende beelde om te verduidelik omdat een enkele beeld nie ’n volledige verduideliking kan verskaf nie. Daarom gebruik ek nou ’n volgende beeld om te verduidelik. Die straf vir die ontrou is die dood. Om jouself van God los te maak is soos ’n takkie wat van ’n plant afgebreek word. Vir ’n kort rukkie bly die blare nog groen, maar nie lank nie dan begin dit verlep. Binne ’n kort tydjie is daardie takkie dood.

Die mens het homself deur sy sonde van God losgemaak en nou sit hy in ’n verskriklike dilemma. Dit is soos om in ’n diep donker put af te spring met gladde wande wat 100 meter diep is. Ongelukkig het jy jouself nog doodgeval ook. Verstaan u hoe onmoontlik dit vir so iemand is om self uit daai put te kom? Net so onmoontlik is dit vir die mens om die gebroke verhouding met God te herstel.

Dit wat die mens nie kan doen nie, doen God. Hy haal ons uit die put uit en Hy maak ons weer lewendig soos ons hoor in 2 Kor. 5:18a
Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen
Die manier waarop Hy dit gedoen het verduidelik Hy in 1 Kor. 5:21 aan ons
Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Christus wat sonder sonde was het ons sonde op Hom geneem en sy onskuld het Hy vir ons gegee. As ons terugkeer na ons eerste beeld van die bruid wat met ’n vreemde man weggeloop het. God se vergifnis werk nie maar net soos die bruidegom wat vir die bruid sê, “toemaar ek vergewe jou.” Jy kan maar weer terugkom. Nee geliefdes, daar vind ’n ruiltransaksie plaas. Dit is soos die bruidegom wat die bruid se ontrou wegneem en op homself plaas sodat dit hy was wat weggeloop het en nie sy nie.

Die bruidegom se onskuld word vir die bruid gegee en die bruid se skuld word vir die bruidegom gegee. Dit wil sê dit is nou asof die bruid nooit weggeloop het nie, maar die bruidegom. Die enigste manier wat die skuld weggeneem kan word is dat die bruidegom doodgemaak word en dit is wat Jesus doen. Hy neem ons skuld op Hom en daarvoor is Hy aan ’n vervloekte kruishout doodgemaak. Christus se geregtigheid is dus nou aan ons gegee omdat Christus ons ongeregtigheid op Hom geneem het. (Geregtigheid = sonder sonde).

Dankbaarheid
Die gevolg van God se liefde is dat die verhouding tussen die mens en God herstel is. Die mens wat van die lewe afgesny was, het nou weer die lewe soos ons hoor in 1 Kor. 5:17
Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Hoe kry ek deel daaraan? Deur geloof. Ek moet glo dat Jesus my sonde op Hom geneem het en dat Hy sy geregtigheid in ruil daarvoor aan my gegee het en dat ek nou as gevolg daarvan ’n nuwe mens in Christus is. Vir diegene wat nie glo nie vind die ruiltransaksie nie plaas nie.

Wat beteken dit prakties vir my? Dit beteken dat ek nou weer God se liefde in plaas van sy wraak beleef. Dit beteken dat ek ’n lewende hoop het om ewig saam met God te wees wanneer ek die tentwoning van hierdie lewe agterlaat. Dit beteken dat my lewe weer sin het en dat ek nie maar net uitgelewer is aan toeval nie. Dit beteken dat ek ’n doel in die lewe het om God beter te leer ken en dien. Dit beteken dat ek vreugde en vrede wat in God gewortel is, deel is van my lewe.

Slot
Dis wat die Here op ’n sigbare wyse vir ons deur middel van die Nagmaal wys in die tekens van brood en wyn. Hy wys vir ons dat ons doelbewus en moedswillig ons van die lewende God losgemaak het. Hy wys vir ons dat Hy op grond van sy groot liefde die gebroke verhouding tussen ons en ons Vader herstel het in Jesus Christus en dat ons deur middel van geloof daarin kan deel. Hy wys vir ons dat ons weer lewe, liefde, hoop, betekenis, vreugde, doelgerigtheid en vrede in ons lewens saam met God kan ervaar.

Kom ons gaan sit nou aan by die tafel van die Here sodat ons geloof daardeur versterk kan word.

Amen