19 Junie 2016

Jou geloof in Jesus Christus gee aan jou ware lewe

29 Mei 2016 (GKE - Nagmaal)
Kol. 2 Teksverse kol. 2v6&7
Sing    Lofsang: Ps. 91 v 1 & 5        (OAB)
           Na wet:    Ps. 32 v 1               (Sb 26 in swart Psalmboek)
           Na gebed                                Ps. 33 v 1 & 5  (OAB)
           Slotsang  Ps. 48 v 1 & 4        (OAB)
Inleiding
Verlede week het ons gehoor dat die grootste struikelblok wat tussen ons en God staan, ons eie godsdienstigheid is. Dit wil sê wanneer ons nog steeds aan die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld gebonde is, is ons ver van God af. Wanneer ons nog steeds allerlei voorskrifte soos “Hieraan mag jy nie vat nie!” “Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!” “Daaraan mag jy nie raak nie!” as voorvereiste aanvaar om God se guns te wen is ons nog in die doodsheid van die sonde vasgevang.

In Kol 2 hoor ons dat jou geloof in Jesus Christus aan jou die ware lewe gee. Met ander woorde, leef deur geloof in verbondenheid met Jesus Christus. Hoe doen mens dit? Waar begin ons en hoe begin ons om in verbondenheid met Jesus Christus te leef?

Waar begin ons?
In Kol 2: 13 sê die Here vir ons waar ons begin:
Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie.
Wat ’n troostelose vooruitsig! Is daar vir ’n dooie enige hoop om vooruit te gaan? Nee, daar is geen hoop nie! Dit is ’n situasie waarin elke mens homself bevind. Hy besef dat hy binne homself geen rus of vrede kan vind nie. In homself vind die mens geen sin en betekenis in die lewe nie en daarom gaan soek die mens dit buite homself.

Die probleem is dat die ons altyd op die verkeerde plek gaan soek. Sommige van ons soek dit in geld en besittings. Dit hou egter geen bevrediging in nie, want mens kan nooit genoeg hê nie. Hoeveel geld en besittings is genoeg? Net nog ’n bietjie meer! Ander soek dit weer in status en magsposisies in die samelewing. Dit is egter ook leeg sonder inhoud en bring geen bevrediging nie. Die soeke na mag en status laat mens altyd bang en swak voel. Hoe meer mag en status mens het, hoe groter is jou gebrek aan vertroue in mense. Jy vertrou niemand nie en daar is altyd die agterdog dat iemand jou van jou mag wil beroof en daarom soek mens net na al hoe meer mag om hierdie vrees te besweer.
Sommige van ons soek dit in ons uiterlike voorkoms. Vrouens in skoonheid en fietse lyfies en mans in spiere. Ook dit bring geen bevrediging nie. Hoe meer jy skoonheid en voorkoms najaag, hoe meer voel dit of jy lelik en onaantreklik is. Dink maar aan jong meisies wat so fanaties oor gewig raak dat hulle hulself letterlik so uithonger dat dit hul dood kos. ’n Ander plek waar die mens na sin en betekenis in die lewe soek is deur middel van sy intellek. Dit word ’n obsessie dat almal kan sien hoeveel kennis ek het en dit is op daardie kennis wat ek my sekerheid bou. Ook dit is ’n gejaag na wind. Hoe meer ek my sekerheid in kennis soek, hoe meer voel dit vir my dat ek te min weet en jaag die vrees my dat almal eventueel gaan agterkom dat ek nie werklik soveel kennis het as wat ek voorgee nie.

Die hartseer is dat die mens se soeke na sin en betekenis hom al hoe verder daarvan wegneem. Ten spyte van die mens se beste pogings kan hy dit nie vind nie.

Hoe kan die mens lewend word uit die doodstoestand waarin hy homself gedompel het?
In Kol 2:13b-14 sê die Here vir ons:
God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak.
Deur God se genade en liefde gee hy aan ons dit wat ons nooit self kan doen of verdien nie. Die mens is dood in sy sonde en kan daarom nie rus en vrede in sy gemoed vind nie. Hy kan dit egter ook nie buite homself vind nie en daarom gryp God op ’n radikale wyse in. Christus gee sy bestaan op Godgelyke wyse prys deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem soos ons hoor in Fil. 2:5-8:
Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Dit wat die mens nie kon doen nie het God self vir die mens kom doen. Hy bring die mens weer by die ware bron van rus en vrede uit naamlik Hyself. Dit is dan ook wat God op ’n sigbare wyse deur middel van die Nagmaal aan ons wys. God die Vader stuur sy Seun wat gewillig die straf vir die sonde in ons plek dra. God die Heilige Gees wek die mens op uit sy doodsbestaan en gee aan die mens hierdie versoeningswonder. Die proses waardeur Hy dit doen is om aan die mens geloof te gee om daaraan vas te hou. Met Nagmaal versterk God daardie geloof wat Hy aan ons gee sodat ons die nuwe lewe kan leef wat Jesus vir ons verwerf het.

Hoe leef ons die nuwe lewe?
In Kol 2:14b hoor ons hoe Christus met sy soenoffer aan die kruis die mag van die sonde gebreek het:
Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.
Die mag van die sonde is gebreek, maar die mens is so geneig om terug te draai na sy sondige natuur. Die opdrag wat uit Nagmaal voortvloei is daarom ook dat die mens nie moet terugdraai na die valse gode van geld, mag, uiterlike voorkoms of intellek nie. Moenie na sin en betekenis soek in die nakom van leë godsdienstige rituele nie soos ons hoor in Kol 2:16:
Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die Sabbatdag moet vier nie.

Wanneer mens dit doen, dan word ons maar net weer vasgevang in die leegheid van godsdienstige rituele wat net so frustrerend en onbevredigend is as die wêreldse dinge waarin ons voorheen sin en betekenis gesoek het. Dit is ’n leë dop wat geen krag het nie. Godsdienstige rituele is nie die nuwe lewe wat God vir ons gee nie!

Die nuwe lewe wat God vir ons gee behels dat ons die aardse dinge doodmaak wat nog deel van ons lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is soos ons in Kol 3:5 hoor. Die nuwe lewe word geleef deur te breek met die ou sondige natuur soos ons hoor in Kol 3:8-10:
Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God

Slot
Ons kan ons self nie verlos uit die doodsheid van die sonde nie. Dit is alleen God se genade in Jesus Christus wat ons daaruit kan lewend maak. Uit die krag van Jesus Christus se soendood aan die kruis word ons lewend gemaak en kan ons die nuwe lewe leef wat God aan ons gee. Ons kan dit maar alleen doen wanneer ons deur ons geloof leef in verbondenheid met Jesus Christus. Ons doen dit wanneer ons besef hoe groot ons sonde en ellende is en dat ons slegs deur Jesus Christus daarvan verlos kan word. Wanneer ons dit doen dan wil ons ook in dankbaarheid die nuwe lewe leef wat God aan ons gee. Kom ons soek die sin en betekenis van die lewe in Jesus Christus om te leef deur ons geloof in verbondenheid met Jesus Christus.


Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking