Gen. 40v1 – 41v16; teksverse Gen. 40 v 8 en 41
v 16
12 Jun. 2016 GKE
Lof-Psalm Ps. 23-1 v 1 & 2
Na Wet Ps. 119-1 v 1 & 2
Na Gebed Ps. 92-1 v 1
Slotsang Ps. 31-1 v 1 & 3
Inleiding
Het Josef ook moedeloos
geword terwyl hy daar in die tronk gewag het? As ons so na die lewe van Josef
kyk dan wil dit voorkom asof hy hierdie super gelowige is wat alles net reg
doen. As jong seun het hy ’n paar foute gemaak (soos om groot praterig te wees
en stories oor sy broers aan te dra), maar daarvandaan doen hy net die regte
ding. As ons dit as voorbeeld wil neem om daarvolgens ons lewens te wil inrig,
kan dit maklik gebeur dat ons langs die pad moedeloos raak en uitsak.
Die Here sê nie direk vir
ons hier of Josef moedeloos geraak het of nie. Tog kan ons uit die verhaal in
Gen. 40 waar Josef die drome van die bakker en die skinker uitlê agterkom dat
hy ook gehoop het op iets beter. Die agtergrond vir die verhaal in Gen. 41 waar
Josef die Farao se drome uitlê word in Gen. 40 vir ons geskets. Dit is nou elf
jaar later nadat ons vir Josef die eerste keer as Jakob gunsteling seun ontmoet
het, daar waar hy as sewentienjarige seun sy broers met sy stories en drome
geïrriteer het. Ons weet nie presies hoe lank hy al die tronk was nie, maar wat
ons wel weet is dat dit ’n hele lang ruk was volgens Gen. 40v4.
Die bakker en die skinker
het elkeen ’n droom gehad en Josef vertel vir hulle die betekenis van hulle
drome. Die skinker sal in sy amp herstel word terwyl die bakker die doodstraf
ontvang. In Gen. 40v14-15 hoor ons dat Josef vir die Skinker vra om sy saak by
die koning te stel.
14 Maar wanneer dit goed gaan
met jou, moet jy aan my dink en moet jy my ’n guns bewys. Jy moet my saak vir
hom stel en sorg dat ek uit hierdie plek uitkom. 15 Ek is uit die
land van die Hebreërs gesteel en ook hier het ek niks gedoen waaroor hulle my
in hierdie gat kon gooi nie.”
Josef hoop op iets beter as
die tronklewe, want die hoof van die skinkers is ’n baie belangrike man. Hy is
naby aan die koning. Hy moet toesien dat die koning nie deur sy vyande
vergiftig word nie. Hy gee persoonlik die koning se drinkbeker aan nadat hyself
eers geproe het of daar nie gif in is nie.
En dan hoor ons hierdie
hartseer woorde in Gen. 40v23:
Maar die
hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet.
Elf jaar al gaan dit sleg
met Josef. Eers is hy as slaaf verkoop en daarna onskuldig in die tronk gegooi
en uiteindelik is daar vir hom hoop dat dit beter met hom kan gaan. As die hoof
van die skinkers tog net sy saak by die koning wil stel. As hy net vir die
koning wil verduidelik dat Josef onskuldig in die tronk is. Maar helaas, alles
tevergeefs. Die hoof van die skinkers het van Josef vergeet. Vir nog twee lange
jare sit Josef vergete daar in die tronk.
Gaan dit nie maar met ons
soms ook so nie geliefdes? Nes dit lyk of dinge dalk nou wil beter gaan, dan
val alles weer plat. Ek het tog net gehoop dat die Here vir my weer ’n werk wil
gee, maar nou dat ek dit het lyk dit nie of dinge wil uitwerk nie. My baas is
moeilik en ek sien eintlik daarna op om werk toe te gaan. Nes dit lyk of dinge
in my lewe beter wil gaan, dan tref daar weer ’n ramp! Dan wonder mens soms so
half skuldig, “het God dan van my vergeet?”
Die doel van hierdie verhaal
van Josef is nie om ons te leer om Josef se perfekte voorbeeld na te volg nie.
Die doel is wel om ons te leer om op God te vertrou. Dit is die een ding wat
Josef gedoen het dwarsdeur al sy swaarkry. Hy het vasgehou aan God se genade.
In Gen. 40v8 hoor ons hoedat Josef nie in homself die antwoorde soek nie. Hy
vertrou op God om vir hom die drome se uitleg te gee. Weer ook in die geval van
Farao se drome Sê hy vir die Farao (vgl. Gen. 41v16)
“Nie ek
nie! God gee dié goeie antwoord vir u.”
Volgens die omstandighede
het dit op die oogaf gelyk of die Here Josef vergeet het, maar Hy het nie.
Josef word uit die tronk
gehaal, nie omdat hy iets reg of goed gedoen het nie, maar omdat die Here hom
nie vergeet het nie. In Gen. 39v20-21 hoor ons dat die Here by Josef was en dat
Hy vir Josef met sy troue liefde gedra het terwyl hy in die tronk was. En nou
op die regte tyd gee die Here vir Farao ’n droom wat hom baie onstel en
daardeur verfris die Here die hoof van die skinkers se geheue sodat Josef uit
die tronk gehaal word. Josef word geskeer en skoon klere aangetrek sodat hy
voor die Farao kan verskyn.
Weereens sien ons dat Josef
se vertroue net in God alleen is. Toe Farao vir hom vra na die drome se
betekenis verklaar Josef onomwonde (vgl. Gen. 41v16)
“Nie ek
nie! God gee dié goeie antwoord vir u.”
Dit is belangrik dat ons
hier moet insien dat dit net God is wat in beheer is. Die Farao wat self as ’n
god beskou is vra by God raad. God gebruik die simbole van die god van
vrugbaarheid in sy droom, naamlik die koeie en die are, maar nie hy of sy
waarsêers kan verklaar wat dit beteken nie. As God dit nie vir hom duidelik
maak nie is die selfaangestelde god nie in staat om iets te doen nie.
Josef verklaar die drome
omdat God vir hom die insig gee en omdat hy op God daarvoor vertrou. God gee
sewe jaar oorvloed waarna daar sewe jaar van hongersnood gaan volg. Josef gaan
egter verder as om bloot net die drome te verklaar. Hy gee ook die raad wat
gedoen moet word op grond van die verklaring van die drome. Die gevolg is dat
Josef as tweede in bevel oor die hele Egipte aangestel word. Net die Farao is
bo hom. (vgl. Gen. 41v44)
Toe het
die farao vir Josef gesê: “Ek bly die farao, maar sonder jou toestemming mag
niemand in Egipte ’n vinger verroer of ’n voet versit nie.”
Josef word in ’n baie
vername posisie aangestel, nie omdat hy so goed is nie, maar omdat God hom
daarin aanstel. God gebruik Josef in sy plan om die volk Israel wat Hy
uitverkies te red. Dit is egter belangrik dat ons daarop let hoe die Here vir
Josef gebruik. Hy gebruik hom binne die heidense stelsel volgens die heidense
manier van doen. Hy gee selfs vir Josef ’n heidense vrou wat die dogter is van
’n priester wat moes omsien na die sonaanbidding.
Met hierdie aanstelling sien
ons dan ook hoe die belofte die Here aan Abraham in Gen. 12v3 gemaak het dat al
die nasies in hom geseën sal wees, gedeeltelik in vervulling gaan. God het
egter nog ’n groter plan as selfs die onmiddellike redding van hongersnood. Uit
die nageslag van Jakob is Jesus gebore waardeur al die volke van die wêreld
geseën word.
Hoe kan ons soos Josef Vertrou dat God vir ons sorg al lyk dit nie
altyd so nie? Ons kan dit alleen doen omdat Jesus Christus deur sy
kruisdood en opstanding weer versoening tussen ons en God bewerkstellig het.
Dit is die rede waarom Josef kon vertrou en dit is die rede waarom ons op God
kan vertrou. As Josef deur die bril van sy omstandighede gekyk het dan het hy
nie die troue sorg en die liefde van God raakgesien nie. Jesus Christus het
gekom sodat die skewe beeld wat ons van God het wat deur die sonde veroorsaak
is weer herstel kan word.
Verder het Jesus ook nog vir
ons die Heilige Gees gestuur as Trooster en Helper na sy hemelvaart sodat ons
in geloof kan vashou aan God se genade. Hy sê immers vir ons in Mat 6v31-33:
31“Julle moet julle dus nie
bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons
aantrek?’ nie. 32 Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan
is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33
Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God,
dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
Geliefdes Josef het in
vertroue op God die werk met ywer aangepak wat die Here vir hom gegee het,
hetsy of dit as slaaf was, of in die tronk of as tweede in bevel van die hele
Egipte. Hy kon dit alleen doen omdat hy God vertrou het. Christus maak dit
moontlik dat ons ook op God kan vertrou en daarom moet ons ook die werk in
vertroue aanpak wat die Here vir ons gegee het, naamlik om sy koninkryk uit te
brei. Ons moet dit doen of ons nou net ’n kantoorklerk, ’n plaasboer of selfs
’n vername besigheidsman of self in die kabinet as God ons daartoe roep. As God
ons wil gebruik binne die heidense strukture dan moet ons dit daar ook doen.
Die belangrikste is dat ons sal onthou wat die uiteindelike doel is, naamlik om
God se koninkryk uit te bou daar waar ons is met die vaste vertroue dat God vir
ons sal sorg. Daarom geliefdes kom ons doen die werk wat die Here vir ons gegee
het en Vertrou dat God vir ons sorg al
lyk dit nie altyd so nie
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking