Wys tans plasings met die etiket God sorg. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God sorg. Wys alle plasings

19 Junie 2016

Vertrou dat God vir ons sorg al lyk dit nie altyd so nie

Gen. 40v1 – 41v16; teksverse Gen. 40 v 8 en 41 v 16
12 Jun. 2016 GKE
Lof-Psalm Ps. 23-1 v 1 & 2
Na Wet Ps. 119-1 v 1 & 2
Na Gebed Ps. 92-1 v 1
Slotsang Ps. 31-1 v 1 & 3

Inleiding

Het Josef ook moedeloos geword terwyl hy daar in die tronk gewag het? As ons so na die lewe van Josef kyk dan wil dit voorkom asof hy hierdie super gelowige is wat alles net reg doen. As jong seun het hy ’n paar foute gemaak (soos om groot praterig te wees en stories oor sy broers aan te dra), maar daarvandaan doen hy net die regte ding. As ons dit as voorbeeld wil neem om daarvolgens ons lewens te wil inrig, kan dit maklik gebeur dat ons langs die pad moedeloos raak en uitsak.

Die Here sê nie direk vir ons hier of Josef moedeloos geraak het of nie. Tog kan ons uit die verhaal in Gen. 40 waar Josef die drome van die bakker en die skinker uitlê agterkom dat hy ook gehoop het op iets beter. Die agtergrond vir die verhaal in Gen. 41 waar Josef die Farao se drome uitlê word in Gen. 40 vir ons geskets. Dit is nou elf jaar later nadat ons vir Josef die eerste keer as Jakob gunsteling seun ontmoet het, daar waar hy as sewentienjarige seun sy broers met sy stories en drome geïrriteer het. Ons weet nie presies hoe lank hy al die tronk was nie, maar wat ons wel weet is dat dit ’n hele lang ruk was volgens Gen. 40v4.

Die bakker en die skinker het elkeen ’n droom gehad en Josef vertel vir hulle die betekenis van hulle drome. Die skinker sal in sy amp herstel word terwyl die bakker die doodstraf ontvang. In Gen. 40v14-15 hoor ons dat Josef vir die Skinker vra om sy saak by die koning te stel.
14 Maar wanneer dit goed gaan met jou, moet jy aan my dink en moet jy my ’n guns bewys. Jy moet my saak vir hom stel en sorg dat ek uit hierdie plek uitkom. 15 Ek is uit die land van die Hebreërs gesteel en ook hier het ek niks gedoen waaroor hulle my in hierdie gat kon gooi nie.”
Josef hoop op iets beter as die tronklewe, want die hoof van die skinkers is ’n baie belangrike man. Hy is naby aan die koning. Hy moet toesien dat die koning nie deur sy vyande vergiftig word nie. Hy gee persoonlik die koning se drinkbeker aan nadat hyself eers geproe het of daar nie gif in is nie.

En dan hoor ons hierdie hartseer woorde in Gen. 40v23:
Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet.
Elf jaar al gaan dit sleg met Josef. Eers is hy as slaaf verkoop en daarna onskuldig in die tronk gegooi en uiteindelik is daar vir hom hoop dat dit beter met hom kan gaan. As die hoof van die skinkers tog net sy saak by die koning wil stel. As hy net vir die koning wil verduidelik dat Josef onskuldig in die tronk is. Maar helaas, alles tevergeefs. Die hoof van die skinkers het van Josef vergeet. Vir nog twee lange jare sit Josef vergete daar in die tronk.

Gaan dit nie maar met ons soms ook so nie geliefdes? Nes dit lyk of dinge dalk nou wil beter gaan, dan val alles weer plat. Ek het tog net gehoop dat die Here vir my weer ’n werk wil gee, maar nou dat ek dit het lyk dit nie of dinge wil uitwerk nie. My baas is moeilik en ek sien eintlik daarna op om werk toe te gaan. Nes dit lyk of dinge in my lewe beter wil gaan, dan tref daar weer ’n ramp! Dan wonder mens soms so half skuldig, “het God dan van my vergeet?”

Die doel van hierdie verhaal van Josef is nie om ons te leer om Josef se perfekte voorbeeld na te volg nie. Die doel is wel om ons te leer om op God te vertrou. Dit is die een ding wat Josef gedoen het dwarsdeur al sy swaarkry. Hy het vasgehou aan God se genade. In Gen. 40v8 hoor ons hoedat Josef nie in homself die antwoorde soek nie. Hy vertrou op God om vir hom die drome se uitleg te gee. Weer ook in die geval van Farao se drome Sê hy vir die Farao (vgl. Gen. 41v16)
“Nie ek nie! God gee dié goeie antwoord vir u.”
Volgens die omstandighede het dit op die oogaf gelyk of die Here Josef vergeet het, maar Hy het nie.

Josef word uit die tronk gehaal, nie omdat hy iets reg of goed gedoen het nie, maar omdat die Here hom nie vergeet het nie. In Gen. 39v20-21 hoor ons dat die Here by Josef was en dat Hy vir Josef met sy troue liefde gedra het terwyl hy in die tronk was. En nou op die regte tyd gee die Here vir Farao ’n droom wat hom baie onstel en daardeur verfris die Here die hoof van die skinkers se geheue sodat Josef uit die tronk gehaal word. Josef word geskeer en skoon klere aangetrek sodat hy voor die Farao kan verskyn.

Weereens sien ons dat Josef se vertroue net in God alleen is. Toe Farao vir hom vra na die drome se betekenis verklaar Josef onomwonde (vgl. Gen. 41v16)
“Nie ek nie! God gee dié goeie antwoord vir u.”
Dit is belangrik dat ons hier moet insien dat dit net God is wat in beheer is. Die Farao wat self as ’n god beskou is vra by God raad. God gebruik die simbole van die god van vrugbaarheid in sy droom, naamlik die koeie en die are, maar nie hy of sy waarsêers kan verklaar wat dit beteken nie. As God dit nie vir hom duidelik maak nie is die selfaangestelde god nie in staat om iets te doen nie.

Josef verklaar die drome omdat God vir hom die insig gee en omdat hy op God daarvoor vertrou. God gee sewe jaar oorvloed waarna daar sewe jaar van hongersnood gaan volg. Josef gaan egter verder as om bloot net die drome te verklaar. Hy gee ook die raad wat gedoen moet word op grond van die verklaring van die drome. Die gevolg is dat Josef as tweede in bevel oor die hele Egipte aangestel word. Net die Farao is bo hom. (vgl. Gen. 41v44)
Toe het die farao vir Josef gesê: “Ek bly die farao, maar sonder jou toestemming mag niemand in Egipte ’n vinger verroer of ’n voet versit nie.”

Josef word in ’n baie vername posisie aangestel, nie omdat hy so goed is nie, maar omdat God hom daarin aanstel. God gebruik Josef in sy plan om die volk Israel wat Hy uitverkies te red. Dit is egter belangrik dat ons daarop let hoe die Here vir Josef gebruik. Hy gebruik hom binne die heidense stelsel volgens die heidense manier van doen. Hy gee selfs vir Josef ’n heidense vrou wat die dogter is van ’n priester wat moes omsien na die sonaanbidding.

Met hierdie aanstelling sien ons dan ook hoe die belofte die Here aan Abraham in Gen. 12v3 gemaak het dat al die nasies in hom geseën sal wees, gedeeltelik in vervulling gaan. God het egter nog ’n groter plan as selfs die onmiddellike redding van hongersnood. Uit die nageslag van Jakob is Jesus gebore waardeur al die volke van die wêreld geseën word.

Hoe kan ons soos Josef Vertrou dat God vir ons sorg al lyk dit nie altyd so nie? Ons kan dit alleen doen omdat Jesus Christus deur sy kruisdood en opstanding weer versoening tussen ons en God bewerkstellig het. Dit is die rede waarom Josef kon vertrou en dit is die rede waarom ons op God kan vertrou. As Josef deur die bril van sy omstandighede gekyk het dan het hy nie die troue sorg en die liefde van God raakgesien nie. Jesus Christus het gekom sodat die skewe beeld wat ons van God het wat deur die sonde veroorsaak is weer herstel kan word.

Verder het Jesus ook nog vir ons die Heilige Gees gestuur as Trooster en Helper na sy hemelvaart sodat ons in geloof kan vashou aan God se genade. Hy sê immers vir ons in Mat 6v31-33:
31“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32 Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Geliefdes Josef het in vertroue op God die werk met ywer aangepak wat die Here vir hom gegee het, hetsy of dit as slaaf was, of in die tronk of as tweede in bevel van die hele Egipte. Hy kon dit alleen doen omdat hy God vertrou het. Christus maak dit moontlik dat ons ook op God kan vertrou en daarom moet ons ook die werk in vertroue aanpak wat die Here vir ons gegee het, naamlik om sy koninkryk uit te brei. Ons moet dit doen of ons nou net ’n kantoorklerk, ’n plaasboer of selfs ’n vername besigheidsman of self in die kabinet as God ons daartoe roep. As God ons wil gebruik binne die heidense strukture dan moet ons dit daar ook doen. Die belangrikste is dat ons sal onthou wat die uiteindelike doel is, naamlik om God se koninkryk uit te bou daar waar ons is met die vaste vertroue dat God vir ons sal sorg. Daarom geliefdes kom ons doen die werk wat die Here vir ons gegee het en Vertrou dat God vir ons sorg al lyk dit nie altyd so nie

Amen