19
Jun. 2016 GKE
Gen.
45 & Gen. 50:16-20
Teksverse
Gen. 39:2 Die Here was by Josef en dit het
baie goed gegaan met hom.
Gen. 39:21 Terwyl Josef daar in die tronk was, 21was
die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind
Gen. 45:5 God het my voor julle uit gestuur
om lewens te red.
Gen. 45:7
& 8 7God het my
voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat
oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis
nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as
die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die
hele Egipte.
Gen. 50:19
& 20 19Maar Josef het
hulle geantwoord: “Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. 20Julle
wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n
groot volk nou in die lewe gebly het.
Sing:
Ps.
48-1:1,4 & 5
Ps.
86-1:1,3 & 6
Sb
15-7:4 & 5
Ps.
121-1:1 & 4
Hoe sal jou lewe lyk as jy
rêrig glo dat God in elke situasie van jou lewe teenwoordig is? Sien jy God se
hand raak in daardie siekte wat God oor jou pad gebring het? Dis maklik om dit
te sê wanneer dit goed gaan met jou, maar glo jy dit steeds in die teenspoed in
jou lewe? Sien jy God se hand raak wanneer die behandeling nie suksesvol was
nie? Sien jy God se hand raak in al die korrupsie in die land? Sien jy God se
hand raak in die misdaad wat besig is om hand uit te ruk? Sien jy God se hand
raak in jou persoonlike swaarkry?
In die verhaal van Josef
sien ons wat dit beteken om in volle afhanklikheid van God te leef. Josef se
verhaal begin eintlik met die belofte wat God aan Abraham gemaak het dat sy
nageslag soveel soos die sterre in die hemel of die sand van die see sal wees. Hy
moes geduldig wag vir Izak wag totdat dit menslik gesproke onmoontlik was. Izak
se twee seuns was Jakob en Esau. Jakob het twaalf seuns gehad waarvan Josef die
tweede jongste was. In die verhaal van Josef hoor ons hoe dit gekom het dat
hierdie twaalf seuns se nageslag ’n groot nasie geword het.
Jakob het Josef voorgetrek
en dit het daartoe gelei dat sy broers hom byna doodgemaak het, maar op die
uiteinde het hulle hom aan die Midianiete as slaaf verkoop.
Die Midianiete het
vir Josef in Egipte verkoop aan Potifar, die hoof van Farao se lyfwag. Hier sit
Josef. Hy het nie werklik verdien om as slaaf verkoop te word nie. Het die Here
van hom vergeet?
Ons hoor in Gen. 39:2:
Die Here
was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom.
Die Here was by hom. Dit
beteken nie dat hy nou nie meer ’n slaaf was en dat hy kon terugkeer huis toe
nie. Nee hy was steeds ’n slaaf, maar die Here was by hom midde in sy
omstandighede. Die Here het hom geseën en gevolglik was Potifar hom goedgesind.
Hy het Josef oor sy hele huishouding aangestel. Alhoewel Josef dus nog steeds
’n slaaf was het dit onder omstandighede goed gegaan met hom.
Maar net toe dit begin
goed gaan het die volgende ramp hom getref. Potifar se vrou het by hom aangelê
en toe hy weier het sy hom van verkragting beskuldig.
Hier sit Josef nou onskuldig in die tronk.
Hy het die regte ding probeer doen en nou is hy as gevolg daarvan in die tronk!
Hoekom laat die Here hierdie onreg toe? Gee Hy dan nie om nie?
In Gen. 39:20b
& 21 hoor ons dat Here wel omgee:
Terwyl
Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue
liefde laat ondervind
Alhoewel Josef se
omstandighede nie was wat hy wou gehad het nie, het die Here hom nie alleen
gelaat nie. Die Here se teenwoordigheid in jou lewe beteken nie dat jy
gevrywaar word van moeilike omstandighede nie. Dit beteken wel dat die Here met
jou is net soos wat Hy saam met Josef was, want die Here was besig met iets
groter in Josef se lewe as net sy onmiddellike omstandighede.
Terwyl hy in die tronk
was, is die koning se skinker en bakker ook in die tronk gegooi omdat hulle
verkeerd teenoor die koning opgetree het. Hier sien ons dat God besig is met ’n
groter plan as Josef se onmiddellike omstandighede daar in die tronk. Met die
uitlê van hul drome word die weg gebaan vir Josef om uit die tronk te kom sodat
sy pa en broers ook Egipte toe kon kom waar die volk Israel uit hulle nageslag
ontstaan het.
In Gen. 45 hoor ons hoe
Josef homself uiteindelik aan sy broers bekend maak.
Sy broers was met reg
vreesbevange toe hulle uitvind dat Josef leef en dat hy so ’n belangrike
amptenaar in Egipte was. Wat sou hulle lot gewees het as Josef nie God se hand
in sy lewe raakgesien het nie? Hier het Josef nou uiteindelik die persone wat
hom soveel ellende en verdriet veroorsaak het in sy mag. Josef sien egter God se hand raak in die
verloop van sy lewe soos ons hoor in Gen. 45:5
God het
my voor julle uit gestuur om lewens te red.
en ook in Gen. 45:7 &
8
7God het my voor julle uit
gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan
die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie
júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die
farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele
Egipte.
Selfs nadat hulle in
Egipte gevestig was, was Josef se broers steeds bang dat hy wou wraak neem na
Jakob se dood, maar Josef het verstaan dat God ’n groter plan in sy lewe gehad
het soos ons hoor in Gen. 50:19-20
19Maar Josef het hulle
geantwoord: “Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. 20Julle wou my
kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk
nou in die lewe gebly het.
Hy ontken nie dat dit wat
sy broers gedoen het verkeerd was nie. Hulle doel was om kwaad te doen. God het
egter nie toegelaat dat hulle bose doelwit bereik word nie. Self in dit wat
verkeerd was het God dit weggedraai van hul bose doelwitte sodat selfs dit ten
goede meewerk in die groter raadsplan van God. Josef maak nie die verkeerde
optrede van sy broers af asof dit nie ernstig was nie. Hy ontken nie die pyn
daarvan nie, maar in dit sien hy raak dat God steeds in beheer is.
Sien ons God raak midde in
die pyn van hierdie lewe? Ons raak so maklik vasgevang in die vrees dat dinge
buite beheer raak. As ons so na die misdaad om ons kyk en selfs daar waar ons
ook slagoffers daarvan is gebeur dit so maklik dat ons nie meer vertrou dat God
in beheer is nie.
Sien ons die groter doel
raak waarmee God besig is? Josef het God se hand raakgesien in die pyn wat hy
in sy lewe deurgemaak het, maar selfs hy het nie die groter doel gesien waarmee
God besig was nie. God het aan Abraham ’n belofte gemaak soos ons in Gen. 22:18
hoor:
In jou
nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My
gehoorsaam.
In Gal 3:8 kry ons meer
duidelikheid oor wat God met hierdie belofte bedoel het:
Die
Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek
as hulle glo. Daarom het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham
gebring: “In jou sal al die nasies geseën word.”
In die lewe van Josef was
God besig met sy groter doel om ’n Verlosser na die wêreld toe te stuur. Uit
die nageslag van Jakob wat God daar in Egipte gered het is ’n Verlosser gebore.
Die lewe van Josef het profeties heen gewys na Jesus Christus. Josef het swaar
gekry in sy lewe sodat hy sy familie van hongersnood kon red. Jesus het nie net
swaar gekry nie. Hy het met sy lewe geboet om ons van die sonde oorheersing te
red.
God gebruik mense om sy
raadsplan uit te werk. Hy het vir Josef gebruik en Hy gebruik vandag nog vir
jou en my om sy raadsplan uit te voer om Jesus op die troon te plaas. God is
met jou in elke situasie. Deur die lewe van Josef het Hy sy plan uitgevoer om
’n Verlosser te stuur sodat ons gered kan word. Deur ons lewens is Hy nog
steeds besig om sy koninkryk uit te bou. Deur my lewe in die goeie, maar veral
ook die swaarkry tye is God besig om mense tot bekering te bring.
Ons sien nie altyd die
resultate of selfs die groter doel raak nie, maar as ons God vertrou dan word
ons bruikbare instrumente in sy hand.
Hoe sal jou lewe lyk as jy
rêrig glo dat God in elke situasie van jou lewe teenwoordig is? Glo jy werklik
dat God in beheer is van jou lewe?
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking