Wys tans plasings met die etiket God se raadsplan. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God se raadsplan. Wys alle plasings

19 Junie 2016

Glo jy werklik dat God in beheer is van jou lewe?



19 Jun. 2016 GKE
Gen. 45 & Gen. 50:16-20
Teksverse
Gen. 39:2           Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom.
Gen. 39:21          Terwyl Josef daar in die tronk was, 21was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind
Gen. 45:5           God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.
Gen. 45:7 & 8      7God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte.
Gen. 50:19 & 20   19Maar Josef het hulle geantwoord: “Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. 20Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het.
Sing:
Ps. 48-1:1,4 & 5
Ps. 86-1:1,3 & 6
Sb 15-7:4 & 5
Ps. 121-1:1 & 4

Hoe sal jou lewe lyk as jy rêrig glo dat God in elke situasie van jou lewe teenwoordig is? Sien jy God se hand raak in daardie siekte wat God oor jou pad gebring het? Dis maklik om dit te sê wanneer dit goed gaan met jou, maar glo jy dit steeds in die teenspoed in jou lewe? Sien jy God se hand raak wanneer die behandeling nie suksesvol was nie? Sien jy God se hand raak in al die korrupsie in die land? Sien jy God se hand raak in die misdaad wat besig is om hand uit te ruk? Sien jy God se hand raak in jou persoonlike swaarkry?

In die verhaal van Josef sien ons wat dit beteken om in volle afhanklikheid van God te leef. Josef se verhaal begin eintlik met die belofte wat God aan Abraham gemaak het dat sy nageslag soveel soos die sterre in die hemel of die sand van die see sal wees. Hy moes geduldig wag vir Izak wag totdat dit menslik gesproke onmoontlik was. Izak se twee seuns was Jakob en Esau. Jakob het twaalf seuns gehad waarvan Josef die tweede jongste was. In die verhaal van Josef hoor ons hoe dit gekom het dat hierdie twaalf seuns se nageslag ’n groot nasie geword het.

Jakob het Josef voorgetrek en dit het daartoe gelei dat sy broers hom byna doodgemaak het, maar op die uiteinde het hulle hom aan die Midianiete as slaaf verkoop. 
Die Midianiete het vir Josef in Egipte verkoop aan Potifar, die hoof van Farao se lyfwag. Hier sit Josef. Hy het nie werklik verdien om as slaaf verkoop te word nie. Het die Here van hom vergeet?

Ons hoor in Gen. 39:2:
Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom.
Die Here was by hom. Dit beteken nie dat hy nou nie meer ’n slaaf was en dat hy kon terugkeer huis toe nie. Nee hy was steeds ’n slaaf, maar die Here was by hom midde in sy omstandighede. Die Here het hom geseën en gevolglik was Potifar hom goedgesind. Hy het Josef oor sy hele huishouding aangestel. Alhoewel Josef dus nog steeds ’n slaaf was het dit onder omstandighede goed gegaan met hom.

Maar net toe dit begin goed gaan het die volgende ramp hom getref. Potifar se vrou het by hom aangelê en toe hy weier het sy hom van verkragting beskuldig. 
Die gevolg was dat hy onskuldig in die tronk beland het. 
Hier sit Josef nou onskuldig in die tronk. Hy het die regte ding probeer doen en nou is hy as gevolg daarvan in die tronk! Hoekom laat die Here hierdie onreg toe? Gee Hy dan nie om nie? 
In Gen. 39:20b & 21 hoor ons dat Here wel omgee:
Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind

Alhoewel Josef se omstandighede nie was wat hy wou gehad het nie, het die Here hom nie alleen gelaat nie. Die Here se teenwoordigheid in jou lewe beteken nie dat jy gevrywaar word van moeilike omstandighede nie. Dit beteken wel dat die Here met jou is net soos wat Hy saam met Josef was, want die Here was besig met iets groter in Josef se lewe as net sy onmiddellike omstandighede.

Terwyl hy in die tronk was, is die koning se skinker en bakker ook in die tronk gegooi omdat hulle verkeerd teenoor die koning opgetree het. Hier sien ons dat God besig is met ’n groter plan as Josef se onmiddellike omstandighede daar in die tronk. Met die uitlê van hul drome word die weg gebaan vir Josef om uit die tronk te kom sodat sy pa en broers ook Egipte toe kon kom waar die volk Israel uit hulle nageslag ontstaan het.
 
In Gen. 45 hoor ons hoe Josef homself uiteindelik aan sy broers bekend maak. 
Sy broers was met reg vreesbevange toe hulle uitvind dat Josef leef en dat hy so ’n belangrike amptenaar in Egipte was. Wat sou hulle lot gewees het as Josef nie God se hand in sy lewe raakgesien het nie? Hier het Josef nou uiteindelik die persone wat hom soveel ellende en verdriet veroorsaak het in sy mag.  Josef sien egter God se hand raak in die verloop van sy lewe soos ons hoor in Gen. 45:5
God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.
en ook in Gen. 45:7 & 8
7God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte.

Selfs nadat hulle in Egipte gevestig was, was Josef se broers steeds bang dat hy wou wraak neem na Jakob se dood, maar Josef het verstaan dat God ’n groter plan in sy lewe gehad het soos ons hoor in Gen. 50:19-20
19Maar Josef het hulle geantwoord: “Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. 20Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het.
 
Hy ontken nie dat dit wat sy broers gedoen het verkeerd was nie. Hulle doel was om kwaad te doen. God het egter nie toegelaat dat hulle bose doelwit bereik word nie. Self in dit wat verkeerd was het God dit weggedraai van hul bose doelwitte sodat selfs dit ten goede meewerk in die groter raadsplan van God. Josef maak nie die verkeerde optrede van sy broers af asof dit nie ernstig was nie. Hy ontken nie die pyn daarvan nie, maar in dit sien hy raak dat God steeds in beheer is.

Sien ons God raak midde in die pyn van hierdie lewe? Ons raak so maklik vasgevang in die vrees dat dinge buite beheer raak. As ons so na die misdaad om ons kyk en selfs daar waar ons ook slagoffers daarvan is gebeur dit so maklik dat ons nie meer vertrou dat God in beheer is nie.

Sien ons die groter doel raak waarmee God besig is? Josef het God se hand raakgesien in die pyn wat hy in sy lewe deurgemaak het, maar selfs hy het nie die groter doel gesien waarmee God besig was nie. God het aan Abraham ’n belofte gemaak soos ons in Gen. 22:18 hoor:
In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.
In Gal 3:8 kry ons meer duidelikheid oor wat God met hierdie belofte bedoel het:
Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo. Daarom het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham gebring: “In jou sal al die nasies geseën word.”

In die lewe van Josef was God besig met sy groter doel om ’n Verlosser na die wêreld toe te stuur. Uit die nageslag van Jakob wat God daar in Egipte gered het is ’n Verlosser gebore. Die lewe van Josef het profeties heen gewys na Jesus Christus. Josef het swaar gekry in sy lewe sodat hy sy familie van hongersnood kon red. Jesus het nie net swaar gekry nie. Hy het met sy lewe geboet om ons van die sonde oorheersing te red.

God gebruik mense om sy raadsplan uit te werk. Hy het vir Josef gebruik en Hy gebruik vandag nog vir jou en my om sy raadsplan uit te voer om Jesus op die troon te plaas. God is met jou in elke situasie. Deur die lewe van Josef het Hy sy plan uitgevoer om ’n Verlosser te stuur sodat ons gered kan word. Deur ons lewens is Hy nog steeds besig om sy koninkryk uit te bou. Deur my lewe in die goeie, maar veral ook die swaarkry tye is God besig om mense tot bekering te bring.

Ons sien nie altyd die resultate of selfs die groter doel raak nie, maar as ons God vertrou dan word ons bruikbare instrumente in sy hand.

Hoe sal jou lewe lyk as jy rêrig glo dat God in elke situasie van jou lewe teenwoordig is? Glo jy werklik dat God in beheer is van jou lewe?

Amen