26 Junie 2016

Stel jou hoop op die Beloftegewer



26 Jun. 2016 GKE
Skriflesing
Ps. 13:2 – 3; Gen. 12 v 1 – 3; Gen. 15 v 1 – 6 ; Gen. 17 v 1 – 6;
Gen. 21 v 1 – 7; Gen. 22 v 1 – 19

Teksvers Gen. 22:8

Sing
Ps. 146-1 v 1 - 3
Ps. 130-1 v 1 - 4
Ps. 141-1 v 1
Ps. 42-1 v 1 – 7

Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?

Dis amper asof die Psalmdigter Ps. 13 vir ons geskryf het. Hoe lank nog Here? Hoe lank moet ons nog in hierdie politieke en ekonomiese onsekerheid leef? Hoe lank nog voordat die droogte gebreek word? Hoe lank nog moet ek met hierdie siekte stoei? Hoe lank gaan ons nog swaarkry voordat dit beter gaan?

Telkemale vra “Hoe die Psalmdigter “Hoe lank nog Here?” Lees maar deur die Psalms en let op hoeveel maal word hierdie vraag gevra. Net soos die Psalmdigter vra, vra ons vandag nog steeds “Hoe lank nog Here?” Wanneer die Psalmdigter hierdie vraag vra dan antwoord hy dit gewoonlik ook soos ons ook in Ps. 13:6 hoor:
Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart.
Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.

Abraham moes ook wag op die Here. Die Here het hom belowe dat al die volke van die aarde in Hom geseën sal wees. Hy het hom belowe dat sy nageslag so baie soos die sterre in die hemel of die sand by die see sal wees. 
En hy moes wag vir daardie belofte. Kan u uself indink hoe dit vir Abraham en Sarai moes gewees het om op die belofte van die Here te wag? Terwyl hulle nog jonk was het hulle met afwagting gewag, maar die tyd het aangestap en hulle het al ouer geword en nog steeds was daar nie ’n kind vir hulle nie.

Hulle het selfs op ’n keer selfs probeer help om die belofte tot vervulling te bring. Gaan lees gerus maar weer die geskiedenis van Hagar en Ismael daar in Gen. 16. 
Maar op die uiteinde Het hulle bly glo in die belofte wat die Here aan Abraham gemaak het soos in ons voorgelese teksgedeeltes gehoor het. 
In Rom. 4:18 word dit mooi saamgevat:
Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.”
 
Ons hoor hoe die Here telkemale sy beloftes aan Abraham bevestig het en daarom kon Abraham bly glo. Die belofte van die Here en veral ook sy herhaaldelike bevestiging dat Hy sy belofte sal nakom loop soos ’n goue draad deur die verhaal van Abraham.

Die verhaal van Abraham gee vir ons hoop in tye van donkerte. Daar is egter ’n probleem. Ons kan nie die beloftes wat die Here aan Abraham gemaak het neem en dit netso op onsself van toepassing maak nie. As ons dit doen, dan misbruik ons die Bybel. Dit is ’n baie oppervlakkige lees van die Bybel om te sê dat die Here aan Abraham voorspoed en seën beloof het en daarom SAL Hy ons ook seën deur ons voorspoedig te maak. Dit werk ongelukkig nie so nie!

Daar is ook ’n verdere bekommernis met hierdie verhaal van Abraham. Telkemale het die Here met Abraham gepraat en sy beloftes weer en weer aan Abraham bevestig. Dis maklik om op die Here te wag wanneer daar ’n gewaarborgde goeie uitkoms is. Die probleem is egter dat daar nie noodwendig altyd so ’n goeie uitkoms gewaarborg word nie. Ons het geen waarborg dat die geweld en misdaad in ons land binnekort gaan ophou nie. Ons het geen waarborg dat die droogte sal breek voor die volgende plantseisoen nie. Daar is geen waarborg dat daardie siekte van my genees gaan word nie.

Een van my dosente het die stryd teen kanker verloor. Sy was nog jonk. Haar seun was saam met Miekie in matriek. As daar een ding was wat uitgestaan het van haar stryd teen kanker was dit haar moedigheid. Telkemale as die chemo haar so siek gemaak het, het sy gesê dit gaan goed. Haar geloof het haar gedra. En tog het sy as jong vrou die stryd verloor.

Dit is nie so maklik om op die Here te wag wanneer die uitkoms onseker is nie. Inderdaad is dit bitter moeilik, veral wanneer dit voel asof God binne in hierdie krisis van my stilbly en daar geen antwoorde is nie. Here as ek tog maar net ook so ’n bevestiging soos Abraham kon kry. Ons moet egter erken dat daar in die meeste van ons persoonlike krisisse nie so ’n bevestiging is nie.

Ons moet oppas vir die valstrik waarin ons so maklik trap om ons hoop te vestig op beloftes en ons verwagtinge van die uitkomste wat ons wil hê. Ons maak so maklik die fout wat Abraham gemaak het met hagar en Ismael. Here ek het hierdie probleem, maar moenie bekommer nie. Ek het gesien wat die oplossing is. U moet dit nou net moontlik maak dat die oplossing kan plaasvind. By die Here werk dit egter nie so nie! Ons kan nie aan Hom voorskryf nie.

Met ’n oppervlakkige lees van die verhaal van Abraham kan ons so maklik dink dat Abraham sy hoop op die beloftes van God gestel het. Deel van hierdie groot verhaal van Abraham en al God se beloftes aan hom wat Hy in Izak begin vervul het, is die verhaal waar die Here vir Abraham vra om Izak te offer.
 

Waarop het Abraham sy hoop gestel? As dit op die beloftes van God was sou hy nie bereid gewees het om Izak te offer nie. Gen. 22:8 sê vir ons waarop Abraham sy hoop gevestig het.
“My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”

In Heb. 11 v 17-19 hoor ons
Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het
 
Abraham se geloof was nie in God se belofte alleen gevestig nie. Sy geloof was in die Beloftegewer gevestig. Sy geloof was nie gevestig in wat God vir hom sou doen nie, nee sy geloof was in God self gevestig. Abraham was bereid om te waag en daarom was hy bereid om te doen wat ook al God van hom gevra het om te doen. Hy het nie aan ’n spesifieke uitkoms vasgehou nie. Hy het aan God self vasgehou. Toe Abraham op die Here gewag het, het dit sy geloof versterk. Dit het hom geleer dat God getrou is en dat God in staat was om te voorsien wat ook al nodig was.

Ons het dieselfde waarborg wat Abraham gehad het. Hy sal alles voorsien wat ons nodig het. Inderdaad het ons nog sterker bevestiging as wat Abraham gehad het. Op Izak se vraag waar die offerlam was het Abraham geantwoord “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”
 
Ons dink so maklik dat dit onregverdig was om Izak te offer, maar dit sal maar net gewees het wat elkeen van ons verdien, ook hy en Abraham, naamlik die dood. Die straf vir sonde is die dood en elke mens op aarde is skuldig aan sonde. Die skaapram wat Abraham ontvang het om in die plek van Izak te offer was maar slegs ’n heenwysing na die ware offerlam. Ons het die wonderlike voorreg om te weet wie die ware offerlam was wat in ons plek geoffer is, naamlik Jesus Christus. Christus het die prys vir ons sonde op Homself geneem. Hy het ’n vervloekte kruisdood gesterf sodat ons kan lewe.

Christus is ons waarborg dat ons op God kan vertrou. Kyk wat het Hy reeds vir ons gedoen daar op Golgota. Sal Hy ons nou in die steek laat? God het Abraham laat wag en dit het die verhouding tussen God en Abraham intiemer gemaak. Hy laat ons ook wag vir dieselfde rede. Goud word deur vuur gelouter. Ons geloof word deur die vuur van beproewing gelouter sodat ons daardeur nader aan Hom kan beweeg. Hy is besig met jou om jou nader aan Hom te bring. God is daardeur besig om ons na die beeld van Christus te verander. Daarom moet ons God se liefde ook in die vuur van beproewing raaksien.

Hou in geloof vas aan Jesus en dit wat Hy reeds vir jou gedoen het. Hou vas aan Hom eerder as om jou hoop op jou idee van uitkomstes te stel. Ons weet nie wat die toekoms vir ons inhou nie, maar God weet wat ons nodig het. Ons perspektief is op die hier en die nou gerig, maar God se perspektief is op die ewigheid gerig. Vertrou dat Hy op sy perfekte tyd vir jou alles sal gee wat jy nodig het. Beleef die nabyheid van God, veral midde in die beproewings in jou lewe. Moenie op jou hoop op jou persepsies van uitkomste stel nie. Stel jou hoop op die Beloftegewer.
Amen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking