26
Jun. 2016 GKE
Skriflesing
Ps. 13:2 – 3; Gen.
12 v 1 – 3; Gen. 15 v 1 – 6 ; Gen. 17 v 1 – 6;
Gen. 21 v 1 – 7; Gen. 22 v 1 – 19
Gen. 21 v 1 – 7; Gen. 22 v 1 – 19
Teksvers Gen. 22:8
Sing
Ps.
146-1 v 1 - 3
Ps.
130-1 v 1 - 4
Ps.
141-1 v 1
Ps.
42-1 v 1 – 7
Hoe lank gaan U my nog bly
vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet
ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die
vyand my nog oorheers?
Dis amper asof die
Psalmdigter Ps. 13 vir ons geskryf het. Hoe lank nog Here? Hoe lank moet ons
nog in hierdie politieke en ekonomiese onsekerheid leef? Hoe lank nog voordat
die droogte gebreek word? Hoe lank nog moet ek met hierdie siekte stoei? Hoe
lank gaan ons nog swaarkry voordat dit beter gaan?
Telkemale vra “Hoe die
Psalmdigter “Hoe lank nog Here?” Lees maar deur die Psalms en let op
hoeveel maal word hierdie vraag gevra. Net soos die Psalmdigter vra, vra ons
vandag nog steeds “Hoe lank nog Here?” Wanneer die Psalmdigter hierdie vraag
vra dan antwoord hy dit gewoonlik ook soos ons ook in Ps. 13:6 hoor:
Ek hou
vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart.
Ek wil
sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.
Abraham moes ook wag op
die Here. Die Here het hom belowe dat al die volke van die aarde in Hom geseën
sal wees. Hy het hom belowe dat sy nageslag so baie soos die sterre in die
hemel of die sand by die see sal wees.
En hy moes wag vir daardie belofte. Kan
u uself indink hoe dit vir Abraham en Sarai moes gewees het om op die belofte
van die Here te wag? Terwyl hulle nog jonk was het hulle met afwagting gewag,
maar die tyd het aangestap en hulle het al ouer geword en nog steeds was daar
nie ’n kind vir hulle nie.
Hulle het selfs op ’n keer
selfs probeer help om die belofte tot vervulling te bring. Gaan lees gerus maar
weer die geskiedenis van Hagar en Ismael daar in Gen. 16.
Maar op die uiteinde
Het hulle bly glo in die belofte wat die Here aan Abraham gemaak het soos in
ons voorgelese teksgedeeltes gehoor het.
In Rom. 4:18 word dit mooi saamgevat:
Toe daar
geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van
baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.”
Ons hoor hoe die Here
telkemale sy beloftes aan Abraham bevestig het en daarom kon Abraham bly glo.
Die belofte van die Here en veral ook sy herhaaldelike bevestiging dat Hy sy
belofte sal nakom loop soos ’n goue draad deur die verhaal van Abraham.
Die verhaal van Abraham
gee vir ons hoop in tye van donkerte. Daar is egter ’n probleem. Ons kan nie
die beloftes wat die Here aan Abraham gemaak het neem en dit netso op onsself
van toepassing maak nie. As ons dit doen, dan misbruik ons die Bybel. Dit is ’n
baie oppervlakkige lees van die Bybel om te sê dat die Here aan Abraham
voorspoed en seën beloof het en daarom SAL Hy ons ook seën deur ons voorspoedig
te maak. Dit werk ongelukkig nie so nie!
Daar is ook ’n verdere
bekommernis met hierdie verhaal van Abraham. Telkemale het die Here met Abraham
gepraat en sy beloftes weer en weer aan Abraham bevestig. Dis maklik om op die
Here te wag wanneer daar ’n gewaarborgde goeie uitkoms is. Die probleem is
egter dat daar nie noodwendig altyd so ’n goeie uitkoms gewaarborg word nie. Ons
het geen waarborg dat die geweld en misdaad in ons land binnekort gaan ophou
nie. Ons het geen waarborg dat die droogte sal breek voor die volgende
plantseisoen nie. Daar is geen waarborg dat daardie siekte van my genees gaan
word nie.
Een van my dosente het die
stryd teen kanker verloor. Sy was nog jonk. Haar seun was saam met Miekie in
matriek. As daar een ding was wat uitgestaan het van haar stryd
teen kanker was dit haar moedigheid. Telkemale as die chemo haar so siek gemaak
het, het sy gesê dit gaan goed. Haar geloof het haar gedra. En tog het sy as
jong vrou die stryd verloor.
Dit is nie so maklik om op
die Here te wag wanneer die uitkoms onseker is nie. Inderdaad is dit bitter
moeilik, veral wanneer dit voel asof God binne in hierdie krisis van my stilbly
en daar geen antwoorde is nie. Here as ek tog maar net ook so ’n bevestiging
soos Abraham kon kry. Ons moet egter erken dat daar in die meeste van ons
persoonlike krisisse nie so ’n bevestiging is nie.
Ons moet oppas vir die
valstrik waarin ons so maklik trap om ons hoop te vestig op beloftes en ons
verwagtinge van die uitkomste wat ons wil hê. Ons maak so maklik die fout wat
Abraham gemaak het met hagar en Ismael. Here ek het hierdie probleem, maar
moenie bekommer nie. Ek het gesien wat die oplossing is. U moet dit nou net moontlik
maak dat die oplossing kan plaasvind. By die Here werk dit egter nie so nie!
Ons kan nie aan Hom voorskryf nie.
Met ’n oppervlakkige lees
van die verhaal van Abraham kan ons so maklik dink dat Abraham sy hoop op die
beloftes van God gestel het. Deel van hierdie groot verhaal van Abraham en al
God se beloftes aan hom wat Hy in Izak begin vervul het, is die verhaal waar
die Here vir Abraham vra om Izak te offer.
Waarop het Abraham sy hoop
gestel? As dit op die beloftes van God was sou hy nie bereid gewees het om Izak
te offer nie. Gen. 22:8 sê vir ons waarop Abraham sy hoop gevestig het.
“My
seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”
In Heb. 11 v 17-19 hoor
ons
Omdat
Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer
afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal
jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. Hy
was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit
Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het
Abraham se geloof was nie
in God se belofte alleen gevestig nie. Sy geloof was in die Beloftegewer
gevestig. Sy geloof was nie gevestig in wat God vir hom sou doen nie, nee sy
geloof was in God self gevestig. Abraham was bereid om te waag en daarom was hy
bereid om te doen wat ook al God van hom gevra het om te doen. Hy het nie aan
’n spesifieke uitkoms vasgehou nie. Hy het aan God self vasgehou. Toe Abraham
op die Here gewag het, het dit sy geloof versterk. Dit het hom geleer dat God
getrou is en dat God in staat was om te voorsien wat ook al nodig was.
Ons het dieselfde waarborg
wat Abraham gehad het. Hy sal alles voorsien wat ons nodig het. Inderdaad het
ons nog sterker bevestiging as wat Abraham gehad het. Op Izak se vraag waar die
offerlam was het Abraham geantwoord “My seun, God sal sy eie offerlam
voorsien.”
Ons dink so maklik dat dit
onregverdig was om Izak te offer, maar dit sal maar net gewees het wat elkeen
van ons verdien, ook hy en Abraham, naamlik die dood. Die straf vir sonde is
die dood en elke mens op aarde is skuldig aan sonde. Die skaapram wat Abraham
ontvang het om in die plek van Izak te offer was maar slegs ’n heenwysing na
die ware offerlam. Ons het die wonderlike voorreg om te weet wie die ware
offerlam was wat in ons plek geoffer is, naamlik Jesus Christus. Christus het
die prys vir ons sonde op Homself geneem. Hy het ’n vervloekte kruisdood
gesterf sodat ons kan lewe.
Christus is ons waarborg
dat ons op God kan vertrou. Kyk wat het Hy reeds vir ons gedoen daar op
Golgota. Sal Hy ons nou in die steek laat? God het Abraham laat wag en dit het
die verhouding tussen God en Abraham intiemer gemaak. Hy laat ons ook wag vir
dieselfde rede. Goud word deur vuur gelouter. Ons geloof word deur die vuur van
beproewing gelouter sodat ons daardeur nader aan Hom kan beweeg. Hy is besig
met jou om jou nader aan Hom te bring. God is daardeur besig om ons na die
beeld van Christus te verander. Daarom moet ons God se liefde ook in die vuur
van beproewing raaksien.
Hou in geloof vas aan
Jesus en dit wat Hy reeds vir jou gedoen het. Hou vas aan Hom eerder as om jou
hoop op jou idee van uitkomstes te stel. Ons weet nie wat die toekoms vir ons
inhou nie, maar God weet wat ons nodig het. Ons perspektief is op die hier en
die nou gerig, maar God se perspektief is op die ewigheid gerig. Vertrou dat Hy
op sy perfekte tyd vir jou alles sal gee wat jy nodig het. Beleef die nabyheid
van God, veral midde in die beproewings in jou lewe. Moenie op jou hoop op jou
persepsies van uitkomste stel nie. Stel jou hoop op die Beloftegewer.
Amen.