03 Julie 2016

Die HERE hou ons vas, veral wanneer ons deur ’n vuuroond moet gaan


3 Jul 2016 GKE
Skriflesing - Dan. 3 
Teksverse - Dan. 3:17-18
Sing    Lofsang:  Ps. 31-1 v 1 & 3
           Na wet:    Ps. 103-1 v 2      
           Na gebed Ps. 33-1 v 5 & 6
           Slotsang  Sb 14-2 (Al sou die vyeboom nie bot nie)
Inleiding
Word u ook soms moedeloos oor die uitdagings wat ons in die gesig staar? Ons word soms moedeloos oor die uitdagings wat ons in die gesig staar. Waar die kerk op ’n stadium ’n baie belangrike deel van die samelewing uitgemaak het, word die invloed van die kerk al hoe kleiner. Verder is daar al hoe meer onrus wat in die land aan die broei is soos die geweldadige betogings in die aanloop van die komende verkiesing.

Op persoonlike vlak gaan dit nie veel beter nie. Dit raak deesdae ’n stryd om te oorleef met brandstofpryse en kragtariewe wat die hoogte inskiet om van kospryse nie eens te praat nie. Dan kom daar ook nog ander probleme wat baie van ons tref soos siektes, huwelike wat verbrokkel en nog vele meer. As ons so na ons samelewing van vandag kyk, dan moet ons erken dat dit maklik is om moedeloos te raak!

Daniel se drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego, was ook in ’n situasie waar hulle maklik moedeloos kon word. Hulle was van die eerste ballinge wat in 605vC uit Jerusalem deur koning Nebukadneser van Babel weggevoer is. In hierdie verhaal van Daniel se drie vriende in Daniel 3 hoor ons hoe Koning Nebukadneser ’n groot beeld gemaak het wat met goud oorgetrek was. 


Hy het ’n wet uitgevaardig dat almal voor die beeld moet buig en dit aanbid. Daniel en sy drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego weier egter om te buig en die beeld te aanbid. 


Sadrag, Mesag en Abednego word by die koning verkla wat daartoe lei dat hulle in ’n baie warm vuuroond gegooi word. 


Sadrag, Mesag en Abednego kom egter niks oor nie! Saam met hulle is ’n engel wat hulle beskerm. So word hulle gered uit die vuur, hulle klere is nie eens gebrand en een van hulle ruik na rook nie.

In hierdie verhaal waar Daniel se drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego voor die keuse te staan gekom het of hulle sou buig of nie voor die goue beeld wat koning Nebukadneser opgerig het, leer ons hoe God sy kinders beskerm in tye van krisis. Al wat Hy van ons verwag is getrouheid. 

Die wyse waarop ons te midde van beproewings leef dra dikwels ’n boodskap uit na ander sodat dit hulle oë kan open om God raak te sien. Die twee hoofsake wat in hierdie verhaal uitstaan is:
1) Vertrou op die HERE en
2) Soms moet ons in die vuuroond beland.

Vertrou op die HERE
Hierdie drie vriende van Daniel vertrou so sterk op God dat hulle God steeds vertrou al red Hy hulle nie uit die vuuroond nie, want hulle weet dat selfs die dood hulle nie van God se troue liefde kan skei nie. Hulle bly getrou aan die HERE selfs tot in die uiterste omstandighede. Aanvanklik was dit makliker, daar waar hulle as te ware tussen al die mense weggesteek was. Die koning kon hulle nie sien nie, maar toe hulle verkla is en hulle voor die koning verskyn bly hulle steeds getrou aan die HERE. 


Die koning bied hulle nog ’n kans om voor die beeld te buig. Hierdie keer is daar geen uitkomkans nie. As hulle nie buig nie, gaan hulle summier in die brandende vuuroond gegooi word!

Ten spyte van die doodsgevaar waarin hulle verkeer, bly hulle egter steeds op die HERE vertrou. Wanneer die koning ewe vermakerig vra: “watter god sal julle uit my mag kan red?” antwoord hulle
Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”

Dit is maklik om as deel van ’n massa ons vertroue op die HERE te stel. Toe Daniel se drie vriende daar met die inwyding van die beeld as te ware tussen die massa versteek was buite die sig van die koning was die kanse goed dat hulle nie tot verantwoording geroep sou word nie. Die ware toets het gekom toe hulle voor die koning gestaan het. Hulle het vertrou dat die HERE hulle kon red uit die oond en uit die mag van die koning, maar hulle het ook rekening gehou daarmee dat die HERE dit dalk anders sou beskik. Selfs as die HERE hulle nie uit die oond gered het nie, het hulle nog steeds getrou gebly aan Hom.

Die ou duiwel gebruik vandag nog die strategie wat die koning gebruik het. Hy dreig dat verskriklike gevolge ons sal tref en dan vra hy ook ewe smalend “watter god sal julle uit my mag kan red?” Sy doel hiermee is dat ons die HERE moet wantrou. Dit was sy doel toe hy vir Eva gevra het “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?” Dit is nog steeds sy doel wanneer hy ons omstandighede aan ons voorhou. Wanneer hy vir ons wys dat ons gemeente klein en swak geword het met min vooruitsigte dat ons weer die gloriedae van ons verlede sal beleef toe ons vorige kerkgebou te klein geword het en ons hierdie kerkgebou moes bou sodat daar plek kan wees vir almal. Wanneer hy vir ons wys hoe die wêreld aan die brand gesteek word deur geweldadige betogings. Wanneer die gedagte by ons opkom dat daar nie meer ’n toekoms vir ons in hierdie land is nie. Die gedagte dat ons gemeente sy einde nader dan is dit of ons hoor “watter god sal julle uit my mag kan red?”

Wat is ons reaksie wanneer die ou duiwel vir ons vra “watter god sal julle uit my mag kan red?” Wat sal my reaksie wees wanneer die dokter vir my moet sê “ek is jammer, maar die kanker het versprei en daar is nie veel wat ons daaraan kan doen nie.” Wat sal my reaksie wees wanneer die ouderdom se greep al hoe sterker word en ek al hoe swakker word? Daniel se vriende het besef dat daar ’n moontlikheid is dat die HERE hulle nie uit daardie spesifieke omstandighede sou red nie en nog steeds het hulle in vertroue aan die HERE bly vashou.
Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.

Soms moet ons in die vuuroond beland
Daniel se drie vriende het geglo dat God kon keer dat hulle in die vuuroond beland, maar hulle het ook geweet dat God anders kon besluit. Oor die algemeen glo ons ook dat God kan keer dat slegte gebeure in ons lewens plaasvind. Soms laat Hy dit egter toe omdat Hy ’n groter doel daarmee het. Die HERE het toegelaat dat Sadrag, Mesag en Abednego in die vuuroond gegooi word. Dit beteken egter nie dat Hy hulle in die steek gelaat het nie. Hy het ’n beskermengel gestuur om hulle teen die onheil te bewaar. 


Wanneer God toelaat dat slegte gebeure in ons lewens plaasvind dan laat Hy ons nie in die steek nie. Die satan wil graag hê dat ons moet glo dat ons God nie kan vertrou nie en dat Hy ons in steek laat. Dit is ’n leuen net soos alles wat die satan ons van wil oortuig leuens is. Moet hom nie glo nie!

God laat ons nooit in die steek nie en wanneer Hy toelaat dat moeilike omstandighede oor ons pad kom moet ons weet dat Hy dan besondere sorg aan die dag lê om ons daardeur te dra. God laat soms toe dat ons in die vuuroond beland omdat Hy ’n groter doel daarmee het wat ons nie altyd kan raaksien nie. Sadrag, Mesag en Abednego het in die vuuroond beland sodat die HERE dit kon gebruik om die Jode wat later in ballingskap weggevoer is te bemoedig. Later toe die Jode moes toekyk hoe hulle tempel deur Antioges van IV Epifanes ontheilig is, gebruik die HERE die ballingskapverhaal van Daniel en sy drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego om hulle te bemoedig. Hy gebruik vandag nog hierdie gebeure om ons te bemoedig dat Hy met ons sal wees te midde van moeilike omstandighede.

Hoe weet ons dat ons net soos Daniel se vriende op die HERE kan vertrou en dat ons nie die satan se leuen moet glo dat God nie betroubaar is nie? God self oortuig ons daarvan. Hy het mens geword om ons van die sondegreep van die satan te verlos. Toe die duiwel Hom in die woestyn versoek het, het Hy nie toegegee nie. Die duiwel wou Hom oortuig Hy die maklike pad kon vat en die smarte van die kruis kon vryspring. Jesus het egter geweet dat Hy deur die vuuroond van die kruis moes gaan en daarom antwoord Hy die duiwel soos ons hoor in Mat 4:11:
“Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”

Toe Hy egter deur die vuuroond gegaan het was Hy alleen. Daar was niemand wat Hom kon dra nie. Hy is nie ongeskonde uit die oond gered nie. 
Sy liggaam is gebreek en sy bloed is uitgestort sodat ons nie die smarte van die ewige verdoemenis hoef te dra nie. Ons weet ons kan die HERE vertrou omdat die Heilige Gees ons oortuig dat Jesus ons verlos het van die ewige verdoemenis en daarom kan ons ook soos Daniel se vriende die duiwel antwoord wanneer hy ons vra “watter god sal julle uit my mag kan red?” Dan kan ons met vertroue antwoord:
Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”

Die wyse waarop ons te midde van beproewings leef dra dikwels ’n boodskap uit na ander sodat dit hulle oë kan open om God raak te sien. Waar koning Nebukadneser voorheen smalend gevra het “watter god sal julle uit my mag kan red?” erken hy nou “daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie.”

Slot
Die ou duiwel probeer ons oortuig dat ons die HERE nie kan vertrou nie en dan wys hy ons al die slegte omstandighede wat ons in die gesig staar. Dan vra hy ewe smalend “watter god sal julle uit my mag kan red?”

Die HERE kan ons red van die vuuroonde in die lewe, maar soms is dit nodig dat ons deur ’n vuuroond van die lewe moet gaan. Wanneer dit gebeur verwag God getrouheid van ons. Dan moet ons weet dat ons die HERE kan vertrou omdat Jesus ter wille van ons alleen deur die vuuroond van die kruis gegaan het. Daarom kan ons weet dat wanneer ons in ’n vuuroond beland die Here ’n doel daarmee het en dat ons Hom kan vertrou omdat niks ons van sy liefde kan skei nie, selfs nie eens die dood nie! Daarom geliefdes, wanneer ons voor die vuuroond van die lewe staan, vertrou die HERE dat Hy ons sal vashou, selfs wanneer ons deur ’n vuuroond moet gaan. Vertrou op die HERE, selfs al moet ons in die vuuroond beland.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking