Job Preek 4
30 Sep. 2018
Job 38:1-12; 39:34-38 & 42:1-6
Teksverse: Job 38:4; 42:5
Ons is vandag by
ons vierde preek uit Job oor moeilike lewensvrae waarop daar nie altyd maklike
antwoorde is nie. In die eerste preek het ons gehoor dat jy nie ʼn
mooiweersgelowige moet wees nie. Dien God vir wie Hy is en nie vir dit wat jy
van Hom ontvang nie.
In die tweede preek
het ons gehoor dat ons nie altyd weet hoekom daar slegte dinge oor ons pad kom
nie. Wat ons wel weet is dat God daar is en dat Hy ons nooit in die steek sal
laat nie.
In die derde preek
het ons stilgestaan by wat die Here van ons verwag wanneer ons ly. God verwag dat
ons Hom sal vertrou. Dat ons dankbaar moet wees in tye van voorspoed en
geduldig in tye van teëspoed.
In die vierde preek
staan ons stil by die vraag:
“Is daar
hoop midde in lyding?”
Hoop is die een ding wat jou staande hou wanneer
lyding oor jou pad kom. Hoop maak dit moontlik om die lewe in die oë te kyk en
die pad enduit te stap. Job wys vir ons dat ongeag jou omstandighede daar altyd
hoop is wanneer jy die pad saam met God stap.
Job is nie ʼn
maklike boek om te lees nie. Hebreeuse poësie is nie maklik nie, veral nie as
dit in ʼn verhaal gebruik word nie. Na die inleiding waar ons hoor van die rampe
wat Job getref het, vind daar ʼn uitputtende tweegesprek tussen Job en sy
vriende plaas wat vir 35 hoofstukke aanhou.
Dis ʼn gesprek wat
al in die ronde gaan sonder dat daar enige antwoorde kom oor Job se rampe. Wat
dit vir ons sê is dat die menslike deelnemers absoluut geen antwoorde het vir
Job se probleem nie, maak nie saak hoe lank hulle daaroor praat nie.
Dit is eers wanneer
God tot die gesprek toetree dat daar antwoorde kom, maar tog is dit nie die
antwoorde wat ons verwag nie. Op die oog af klink dit of die vrae wat God aan
Job oor sy skepping vra nie eintlik vir Job nuwe inligting gee nie.
Die gesprek
bevestig wel God se onbeperkte mag en wysheid, maar dit is nie iets wat Job
alreeds geweet het nie. Dieperliggend spreek God Job se twyfel dat God nie
regverdig is nie aan. In Job 38:4-7 hoor ons:
Waar was jy toe Ek die
aarde se fondamente gelê het?
Praat as jy die antwoord
het. Wie het die aarde afgemeet?
Weet jy dit? Wie het ’n
maatlyn oor hom gespan?
Waarop is sy voetstukke
neergesit?
Wie het hom aanmekaargesit
daardie oggend toe die sterre
saamgesing het en al die
hemelinge gejubel het?
Hier beskryf die
Here die vestiging van die aarde op so ʼn manier wat Job se aanklag teëspreek
dat die wêreld in chaos ontaard en dat die bose die oorhand gekry het.
Job is so vasgevang
in sy pyn dat hy net die negatiewe raaksien. Is dit nie maar ook dikwels met
ons die geval nie? Ons raak so oorweldig deur ons omstandighede dat alles net
verkeerd en lelik is. Ons raak so vasgevang in die negatiewe dat ons naderhand
glad nie meer raaksien wat goed en mooi is nie.
Die beskrywing van
die see in Job 38:8-11 is besonders treffend.
Wie het die see opgedam toe
hy begin uitborrel het?
Ek het hom met wolke
bedek, hom met donkerte toegemaak.
Ek het vir hom perke
gestel, hom agter slot en grendel gesit.
Ek het gesê: ‘Tot hiertoe
mag jy kom, nie verder nie;
hier is die grens van jou
magtige golwe.’
Die see is
simbolies van chaos en boosheid. God is beheer van die see en Hy stel die
perke. God het die boosheid oorwin.
Deur sy lyding het
Jesus die mag van die boosheid gebreek. Hierin lê die groter hoop. Wanneer
Jesus weer kom op die wolke gaan Hy die boosheid en lyding wat daarmee gepaard
gaan finaal verban. In ʼn sekere sin deel ons met ons lyding in Jesus se lyding
en daarom deel ons ook in sy oorwinning oor die boosheid.
Ons is nie maar net
aan die noodlot uitgelewer is nie. Ons is nie op ʼn vliegtuig sonder ʼn loods
nie. God is in beheer. Hy word nie onkant gevang nie. Dit is ʼn hoop waaraan ons
vashou.
Die sekerheid dat
God alles kan doen en dat sy raadsplan nie gekeer kan word nie is die hoop en
troos wat ons nodig het midde in lyding. God laat nie maar alleen net lyding
toe nie. Hy beheer dit. Hy laat nie toe dat lyding sy bose doelwitte bereik
nie. Hy buig dit om sodat alles ten goede meewerk. God wat weet hoe om boosheid
te gebruik om op die uiteinde sy doelwitte van goedheid te bereik, sal ook die
donkerste lyding in my lewe gebruik om alles vir my ten goede te laat meewerk.
in Job 42:5 hoor
ons:
Tot nou toe het ek net
gehoor wat mense van U sê,
maar nou het ek U self
gesien,
Job bely dat hy God
op ʼn heel nuwe wyse leer ken het. Hy het in die verlede gedink hy ken God, maar
toe besef hy dat hy net van God geweet het. Nou egter, het hy God persoonlik
leer ken. Job bevestig dat sy verhouding met God heeltemal anders is as enige ander
verhouding wat hy met mense het. Sy verhouding met God is kosbaarder as
enigiets anders in sy lewe.
God gebruik lyding
om jou nader aan Hom te bring. Wanneer jy ly en nie antwoorde kry oor hoekom
nie, maar nogtans vashou aan jou verhouding sal jy ook God op ʼn heel nuwe
manier leer ken.
Die hoop midde in
lyding is dat God ʼn werklikheid word in jou lewe. Deur jou geloof in Jesus
Christus leer jy om God te vertrou, selfs wanneer die lewe om jou deurmekaar is
en jy nie verstaan hoekom nie. God word ʼn konkrete werklikheid en ʼn anker wat
sin aan jou lewe gee.
Ons kry dikwels nie
antwoorde op ons hoekom vrae nie. Job moes in die kookpot beland om getoets te
word of hy opreg lewe ter wille van God. Hy moes leer om opnuut weer te sê:
“Laat U wil met my geskied.”
Glo dat jou lewe in
die hand van God is en berus daarin. Laat jou gebed ook wees “Laat U wil met my
geskied.” Jou lewe word nie deur die noodlot bepaal nie, maar deur jou
persoonlike verhouding met God.
Amen