12 November 2015

Ons vertrou dat God ons Vader in goeie en slegte tye vir ons sorg

Habakuk  Teksverse Hab. 1v2-4; Hab. 2v5-6; Hab. 3:17-19
8 Nov. 2015 GKE

Lof-Lied - Lied 163  Soos `n wildsbok
Na Wet Sb. 9-2 v 1 & 9 (Sb 26 in ou swart Psalmboek)
Na Gebed Ps. 32-1 v 1 & 6
Slotsang Sb. 14-2 (Al sou die vyeboom beryming van Hab. 3v17-19)

Sondag 10

27  Vraag:  Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord:  Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a)  waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).
(a) Hand 17:25-28;  Jer 23:23, 24;  Jes 29:15, 16;  Eseg 8:12.  (b) Heb 1:3.  (c) Jer 5:24;  Hand 14:17.  (d) Joh 9:3.  (e) Spr 22:2.  (f) Matt 10:29;  Spr 16:33.
28  Vraag:  Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord:  Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees.  Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).
(a) Rom 5:3;  Jak 1:3;  Ps 39:10;  Job 1:21, 22.  (b) 1 Tess 5:18;  Deut 8:10.  (c) Ps 55:23;  Rom 5:4.  (d) Rom 8:38, 39.  (e) Job 1:12;  2:6;  Spr 21:1;  Hand 17:2.
As God ons Vader is, hoekom gaan dit nie altyd goed met ons nie? Ons bely op grond van dit wat God vir ons in sy ewige Woord sê dat Hy die hemel en die aarde uit niks geskep het. Verder bely ons dat God sy skepping nog steeds versorg en in stand hou. Net soos ’n ouer vir sy kinders sorg, sorg God vir ons as sy kinders in alle omstandighede. Dit is tog immers wat ons in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus bely. Ons bely tog dat niks toevallig gebeur nie. Dit wil sê dat dit wat daagliks met ons gebeur van God af kom. Die seën van die oorvloedige reën in die vorige jare het van God af gekom, maar ook die verwoestende droogte wat ons nou beleef.

Dink maar byvoorbeeld aan iets wat baie moontlik is in die Suid-Afrika waarin ons tans woon. ’n Vrou wat van ’n Bybelstudie af teruggekom het, is deur boosdoeners oorval, beroof en verkrag. As God dan in beheer is, waar was Hy toe dit gebeur het? Elkeen van ons kan heelwaarskynlik talle soortgelyke situasies in ons eie lewens opnoem. Situasies wat aanleiding gee dat ons saam met die profeet Habakuk vra: (Vgl. Hab. 1v2-4)
2 Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? 3 Waarom laat u my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. 4 Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag.

Hoe voel u oor God se antwoord op hierdie vraag? (Vgl. Hab. 2v5-6)
5 Die Here het geantwoord: Kyk na die ander nasies: julle sal verstom staan oor wat julle sien. Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo as dit vir julle vertel word nie. 6 Ek gaan die Galdeërs laat kom, die wrede, woeste nasie wat dwarsoor die aarde rondtrek om lande te verower wat nie hulle s’n is nie.
En dan gaan die Here aan om te verduidelik hoe wreed en woes die Babiloniërs is wat Israel in ballingskap gaan wegvoer.

Kan u nog steeds bely: dat ek in teëspoed geduldig moet wees? U wonder dalk nou waarheen is hierdie preek op pad? Die kern van Sondag 9 is dat God, die Skepper van hemel en aarde in Christus my Vader is op wie ek kan vertrou. As ons werklik wil bely met ander woorde dit onomwonde stel dat ons vas en seker glo dat God ons Vader is wat vir ons sorg in alles wat ons nodig het, dan moet ons God kan vertrou, veral wanneer ons omstandighede duidelik vir ons sê dat ons God nie kan vertrou nie. Daardie tye wanneer die ou duiwel ons so lekker uitkoggel: “kyk hoe gaan dit in jou lewe. Jy kan God nie vertrou nie!”

Wat gebeur eintlik hier in Habakuk 1 en 2? God word in die beskuldigingsbank geplaas! Die mens neem God onder kruisverhoor en beskuldig God dat Hy nie die mens se beste belange op die hart dra nie. Presies wat in die Paradys gebeur het met die sondeval. Daarom moet ons die perspektief van God se antwoord raaksien. Israel het hardnekkig aangehou met afgodery. Dit wil sê hulle het iets of iemand anders in die plek van God geplaas. Dit is nie God wat in die beskuldigingsbank hoort nie, maar die mens self wat God beskuldig. God gebruik die Galdeërs om Israel tot inkeer te bring. Nou moet ons baie mooi verstaan. God beskik nie die kwaad nie, want selfs die boosheid van die Galdeërs gaan gestraf word soos die Here vir ons sê in Habakuk 2v5 tot 20. Telkemale hoor ons “Ellende wag vir hom wat verkeerd doen.”

Wat wel hier gebeur is dat God die kwaad wat van die sonde af kom, gebruik om iets goed te laat voortkom. Die sondigheid van mense veroorsaak baie ellende vir ander mense. Dink maar net hoeveel hartseer veroorsaak gierigheid nie. Mense wat ander mense doodmaak om hulle besittings in die hande te kry. Jaloesie, haat woede onkuisheid noem maar op. Dit veroorsaak baie ellende in hierdie lewe en nie een van ons kan werklik sê dat ons onskuldig is nie.

Nou moet u mooi verstaan. Die aard van sonde en die rimpeleffek daarvan is nie altyd reglynig nie. Met ander woorde: Ek moenie die fout maak om reglynige oorsaak en gevolg vir alle situasies in my lewe te soek nie. Reglynige oorsake is ook daar, soos byvoorbeeld as ek myself aan drank vergryp en ek hou aan daarmee dan sal ek naderhand die gevolge daarvan op my gesondheid voel. Daar is egter ook indirekte gevolge. As ek beroof en aangerand word, is dit nie noodwendig die direkte oorsaak van iets wat ek in my lewe verkeerd gedoen nie. Dit is wel die gevolg van die rimpeleffek wat sonde op die mensdom het.

’n Verdere indirekte effek van sonde is dat die Skepping as gevolg van die sondeval aan die verydeling onderwerp is soos die Here vir ons in Rom. 8v2 sê:
Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.
Dit is die rede hoekom daar natuurrampe en vloede en droogtes plaasvind. Dit is die rede waarom mense wat nog in die fleur van hul lewens is deur siektes geteister word en dat hulle daarvan doodgaan.

Binne die teëspoed wat deur sonde veroorsaak word kan ons net werklik bely dat ek in teenspoed geduldig sal wees as ek God vertrou. As ek vertrou dat God in beheer is en dat Hy selfs dit wat sleg is in my lewe tot my beswil kan gebruik. Dink maar net aan die verhaal van Josef. Hoe dink u het Josef gevoel toe hy daar in die put gelê het waar sy broers hom ingegooi het? Hoe het hy gevoel toe hy as slaaf was op pad na Egipte? Dit is eers baie jare later dat hy as tweede in bevel van Egipte vir sy broers wat hom verkoop het kon help uit die gevolg van die hongersnood waarin hulle beland het. Ons sien nie altyd dadelik die goeie gevolge wat uit die slegte voortspruit nie. Soms neem dit baie jare en tog is ek seker dat elkeen van ons ’n voorbeeld in ons lewens kan aanhaal waar die Here dinge in ons lewens wat aanvanklik sleg was, ten goede laat meewerk het.

Uit die nageslag van Josef se broer Juda is Jesus gebore. Dit is ’n gebeurtenis wat nie in Josef se lewe plaasgevind het nie. Dit het eers baie, baie geslagte later gebeur. Tog het Israel vasgehou aan die belofte van ’n Messias wat sou kom en die verlossing wat Hy sou bring. Dit is ’n belofte wat die Jode deur die pyn van hul Ballingskap gedra het. Dit is net die verlossingswerk van Jesus Christus wat dit moontlik maak dat ons God kan vertrou. Dat ons dankbaar is wanneer Hy ons seën en dat ons geduldig is wanneer ons beproef word.

Ons geloof in Jesus Christus maak dit moontlik dat ons God ons Vader kan vertrou. Die Heilige Gees is altyd by ons en dra ons deur die goeie en die swaar tye. Die Heilige Gees gee vir ons die geloof om vas te hou in God se genade wat Jesus Christus vir ons gebring het. Daarom kan ons ook saam met Habakuk sing:
(Hab. 3:17-19)
17 Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, 18 nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.19 Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Hou in geloof vas aan God se genade en vertrou dat Hy steeds in beheer is. Glo dat God jou Vader is omdat Christus vir jou sondes gesterf het. Dink daaroor na wat God al alles in jou lewe vir jou gedoen het. Dink daaroor na wat dit vir jou beteken dat Christus vir jou sondes ’n vervloekte dood aan ’n kruishout gesterf het. Glo en vertrou dat Hy net ons beste belange op die hart dra. Dan sal ons ook kan bely:
Ons vertrou dat God ons Vader in goeie en slegte tye vir ons sorg.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking