15 November 2015

Bid tot God in verootmoediging

2 Kronieke 7:11-22  teksverse 13-14
GKE 15 Nov 2015

Sing:
Ps. 34-1:1,2 & 5
Ps. 103-1:1 & 2
Ps. 34-1:6
Sb 9-1:1,2,4 & 11

Die afgelope tyd het daar verskeie oproepe uit allerhande oorde opgegaan dat ons vir reën moet bid. Daar was selfs ’n versoek van ons kerkverband se Deputate Ekumenies Binnelands dat vandag as ’n biddag vir reën afgesonder word. Dikwels word 2 Kron. 7:13 & 14 by so ’n versoek aangehaak. Gegewe die droogte toestand in ons land en veral hier in KZN is dit nie ’n onbillike versoek nie. Die Here sê dan vir ons in 2 Kron. 7:13 & 14 dat ons moet bid wanneer dit droog is met die belofte daarby dat Hy ons land sal laat herstel. Die probleem wat egter dikwels met sulke versoeke voorkom, veral die wat oor die sosiale media soos FB en WhatsApp of per epos gerig word, is die manier en motivering waarmee die versoeke gerig word.

Die probleem is dat daar baie selektief met 2 Kron. 7:13 & 14 omgegaan word en dat die oproep die vorm van ’n sogenaamde “kettinggebed” aanneem. ’n Kettinggebed behels gewoonlik dat mense aangespoor word om soveel as moontlik mense te kry om te bid “Here gee vir ons reën”. Die probleem wat hier na vore kom is dat dit die doel van gebed soos die Bybel ons leer mis. Eintlik kom dit op manipulasie neer. As ons net genoeg mense kan kry om saam te bid. Dikwels gaan die kettinggebed versoek ook met ’n spesifieke doelwit saam van hoeveel mense moet saambid. As soveel mense bid, dan MOET God luister, so asof ons enigsins vir God kan dwing om iets te doen.

Soos ek gesê het, is daar nie ’n probleem met ’n versoek om vir ’n saak te bid nie. Die Here sê immers vir ons op verskeie plekke in die Bybel dat ons moet bid. Hy sê ook vir ons hoe en waarvoor ons moet bid. In ons teks vanoggend is daar dan ook baie spesifieke riglyne van hoe en waarvoor ons moet bid.

Ons kan nie net tekste soos 2 Kron. 7:13 & 14 in isolasie neem sonder om in ag te neem wat voor dit en daarna in die Bybel staan nie. Om te verstaan wat die Here vir ons sê, moet ons die konteks van ’n Skrifgedeelte in ag neem. Met ander woorde wat is die agtergrond waaroor dit gaan?

In 2 Kron. 6 & 7 hoor ons dat dit hier gaan oor die inwyding van die tempel wat Salomo laat bou het. Dawid wou ’n tempel laat bou, maar die Here het gesê nee. Salomo (Dawid se seun) het die opdrag gekry om die tempel te laat bou en hier hoor ons dat hy dit gedoen het en hoe die tempel ingewy word.

In 2 Kron. 6 hoor ons Salomo se gebed tot die Here waar hy vra dat God die tempel sal seën en die gebede sal verhoor wat die volk daar tot God bid. In 2 Kron. 7 hoër ons hoe God daardie gebed van Salomo beantwoord. In 2 Kron. 7:1 hoor ons hoe daar vuur uit die hemel gekom het en die brandoffers verteer het wat daar met die inwyding van die tempel gebring is. Daarmee het die Here aangedui dat Hy die brandoffers wat gebring is, aanvaar het. Sy magtige teenwoordigheid het die tempel gevul. Ons moenie die fout maak dat die Here beperk was tot die tempel nie soos ons hoor in 2 Kron. 6:18:
Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!
Die tempel was slegs die plek waar die volk God kon ontmoet.

in 2 Kron. 7:11-22 het die Here in ’n droom aan Salomo verskyn en aan hom bevestig dat Hy sy gebed verhoor het en dat Hy die tempel gekies het as die plek waar die volk hom met hul offerandes kon ontmoet. Hy waarsku Salomo ook wat sal gebeur as die volk van Hom afvallig word en sê ook wat die volk moet doen wanneer die rampe hulle tref as hulle afvallig geword het.

Ons moet ook nie die fout maak om die tempel van die Ou Testament aan ons kerkgeboue gelyk te stel nie. Die tempel van die Ou Testament was die ontmoetingsplek met God en dit het heengewys na Jesus Christus wat versoening tussen God en die mens gebring het. Die offerhande wat gebring is wys heen na die finale offer wat Jesus aan die kruis gebring het. In Joh. 2:21 bevestig Jesus dat Hy nou die tempel is deur wie ons God ontmoet. Die offers en tempel van die Ou Testament het vorentoe gekyk na die soenoffer van Jesus terwyl ons in ’n nuwe bedeling terugkyk daarna. In 2 Kron. 7:13 & 14 kry die volk die opdrag om te bid by die tempel waar Hy beloof het om na hulle gebede te luister. Ons as Nuwe Testamentiese kerk het die opdrag om in die Naam van Jesus Christus te bid soos ons in Joh. 16:23 hoor. Met ander woorde ons moet erken dat ons die voorreg het om tot God te bid omdat Hy ons in Jesus aangeneem het as sy kinders.

Die Here sê ook in hierdie gedeelte vir ons waarvoor ons moet bid. Daar staan nie dat ons soveel as moontlik mense moet aanspoor om te bid “Here gee asb. tog vir ons reën nie.”

In 2 Kron. 7:14 hoor ons
en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.

Die eerste aspek wat hier na vore kom is “toon berou.” In die 1953 vertaling staan daar “hulle verootmoedig” en in die Engelse vertaling is dit “humble themselves.” Die eerste ding wat ons moet doen is om te erken dat ons nie onskuldig is oor wat hier gebeur nie. Ons moet ons afhanklikheid van God erken. Een van die groot probleme wat Israel gehad het was dat hulle, na ander gode gedraai het en daarmee het hulle gesê dat hulle sonder God kan klaarkom. Dit is nog steeds een van ons probleme. Ons leef asof God nie bestaan nie. Ons sê wel dat ons in Hom glo maar ons lewens wys net mooi die teenoorgestelde.

Ons moet ons verootmoedig, met ander woorde ons moet ons sonde bely en berou toon daaroor. Ons moet berou toon ons nie ten volle leef soos wat dit kinders van God betaam nie. Ons het God en ons naaste nie so lief soos wat ons moet nie. Ons as gemeente is nie so ywerig as wat ons moet wees in ons diens tot God nie. Ons voer nie ons sending opdrag uit soos wat ons moet nie omdat ons nie ’n hart het vir die mense wat verlore gaan het nie. Ons bid nie genoeg vir ons regering nie. Ons bid nie genoeg vir ons vyande nie. Elkeen weet wat die sondes is wat nog in my lewe aanwesig is. Erken en bely ons daardie sonde teenoor die Here? Vra ons dat die Heilige Gees ons help om van daardie sondes in ons lewens ontslae te raak? Laat ons die Heilige Gees ons lewens beheer of bedroef ons die Gees met ons lewens? Gebruik ons God as ’n noodwiel en bid slegs wanneer ons in ’n krisis beland?

Die volgende opdrag is: “bid en vra na my wil.” Waarvoor moet ons bid? Sekerlik kan en mag ons vra dat die Here vir ons reën stuur. Hy leer ons tog in die Onse Vader gebed om te vra vir ons daaglikse brood, dit wil sê om te vra vir die lewensmiddele wat ons nodig het. Dit behels egter net een sinnetjie in die Onse Vader gebed en daarom moet dit nie die hoofsaak wees waarvoor ons nou ook moet bid nie. As ons gebede in hierdie krisis tye net daaruit bestaan dat ons die Here vra om reën te stuur, dan bid ons nie volgens sy wil soos wat Hy dit in sy Woord openbaar nie.

Waarvoor moet ons nog bid? “Vra na sy wil” of “laat U wil geskied...” soos die Onse Vader gebed ons leer. Letterlik staan daar “soek my aangesig.” Met ander woorde ons moet nader aan God beweeg en vra dat sy teenwoordigheid al hoe meer word in ons lewens. Watter deel van my dag behoort aan die Here? Begin ek my dag met gebed? Eindig ek my dag met gebed af? Wat van tussenin? Die Here sê vir ons dat ons gedurig moet bid. Die Here moet elke oomblik van elke dag deel van my lewe wees. Dis eenvoudig geliefdes. Byvoorbeeld wanneer ek in ’n situasie beland waar ek gewoonlik verkeerd optree, besef dit, want deel van ons gebede en afhanklikheid van die Heilige Gees is dat ons Hom moet vra om ons bewus te maak van sulke tye. Wanneer ek midde in die situasie is, vra Here rig U my gedagtes en optrede. Dis hoe mens jou lewe deur die Gees laat beheers. Voordat ek na ’n vergadering toe gaan of met iemand moet gesels, vra vir die Heilige Gees om vir jou wysheid te gee.

Die opdrag is verder draai terug van julle bose weë. As ons weer toegegee het aan ons sonde, bely jou sonde teenoor God en vra vergifnis. Vra dat die Gees ons vorentoe sal sterk maak sodat ons nie aanhou struikel oor dieselfde sonde nie. Dit help nie ons vra na die wil van God en ons doen dit nie. Ons het ’n verantwoordelikheid en dit verg inspanning van ons kant af. Dit gebeur nie outomaties nie. Die troos is egter dat hoe meer ons dit doen hoe makliker word dit.

Dan gee die Here die belofte dat Hy uit die hemel sal luister en ons sondes vergewe en die land herstel. Hou vas aan die belofte, veral wanneer die Here se antwoord nie binne ons tydsraamwerk inpas nie. Vertrou God dat Hy sy beloftes sal nakom.

Ons het vandag toegewy as ’n biddag vir reën. Ons moenie die fout maak om te dink dat as hierdie erediens verby is dat ons nou ons plig gedoen het nie. Die opdrag is hier aan die volk gerig. Dit is iets wat hulle moet gaan doen! Dit is my taak om vir die gemeente voorbidding te doen, maar ek is nie die enigste een nie. Julle moet ook bid en julle moet veral vir my ook bid. Ons wat hier teenwoordig is het verder ook ’n verantwoordelikheid. Wat van ons broers en susters wat nie vandag hier was nie? Wat van hulle wat bitter min of nooit kom nie? Hulle is ook ons verantwoordelikheid. Ons moet in die eerste plek bid vir hulle. Bid dat hulle geloof versterk sal word. Bid die gebed wat die Here vir ons in Ef. 3:14-21 gegee het. Nader hulle in liefde.

Die Here het vandag vir ons almal werk gegee vir die week wat voorlê. Kom ons gaan doen dit. Verootmoedig julle voor die Here en toon berou. Bid en vra na sy wil. Soek sy aangesig op en draai weg van julle bose weë af. Bid tot God in verootmoediging.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking