01 November 2015

God se genade en seën bepaal my toekoms, nie my sondige verlede nie!

1 Nov. 2015 GKE
Gen. 3 - Teksvers Gen. 3v15
Sing    Lofsang: Ps. 118-1 v 1
           Na wet:    Sb. 9-1 v 1 , 2 & 11
           Na gebed                                Ps. 130-1 v 1 tot 4
           Slotsang  Ps. 86 v 3 & 6
Gister 31 Okt. het ons weer herdenk dat Luther op 31 Okt. 1517 sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het. Sy doel was om die dwaalleer wat in die Rooms Katolieke Kerk ingeslyp het, aan te spreek. Ons herdenk elke jaar hierdie dag want dit herinner ons dat ons gedurig moet reformeer. Met ander woorde moet terugdraai na die waarheid van God se Woord. Hoekom dwaal ons so gedurig af van die waarheid? Die rede vind ons heel aan die begin van die Bybel daar in Genesis 3.

In Genesis 3 hoor ons die verhaal van ’n ramp wat wêreldwyd die mensdom in ellende gedompel het. Daarin hoor ons hoe die mens se rebelse opstand teen God tot gevolg gehad het dat elke mens op aarde daagliks in ’n dodelike stryd teen die bose betrokke is. Dit het tot gevolg dat ’n eens perfekte wêreld nou verander het in een waar mens slegs met moeite ’n bestaan kan maak. Pyn het ’n harde werklikheid geword.

Waar daar eens harmonie en vrede tussen mense was, is daar nou ’n magstryd wat selfs die intiemste verhouding tussen man en vrou versuur. In die plek van gelukkige samesyn is daar nou beskuldigings wat heen en weer geslinger word. Onmin in plaas van vrede is nou die kenmerk van verhoudings. In die plek van liefde, vreugde, vrede, geduld en vriendelikheid heers daar nou vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns. ’n Eens mooi perfekte wêreld het nou ’n lelike onperfekte wêreld geword.

Sonde bepaal nou die toekoms van die mens. Die mens is as te ware vasgevang in die dodelike tentakels van die sonde waaruit hy op sy eie nie kan loskom nie. Die effek daarvan is so erg dat wanneer die mens voor die keuse gestel word tussen goed en sleg, dan kies die mens elke keer net dit wat sleg is. Hy kan nie meer die goeie kies nie. Die omvang van hierdie ramp was so erg dat dit nie net die mense wat daar teenwoordig was beïnvloed het nie, maar dit het ook hulle nageslag beïnvloed. Elke mens wat daarna gebore is, word deur die geweldige nagevolge van daardie ramp beïnvloed.

As dit nie vir God se genade was nie, sou die gevolge van hierdie ramp vir ewig deel van ons bestaan gewees het. God los egter nie die mens in hierdie ellende nie, Hy tree op. Hy stel vyandskap tussen die mens en die bose. Op die oog af lyk dit of God se optrede die mens straf, maar eintlik doen Hy dit vir die mens se eie beswil. Daarmee maak God seker dat Sy seën die mens se toekoms bepaal en nie die mens se sonde nie.

In Gen. 3:15 hoor ons:
Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”
Uit hierdie optrede van God skyn sy genade soos ’n helder lig. Die ewige stryd tussen die mens en die slang word dan ook ’n simbool van die stryd tussen die mens en die kwaad. Vyandskap, met ’n dodelike stryd tussen die mens en die bose lyk op die oog af of God hiermee net straf. Daagliks is die mens in ’n dodelike stryd met die bose gewikkel. Vermorsel en byt is dieselfde woord in Hebreeus en dit beteken letterlik dodelik tref. Hierdie stryd is nie maar net ’n ligte skermutseling nie. Nee geliefdes, dit is ’n stryd tot die dood toe!

Hoekom is die mens onderwerp aan hierdie stryd? Hoekom moet ons in daaglikse vyandskap met die kwaad betrokke wees? Dit is om die mens te beskerm. Vyande leef tog nie hand om die lyf saam met mekaar nie. Dit is om te keer dat die mens absoluut onder die invloed van die kwaad kom. As dit sou gebeur sou daar geen hoop vir ons wees nie.

Wanneer ons met sonde deurmekaar raak (soos ons tog so lief is om te doen) ontstaan daar ’n geweldige spanning by ’n mens. Daar is hierdie geweldige tweestryd. Aan die een kant is daar die hunkering agter sonde aan, want dis asof ons vasgebind is aan die sonde, maar aan die ander is daar die wete dat dit wat ek nou doen verkeerd is.

Rom. 7:21-23 spel hierdie stryd so duidelik uit.
So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.
Die vyandskap wat God tussen die mens en die bose ingestel het, is die rede vir hierdie tweestryd. Die gevolg hiervan is dat mens so vasgevang word dat jou sondige lewe die bepalende faktor van jou lewe is.

Die mens self kan hierdie stryd nooit wen nie. As gevolg van God se genade is daar egter vir die mens hoop, want uit sy nageslag kom daar ’n Mens voort wat ook Goddelike krag het om die bose te oorwin. In Heb. 2:14-15 hoor ons:
Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.

Christus oorwin die bose en daarmee bevry Hy ons van die slawekettings van die sonde. Die oorwinning word egter op ’n radikale wyse verkry—nie deur mag en geweld nie, maar deur te ly en te sterwe; nie deur ’n magsdaad nie, maar deur ’n liefdesdaad van gehoorsaamheid en skynbare swakheid.

Wanneer ons aan die reformasie dink, dan gebeur dit maklik dat ons vinger wys na ander. Julle beter sorg dat julle wegdraai van julle verkeerde weë af. Die reformasie gaan egter ten diepste daaroor dat ek na my eie lewe moet kyk. Waar het ek van die waarheid afgedwaal? Waar is ek besig om op ’n verkeerde pad te loop?

Ons wys maklik die vinger na ander, want dit is bitter moeilik om werklik krities oor myself en my lewe te wees. Inteendeel, as ek dit in eie krag probeer doen, is dit absoluut onmoontlik! Die belofte wat ek in Gen. 3:15 ontvang is dat ek nie alleen die stryd teen die bose in my lewe hoef aan te durf nie.
As mens werklik eerlik na jou lewe kyk dan is dit maklik om moedeloos te word en die fatalistiese houding in te neem: “dit is nou maar eenmaal soos ek is. Ek kan nie verander nie”  Ek is ’n reguit mens. Mense moet dit maar so aanvaar. Wat ek eintlik hiermee sê is dat ek mense seer maak en as jy nie daarvan hou nie, is dit jou probleem, nie myne nie.

Die troos wat God se Woord vandag vir ons bring is dat ek nie meer deur my verlede vasgebind word nie. My verlede is wel die wegspringplek waarvandaan ek in die toekoms ingaan, maar dit bepaal nie my toekoms nie! My verlede bepaal nie wie en wat ek in die toekoms gaan wees nie. Al die slegte dinge in my verlede het nie meer ’n houvas op my nie. My humeur beheer nie meer my gedrag nie. Ek is nie onlosmaaklik daaraan vasgebind nie.

In Jesus Christus het ek ’n blink toekoms wat vir my voorlê. My toekoms word nie bepaal deur dit wat in my verlede gebeur het nie. My verlede bepaal nie my eindbestemming nie. Jesus Christus bepaal my toekoms!

Wanneer mens in ’n motor ry kyk jy deur die vooruit om by jou bestemming uit te kom. Jy kyk nie deur die agteruit om te sien waarheen jy op pad is nie. Net so kyk ek nie terug na my verlede om te sien waarheen ek op pad is nie. Ek kyk vooruit na ’n toekoms saam met Jesus Christus. Wanneer ek byvoorbeeld in ’n situasie beland waar ek my humeur gewoonlik verloor, gee ek die situasie in gebed aan God oor. Vra vir die Heilige Gees om oor te neem en laat die eie ek terugstaan.

Hoe reformeer ek my lewe? Wanneer ek terugkyk na my sondes dan kan ek weet, dat alhoewel ek self nie die stryd teen die sonde kan wen nie, Christus reeds die stryd vir my gewen het. Om daardie oorwinning my eie te maak moet ek in geloof vashou aan Christus se oorwinning. Ek moet weet dat ek vorentoe toe kan kyk na ’n eindbestemming saam met God en dat ek nie alleen op pad is daarnatoe nie omdat God self saam met my die pad loop. Die Heilige Gees is altyd saam met my om my te help om die oorwinning wat Christus reeds oor die bose en die sonde behaal het my eie te maak sodat ek die pad vorentoe met vertroue kan aanpak met oë gerig op Jesus Christus.

Deur God se genade het Hy vyandskap tussen my en die bose ingestel. Jesus Christus het die bose oorwin en deur God se genade laat die Heilige Gees my deel in daardie oorwinning. Daarom geliefdes, moenie vasgevang word deur jou sondige verlede nie. Jou verlede bepaal nie jou eindbestemming nie. Kyk vorentoe na ’n toekoms saam met God, want God se genade en seën bepaal ons toekoms en nie ons sondige verlede nie!

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking