Wys tans plasings met die etiket sondeval. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket sondeval. Wys alle plasings

03 Desember 2017

Jesus het mens geword sodat ons in oorvloed kan lewe.



3 Des 2017 GKE



Gen 3 Teksvers Gen 3 v 20

¯ Sing ¯

Sb. 3-3 v 1 & 6
Sb. 2-4 v 1 & 3
Sb. 3-4 v 1 & 5
Sb. 1-3 v 1



Die jaar snel ten einde en ons is al weer by daardie tyd van die jaar waar ons begin regmaak vir Kersfees. Kersfees beteken baie dinge vir verskillende mense. Met Kersfees onthou Christene dat God mens geword het toe Jesus so bietjie meer as 2000 jaar gelede gebore is.



So tussen deur die regmaak en beplanning vir al die feestelikhede is dit goed dat ons net so bietjie stil word om na te dink wat Christus se geboorte vir ons beteken. Daarmee saam om ook net weer te besef wat se verskil dit aan ons lewe maak.



Om werklik die betekenis te verstaan van dit wat ons met Kersfees herdenk gaan ons vandag eers weer terug na daardie gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom wat dit nodig gemaak het dat God in Jesus Christus mens geword het.



Wanneer ons aan Genesis 3 dink dan haak ons so maklik vas by die vrug en die slang en die gebeure rondom dit. Vandag gaan ons so bietjie besin oor wat die implikasies was van daardie hap aan die vrug.



In Gen 2 v 16 & 17 hoor ons dat God die mens ’n opdrag gee en wat die gevolge sal wees indien die mens nie gehoorsaam is aan daardie opdrag nie.

16Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”



Ongehoorsaamheid hou baie ernstige gevolge in. Met ongehoorsaamheid word lewe vir dood verruil. In Gen 3 hoor ons dan ook die hartseer verhaal hoe die mens en sy vrou die lewe vir dood verruil het.

En die vrou het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.

God het vir hulle gesê hulle moenie, maar hulle het besluit hulle wil en toe het hulle die vrug van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet.



Die gevolge van hierdie daad het verrykende gevolge vir hulle en hul nageslag ingehou. Hulle het lewe verruil vir dood. Van daardie oomblik af was hulle liggame onderwerp aan aftakeling wat op die uiteinde tot liggaamlike dood lei, nie net vir hulle nie, maar vir hulle hele nageslag.



Verder ook het hulle hele bestaan nou moeite geword soos ons hoor in Gen 3:16-19:

16Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry

met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring.

Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”

17Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet,

is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

Die leefwêreld van die mens wat vir hulle vreugde verskaf het, het verander in ’n omgewing wat moeite en lyding veroorsaak.



Die ergste is dat daar ’n vervreemding tussen God en die mens ingetree het. Liefde in hul verhouding met God het nou plek gemaak vir vrees. Die mens het bang vir God geword en daarom het hulle probeer wegkruip toe God hoor naderkom.



As die verhaal hiermee geëindig het, sou dit inderdaad ’n baie droewige hartseer verhaal gewees het. Dan het dood die laaste sê gehad. Dood het egter nie die laaste sê nie, want verweef binne in die verhaal tussen al die hartseer gebeure, is ’n boodskap van hoop.



Ons hoor dit reeds in Gen 3 v 15 met ’n belofte van vyandskap tussen die nageslag van die mens en die bose. Die vyandskap bring verwydering tussen die mens en die bose en daarmee saam ook die belofte dat die bose oorwin gaan word. Die bose het nie die laaste sê nie.



In Gen 3 v 20 hoor ons hoe die man hierdie boodskap van hoop aangryp. Tot nou toe is daar na die mense in hierdie verhaal net verwys as man en vrou. Nou gee die man vir sy vrou ’n naam. “Die mens het sy vrou Eva genoem.” Die betekenis van die Hebreeuse woord wat in ons Bybel met Eva vertaal is, beteken lewe. En dan bevestig die verteller van die verhaal dat daar inderdaad lewe vanuit die vrou voortgevloei het. “sy was die moeder van al die mense.”



En dan sluit die verhaal af met nog ’n boodskap van hoop op lewe. Ons hoor hoedat hulle uit die tuin verban was sodat hulle nie toegang tot die boom van lewe sou verkry het nie. Op die oog af klink dit of dit deel is van hulle straf, maar dit is nie. Dit vertel vir ons van God se genade. Hy keer hiermee dat hulle in hul sondige toestand van die boom van die lewe eet en so vir ewig in hul sondige toestand vasgevang sou word.



As hulle op daardie stadium van die boom van die lewe sou eet sou dit nie lewe gee nie, maar dood waar hulle vir ewig van God vervreem sou wees vanweë hulle sonde. Deur hulle uit die tuin te verban, maak God dit moontlik dat die beloftes wat Hy gegee het dat die bose oorwin sal word, waar word.



Wat beteken hierdie verhaal uit ons oeroue geskiedenis vir ons vandag en hoe pas dit in by Kersfees? In Joh. 10 v 10 hoor ons die volgende woorde van Jesus:

Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Hiermee bevestig Jesus die belofte van lewe wat ons reeds in Gen 3 gehoor het. Hy het mens geword uit die nageslag van EVA wat lewe beteken en hier bevestig Hy dat Hy gekom het om lewe te bring. Met Kersfees herdenk ons dat Jesus wat God is, as mens gebore is. Hy is as mens gebore sodat die belofte van lewe in Gen 3 waar kon word. Dit is egter nie net gewone lewe wat Jesus bring nie. Dit is lewe in oorvloed! Dit beteken dat elkeen wat die belofte van lewe in Jesus Christus met geloof omhels, deel in daardie lewe van oorvloed wat Jesus gebring het.



Wat beteken Kersfees dus prakties vir ons, geliefdes? Dit beteken dat die vloek van ’n doodsbestaan nie meer die laaste sê het in ons lewens nie. Dit is waar dat ons nog nie heeltemal bevry is van die gevolge van die sonde nie. Ons lewens is nie nou van terugslae vrygeskeld nie, maar die terugslae het nie die laaste sê nie. Midde in die terugslae en swaarkry beleef ons God se liefdevolle teenwoordigheid en ons beleef hoe Hy ons daardeur dra.



Die belofte van lewe in Gen 3 wat deur Jesus waar geword het, beteken dat die vervreemding wat sonde tussen jou en God gebring het, nie meer daar is nie. Jy kan reeds in hierdie lewe die oorvloed van God se liefde beleef, veral hoe Hy jou dra deur ’n lewe wat nie perfek is nie. Ek is seker dat elkeen van ons kan terugkyk hoe God ons gedra het deur die stampe en die stote van die lewe. Ons sien ook uit na die belofte dat die swaarkry in hierdie lewe net tydelik is. Ons het ’n lewende hoop op ’n ewigdurende lewe saam met God sonder hartseer trane of pyn.



Kersfees herinner ons net weer dat God ons ook in die toekoms sal dra deur die stampe en die stote van die lewe. Kersfees herinner ons dat die swaarkry van hierdie lewe net tydelik is en dat ons op pad is na ’n ewige heerlikheid saam met God sonder hartseer trane of pyn. Kersfees sê vir ons dat Jesus mens geword het sodat ons in oorvloed kan lewe.

Amen








01 November 2015

God se genade en seën bepaal my toekoms, nie my sondige verlede nie!

1 Nov. 2015 GKE
Gen. 3 - Teksvers Gen. 3v15
Sing    Lofsang: Ps. 118-1 v 1
           Na wet:    Sb. 9-1 v 1 , 2 & 11
           Na gebed                                Ps. 130-1 v 1 tot 4
           Slotsang  Ps. 86 v 3 & 6
Gister 31 Okt. het ons weer herdenk dat Luther op 31 Okt. 1517 sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het. Sy doel was om die dwaalleer wat in die Rooms Katolieke Kerk ingeslyp het, aan te spreek. Ons herdenk elke jaar hierdie dag want dit herinner ons dat ons gedurig moet reformeer. Met ander woorde moet terugdraai na die waarheid van God se Woord. Hoekom dwaal ons so gedurig af van die waarheid? Die rede vind ons heel aan die begin van die Bybel daar in Genesis 3.

In Genesis 3 hoor ons die verhaal van ’n ramp wat wêreldwyd die mensdom in ellende gedompel het. Daarin hoor ons hoe die mens se rebelse opstand teen God tot gevolg gehad het dat elke mens op aarde daagliks in ’n dodelike stryd teen die bose betrokke is. Dit het tot gevolg dat ’n eens perfekte wêreld nou verander het in een waar mens slegs met moeite ’n bestaan kan maak. Pyn het ’n harde werklikheid geword.

Waar daar eens harmonie en vrede tussen mense was, is daar nou ’n magstryd wat selfs die intiemste verhouding tussen man en vrou versuur. In die plek van gelukkige samesyn is daar nou beskuldigings wat heen en weer geslinger word. Onmin in plaas van vrede is nou die kenmerk van verhoudings. In die plek van liefde, vreugde, vrede, geduld en vriendelikheid heers daar nou vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns. ’n Eens mooi perfekte wêreld het nou ’n lelike onperfekte wêreld geword.

Sonde bepaal nou die toekoms van die mens. Die mens is as te ware vasgevang in die dodelike tentakels van die sonde waaruit hy op sy eie nie kan loskom nie. Die effek daarvan is so erg dat wanneer die mens voor die keuse gestel word tussen goed en sleg, dan kies die mens elke keer net dit wat sleg is. Hy kan nie meer die goeie kies nie. Die omvang van hierdie ramp was so erg dat dit nie net die mense wat daar teenwoordig was beïnvloed het nie, maar dit het ook hulle nageslag beïnvloed. Elke mens wat daarna gebore is, word deur die geweldige nagevolge van daardie ramp beïnvloed.

As dit nie vir God se genade was nie, sou die gevolge van hierdie ramp vir ewig deel van ons bestaan gewees het. God los egter nie die mens in hierdie ellende nie, Hy tree op. Hy stel vyandskap tussen die mens en die bose. Op die oog af lyk dit of God se optrede die mens straf, maar eintlik doen Hy dit vir die mens se eie beswil. Daarmee maak God seker dat Sy seën die mens se toekoms bepaal en nie die mens se sonde nie.

In Gen. 3:15 hoor ons:
Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”
Uit hierdie optrede van God skyn sy genade soos ’n helder lig. Die ewige stryd tussen die mens en die slang word dan ook ’n simbool van die stryd tussen die mens en die kwaad. Vyandskap, met ’n dodelike stryd tussen die mens en die bose lyk op die oog af of God hiermee net straf. Daagliks is die mens in ’n dodelike stryd met die bose gewikkel. Vermorsel en byt is dieselfde woord in Hebreeus en dit beteken letterlik dodelik tref. Hierdie stryd is nie maar net ’n ligte skermutseling nie. Nee geliefdes, dit is ’n stryd tot die dood toe!

Hoekom is die mens onderwerp aan hierdie stryd? Hoekom moet ons in daaglikse vyandskap met die kwaad betrokke wees? Dit is om die mens te beskerm. Vyande leef tog nie hand om die lyf saam met mekaar nie. Dit is om te keer dat die mens absoluut onder die invloed van die kwaad kom. As dit sou gebeur sou daar geen hoop vir ons wees nie.

Wanneer ons met sonde deurmekaar raak (soos ons tog so lief is om te doen) ontstaan daar ’n geweldige spanning by ’n mens. Daar is hierdie geweldige tweestryd. Aan die een kant is daar die hunkering agter sonde aan, want dis asof ons vasgebind is aan die sonde, maar aan die ander is daar die wete dat dit wat ek nou doen verkeerd is.

Rom. 7:21-23 spel hierdie stryd so duidelik uit.
So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.
Die vyandskap wat God tussen die mens en die bose ingestel het, is die rede vir hierdie tweestryd. Die gevolg hiervan is dat mens so vasgevang word dat jou sondige lewe die bepalende faktor van jou lewe is.

Die mens self kan hierdie stryd nooit wen nie. As gevolg van God se genade is daar egter vir die mens hoop, want uit sy nageslag kom daar ’n Mens voort wat ook Goddelike krag het om die bose te oorwin. In Heb. 2:14-15 hoor ons:
Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.

Christus oorwin die bose en daarmee bevry Hy ons van die slawekettings van die sonde. Die oorwinning word egter op ’n radikale wyse verkry—nie deur mag en geweld nie, maar deur te ly en te sterwe; nie deur ’n magsdaad nie, maar deur ’n liefdesdaad van gehoorsaamheid en skynbare swakheid.

Wanneer ons aan die reformasie dink, dan gebeur dit maklik dat ons vinger wys na ander. Julle beter sorg dat julle wegdraai van julle verkeerde weë af. Die reformasie gaan egter ten diepste daaroor dat ek na my eie lewe moet kyk. Waar het ek van die waarheid afgedwaal? Waar is ek besig om op ’n verkeerde pad te loop?

Ons wys maklik die vinger na ander, want dit is bitter moeilik om werklik krities oor myself en my lewe te wees. Inteendeel, as ek dit in eie krag probeer doen, is dit absoluut onmoontlik! Die belofte wat ek in Gen. 3:15 ontvang is dat ek nie alleen die stryd teen die bose in my lewe hoef aan te durf nie.
As mens werklik eerlik na jou lewe kyk dan is dit maklik om moedeloos te word en die fatalistiese houding in te neem: “dit is nou maar eenmaal soos ek is. Ek kan nie verander nie”  Ek is ’n reguit mens. Mense moet dit maar so aanvaar. Wat ek eintlik hiermee sê is dat ek mense seer maak en as jy nie daarvan hou nie, is dit jou probleem, nie myne nie.

Die troos wat God se Woord vandag vir ons bring is dat ek nie meer deur my verlede vasgebind word nie. My verlede is wel die wegspringplek waarvandaan ek in die toekoms ingaan, maar dit bepaal nie my toekoms nie! My verlede bepaal nie wie en wat ek in die toekoms gaan wees nie. Al die slegte dinge in my verlede het nie meer ’n houvas op my nie. My humeur beheer nie meer my gedrag nie. Ek is nie onlosmaaklik daaraan vasgebind nie.

In Jesus Christus het ek ’n blink toekoms wat vir my voorlê. My toekoms word nie bepaal deur dit wat in my verlede gebeur het nie. My verlede bepaal nie my eindbestemming nie. Jesus Christus bepaal my toekoms!

Wanneer mens in ’n motor ry kyk jy deur die vooruit om by jou bestemming uit te kom. Jy kyk nie deur die agteruit om te sien waarheen jy op pad is nie. Net so kyk ek nie terug na my verlede om te sien waarheen ek op pad is nie. Ek kyk vooruit na ’n toekoms saam met Jesus Christus. Wanneer ek byvoorbeeld in ’n situasie beland waar ek my humeur gewoonlik verloor, gee ek die situasie in gebed aan God oor. Vra vir die Heilige Gees om oor te neem en laat die eie ek terugstaan.

Hoe reformeer ek my lewe? Wanneer ek terugkyk na my sondes dan kan ek weet, dat alhoewel ek self nie die stryd teen die sonde kan wen nie, Christus reeds die stryd vir my gewen het. Om daardie oorwinning my eie te maak moet ek in geloof vashou aan Christus se oorwinning. Ek moet weet dat ek vorentoe toe kan kyk na ’n eindbestemming saam met God en dat ek nie alleen op pad is daarnatoe nie omdat God self saam met my die pad loop. Die Heilige Gees is altyd saam met my om my te help om die oorwinning wat Christus reeds oor die bose en die sonde behaal het my eie te maak sodat ek die pad vorentoe met vertroue kan aanpak met oë gerig op Jesus Christus.

Deur God se genade het Hy vyandskap tussen my en die bose ingestel. Jesus Christus het die bose oorwin en deur God se genade laat die Heilige Gees my deel in daardie oorwinning. Daarom geliefdes, moenie vasgevang word deur jou sondige verlede nie. Jou verlede bepaal nie jou eindbestemming nie. Kyk vorentoe na ’n toekoms saam met God, want God se genade en seën bepaal ons toekoms en nie ons sondige verlede nie!

Amen