3 Des 2017 GKE
¯ Sing
¯
Sb. 3-3 v 1 & 6
Sb. 2-4 v 1 & 3
Sb. 3-4 v 1 & 5
Sb. 1-3 v 1
Sb. 2-4 v 1 & 3
Sb. 3-4 v 1 & 5
Sb. 1-3 v 1
Die jaar snel
ten einde en ons is al weer by daardie tyd van die jaar waar ons begin regmaak
vir Kersfees. Kersfees beteken baie dinge vir verskillende mense. Met Kersfees
onthou Christene dat God mens geword het toe Jesus so bietjie meer as 2000 jaar
gelede gebore is.
So tussen
deur die regmaak en beplanning vir al die feestelikhede is dit goed dat ons net
so bietjie stil word om na te dink wat Christus se geboorte vir ons beteken.
Daarmee saam om ook net weer te besef wat se verskil dit aan ons lewe maak.
Om werklik
die betekenis te verstaan van dit wat ons met Kersfees herdenk gaan ons vandag
eers weer terug na daardie gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom wat
dit nodig gemaak het dat God in Jesus Christus mens geword het.
Wanneer ons
aan Genesis 3 dink dan haak ons so maklik vas by die vrug en die slang en die
gebeure rondom dit. Vandag gaan ons so bietjie besin oor wat die implikasies
was van daardie hap aan die vrug.
In Gen 2 v 16
& 17 hoor ons dat God die mens ’n opdrag gee en wat die gevolge sal wees
indien die mens nie gehoorsaam is aan daardie opdrag nie.
16Die Here God
het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17maar
van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet,
sterf jy.”
Ongehoorsaamheid
hou baie ernstige gevolge in. Met ongehoorsaamheid word lewe vir dood verruil. In
Gen 3 hoor ons dan ook die hartseer verhaal hoe die mens en sy vrou die lewe
vir dood verruil het.
En die vrou het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by
haar gegee, en hy het geëet.
God het vir
hulle gesê hulle moenie, maar hulle het besluit hulle wil en toe het hulle die
vrug van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet.
Die gevolge
van hierdie daad het verrykende gevolge vir hulle en hul nageslag ingehou.
Hulle het lewe verruil vir dood. Van daardie oomblik af was hulle liggame
onderwerp aan aftakeling wat op die uiteinde tot liggaamlike dood lei, nie net
vir hulle nie, maar vir hulle hele nageslag.
Verder ook
het hulle hele bestaan nou moeite geword soos ons hoor in Gen 3:16-19:
16Vir die vrou
het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry
met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring.
Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”
17Vir die mens
het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die
boom waarvan Ek jou verbied het om te eet,
is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n
bestaan maak, jou lewe lank; 18die aarde sal vir jou dorings en
dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19net deur harde
werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy
geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.”
Die
leefwêreld van die mens wat vir hulle vreugde verskaf het, het verander in ’n
omgewing wat moeite en lyding veroorsaak.
Die ergste is
dat daar ’n vervreemding tussen God en die mens ingetree het. Liefde in hul
verhouding met God het nou plek gemaak vir vrees. Die mens het bang vir God
geword en daarom het hulle probeer wegkruip toe God hoor naderkom.
As die
verhaal hiermee geëindig het, sou dit inderdaad ’n baie droewige hartseer
verhaal gewees het. Dan het dood die laaste sê gehad. Dood het egter nie die
laaste sê nie, want verweef binne in die verhaal tussen al die hartseer gebeure,
is ’n boodskap van hoop.
Ons hoor dit
reeds in Gen 3 v 15 met ’n
belofte van vyandskap tussen die nageslag van die mens en die bose. Die
vyandskap bring verwydering tussen die mens en die bose en daarmee saam ook die
belofte dat die bose oorwin gaan word. Die bose het nie die laaste sê nie.
In Gen
3 v 20 hoor ons hoe die man hierdie boodskap van hoop
aangryp. Tot nou toe is daar na die mense in hierdie verhaal net verwys as man
en vrou. Nou gee die man vir sy vrou ’n naam. “Die mens het sy vrou Eva
genoem.” Die betekenis van die Hebreeuse woord wat in ons Bybel met Eva
vertaal is, beteken lewe. En dan bevestig die verteller van die verhaal dat
daar inderdaad lewe vanuit die vrou voortgevloei het. “sy was die moeder van
al die mense.”
En dan sluit
die verhaal af met nog ’n boodskap van hoop op lewe. Ons hoor hoedat hulle uit
die tuin verban was sodat hulle nie toegang tot die boom van lewe sou verkry
het nie. Op die oog af klink dit of dit deel is van hulle straf, maar dit is
nie. Dit vertel vir ons van God se genade. Hy keer hiermee dat hulle in hul
sondige toestand van die boom van die lewe eet en so vir ewig in hul sondige
toestand vasgevang sou word.
As hulle op
daardie stadium van die boom van die lewe sou eet sou dit nie lewe gee nie,
maar dood waar hulle vir ewig van God vervreem sou wees vanweë hulle sonde. Deur
hulle uit die tuin te verban, maak God dit moontlik dat die beloftes wat Hy
gegee het dat die bose oorwin sal word, waar word.
Wat beteken
hierdie verhaal uit ons oeroue geskiedenis vir ons vandag en hoe pas dit in by
Kersfees? In Joh. 10 v
10 hoor ons die volgende woorde van Jesus:
Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
Hiermee
bevestig Jesus die belofte van lewe wat ons reeds in Gen 3 gehoor het. Hy het mens
geword uit die nageslag van EVA wat lewe beteken en hier bevestig Hy dat Hy
gekom het om lewe te bring. Met Kersfees herdenk ons dat Jesus wat God is, as
mens gebore is. Hy is as mens gebore sodat die belofte van lewe in Gen 3 waar kon word. Dit is egter
nie net gewone lewe wat Jesus bring nie. Dit is lewe in oorvloed! Dit beteken
dat elkeen wat die belofte van lewe in Jesus Christus met geloof omhels, deel
in daardie lewe van oorvloed wat Jesus gebring het.
Wat beteken
Kersfees dus prakties vir ons, geliefdes? Dit beteken dat die vloek van ’n
doodsbestaan nie meer die laaste sê het in ons lewens nie. Dit is waar dat ons
nog nie heeltemal bevry is van die gevolge van die sonde nie. Ons lewens is nie
nou van terugslae vrygeskeld nie, maar die terugslae het nie die laaste sê nie.
Midde in die terugslae en swaarkry beleef ons God se liefdevolle
teenwoordigheid en ons beleef hoe Hy ons daardeur dra.
Die belofte
van lewe in Gen 3 wat
deur Jesus waar geword het, beteken dat die vervreemding wat sonde tussen jou
en God gebring het, nie meer daar is nie. Jy kan reeds in hierdie lewe die
oorvloed van God se liefde beleef, veral hoe Hy jou dra deur ’n lewe wat nie
perfek is nie. Ek is seker dat elkeen van ons kan terugkyk hoe God ons gedra
het deur die stampe en die stote van die lewe. Ons sien ook uit na die belofte
dat die swaarkry in hierdie lewe net tydelik is. Ons het ’n lewende hoop op ’n
ewigdurende lewe saam met God sonder hartseer trane of pyn.
Kersfees
herinner ons net weer dat God ons ook in die toekoms sal dra deur die stampe en
die stote van die lewe. Kersfees herinner ons dat die
swaarkry van hierdie lewe net tydelik is en dat ons op pad is na ’n ewige
heerlikheid saam met God sonder hartseer trane of pyn. Kersfees sê vir ons dat Jesus
mens geword het sodat ons in oorvloed kan lewe.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking