16 Desember 2017

Soli Deo Gloria - Aan God alleen die eer



Geloftediens 16 Des 2017



Deut 6 v 1 - 9



Honderd nege en sewentig jaar gelede het ons voorvaders ’n gelofte teenoor die Here afgelê. Dit was ’n gelofte wat uit nood gebore was, want dit was ’n donker tyd vir die Voortrekkers in Natal. Hulle het totale uitwissing in die gesig gestaar en dit het met hulle bitter ellendig gegaan.

     In Febr. 1838 is Piet Retief en sy afvaardiging op ʼn verraderlike wyse deur Dingaan by sy kraal vermoor.

     Kort daarna volg die gruwel massamoorde teen die hange van die Drakensberge: Moordspruit, Bloukrans, Weenen.

     In April het Piet Uys en sy seun Dirkie in ’n mislukte vergeldingspoging by Italeni gesneuwel

     Om sake te vererger trek Andries Potgieter terug na Transvaal

     In Aug./Sept. seëvier die doodsengel weer eens toe ’n maselepidemie die reeds moedelose en verswakte Voortrekkers nog verder uitgedun het.

     Die kroon op hulle ellende was toe die 41 jarige Gerrit Maritz op 23 Sept. aan die Klein Tugela sterf.



Die Voortrekkers was nou uitgedun, leierloos, moedeloos – ja, weerloos uitgelewer. Hulle het vir hulself geen toekoms meer in die vooruitsig gestel nie. In sy voorsienigheid beskik God dat die bekwame Andries Pretorius twee maande later (in Nov.) hom by die Voortrekkers in Natal aansluit. Binne enkele dae het hy op baie bedrewe wyse die hele situasie daar in Natal opgesom en besluit dat daar nie anders kan as om in geloof teen Dingaan op te tree nie.



Dit word vertel dat toe die boere kommando opgeruk het na die vesting van Dingaan, Sarel Cilliers en Andries Pretorius volgens gewoonte alleen vooruit gery het. Dit was volgens oorlewering by dié geleentheid terwyl hulle oor die gevare en probleme van hul onderneming en die geweldige getalle oormag van die vyand gepraat het, dat Sarel Cilliers aan die generaal voorgestel het dat hulle ’n gelofte voor die Here God moet aflê – hulle moet hul krag van Hom alleen soek.

Op die aand van 7 Des 1838 is die gelofte die 1ste maal afgelê in die vorm van ’n erediens onder leiding van Sarel Cilliers.



Die gelofte kan kortliks soos volg uiteengesit word:

Hier staan ons voor U onse Vader, die heilige God van hemel en aarde, om 'n Gelofte aan U te doen dat as U ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons 'n Huis tot U eer sal stig waar dit U behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van U Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan U te gee. Ons smeek hiermee ook U hulp en bystand af om hierdie Gelofte verseker te kan volbring, in die Naam van U Seun en ons Verlosser, Jesus Christus. Amen



Die gelofte is daarna elke aand herhaal en op Sondag 16 Des 1838 het God die onmoontlike moontlik gemaak. Minder as 500 Boere kommandolede het ’n oormag van meer as 10 000 Zoeloe krygers verslaan. Nie een van die boeremagte is gedood nie en slegs ’n paar het ligte snywonde opgedoen. God het aan die noodroep van sy kinders gehoor gegee en Hy het hulle beskerm en die vyand in hul hand gegee.



Die vraag is nou: “waar staan ons vandag ten opsigte van die gelofte en wat is die verpligting vir ons, die nageslag?” Daar is twee sake wat ons voorvaders beloof het:



Eerstens dat ’n huis tot eer van God gestig sal word waar dit Hom behaag. Dit gaan nie hier oor ’n kerkgebou nie. Dit gaan hieroor om kerk te wees in die land wat God aan ons gegee het. Dit sluit aan by ons teks in Deut. 6:5

Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.

Dit is onmoontlik om God uit jou eie lief te hê. In 1 Joh. 4:19 hoor ons:

Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.



Wat is hierdie liefde van God? In 1 Joh. 4 9 & 10

Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.



Die verpligting wat die gelofte van ons voorvaders aan ons opgelê het, is om kerk van die Here te wees deur te glo in Jesus Christus. Verder is die verpligting om as kerk van die Here die liefde wat Hy vir ons gegee het, hier in Suid-Afrika te gaan uitleef. Dit beteken om weg te beweeg van die vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid wat so algemeen hier in Suid-Afrika aan die orde van die dag is. Dit beteken dat ons as Christene ligdraers moet wees om van Suid-Afrika ’n beter plek te maak.



Tweedens gaan dit daaroor dat ons, ons kinders daaroor moet opvoed sodat hulle daarin kan deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Dit sluit aan by ons teks in Deut 6:6 & 7

“Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.



Die tweede verpligting wat die gelofte van ons voorvaders aan ons oplê is dat ons erns moet maak met die doopbelofte van ons kinders. Ons moet ons kinders leer wie die Here is sodat ook die volgende geslag kan voortgaan om kerk van die Here te wees. Ons moet ons kinders leer wie Jesus is en wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het.



Ons moet ons kinders leer dat Jesus se opstanding beteken dat elkeen wat in Jesus glo ’n nuwe lewe het en dat sonde nie meer heerskappy oor jou lewe voer nie. Die verpligting van ons voorvaders se gelofte is dat ons, ons kinders moet leer hoe om as Christene ’n positiewe bydrae te maak in hierdie mooi land waarin die Here ons die voorreg gegee het om te bly.



In eie krag is dit egter onmoontlik om bg. verpligtinge na te kom en daarom is ons voorvaders se gebed ook gewees dat die Heilige Gees ons in staat sal stel om bg. verpligtinge na te kom.



16 Des gaan oor ’n gelofte wat ons voorvaders aan God gemaak het en die doel van die gelofte is om aan God alleen die eer te gee dat Hy jou en jou nageslag in hierdie land toegelaat het. God het ons voorvaders op daardie dag van 16 Des 1838 die oorwinning gegee sodat ons die lig van die Evangelie kan dra.



Leef tot eer van God deur jou roeping uit te leef. Wees ’n ligdraer van die evangelie in hierdie mooi land van ons. Geliefdes, wanneer jy nadink oor die gelofte van ons voorvaders, herinner jouself en jou kinders daaraan dat gaan oor die eer van God omdat Hy jou en jou nageslag in hierdie land toegelaat het om ligdraers van die evangelie te wees. Wees getrou aan daardie roeping elke dag van die jaar en nie net op 16 Des. nie.

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking