25 Desember 2017

Die onsigbare God het ’n sigbare Mens geword wat die lig van God se genade in ’n donker wêreld indra




24 Des. 2017 (GKE)

Joh. 1 v 1 – 18 Teksvers Joh. 1v14

Sing    Lofsang:   Ps. 105-1 v 1 & 2 

           Na wet:    Ps. 119-1 v 52      

           Na gebed Ps. 119-1 v 39

           Slotsang  Sb. 4-8 v 1 & 2   



Wat herdenk Christene met Kersfees? Is dit ’n tyd van vreugde wat sy hoogtepunt bereik in ’n luukse ete met feestelik drank? Is dit ’n tyd van vrolikheid waar ons weer na liedjies luister wat die vrolikheid van Kersvader besing? Word die hoogtepunt van Kersfees bepaal deur die grote en prys van my geskenk? Terwyl hierdie dinge nie opsigself boos en verkeerd is nie, is dit ook nie waaroor Kersfees werklik vir Christene gaan nie.



Die ware betekenis van Kersfees vir Christene word mooi in ons teksvers saamgevat – Joh. 1:14a:

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.

dit wil sê die onsienlike God het ’n sigbare mens geword wat die lig van God se genade in ’n donker wêreld indra. Die Johannes evangelie beskryf die menswording van Jesus Christus uit ’n unieke oogpunt. Hierdie evangelie vertel nie vir ons die verhaal van die geboorte van ’n kind nie. Die betekenis van daardie maagdelike geboorte van ongeveer 2000 gelede word uit ’n ander hoek geskets. Ons hoor hier van Jesus wat die Waarheid is. Ons hoor van Jesus wat ’n lig vir ’n donker wêreld is. Ons hoor van Jesus wat uit genade verlossing bring aan ’n wêreld wat in moedeloosheid gedompel is. Ons hoor van Jesus wat Hoop vir die wêreld bring, ’n hoop van die ewige lewe saam met God wat nou reeds begin.



Met Kersfees herdenk ons as Christene dat die ewige God wat van ewigheid bestaan, ’n eenvoudige mens geword het sodat ons die ware karakter van God met eie oë kan sien. In Jesus Christus sien ons wie en wat God werklik is. Ons sien Hom in die getuienis van die ooggetuies wat Christus met hulle eie oë gesien het. Net so seker as wat ons die mense in ons geskiedenis sien deur die getuienis wat oor hulle gelewer word, sien ons die wonder van God se genade in die vertellinge van die ooggetuies wat Jesus fisies gesien het.



Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

Ons sien in Hom die heerlikheid van God se genade wat ’n hart van deernis het vir mense wat die pad byster geraak het en wat in die donker ronddwaal. Ons sien in Hom ’n God wat my net soos die verlore seun van ouds sonder verwyte terugverwelkom.



Daar is egter diegene wat nie wil sien nie. Hulle wat die verhaal van Christus se menswording beskou as ’n ou holruggeryde boodskap van ’n kind in ’n krip wat net rakelings relevansie het met ons hedendaagse angs en onsekerheid soos ons hoor in Joh. 1:10-11:

Hy wás in die wêreld—die wêreld het deur Hom tot stand gekom—en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.

Al wat diegene in Kersfees sien is menslike vrede, liefde en welwillendheid. Dit moet bereik word deur te sorg dat jy ook ’n goeie mens is. Dit is soos om vir ’n drenkeling van die kant af te skree: “probeer harder! Gebruik jou arms en bene en swem harder!” Dit terwyl die persoon besig is om te sink.



Sonder Christus is enige vrede, liefde en welwillendheid leeg en oppervlakkig. Dit hou ook nie baie lank nie. Ware vrede, liefde en welwillendheid kom net van Christus af. Die wonder van God se genade deur die Woord wat mens geword het en onder ons kom woon het, beteken dat daar vir die persoon wat besig is om in die moedeloosheid, hopeloosheid, angs en onsekerheid van ons hedendaagse wêreld te verdrink, ’n lewensboei van God se genade uitgegooi word. Die lewensboei van Jesus Christus wat mens geword het. Dit word nie verkry van ’n Kersvader in ’n rooi pak wat goedkoop geskenke uitdeel en so ’n aangeplakte HO HO laggie uiter nie. Ware vrede, liefde en welwillendheid kan slegs verkry word wanneer die mensgeworde Woord, wat self God is, die heerlikheid van sy genade en waarheid aan ons uitdeel.



Jesus Christus is die waarheid. Dit is Hy wat die lig van lewe in ’n donker wêreld skyn. Hy is die enigste ware weg na die Vader toe. Ons kan slegs uit sy oorvloed genade op genade ontvang. Deur Hom ontvang ons die ewige lewe. Die ewige lewe gee aan ons die hoop om ewig in die teenwoordigheid van God se liefde te wees. Dit is egter nie iets wat daar ver is wat eers eendag gaan gebeur nie. Dit begin nou reeds.



Dit beteken dat ek nie in die negatiwiteit van die lewe vasgevang word nie. Wanneer mense my seermaak, dan het dit nie meer ’n houvas op my nie. Dit is nie meer mense wat my vrede en geluk bepaal nie, maar God. Wanneer ek met die negatiewe kant van die lewe gekonfronteer word, gee God aan my ’n hart vol deernis wat Hy ook in Jesus Christus aan ons gewys het. Dit beteken dat my reaksie en optrede teenoor mense nie deur mense se optrede teenoor my bepaal word nie. Dit beteken dat ek die nood van mense om my raaksien in plaas daarvan dat ek net my eie selfsugtige behoeftes raaksien. Die Woord wat mens geword het beteken dat ek weer met die God van genade en liefde versoen word en dat my verhouding met God ook my verhouding met my medemens bepaal. Dit beteken dat ek die nood van my medemens raaksien en dat ek ’n hart vol van deernis vir die nood van my medemens het.



Die Woord wat van ewigheid bestaan en deur wie alles tot stand gekom het, het die mens as ’n ewigheidswese geskep. As gevolg van sonde het daar ’n kloof tussen die mens en God ontstaan. Daarom het die Woord mens geword en onder ons kom woon sodat daardie kloof tussen die mens en God oorbrug kan word. Elkeen wat Hom in geloof aanneem ontvang die heerlikheid van Jesus Christus se genade om vir ewig in God se liefde en genade saam met Hom deur te bring. Die wat God se genade egter verwerp sal vir ewig sonder God wees, dit wil sê hulle sal vir ewig in moedeloosheid, hopeloosheid, angs en onsekerheid sonder God vasgevang sal wees.



Geliefdes, laat skyn die lig van God se genade ook in hierdie Kerstyd in ’n donker wêreld wat Hom nie ken nie. Reik uit na hulle wat van die spoor af is of wat God glad nie ken nie. Maak die ware betekenis van Kersfees bekend, naamlik dat die Woord mens geword het en onder ons kom woon het, dit wil sê Die onsigbare God het ’n sigbare Mens geword wat die lig van God se genade in ’n donker wêreld indra.

Amen







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking