Wys tans plasings met die etiket kersfees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket kersfees. Wys alle plasings

29 Desember 2018

Die goeie nuus van Jesus Christus.

25 Des. 2018 GKE

Mat. 1 v 1 – 17





Die evangelie volgens Mateus begin die verhaal van Jesus Christus se geboorte anders as wat mens sou verwag. Dit begin nie met ʼn vertelling van die gebeure wat daar plaasgevind het nie, maar wel met ʼn geslagsregister. Mense sien die geslagsregisters in die Bybel as vervelig en dikwels word Mat. 1 v 1 – 17 geïgnoreer.

Hierdie inleiding tot verhaal van Jesus Christus se geboorte is egter belangrik want die verhaal waarvan ons hier hoor gaan oor veel meer as net die geboorte van ʼn kind. Dit is die verhaal van die koms van die mees belangrikste persoon in die geskiedenis van die mensdom wat beplan is voor die grondlegging van die aarde.

Die geslagsregister vertel ons baie meer as wat ons op die oog af sou dink. Wat openbaar die geslagsregister dus van Kersfees en van Christenskap? Die geslagsregister sê vir ons die evangelie is Goeie Nuus, nie goeie advies nie. Verder sê dit ook vir ons die Evangelie is anders as wêreldse waardes

In die eerste plek hoor ons
Evangelie is Goeie Nuus, nie goeie advies nie
Die verhaal begin nie met “Eendag lank, lank gelede ....” nie. Dis hoe mens gewoonlik ʼn sprokie begin wat nie werklik waar is nie. Wanneer Mateus begin met “dit is die geslagsregister van Jesus Christus,” dan sê hy daarmee dat hierdie verhaal gegrondves is die geskiedenis. Dis nie net ʼn sprokie nie. Dit het werklik gebeur.

Sprokies word dikwels gebruik om ʼn morele lessie tuis te bring. Dit sê vir ons hier is goeie advies oor hoe jy jou lewe behoort te leef. Hierdie verhaal vertel vir ons van ʼn gebeurtenis in die geskiedenis wat belangrike implikasies in jou lewe het. Dit is goeie nuus wat jou lewe sal verander.

Die verskil tussen advies en goeie nuus kan soos volg verduidelik word. Sê nou maar daar is ʼn vyand wat jou bedreig. Dan het jy advies nodig oor wat om te doen, watter maatreëls moet jy tref om jouself te verdedig sodat jy jouself kan red van daardie vyand. Advies gaan dus oor iets wat jy nog moet doen.

Goeie nuus vertel vir jou van iets wat reeds gebeur het. Dit is die goeie nuus dat die vyand wat jou bedreig het, oorwin is. Jy hoef nie meer verdegingsmure te bou nie. Jy hoef nie te vlug nie. Die koning het die vyand oorwin en dit verander jou lewe drasties.

Ons hoor nie hier advies wat oor wat ons moet doen om onsself te red nie. Ons hoor van die goeie nuus wat God gedoen het. Jy hoef nie jouself te red nie. God het gekom om jou te red. Dis die verskil tussen die Christendom en ander godsdienste. Ander godsdienste gee advies oor wat jy behoort te doen om gered te word sodat jy geestelik vervul kan wees. Die goeie nuus van Jesus Christus sê vir jou wat Jesus gedoen het om jou te red en dit gee vir jou die geestelike vervulling om met God versoen te wees.

Christenskap is dus nie primêr oor goeie advies oor wat jy behoort te doen om jou lewe te verbeter nie. Dit is wel waar dat die evangelie groot implikasies het oor hoe jou lewe daardeur verander word, maar eerstens is die evangelie die goeie nuus dat jy gered is. Jy is nie gered deur iets wat jyself gedoen het nie, maar wel deur dit wat Jesus vir jou gedoen het.

Jy begin dus by Christus en nie by advies oor om ʼn nuwe blaadjie oor te slaan nie. Jy begin deur die goeie nuus te glo van die verhaal van Jesus wat werklik in die geskiedenis gebeur het. Jy glo dat God werklik in Jesus Christus mens geword het. Jy glo dat Jesus Christus vir jou geleef en gely het. Jy glo dat Hy vir jou sondes aan ʼn vervloekte kruishout gesterf het. Jy glo dat Jesus die dood oorwin het en dit verander jou hele lewe.

Die goeie nuus van die geboorte van Jesus Christus begin met ʼn geslagsregister wat vir ons sê “dit is nie net nog ʼn sprokie met ʼn morele lessie nie. Nee dit is ʼn ware verhaal van een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die mensdom.”

Dan hoor ons die tweede plek die
Evangelie is anders as wêreldse waardes
Om te verstaan wat hierdie geslagsregister nog verder beteken moet ons in ag neem wat die kultuurgebruike was in die tyd waarin Mateus geleef het.

Ons leef in ʼn tyd met ʼn individualistiese kultuur waarin jy jouself by ander aanbeveel met dit wat jy in die lewe bereik het. Op jou CV voeg jy jou akademiese kwalifikasies, jou werksondervinding en dit wat in die lewe bereik het in.

Mateus het in ʼn tyd geleef wat meer op die gemeenskap gefokus was waarin jou familie en herkoms baie belangrik was. Mat. 1 v 1 – 17 is dus baie meer as net ʼn blote geslagsregister. Dit moet inderdaad as ʼn CV beskou word. Net soos wat ons vandag ʼn CV gebruik om onself aan te beveel, het ʼn geslagsregister gedien om te sê, “Dit is wie ek is.”

Net soos wat die mense vandag ook hul CVs opstel om al die positiewe dinge te beklemtoon en die negatiewe weg te laat, het die mense van daai tyd ook hul geslagsregisters gedokter om net die positiewe te beklemtoon. So het Herodus bv. baie name uit sy geslagsregister weggelaat omdat hy nie wou gehad het dat die weggelate persone met hom geassosieer sou word nie.

Die doel van die geslagsregister was om mense te beïndruk met die hoë kwaliteit en eerbiedwaardigheid van jou herkoms. Mateus doen egter net mooi die teenoorgestelde met hierdie geslagsregister. Dit is skokkend anders as die geslagsregisters van sy tyd.

Daar word bv. vyf vroue in die geslagsregister genoem, iets wat in die patriargale samelewing van sy tyd ongehoord was. Tog word hierdie vroue in Jesus se geslagsregister ingesluit. Verder is daar drie van die vroue, Tamar, Ragab en Rut wat nie deel was van die Israelitiese volk was nie.

Twee Kananiete en ʼn Moabiet. Die Jode van destyds het diegene wat buite die volk was as onrein beskou en hulle was bv. nie in die tabernakel of tempel toegelaat nie. Hulle was van ongewenste rasse, maar tog is hulle ingesluit in Jesus se geslagsregister.

Daar is nog meer hieraan verbonde. Deur die noem van hierdie vroue herinner Mateus sy gehoor van die mees immorele en slegte insidente in die Bybel. Tamar het Juda verlei om bloedskande te pleeg omdat hy nie sy jongste seun aan haar wou gee volgens die gebruik van sy tyd waar broers die vrou van hulle broer wat gesterf het as vrou moes neem sodat daar vir die afgestorwe broer ʼn nageslag kon wees.

Alhoewel Jesus nie van Serag afgestam het nie word hy ook genoem om die hele skandelike verhaal in herinnering te roep. Daardie disfunksionele familie was deel van Jesus se stamboom. Ragab was ʼn prostituut. Nie juis iemand in jou nageslag aan wie jy die mense wil herinner nie.

Koning Dawid word ook genoem en op die oog af sou mens dink dat dit darem die naam van ʼn voorafstaande persoon is wat genoem word. Die verwysing na Dawid is egter nie vleiend nie. In die geslagsregister word hy genoem as die vader van Salomo, maar dan word daar bygevoeg “by die vrou van Urija.” Dit laat die klem val op Dawid se skandes, sy owerspel en moord op een van sy getrouste manskape.

Hier in die geslagsregister van Jesus hoor ons van die morele buitestaanders, owerspeliges, bloedskandes, prostitute en selfs vooraanstaandes soos Dawid morele mislukkings was. Die onreines wat deur die wet van Moses uitgesluit is om in die teenwoordigheid van God te wees, was almal deel van Jesus se voorgeslag.

Wat sê dit vir ons? Dit sê in die eerste plek dat mense wat deur kultuur uit die samelewing uitgesluit word en selfs hulle wat deur die wet van God uitgesluit word, deel kan word van Jesus se familie. Dit maak nie saak wat jou agtergrond is nie of wat jy gedoen het nie of selfs of jy ʼn moordenaar is of nie. As jy in Jesus glo word jy deur de genade in Jesus Christus wat jou sondes bedek deel van die huisgesin van God. Jesus bedek jou sondes en verenig jou met God.

In die Bybelse tyd was dit so dat indien jy rein en respektabel wou bly jy kontak met die onreines moes vermy sodat jy nie deur hulle besoedel kon word nie. Jesus verander dit egter want sy heiligheid word nie deur jou onreinheid besoedel nie. Wanneer jy met Jesus in aanraking kom, word jy deur sy heiligheid skoon gemaak. Daarom kan jy na Hom toe kom ongeag van wat jy gedoen het. Jesus reinig jou van jou sondes.

Aan die ander kant sê dit ook vir ons dat selfs koning Dawid net op grond van God se genade deel kan word van God se gesin. Maak nie saak of jy deel is van die vooraanstaandes van die samelewing nie, dit is slegs op grond van God se genade dat jy deel kan word van sy gesin. Dit is slegs op grond van wat Jesus gedoen het dat jy deel kan word van sy gesin. Niemand is sonder sonde nie, selfs nie eens die mees vooraanstaande persoon in die samelewing nie.

In alle kulture word daar neergekyk op mense. Die rykes kyk neer op die armes, sekere rasgroepe kyk neer op ander rasgroepe. Die wêreld gebruik die maatstawe van sosiale status, rykdom en hoë aansien van jou herkoms om te bepaal of jy aanvaarbaar is nie.

In die gesin van Jesus Christus is dit egter anders. Die waardes wat buite die kerk so belangrik is, is nie vir God belangrik nie. Al wat belangrik is, is bekering en geloof in Jesus Christus.

Samevatting
Die goeie nuus van Jesus Christus begin met ʼn geslagsregister. Dit sê vir ons dat dit ʼn verhaal is wat in die waarheid van die geskiedenis gegrondves is. Daarom is die Evangelie goeie nuus en nie goeie advies nie. Dit vertel die goeie nuus van wat Jesus reeds vir jou gedoen het. Verder sê dit vir ons dat die wêreldse waardes soos status, rykdom, ras en geslag, nie bepaal of jy deel word van Jesus se gesin of nie. Dit is slegs op grond van God se genade in Jesus Christus dat jy deel word van sy gesin.

Daarom geliefdes. Glo in die evangelie. Glo in die ware verhaal van die goeie nuus van Jesus Christus en ervaar die rus en vrede wat net by God te vinde is.

Amen




25 Desember 2017

Wie is Jesus vir my?



oh. 1 v 19 – 34 Teksvers Joh. 1 v 34

25 Des 2017 GKE

 ¯°¯
Lofsang:                      Sb. 4-6 Ere aan God (Gloria in excelsis)
Na Gebed:                    SB 15-1 v 1 – 4 Gebed vir die kerke
Gebed na preek:            Sb 10-1 Onse Vader
Slotsang:                      Sb 3-4 v 1 & 5

Kersfees beteken baie dinge vir verskillende mense, maar vir Christene beteken Kersfees Jesus Christus. In Joh. 1:31 hoor ons dat Johannes die Doper sê dat hy nie geweet het wie Jesus is nie. Tog moes hy Jesus geken het want hulle was neefs. Hy het egter nie werklik geweet wie Jesus werklik is nie en het dit eers geleer met hierdie geleentheid van Jesus se doop, naamlik dat Hy die Messias, die Seun van God is.

Die moontlikheid bestaan dat ons soos Johannes ook weet van Jesus sonder om Hom werklik te ken vir wie Hy werklik is. Ons hoor reeds van kleintyd al die verhale oor Jesus. Ons almal ken die verhaal van Josef en Maria wat na Betlehem gegaan het en nie plek in die herberg kon kry nie. Ons weet hoe hulle op die uiteinde in ’n stal beland het en dat Maria daar geboorte geskenk het en dat sy die babatjie in doeke toegedraai het. Ons weet van die engele koor en die skaapwagters wat gekom het en ook van die drie wyse manne wat geskenke gebring het. Ons weet dat koning Herodes bedreig gevoel het omdat die wyse manne na Jesus as ’n Koning verwys het en hoedat Josef en Maria na Egipte moes vlug om Jesus se lewe te beskerm.

Die vraag is egter, “Weet jy wie Jesus werklik is?” Dit is moontlik dat ons die Kersverhaal baie goed ken sonder dat dit werklik ’n inpak op jou lewe maak. Lyk jou lewe anders as die wêreld om jou of is jy maar net deel daarvan? ’n Volgeling van Jesus se lewe kan nie maar net soos die wêreld lyk nie. Dit is eers wanneer jy Jesus werklik leer ken vir wie Hy is dat daar ’n radikale verandering in jou lewe plaasvind. As jy nie weet wie Jesus werklik is nie kan jy nie in ’n persoonlike verhouding met God leef nie. Die enigste manier om Jesus werklik te leer ken is om Hom te ontmoet soos Hy homself in die Bybel aan ons bekendstel.

Ons ontmoet Jesus dwarsdeur die Bybel. In die Ou Testament ontmoet ons Hom in die profesieë van ’n Messias. In die vier evangelies ontmoet ons Hom as Mens. Die evangelies volgens Matteus, Markus en Lukas is baie dieselfde terwyl Johannes die verhaal van Jesus Christus uit ’n ander hoek benader. Ons hoor in Johannes nie van die geboorte van ’n kind nie. Die fokus van Johannes is om ’n antwoord te gee vir die belangrike vraag: “Wie is Jesus?” Vir elke gelowige is dit nodig dat jy vir jouself moet uitmaak: “Wie is Jesus vir my?”

Van die vroegste tye af was daar bespiegeling oor wie Jesus werklik is. In die eerste eeue na Christus was daar ’n sterk dwaalleer dat Christus nie werklik ’n mens was nie. In ons moderne tyd is dit net mooi na die anderkant toe. Daar word al hoe meer ontken dat Christus werklik God is. Daar is diegene wat erken dat daar so ’n historiese figuur soos Jesus was, maar dat Hy beslis nie God is nie. Die Moslem geloof erken die persoon van Jesus. Vir hulle is Hy egter net ’n profeet en nie God nie. Daar word ook verder gegaan deurdat daar sommige persone is wat Jesus maar net bloot as ’n mite afmaak.

In die evangelie volgens Johannes hoor ons wie Jesus werklik is. Hier hoor ons Jesus is God omdat Hy die Gees van God dra, maar Hy is ook mens omdat Hy onder die mense kom woon het. Elkeen wat ’n navolger van Jesus wil wees moet die saak uitmaak wie Jesus is.

In ons teksgedeelte hoor ons hoe Johannes die Doper ingeroep word om te getuig wie Jesus is. Ons hoor hoe die Joodse leiers priesters en Leviete na Johannes stuur om te hoor wie hy is, want sy prediking het baie opspraak onder die volk veroorsaak. Dwarsdeur die Ou Testament hoor ons die belofte dat ’n gesalfde van God gestuur gaan word om die volk te verlos. In Hebreeus word daar na hierdie persoon as die Messias verwys en in Grieks, die Christus. In die tyd toe Jesus gebore is, het die Romeine oor die Jode geheers en was daar ’n groot verwagting dat die Messias of die Christus moes kom om die volk te verlos. Daarom sê Johannes dan ook ondubbelsinnig aan hulle dat hy nie die Christus is nie soos ons hoor in Joh. 1:20. Hy is maar net die persoon wat aankondig dat die Messias gekom het. In Joh. 1:23 verwys hy na die profesie wat reeds deur die profeet Jesaja gemaak is (vgl. Jes 40:3).

Iemand roep: “Maak vir die Here ’n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ’n grootpad vir ons God!

Johannes noem verder dat hy nie werd is om Christus se skoene los te maak nie (vgl. Joh. 1:27). Om skoene los te maak is ’n werk wat aan die slaaf met die laagste status toegeken is sodat daardie slaaf dan die eienaar se voete kon was. Johannes sê dus hier dat hy selfs nie eers werd is om die taak wat aan ’n slaaf met die laagste status toegeken word, te doen nie. Hierin wys Johannes wat nodig is om Christus werklik te leer ken. ’n Persoon wat vol van homself is kan Christus nie werklik leer ken nie en daarom is dit nodig om jou eiewaan en trots te laat vaar om te leer wie Christus werklik is. ’n Christen wat nie nederig is nie, weet nog net van Christus, maar hy ken hom nie werklik nie. Om Christus werklik te leer ken beteken dat jy minder moet word sodat Christus meer kan word. Wanneer jy werklik verstaan wie Christus is, smelt jou hoogmoed en eie ek belangrikheid weg. Dan word jy diensbaar in die Koninkryk van God.

In sy getuienis verwys Johannes na Jesus as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Jesus kan dit doen want Hy is van ewigheid reeds daar as God. Jesus bring verlossing as ’n lewende realiteit van God wat lewens deur die werk van die Heilige Gees verander. Jesus stel God aan ons bekend deur sy lewe. Hy is die Seun van God, maar Hy verteenwoordig nie net God nie, nee, Hy IS God die Seun.

Om Christus werklik te leer ken is om te glo dat Hy die messias, die Christus is wat gekom het om in jou plek in die gloed van God se oordeel te staan. Dit is om te glo dat Hy die dood oorwin het en dat Hy daarmee aan jou die ewige lewe gee. Dit beteken dat jy kan begin leef uit die oorvloed van God se genade. Dit beteken dat jy God vertrou wanneer jy deur donker dieptes moet gaan.

Dit beteken dat jy vertrou dat Hy jou nooit alleen sal laat nie en dat selfs die dood jou nie van sy liefde kan skei nie. Dit beteken dat jy deernis teenoor jou naaste begin toon. Dat jy die mens raaksien in die persoon wat daar agter die toonbank sit. Dat jy verstaan dat daardie mens ook vrese en bekommernisse het en dat ’n glimlag en ’n vriendelike woord sal help om daardie persoon se bekommernisse ligter te maak. Dit is eers wanneer jy Christus werklik ken dat jy al hoe meer soos Hy kan raak.

Geliefdes wanneer jy na die Kersverhaal luister, kyk en verstaan dieper as die oppervlak. Sien God se karakter en sy liefde raak. Sien raak dat God ‘n nederige mens geword het om jou onthalwe. Geloof is die sleutel om Christus werklik te leer ken. Gryp die geleentheid aan wat God jou gee. Luister na die kersverhaal en sien God daaragter raak. Sien sy liefde vir jou raak en leef daardie liefde.

Wanneer jy in hierdie tyd oor Kersfees nadink vra jouself die vraag: “Wie is Jesus vir my?” Span jou in om `n antwoord op die vraag te vind.

Amen

Die onsigbare God het ’n sigbare Mens geword wat die lig van God se genade in ’n donker wêreld indra




24 Des. 2017 (GKE)

Joh. 1 v 1 – 18 Teksvers Joh. 1v14

Sing    Lofsang:   Ps. 105-1 v 1 & 2 

           Na wet:    Ps. 119-1 v 52      

           Na gebed Ps. 119-1 v 39

           Slotsang  Sb. 4-8 v 1 & 2   



Wat herdenk Christene met Kersfees? Is dit ’n tyd van vreugde wat sy hoogtepunt bereik in ’n luukse ete met feestelik drank? Is dit ’n tyd van vrolikheid waar ons weer na liedjies luister wat die vrolikheid van Kersvader besing? Word die hoogtepunt van Kersfees bepaal deur die grote en prys van my geskenk? Terwyl hierdie dinge nie opsigself boos en verkeerd is nie, is dit ook nie waaroor Kersfees werklik vir Christene gaan nie.



Die ware betekenis van Kersfees vir Christene word mooi in ons teksvers saamgevat – Joh. 1:14a:

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.

dit wil sê die onsienlike God het ’n sigbare mens geword wat die lig van God se genade in ’n donker wêreld indra. Die Johannes evangelie beskryf die menswording van Jesus Christus uit ’n unieke oogpunt. Hierdie evangelie vertel nie vir ons die verhaal van die geboorte van ’n kind nie. Die betekenis van daardie maagdelike geboorte van ongeveer 2000 gelede word uit ’n ander hoek geskets. Ons hoor hier van Jesus wat die Waarheid is. Ons hoor van Jesus wat ’n lig vir ’n donker wêreld is. Ons hoor van Jesus wat uit genade verlossing bring aan ’n wêreld wat in moedeloosheid gedompel is. Ons hoor van Jesus wat Hoop vir die wêreld bring, ’n hoop van die ewige lewe saam met God wat nou reeds begin.



Met Kersfees herdenk ons as Christene dat die ewige God wat van ewigheid bestaan, ’n eenvoudige mens geword het sodat ons die ware karakter van God met eie oë kan sien. In Jesus Christus sien ons wie en wat God werklik is. Ons sien Hom in die getuienis van die ooggetuies wat Christus met hulle eie oë gesien het. Net so seker as wat ons die mense in ons geskiedenis sien deur die getuienis wat oor hulle gelewer word, sien ons die wonder van God se genade in die vertellinge van die ooggetuies wat Jesus fisies gesien het.



Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

Ons sien in Hom die heerlikheid van God se genade wat ’n hart van deernis het vir mense wat die pad byster geraak het en wat in die donker ronddwaal. Ons sien in Hom ’n God wat my net soos die verlore seun van ouds sonder verwyte terugverwelkom.



Daar is egter diegene wat nie wil sien nie. Hulle wat die verhaal van Christus se menswording beskou as ’n ou holruggeryde boodskap van ’n kind in ’n krip wat net rakelings relevansie het met ons hedendaagse angs en onsekerheid soos ons hoor in Joh. 1:10-11:

Hy wás in die wêreld—die wêreld het deur Hom tot stand gekom—en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.

Al wat diegene in Kersfees sien is menslike vrede, liefde en welwillendheid. Dit moet bereik word deur te sorg dat jy ook ’n goeie mens is. Dit is soos om vir ’n drenkeling van die kant af te skree: “probeer harder! Gebruik jou arms en bene en swem harder!” Dit terwyl die persoon besig is om te sink.



Sonder Christus is enige vrede, liefde en welwillendheid leeg en oppervlakkig. Dit hou ook nie baie lank nie. Ware vrede, liefde en welwillendheid kom net van Christus af. Die wonder van God se genade deur die Woord wat mens geword het en onder ons kom woon het, beteken dat daar vir die persoon wat besig is om in die moedeloosheid, hopeloosheid, angs en onsekerheid van ons hedendaagse wêreld te verdrink, ’n lewensboei van God se genade uitgegooi word. Die lewensboei van Jesus Christus wat mens geword het. Dit word nie verkry van ’n Kersvader in ’n rooi pak wat goedkoop geskenke uitdeel en so ’n aangeplakte HO HO laggie uiter nie. Ware vrede, liefde en welwillendheid kan slegs verkry word wanneer die mensgeworde Woord, wat self God is, die heerlikheid van sy genade en waarheid aan ons uitdeel.



Jesus Christus is die waarheid. Dit is Hy wat die lig van lewe in ’n donker wêreld skyn. Hy is die enigste ware weg na die Vader toe. Ons kan slegs uit sy oorvloed genade op genade ontvang. Deur Hom ontvang ons die ewige lewe. Die ewige lewe gee aan ons die hoop om ewig in die teenwoordigheid van God se liefde te wees. Dit is egter nie iets wat daar ver is wat eers eendag gaan gebeur nie. Dit begin nou reeds.



Dit beteken dat ek nie in die negatiwiteit van die lewe vasgevang word nie. Wanneer mense my seermaak, dan het dit nie meer ’n houvas op my nie. Dit is nie meer mense wat my vrede en geluk bepaal nie, maar God. Wanneer ek met die negatiewe kant van die lewe gekonfronteer word, gee God aan my ’n hart vol deernis wat Hy ook in Jesus Christus aan ons gewys het. Dit beteken dat my reaksie en optrede teenoor mense nie deur mense se optrede teenoor my bepaal word nie. Dit beteken dat ek die nood van mense om my raaksien in plaas daarvan dat ek net my eie selfsugtige behoeftes raaksien. Die Woord wat mens geword het beteken dat ek weer met die God van genade en liefde versoen word en dat my verhouding met God ook my verhouding met my medemens bepaal. Dit beteken dat ek die nood van my medemens raaksien en dat ek ’n hart vol van deernis vir die nood van my medemens het.



Die Woord wat van ewigheid bestaan en deur wie alles tot stand gekom het, het die mens as ’n ewigheidswese geskep. As gevolg van sonde het daar ’n kloof tussen die mens en God ontstaan. Daarom het die Woord mens geword en onder ons kom woon sodat daardie kloof tussen die mens en God oorbrug kan word. Elkeen wat Hom in geloof aanneem ontvang die heerlikheid van Jesus Christus se genade om vir ewig in God se liefde en genade saam met Hom deur te bring. Die wat God se genade egter verwerp sal vir ewig sonder God wees, dit wil sê hulle sal vir ewig in moedeloosheid, hopeloosheid, angs en onsekerheid sonder God vasgevang sal wees.



Geliefdes, laat skyn die lig van God se genade ook in hierdie Kerstyd in ’n donker wêreld wat Hom nie ken nie. Reik uit na hulle wat van die spoor af is of wat God glad nie ken nie. Maak die ware betekenis van Kersfees bekend, naamlik dat die Woord mens geword het en onder ons kom woon het, dit wil sê Die onsigbare God het ’n sigbare Mens geword wat die lig van God se genade in ’n donker wêreld indra.

Amen







12 Januarie 2014

Die ware blydskap van Kersfees: Die Koning van die heelal is as ’n eenvoudige Mens vir my gebore!

25 Des. 2013 (GKE) Luk. 2 v 1 - 20 Teksverse Luk. 2v10 & 11
Sing    Lofsang: Sb. 4-6 
           Na wet:    Sb. 16-1 v 1 (Laat julle kinders tot my nader – Sb 15 swart Ps.Boek)
           Na gebed Sb. 4-8-1 v 1 & 2
           Slotsang  Ps. 48-1 v 1 & 5
Hoekom is ons bly oor Kersfees? Is dit die lekker geskenke of is dit die vooruitsig van lekker partytjies saam met vriende? Vir sommige mense hou Kersfees net hartseer in en is daar geen blydskap nie. In ons teks sê die Here vir ons wat is die enigste bron van ware blydskap. Dit is die goeie boodskap ’n Verlosser vir wêreld gebore is. Hierdie Verlosser is die Koning van die Heelal soos ons hoor in Luk. 2v10 & 11:
10 Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.
11 Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!
Die ware blydskap van Kersfees is dat die Koning van die heelal vir my gebore is. Dit is juis die eenvoud van Christus se geboorte wat aan my die versekering gee dat Hy ook vir my persoonlik gebore is.

In Luk 2v1 & 2 hoor ons hoe God die belangrikste man van die destydse wêreld as sy dienskneg gebruik om die profesie van Miga 5v1 te laat plaasvind:
Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede!
Selfs die belangrikste mens op aarde is nie so belangrik dat hy nie deur God gebruik kan word nie, selfs al weet hy nie eers dat God hom gebruik nie.

Keiser Augustus het ’n bevel uitgevaardig dat daar ’n volkstelling gehou moes word. Die rede vir so ’n volkstelling was sodat die Romeinse ryk se belasting inkomste bereken en beplan kon word. Daardie sensus het egter anders as ons sensus gewerk. In plaas van dat die sensusopnemer na jou huis toe gekom het, is daar bepaal dat jy na jou vaderstad moes gaan, dit wil sê die plek waar jou familie vandaan gekom het. Josef het van Dawid afgestam en Dawid is in Betlehem gebore, daarom het Josef na Betlehem gegaan. Omdat Maria aan Josef verloof was, was sy reeds deel van sy familie en daarom het sy saam met Josef na Betlehem gegaan.

Kersfees word dikwels voorgestel as ’n stil en rustige tyd waar vrede heers. Daardie eerste Kersfees was egter alles behalwe stil en rustig. Stel jouself voor die besige chaos wat geheers het. Betlehem was oorlopens toe vol. Daar is nie plek vir ’n muis nie. Na ’n lang en vermoeiende reis van ongeveer 85 km agter op ’n donkie kom Maria en Josef moeg en uitgeput in Betlehem aan. Dink net hoe moeg moes die arme swanger Maria gewees het. Dink net hoe moedeloos Josef moes gevoel het toe hy nie eens vir hulle ’n blyplek kon kry nie. Keer op keer moes hy hoor, jammer hier is nie meer plek nie.

Dit was vir seker vir hom en Maria nie ’n stil, rustige vredevolle tyd gewees nie. Toe hulle ten einde laaste wel ’n plekkie kry daar tussen die diere kom die volgende krisis! Ek dink die een ding wat Maria nie daardie aand wou gehad het nie, is dat die baba daar gebore moes word nie. Arme Josef, wat weet hy daarvan om ’n vrou te help wat ’n babatjie gaan kry. Dit was sekerlik nie ’n stil en rustige tydjie vir Josef en Maria nie. Maar ten spyte van al die chaos verloop die geboorte goed af en Maria draai die babatjie volgens die gebruik van daardie tyd styf in doeke toe.

Wat ’n teenstrydigheid. Die Verlosser van die wêreld is hulpeloos in doeke toegedraai. Die enigste plek vir die Koning wat uit die geslag van Dawid gebore is, is in ’n bak waaruit diere geëet het. Nederiger kon dit nie. Die gebeure wat hier vir ons beskryf word kon net sowel die geboorte van die armste kind van destyds gewees het. Dit alles wys vir ons op die doodgewone aard van Jesus Christus se menswees. Dit is inderdaad Emmanuel, God met ons vir doodgewone mense soos ek en jy.

Verder kies God ook die heel eenvoudigste mense uit om hierdie blye boodskap uit te dra. In die tyd van Dawid was ’n skaapwagter ’n eervolle beroep, maar in die tyd van Jesus se geboorte, was dit nie meer so nie. Die enigste mense wat skaapwagters was, was daardie mense wat niks anders in die lewe kon vind om te doen nie. Skaapwagters was verag en as onbetroubaar beskou. Die woord van ’n skaapwagter is slegs aanvaar as dit deur iemand wat nie ’n skaapwagter is nie, bevestig kon word. Juis hulle wat deur die samelewing verwerp word, kies God om hierdie belangrike boodskap vir die eerste keer te gaan uitdra.

Hulle kry die boodskap dat ’n hulle ’n kind sal vind in ’n krip wat in doeke toegedraai is. Niks spesiaal nie. Maar tog is daardie kind die Koning van alle konings wat gekom het om die wêreld van hulle sonde te verlos. Die Griekse woord wat hier met goeie tyding vertaal is, word ook in Afrikaans as evangelie weergegee. Daardie Griekse woord is in daardie tyd gebruik om die koms van ’n koning te beskryf. Almal wat dus die boodskap van die evangelie in daardie tyd gehoor het sou dadelik verstaan dat hierdie doodgewone geboorte wat beskryf word, die geboorte van ’n Koning is. Daardeur wys die Here vir ons dat die goeie nuus oor Christus se geboorte vir alle mense bedoel is, selfs vir diegene wat deur die samelewing verwerp en verstoot word en wat as nikswerd beskou word.

Die vraag vanoggend is: “wat beteken hierdie geboorte wat ongeveer 2000 jaar gelede plaasgevind het vir ons hier aan die einde van 2011?” Die gebeure wat hier in Lukas 2 beskryf word gee vir ons alle rede om vol blydskap te wees. Veral as ek nie juis voel dat daar gedurende Kersfees enige rede vir my is om bly te voel nie. As my lewe in chaos is, of selfs net deurmekaar, dan sê die doodeenvoudige aard van Christus se geboorte dat Hy ook in my lewe ’n verskil kan maak. Hy sê dan vir ons in Mat 11v28:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee

Christus is die Koning van alle konings, maar tog het Hy tyd vir my. Jesus Christus kan my ook verlos uit die tronk van eensaamheid en verstotenheid. Al is my lewe in die grootste gemors ooit, dan sê hierdie geboorte van ’n eenvoudige kind vir my dat daar vir my ook plek is by die Koning van die heelal. Dalk is hierdie die eerste Kersfees wat ek sonder ’n geliefde moet deurbring of dalk herinner dit my aan ’n geliefde wat aan die dood afgestaan is. Dalk is my kinders daar ver in die vreemde en ek verlang na hulle. Dalk voel ek dankbaar oor die seëninge in my lewe dan weet ons dat Jesus Christus ons bron van blydskap is. Dan weet ons dat Jesus Christus my help om die verlange na ’n geliefde wat dood is of dalk ver is te verwerk. As ek sukkel met ’n lewe wat in Chaos gedompel is, dan weet ek dat Jesus Christus vir my ’n anker is die storm.

Geliefdes, kom ons maak Jesus Christus die ware bron van ons kersvreugde, want die Koning van die heelal is as ’n eenvoudige Mens vir my gebore!

Amen