oh. 1 v 19 – 34 Teksvers Joh.
1 v 34
25 Des 2017 GKE
¯°¯
Lofsang: Sb. 4-6 Ere aan God (Gloria
in excelsis)Na Gebed: SB 15-1 v 1 – 4 Gebed vir die kerke
Gebed na preek: Sb 10-1 Onse Vader
Slotsang: Sb 3-4 v 1 & 5
Kersfees
beteken baie dinge vir verskillende mense, maar vir Christene beteken Kersfees
Jesus Christus. In Joh. 1:31
hoor ons dat Johannes die Doper sê dat hy nie geweet het wie Jesus is nie. Tog
moes hy Jesus geken het want hulle was neefs. Hy het egter nie werklik geweet wie
Jesus werklik is nie en het dit eers geleer met hierdie geleentheid van Jesus
se doop, naamlik dat Hy die Messias, die Seun van God is.
Die
moontlikheid bestaan dat ons soos Johannes ook weet van Jesus sonder om Hom
werklik te ken vir wie Hy werklik is. Ons hoor reeds van kleintyd al die
verhale oor Jesus. Ons almal ken die verhaal van Josef en Maria wat na Betlehem
gegaan het en nie plek in die herberg kon kry nie. Ons weet hoe hulle op die
uiteinde in ’n stal beland het en dat Maria daar geboorte geskenk het en dat sy
die babatjie in doeke toegedraai het. Ons weet van die engele koor en die skaapwagters
wat gekom het en ook van die drie wyse manne wat geskenke gebring het. Ons weet
dat koning Herodes bedreig gevoel het omdat die wyse manne na Jesus as ’n
Koning verwys het en hoedat Josef en Maria na Egipte moes vlug om Jesus se lewe
te beskerm.
Die vraag is
egter, “Weet jy wie Jesus werklik is?” Dit is moontlik dat ons die Kersverhaal
baie goed ken sonder dat dit werklik ’n inpak op jou lewe maak. Lyk jou lewe
anders as die wêreld om jou of is jy maar net deel daarvan? ’n Volgeling van
Jesus se lewe kan nie maar net soos die wêreld lyk nie. Dit is eers wanneer jy
Jesus werklik leer ken vir wie Hy is dat daar ’n radikale verandering in jou
lewe plaasvind. As jy nie weet wie Jesus werklik is nie kan jy nie in ’n
persoonlike verhouding met God leef nie. Die enigste manier om Jesus werklik te
leer ken is om Hom te ontmoet soos Hy homself in die Bybel aan ons bekendstel.
Ons ontmoet
Jesus dwarsdeur die Bybel. In die Ou Testament ontmoet ons Hom in die profesieë
van ’n Messias. In die vier evangelies ontmoet ons Hom as Mens. Die evangelies
volgens Matteus, Markus en Lukas is baie dieselfde terwyl Johannes die verhaal
van Jesus Christus uit ’n ander hoek benader. Ons hoor in Johannes nie van die
geboorte van ’n kind nie. Die fokus van Johannes is om ’n antwoord te gee vir
die belangrike vraag: “Wie is Jesus?” Vir elke gelowige is dit nodig dat jy vir
jouself moet uitmaak: “Wie is Jesus vir my?”
Van die vroegste
tye af was daar bespiegeling oor wie Jesus werklik is. In die eerste eeue na
Christus was daar ’n sterk dwaalleer dat Christus nie werklik ’n mens was nie.
In ons moderne tyd is dit net mooi na die anderkant toe. Daar word al hoe meer
ontken dat Christus werklik God is. Daar is diegene wat erken dat daar so ’n
historiese figuur soos Jesus was, maar dat Hy beslis nie God is nie. Die Moslem
geloof erken die persoon van Jesus. Vir hulle is Hy egter net ’n profeet en nie
God nie. Daar word ook verder gegaan deurdat daar sommige persone is wat Jesus
maar net bloot as ’n mite afmaak.
In die
evangelie volgens Johannes hoor ons wie Jesus werklik is. Hier hoor ons Jesus
is God omdat Hy die Gees van God dra, maar Hy is ook mens omdat Hy onder die
mense kom woon het. Elkeen wat ’n navolger van Jesus wil wees moet die saak
uitmaak wie Jesus is.
In ons
teksgedeelte hoor ons hoe Johannes die Doper ingeroep word om te getuig wie
Jesus is. Ons hoor hoe die Joodse leiers priesters en Leviete na Johannes stuur
om te hoor wie hy is, want sy prediking het baie opspraak onder die volk
veroorsaak. Dwarsdeur die Ou Testament hoor ons die belofte dat ’n gesalfde van
God gestuur gaan word om die volk te verlos. In Hebreeus word daar na hierdie
persoon as die Messias verwys en in Grieks, die Christus. In die tyd toe Jesus
gebore is, het die Romeine oor die Jode geheers en was daar ’n groot verwagting
dat die Messias of die Christus moes kom om die volk te verlos. Daarom sê
Johannes dan ook ondubbelsinnig aan hulle dat hy nie die Christus is nie soos
ons hoor in Joh. 1:20 .
Hy is maar net die persoon wat aankondig dat die Messias gekom het. In Joh. 1:23 verwys hy na die
profesie wat reeds deur die profeet Jesaja gemaak is (vgl. Jes 40:3).
Iemand roep: “Maak vir die Here ’n pad in die woestyn, maak in die barre
wêreld ’n grootpad vir ons God!
Johannes noem
verder dat hy nie werd is om Christus se skoene los te maak nie (vgl. Joh. 1:27 ). Om skoene los te
maak is ’n werk wat aan die slaaf met die laagste status toegeken is sodat
daardie slaaf dan die eienaar se voete kon was. Johannes sê dus hier dat hy
selfs nie eers werd is om die taak wat aan ’n slaaf met die laagste status
toegeken word, te doen nie. Hierin wys Johannes wat nodig is om Christus
werklik te leer ken. ’n Persoon wat vol van homself is kan Christus nie werklik
leer ken nie en daarom is dit nodig om jou eiewaan en trots te laat vaar om te
leer wie Christus werklik is. ’n Christen wat nie nederig is nie, weet nog net
van Christus, maar hy ken hom nie werklik nie. Om Christus werklik te leer ken
beteken dat jy minder moet word sodat Christus meer kan word. Wanneer jy werklik
verstaan wie Christus is, smelt jou hoogmoed en eie ek belangrikheid weg. Dan
word jy diensbaar in die Koninkryk van God.
In sy
getuienis verwys Johannes na Jesus as die Lam van God wat die sonde van die
wêreld wegneem. Jesus kan dit doen want Hy is van ewigheid reeds daar as God.
Jesus bring verlossing as ’n lewende realiteit van God wat lewens deur die werk
van die Heilige Gees verander. Jesus stel God aan ons bekend deur sy lewe. Hy
is die Seun van God, maar Hy verteenwoordig nie net God nie, nee, Hy IS God die
Seun.
Om Christus
werklik te leer ken is om te glo dat Hy die messias, die Christus is wat gekom
het om in jou plek in die gloed van God se oordeel te staan. Dit is om te glo
dat Hy die dood oorwin het en dat Hy daarmee aan jou die ewige lewe gee. Dit
beteken dat jy kan begin leef uit die oorvloed van God se genade. Dit beteken
dat jy God vertrou wanneer jy deur donker dieptes moet gaan.
Dit beteken dat
jy vertrou dat Hy jou nooit alleen sal laat nie en dat selfs die dood jou nie
van sy liefde kan skei nie. Dit beteken dat jy deernis teenoor jou naaste begin
toon. Dat jy die mens raaksien in die persoon wat daar agter die toonbank sit.
Dat jy verstaan dat daardie mens ook vrese en bekommernisse het en dat ’n
glimlag en ’n vriendelike woord sal help om daardie persoon se bekommernisse
ligter te maak. Dit is eers wanneer jy Christus werklik ken dat jy al hoe meer
soos Hy kan raak.
Geliefdes wanneer
jy na die Kersverhaal luister, kyk en verstaan dieper as die oppervlak. Sien
God se karakter en sy liefde raak. Sien raak dat God ‘n nederige mens geword
het om jou onthalwe. Geloof is die sleutel om Christus werklik te leer ken.
Gryp die geleentheid aan wat God jou gee. Luister na die kersverhaal en sien
God daaragter raak. Sien sy liefde vir jou raak en leef daardie liefde.
Wanneer jy in
hierdie tyd oor Kersfees nadink vra jouself die vraag: “Wie is Jesus vir my?”
Span jou in om `n antwoord op die vraag te vind.
Amen