Wys tans plasings met die etiket Genesis 3. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Genesis 3. Wys alle plasings

02 Augustus 2020

Vroue in die Bybel – 01 Eva

Datum: 2 Aug. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Gen. 2 v 18 – 3:24

Teksvers:  Gen. 3 v 20

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni

- volledige erediens 

2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni

- Preek alleen 

Ons begin vandag met 'n reeks preke oor vroue van die Bybel. Vroue word so maklik deur die samelewing as tweederangse burgers met 'n laer status beskou en eenkant toe gestoot. Die fokus in hierdie preek reeks is om vas te stel wat God se bedoeling is met vroue in die samelewing.

Die eerste vrou waarvan ons in die Bybel hoor, is Eva. Eva word dikwels blameer dat dit haar skuld was dat die hele mensdom in sonde gedompel was. Sy het immers vir die slang geluister en van die verbode vrug geëet. Hiermee saam kom die foutiewe gedagte dat die man minder skuldig was aan die sondeval en dat die man derhalwe so bietjie beter as die vrou is.

Wat ons egter moet onthou is dat God die opdrag om nie van die verbode vrug te eet nie vir die man gegee het. Hy was egter absoluut passief in daardie hele episode met slang. Hy het nie 'n woord gesê nie en het daarmee sy plig versaak om sy vrou te beskerm.

Hy kon haar beskerm het, want hy was reg langs haar terwyl die episode met die slang afgespeel het. Ons hoor in Gen. 3 v 6b:

Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.

Sonder om 'n woord te sê, het hy saam met haar geëet aan die verbode vrug. Die waarheid is dat albei ewe skuldig is en mans het geen rede om meerderwaardig teenoor 'n vrou te voel nie.

Wat is die skeppingsdoel van 'n vrou? In Gen. 2 v 18 hoor ons:

Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

God het nie die mens geskep om alleen te wees nie. Hy het die vrou gemaak uit die man se ribbebeen uit. Sy is dus net soos hy, een uit homself. Haar doel is om die man se helper te wees.

Ons moenie die fout maak om te dink dat sy 'n handlanger is nie. Nee sy is sy helper want sonder haar, sal die man nie reggekom het nie. Die Here sê baie duidelik hier dat Hy die vrou gemaak het as die man se gelyke.

Dink so daaraan. Daar is byvoorbeeld 'n trommel wat te groot en swaar is vir een mens om te dra. Daar is dus 'n helper nodig om die trommel te dra. Albei die persone is ewe belangrik in die proses. Die een is nie belangriker as die ander nie en nie een sou sonder die ander regkom om die trommel te dra nie.

Die verbrokkeling in die verhouding tussen man en vrou raak reeds sigbaar direk na hul sondeval. Daar tree 'n vreemdheid tussen man en vrou in en hulle probeer dit wegsteek deur vir hulself klere van vyeblare te maak.

Dit was egter tevergeefs, want ons hoor hoe hul verhouding verder verbrokkel wanneer hulle deur God gekonfronteer word. Die man beskuldig sy vrou en hy gooi haar as te ware vir die wolwe. Waar hy vantevore 'n liefdeslied vir haar sing: (“Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek”) beskuldig hy haar en verwys na haar as ‘die vrou.’ Nie meer my vrou nie, maar ‘die vrou!’. Daar is duidelik 'n verwydering tussen hulle.

Uit dit word die verskriklike gevolge van die sonde duidelik sigbaar soos God dit ook aan hulle voorhou wanneer Hy vir die vrou sê: “Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”

Hierdie is nie 'n straf wat God teenoor die vrou uitgespreek het nie. Die straf vir sonde is die dood soos ons Gen. 2 v 17 hoor. God het hier vir haar vertel wat die gevolge van die sonde wat sy en haar man gepleeg het, is, naamlik die sondige oorheersing van vrouens deur mans. Dit is dus die sonde; waarvoor beide die man en die vrou verantwoordelik is; wat veroorsaak dat mans vrouens as minderwaardig beskou en behandel.

Die verdere gevolge is dat die aarde deur hulle toedoen vervloek is en derhalwe het dit nou moeisame arbeid meegebring om 'n bestaan te maak. God se skeppingsopdrag aan die mens was om die aarde te bewoon en dit te bewerk soos ons in Gen. 1 v 28 hoor. Die gevolge van die sonde is dat hierdie arbeid nou in hartverskeurende moeitevolle arbeid verander is.

As die verhaal hier geëindig het, sou dit 'n baie droewige hopelose verhaal gewees het. Maar die verhaal het nie hier geëindig nie. Ten spyte van die donker gebeure van die sondeval in hierdie verhaal, is dit 'n verhaal van hoop. Ons hoor hier hoe groot God se genade is.

In Gen. 3 v 20 hoor ons hoe die vrou nou ook 'n persoonlike naam kry:

Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense.

Ons hoor hier van God se genade, want die naam Eva, beteken lewe. In teenstelling met die swaard van die dood wat oor hulle koppe hang, is daar die hoop van lewe.

God se genade is dat Hy die finaliteit van die doodstraf uitstel. Daar is hoop vir lewe. Die doodstraf is uitgestel totdat Jesus Christus dit in ons plek kom dra het, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan kry en daardeur kan ontsnap van die vloek van die sonde. Mans het dus geen rede om op grond van Gen. 3 v 16 “   Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.” te dink dat hulle beter as vrouens is nie.

Toe Adam die naam Eva, wat hy vir die vrou gegee het, kwalifiseer met: “sy was die moeder van al die mense,” erken hy ook daarmee sy afhanklikheid van Eva vir die voortplanting van 'n nageslag en Eva is ook van Adam afhanklik daarvoor.

Hierin is God se genade ook duidelik sigbaar, want Christus is uit die nageslag wat deur Adam en Eva voortgebring is, gebore.

Buiten die rol as helper en metgesel, gee God ook vir die vrou 'n baie spesiale rol as moeder om te koester. God het bepaal dat die mensdom bestaan uit mans en vrouens en dat 'n man as vader vir sy nageslag sal wees tesame met sy vrou as moeder. Dis die basis van gesonde gesinsverhoudings, die bousteen van die samelewing.

Deur die sonde is dit krom en skeefgetrek, maar Christus het gekom om dit te herstel. Dit is slegs deur jou geloof in Jesus wat mans en vroue hul rol in die samelewing kan vervul soos God dit bedoel het in 'n gesamentlike gelyke verhouding met mekaar in afhanklikheid van God.

Jesus Christus maak dit vir ons moontlik om weg te breek van die gevolge van sonde, omdat Hy die mag daarvan gebreek het aan die kruis en Hy die dood oorwin het deur sy opstanding. In Jesus Christus kan mans en vrouens hulle verhouding met mekaar bou en uitleef soos God dit oorspronklik bedoel het.

Daarom moet die mans hulle vroue liefhê en nie die lewe vir hulle bitter maak nie. Sy is nie 'n vloerlap nie. Vrouens, weet dat God vir julle 'n baie spesiale rol in die lewe bepaal het as jou man se helper en metgesel. Net soos wat 'n mens twee bene nodig het om te loop, het God mans en vrouens geskep as gelyke medewerkers in sy Koninkryk.

Amen