Datum: 9 Aug. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt
Skriflesing: Gen. 38
Teksvers: Gen. 38
v 26
Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:
1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni
2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni
Ons het laas week begin met 'n preekreeks: “Vroue in die
Bybel” en ons het met Eva begin. Hierdie week staan ons stil by Tamar, Juda se
skoondogter.
Hierdie is een van daai ongemaklike verhale in die Bybel,
wat mens laat wonder: “hoekom is dit nou juis opgeteken?” Hierdie verhaal
illustreer juis die punt dat die Bybel nie net inspirerende stories bevat gevul
met morele voorbeelde van hoe om te leef nie.
Ons vind soms morsige verhale, waarvan hierdie 'n
voorbeeld is en dit bevestig dat God besig is met in sonde gevalle mense en dit
help ons om daarby aanklank te vind, want ons is ook nie perfek nie. Ons beleef
hier hoe die God se genade deurbreek in mense se lewens en dit gee vir ons hoop
dat God se genade ook 'n verskil in my lewe maak.
Wanneer ons na hierdie verhaal luister, moet ons die
leefwêreld waarin dit afgespeel het in gedagte hou, want die
lewensomstandighede van die mense in die verhale was drasties anders as ons eie
lewensomstandighede. Dit help ons om te verstaan wat die Here vir ons met die
verhale wil sê.
Hierdie verhaal in Genesis 38 lyk op die oog af so
bietjie uit plek uit. Dit onderbreek as te ware die hele verhaal van Josef. Dit
is egter nie per ongeluk nie, want dit gee vir ons 'n perspektief oor die
karakters wat 'n belangrike rol speel in die groter verhaal van die Bybel.
Een van die hoofkarakters in die verhaal is Tamar. Die
betekenis van die naam Tamar is 'n palmboom. Eva se naam beteken lewe en net so
verwys Tamar ook na lewe. Palmbome gee koelte en dit kom gewoonlik voor by
lewendgewende waterbronne in die woestyn. Verder dra die palmbome in daardie
wêreld ook dadels wat weereens wys op die lewensgewende aard daarvan. Kos en
water verseker oorlewing in die dorre woestyn.
Die verhaal begin met 'n vertelling van Juda wat
weggetrek het en 'n Kananitiese vrou geneem het. Hulle het drie seuns gehad ml
Er, Onan en Sela. Juda het een van die Kananitiese meisies, genaamd Tamar gekry
as vrou vir sy oudste seun. Die gebruik in daardie tyd was dat huwelike deur
die vaders in die gesinne gereël is, gewoonlik om 'n strategiese verbintenis
tussen die twee gesinne te smee.
Ons hoor in die verhaal dat Er 'n slegte man was in die
oë van die Here en dat Here hom laat sterf het sonder dat ons enige
besonderhede ontvang oor wat die aard van sy slegte dade was.
Nou kom ons by 'n belangrike beginsel wat ons moet
verstaan om te begryp wat hierdie verhaal vir ons vertel. Dis die beginsel van
die swaershuwelik, wat ook as die leviraatshuwelik bekend staan. Dit kom daarop
neer dat wanneer ’n getroude man kinderloos sterf, sy broer ’n kind by die
kinderlose weduwee moet verwek. Hierdie kind word beskou as die seun van die
afgestorwe man, dra sy naam, verkry sy regte en besittings en dien as
sekuriteit vir sy ma, want ’n vrou het destyds nie regsbevoegdheid gehad sonder
bystand van haar pa, broer, man of seun nie. 'n Weduwee wat nie seuns gehad het
nie was absoluut sonder heenkome uitgelewer aan die genade van die samelewing.
Dit is dan die rede waarom Juda sy tweede oudste seun
Onan aan Tamar gegee het as haar man in die plek van Er. Onan wou egter nie
kinders vir sy afgestorwe broer verwek nie omdat dit sy erfdeel sou verklein.
Daarom het hy seker gemaak dat hy nie kinders by Tamar verwek nie.
Dit het beteken dat hy Tamar in 'n baie slegte posisie
geplaas het omdat hy haar daardeur van haar sekuriteit beroof het. Dit was ook
verkeerd in die oë van die Here en daarom het Hy ook vir Onan laat sterf.
Volgens die wet van die swaershuwelik was dit dus nou
Juda se jongste Sela se plig om seuns vir sy broers by Tamar te verwek. Juda
het heimlik die skuld vir sy oudste twee seuns se dood op Tamar geplaas en
daarom dink hy 'n verskoning uit. Hy stuur Tamar as weduwee terug na haar vader
toe met die belofte dat hy haar sal laat gaan haal wanneer Sela oud genoeg is.
As weduwee mag Tamar nie 'n ander man geneem het nie, want
sy moes vir Sela wag. Juda het egter geen intensie gehad om sy belofte na te
kom nie! Daarmee het hy 'n groot onreg teenoor Tamar gepleeg. Hy het haar van
alle moontlikhede ontneem om sekuriteit vir die toekoms te bekom.
Ons moet mooi verstaan hoe kwesbaar Tamar in hierdie
verhaal was. Sy het nie 'n keuse gehad in enige van die besluite wat oor haar
geneem is nie en sy was absoluut uitgelewer aan die genade van Juda.
Ons kan nou maklik op hierdie punt vir Tamar veroordeel en dan sal ons ook maar net soos Juda wees wat haar wou laat verbrand. Ons moet verstaan dat haar doelwit nie was om nou maar 'n prostituut te wees nie. Sy het geregtigheid gesoek en sy het dit gedoen volgens die enigste uitweg wat vir haar beskikbaar was. Onthou dat sy as weduwee absoluut uitgelewer was en dat diegene wat haar regte moes beskerm, juis hulle was wat haar van haar regte ontneem het!
Beteken dit dat dit wat sy gedoen het geregverdig is?
Nee, geliefdes. Ons moet egter raaksien wat die Here vir ons hier wys. Hy wys
die dubbelstandaarde wat in daardie samelewing teenwoordig was, uit. Dis
dieselfde dubbelstandaarde wat maar nog steeds in ons samelewing ook
teenwoordig is.
Juda se reaksie toe dit bekend word dat Tamar swanger
was, was dat sy verbrand moes word. Dit was 'n straf wat heeltemal buite
verband was met die oortreding en tog was die mense bereid om daardie straf te
voltrek. Juda wou hier van Tamar en sy verpligtinge teenoor haar ontslae raak
en die samelewing het dit goedgekeur! Daar was een standaard vir Tamar en 'n
totale ander standaard vir die bevoorregtes in die samelewing.
Dit is eers nadat die Tamar die bewysstukke van Juda se
aandeel (sy seëlring met die ketting en die kierie) na vore gebring het, dat hy
erken het dat hy ook verkeerd gedoen het soos ons in Gen. 38 v 26 hoor:
Juda het dit herken en gesê: “Sy is onskuldig, ek nie! Ek
moes my seun Sela aan haar as man gegee het.”
Met die vertaling gaan daar van die subtiliteit wat Juda
hier gesê het verlore. Juda sê nie hier dat Tamar 100% reg is en dat hy 100%
Verkeerd is nie en dat dit wat Tamar gedoen het nou reg is nie. Letterlik staan
daar: “Sy is meer reg as ek.” Met ander woorde, sy is skuldig, maar ek is meer
skuldig as sy. Hiermee erken Juda dat hy 'n groter aandeel as Tamar gehad het
op grond van die onreg wat hy haar aangedoen het.
In hierdie verhaal sien ons God se genade. Hierdie
episode was 'n draaipunt in Juda se lewe. Juda was die een wat voorgestel het
dat Josef as slaaf verkoop word en hy is die een wat die plan deurgevoer het.
Later was dit egter hy wat homself as pand aangebied het in die plek van sy jongste broer
Benjamin toe hulle in Egipte gaan graan koop het toe Josef (wat hulle op
daardie stadium nog nie herken het nie) vir Benjamin terug gehou het.
Ons sien ook God se genade in Tamar se lewe raak. Hoe Hy
haar as Kananitiese meisie deel van die verbondsvolk gemaak het. Sy het
tweeling seuns in die wêreld gebring en uit die nageslag van Peres is Jesus
Christus gebore. Tamar is een van vier vroue wat in die geslagsregister van
Jesus vermeld word (Vgl. Mat. 1 v 3).
Soms lyk dit asof jou lewe in chaos gedompel is soos wat
Tamar sin was. Maar binne dit is God se genade aan die werk. God is besig in
jou lewe en in Jesus Christus reik Hy ook na jou toe uit. Soms is dit nodig dat
daar iets drasties moet gebeur soos dit die geval was met Juda sodat jou lewe
ook by 'n keerpunt kan kom.
God het vir Juda en Tamar gebruik sodat Jesus Christus
gebore kon word, sodat ek en jy ook sy genade in ons lewens kan ervaar. Moenie
God se genade eenkant toe stoot nie. Gryp dit met jou geloof in Jesus Christus
vas en beleef die vrede wat net by God gevind kan word.
Amen