Wys tans plasings met die etiket Vrou. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vrou. Wys alle plasings

11 Augustus 2020

Vroue in die Bybel - 02 Tamar

 Datum:  9 Aug. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Gen. 38

Teksvers:  Gen. 38 v 26

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni

- volledige erediens 

2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni

- Preek alleen

 

Ons het laas week begin met 'n preekreeks: “Vroue in die Bybel” en ons het met Eva begin. Hierdie week staan ons stil by Tamar, Juda se skoondogter.

 

Hierdie is een van daai ongemaklike verhale in die Bybel, wat mens laat wonder: “hoekom is dit nou juis opgeteken?” Hierdie verhaal illustreer juis die punt dat die Bybel nie net inspirerende stories bevat gevul met morele voorbeelde van hoe om te leef nie.

 

Ons vind soms morsige verhale, waarvan hierdie 'n voorbeeld is en dit bevestig dat God besig is met in sonde gevalle mense en dit help ons om daarby aanklank te vind, want ons is ook nie perfek nie. Ons beleef hier hoe die God se genade deurbreek in mense se lewens en dit gee vir ons hoop dat God se genade ook 'n verskil in my lewe maak.

 

Wanneer ons na hierdie verhaal luister, moet ons die leefwêreld waarin dit afgespeel het in gedagte hou, want die lewensomstandighede van die mense in die verhale was drasties anders as ons eie lewensomstandighede. Dit help ons om te verstaan wat die Here vir ons met die verhale wil sê.

 

Hierdie verhaal in Genesis 38 lyk op die oog af so bietjie uit plek uit. Dit onderbreek as te ware die hele verhaal van Josef. Dit is egter nie per ongeluk nie, want dit gee vir ons 'n perspektief oor die karakters wat 'n belangrike rol speel in die groter verhaal van die Bybel.

 

Een van die hoofkarakters in die verhaal is Tamar. Die betekenis van die naam Tamar is 'n palmboom. Eva se naam beteken lewe en net so verwys Tamar ook na lewe. Palmbome gee koelte en dit kom gewoonlik voor by lewendgewende waterbronne in die woestyn. Verder dra die palmbome in daardie wêreld ook dadels wat weereens wys op die lewensgewende aard daarvan. Kos en water verseker oorlewing in die dorre woestyn.

 

Die verhaal begin met 'n vertelling van Juda wat weggetrek het en 'n Kananitiese vrou geneem het. Hulle het drie seuns gehad ml Er, Onan en Sela. Juda het een van die Kananitiese meisies, genaamd Tamar gekry as vrou vir sy oudste seun. Die gebruik in daardie tyd was dat huwelike deur die vaders in die gesinne gereël is, gewoonlik om 'n strategiese verbintenis tussen die twee gesinne te smee.

 

Ons hoor in die verhaal dat Er 'n slegte man was in die oë van die Here en dat Here hom laat sterf het sonder dat ons enige besonderhede ontvang oor wat die aard van sy slegte dade was.

 

Nou kom ons by 'n belangrike beginsel wat ons moet verstaan om te begryp wat hierdie verhaal vir ons vertel. Dis die beginsel van die swaershuwelik, wat ook as die leviraatshuwelik bekend staan. Dit kom daarop neer dat wanneer ’n getroude man kinderloos sterf, sy broer ’n kind by die kinderlose weduwee moet verwek. Hierdie kind word beskou as die seun van die afgestorwe man, dra sy naam, verkry sy regte en besittings en dien as sekuriteit vir sy ma, want ’n vrou het destyds nie regsbevoegdheid gehad sonder bystand van haar pa, broer, man of seun nie. 'n Weduwee wat nie seuns gehad het nie was absoluut sonder heenkome uitgelewer aan die genade van die samelewing.

 

Dit is dan die rede waarom Juda sy tweede oudste seun Onan aan Tamar gegee het as haar man in die plek van Er. Onan wou egter nie kinders vir sy afgestorwe broer verwek nie omdat dit sy erfdeel sou verklein. Daarom het hy seker gemaak dat hy nie kinders by Tamar verwek nie.

 

Dit het beteken dat hy Tamar in 'n baie slegte posisie geplaas het omdat hy haar daardeur van haar sekuriteit beroof het. Dit was ook verkeerd in die oë van die Here en daarom het Hy ook vir Onan laat sterf.

 

Volgens die wet van die swaershuwelik was dit dus nou Juda se jongste Sela se plig om seuns vir sy broers by Tamar te verwek. Juda het heimlik die skuld vir sy oudste twee seuns se dood op Tamar geplaas en daarom dink hy 'n verskoning uit. Hy stuur Tamar as weduwee terug na haar vader toe met die belofte dat hy haar sal laat gaan haal wanneer Sela oud genoeg is.

 

As weduwee mag Tamar nie 'n ander man geneem het nie, want sy moes vir Sela wag. Juda het egter geen intensie gehad om sy belofte na te kom nie! Daarmee het hy 'n groot onreg teenoor Tamar gepleeg. Hy het haar van alle moontlikhede ontneem om sekuriteit vir die toekoms te bekom.

Ons moet mooi verstaan hoe kwesbaar Tamar in hierdie verhaal was. Sy het nie 'n keuse gehad in enige van die besluite wat oor haar geneem is nie en sy was absoluut uitgelewer aan die genade van Juda.

 Toe Tamar agterkom dat Juda nie van plan was om sy belofte na te kom nie, het sy 'n desperate plan gemaak. Sy het haar soos 'n prostituut vermom en langs die pad gaan sit waar Juda sou verbykom. Die gevolg is dat sy by Juda swanger geword het.

 

Ons kan nou maklik op hierdie punt vir Tamar veroordeel en dan sal ons ook maar net soos Juda wees wat haar wou laat verbrand. Ons moet verstaan dat haar doelwit nie was om nou maar 'n prostituut te wees nie. Sy het geregtigheid gesoek en sy het dit gedoen volgens die enigste uitweg wat vir haar beskikbaar was. Onthou dat sy as weduwee absoluut uitgelewer was en dat diegene wat haar regte moes beskerm, juis hulle was wat haar van haar regte ontneem het!

 

Beteken dit dat dit wat sy gedoen het geregverdig is? Nee, geliefdes. Ons moet egter raaksien wat die Here vir ons hier wys. Hy wys die dubbelstandaarde wat in daardie samelewing teenwoordig was, uit. Dis dieselfde dubbelstandaarde wat maar nog steeds in ons samelewing ook teenwoordig is.

 

Juda se reaksie toe dit bekend word dat Tamar swanger was, was dat sy verbrand moes word. Dit was 'n straf wat heeltemal buite verband was met die oortreding en tog was die mense bereid om daardie straf te voltrek. Juda wou hier van Tamar en sy verpligtinge teenoor haar ontslae raak en die samelewing het dit goedgekeur! Daar was een standaard vir Tamar en 'n totale ander standaard vir die bevoorregtes in die samelewing.

 

Dit is eers nadat die Tamar die bewysstukke van Juda se aandeel (sy seëlring met die ketting en die kierie) na vore gebring het, dat hy erken het dat hy ook verkeerd gedoen het soos ons in Gen. 38 v 26 hoor:

Juda het dit herken en gesê: “Sy is onskuldig, ek nie! Ek moes my seun Sela aan haar as man gegee het.”

 

Met die vertaling gaan daar van die subtiliteit wat Juda hier gesê het verlore. Juda sê nie hier dat Tamar 100% reg is en dat hy 100% Verkeerd is nie en dat dit wat Tamar gedoen het nou reg is nie. Letterlik staan daar: “Sy is meer reg as ek.” Met ander woorde, sy is skuldig, maar ek is meer skuldig as sy. Hiermee erken Juda dat hy 'n groter aandeel as Tamar gehad het op grond van die onreg wat hy haar aangedoen het.

 

In hierdie verhaal sien ons God se genade. Hierdie episode was 'n draaipunt in Juda se lewe. Juda was die een wat voorgestel het dat Josef as slaaf verkoop word en hy is die een wat die plan deurgevoer het. Later was dit egter hy wat homself as pand aangebied het in die plek van sy jongste broer Benjamin toe hulle in Egipte gaan graan koop het toe Josef (wat hulle op daardie stadium nog nie herken het nie) vir Benjamin terug gehou het.

 

Ons sien ook God se genade in Tamar se lewe raak. Hoe Hy haar as Kananitiese meisie deel van die verbondsvolk gemaak het. Sy het tweeling seuns in die wêreld gebring en uit die nageslag van Peres is Jesus Christus gebore. Tamar is een van vier vroue wat in die geslagsregister van Jesus vermeld word (Vgl. Mat. 1 v 3).

 

Soms lyk dit asof jou lewe in chaos gedompel is soos wat Tamar sin was. Maar binne dit is God se genade aan die werk. God is besig in jou lewe en in Jesus Christus reik Hy ook na jou toe uit. Soms is dit nodig dat daar iets drasties moet gebeur soos dit die geval was met Juda sodat jou lewe ook by 'n keerpunt kan kom.

 

God het vir Juda en Tamar gebruik sodat Jesus Christus gebore kon word, sodat ek en jy ook sy genade in ons lewens kan ervaar. Moenie God se genade eenkant toe stoot nie. Gryp dit met jou geloof in Jesus Christus vas en beleef die vrede wat net by God gevind kan word.

Amen

02 Augustus 2020

Vroue in die Bybel – 01 Eva

Datum: 2 Aug. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Gen. 2 v 18 – 3:24

Teksvers:  Gen. 3 v 20

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni

- volledige erediens 

2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni

- Preek alleen 

Ons begin vandag met 'n reeks preke oor vroue van die Bybel. Vroue word so maklik deur die samelewing as tweederangse burgers met 'n laer status beskou en eenkant toe gestoot. Die fokus in hierdie preek reeks is om vas te stel wat God se bedoeling is met vroue in die samelewing.

Die eerste vrou waarvan ons in die Bybel hoor, is Eva. Eva word dikwels blameer dat dit haar skuld was dat die hele mensdom in sonde gedompel was. Sy het immers vir die slang geluister en van die verbode vrug geëet. Hiermee saam kom die foutiewe gedagte dat die man minder skuldig was aan die sondeval en dat die man derhalwe so bietjie beter as die vrou is.

Wat ons egter moet onthou is dat God die opdrag om nie van die verbode vrug te eet nie vir die man gegee het. Hy was egter absoluut passief in daardie hele episode met slang. Hy het nie 'n woord gesê nie en het daarmee sy plig versaak om sy vrou te beskerm.

Hy kon haar beskerm het, want hy was reg langs haar terwyl die episode met die slang afgespeel het. Ons hoor in Gen. 3 v 6b:

Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.

Sonder om 'n woord te sê, het hy saam met haar geëet aan die verbode vrug. Die waarheid is dat albei ewe skuldig is en mans het geen rede om meerderwaardig teenoor 'n vrou te voel nie.

Wat is die skeppingsdoel van 'n vrou? In Gen. 2 v 18 hoor ons:

Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

God het nie die mens geskep om alleen te wees nie. Hy het die vrou gemaak uit die man se ribbebeen uit. Sy is dus net soos hy, een uit homself. Haar doel is om die man se helper te wees.

Ons moenie die fout maak om te dink dat sy 'n handlanger is nie. Nee sy is sy helper want sonder haar, sal die man nie reggekom het nie. Die Here sê baie duidelik hier dat Hy die vrou gemaak het as die man se gelyke.

Dink so daaraan. Daar is byvoorbeeld 'n trommel wat te groot en swaar is vir een mens om te dra. Daar is dus 'n helper nodig om die trommel te dra. Albei die persone is ewe belangrik in die proses. Die een is nie belangriker as die ander nie en nie een sou sonder die ander regkom om die trommel te dra nie.

Die verbrokkeling in die verhouding tussen man en vrou raak reeds sigbaar direk na hul sondeval. Daar tree 'n vreemdheid tussen man en vrou in en hulle probeer dit wegsteek deur vir hulself klere van vyeblare te maak.

Dit was egter tevergeefs, want ons hoor hoe hul verhouding verder verbrokkel wanneer hulle deur God gekonfronteer word. Die man beskuldig sy vrou en hy gooi haar as te ware vir die wolwe. Waar hy vantevore 'n liefdeslied vir haar sing: (“Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek”) beskuldig hy haar en verwys na haar as ‘die vrou.’ Nie meer my vrou nie, maar ‘die vrou!’. Daar is duidelik 'n verwydering tussen hulle.

Uit dit word die verskriklike gevolge van die sonde duidelik sigbaar soos God dit ook aan hulle voorhou wanneer Hy vir die vrou sê: “Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”

Hierdie is nie 'n straf wat God teenoor die vrou uitgespreek het nie. Die straf vir sonde is die dood soos ons Gen. 2 v 17 hoor. God het hier vir haar vertel wat die gevolge van die sonde wat sy en haar man gepleeg het, is, naamlik die sondige oorheersing van vrouens deur mans. Dit is dus die sonde; waarvoor beide die man en die vrou verantwoordelik is; wat veroorsaak dat mans vrouens as minderwaardig beskou en behandel.

Die verdere gevolge is dat die aarde deur hulle toedoen vervloek is en derhalwe het dit nou moeisame arbeid meegebring om 'n bestaan te maak. God se skeppingsopdrag aan die mens was om die aarde te bewoon en dit te bewerk soos ons in Gen. 1 v 28 hoor. Die gevolge van die sonde is dat hierdie arbeid nou in hartverskeurende moeitevolle arbeid verander is.

As die verhaal hier geëindig het, sou dit 'n baie droewige hopelose verhaal gewees het. Maar die verhaal het nie hier geëindig nie. Ten spyte van die donker gebeure van die sondeval in hierdie verhaal, is dit 'n verhaal van hoop. Ons hoor hier hoe groot God se genade is.

In Gen. 3 v 20 hoor ons hoe die vrou nou ook 'n persoonlike naam kry:

Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense.

Ons hoor hier van God se genade, want die naam Eva, beteken lewe. In teenstelling met die swaard van die dood wat oor hulle koppe hang, is daar die hoop van lewe.

God se genade is dat Hy die finaliteit van die doodstraf uitstel. Daar is hoop vir lewe. Die doodstraf is uitgestel totdat Jesus Christus dit in ons plek kom dra het, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan kry en daardeur kan ontsnap van die vloek van die sonde. Mans het dus geen rede om op grond van Gen. 3 v 16 “   Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.” te dink dat hulle beter as vrouens is nie.

Toe Adam die naam Eva, wat hy vir die vrou gegee het, kwalifiseer met: “sy was die moeder van al die mense,” erken hy ook daarmee sy afhanklikheid van Eva vir die voortplanting van 'n nageslag en Eva is ook van Adam afhanklik daarvoor.

Hierin is God se genade ook duidelik sigbaar, want Christus is uit die nageslag wat deur Adam en Eva voortgebring is, gebore.

Buiten die rol as helper en metgesel, gee God ook vir die vrou 'n baie spesiale rol as moeder om te koester. God het bepaal dat die mensdom bestaan uit mans en vrouens en dat 'n man as vader vir sy nageslag sal wees tesame met sy vrou as moeder. Dis die basis van gesonde gesinsverhoudings, die bousteen van die samelewing.

Deur die sonde is dit krom en skeefgetrek, maar Christus het gekom om dit te herstel. Dit is slegs deur jou geloof in Jesus wat mans en vroue hul rol in die samelewing kan vervul soos God dit bedoel het in 'n gesamentlike gelyke verhouding met mekaar in afhanklikheid van God.

Jesus Christus maak dit vir ons moontlik om weg te breek van die gevolge van sonde, omdat Hy die mag daarvan gebreek het aan die kruis en Hy die dood oorwin het deur sy opstanding. In Jesus Christus kan mans en vrouens hulle verhouding met mekaar bou en uitleef soos God dit oorspronklik bedoel het.

Daarom moet die mans hulle vroue liefhê en nie die lewe vir hulle bitter maak nie. Sy is nie 'n vloerlap nie. Vrouens, weet dat God vir julle 'n baie spesiale rol in die lewe bepaal het as jou man se helper en metgesel. Net soos wat 'n mens twee bene nodig het om te loop, het God mans en vrouens geskep as gelyke medewerkers in sy Koninkryk.

Amen