Wys tans plasings met die etiket Helper. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Helper. Wys alle plasings

02 Augustus 2020

Vroue in die Bybel – 01 Eva

Datum: 2 Aug. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Gen. 2 v 18 – 3:24

Teksvers:  Gen. 3 v 20

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni

- volledige erediens 

2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni

- Preek alleen 

Ons begin vandag met 'n reeks preke oor vroue van die Bybel. Vroue word so maklik deur die samelewing as tweederangse burgers met 'n laer status beskou en eenkant toe gestoot. Die fokus in hierdie preek reeks is om vas te stel wat God se bedoeling is met vroue in die samelewing.

Die eerste vrou waarvan ons in die Bybel hoor, is Eva. Eva word dikwels blameer dat dit haar skuld was dat die hele mensdom in sonde gedompel was. Sy het immers vir die slang geluister en van die verbode vrug geëet. Hiermee saam kom die foutiewe gedagte dat die man minder skuldig was aan die sondeval en dat die man derhalwe so bietjie beter as die vrou is.

Wat ons egter moet onthou is dat God die opdrag om nie van die verbode vrug te eet nie vir die man gegee het. Hy was egter absoluut passief in daardie hele episode met slang. Hy het nie 'n woord gesê nie en het daarmee sy plig versaak om sy vrou te beskerm.

Hy kon haar beskerm het, want hy was reg langs haar terwyl die episode met die slang afgespeel het. Ons hoor in Gen. 3 v 6b:

Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.

Sonder om 'n woord te sê, het hy saam met haar geëet aan die verbode vrug. Die waarheid is dat albei ewe skuldig is en mans het geen rede om meerderwaardig teenoor 'n vrou te voel nie.

Wat is die skeppingsdoel van 'n vrou? In Gen. 2 v 18 hoor ons:

Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

God het nie die mens geskep om alleen te wees nie. Hy het die vrou gemaak uit die man se ribbebeen uit. Sy is dus net soos hy, een uit homself. Haar doel is om die man se helper te wees.

Ons moenie die fout maak om te dink dat sy 'n handlanger is nie. Nee sy is sy helper want sonder haar, sal die man nie reggekom het nie. Die Here sê baie duidelik hier dat Hy die vrou gemaak het as die man se gelyke.

Dink so daaraan. Daar is byvoorbeeld 'n trommel wat te groot en swaar is vir een mens om te dra. Daar is dus 'n helper nodig om die trommel te dra. Albei die persone is ewe belangrik in die proses. Die een is nie belangriker as die ander nie en nie een sou sonder die ander regkom om die trommel te dra nie.

Die verbrokkeling in die verhouding tussen man en vrou raak reeds sigbaar direk na hul sondeval. Daar tree 'n vreemdheid tussen man en vrou in en hulle probeer dit wegsteek deur vir hulself klere van vyeblare te maak.

Dit was egter tevergeefs, want ons hoor hoe hul verhouding verder verbrokkel wanneer hulle deur God gekonfronteer word. Die man beskuldig sy vrou en hy gooi haar as te ware vir die wolwe. Waar hy vantevore 'n liefdeslied vir haar sing: (“Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek”) beskuldig hy haar en verwys na haar as ‘die vrou.’ Nie meer my vrou nie, maar ‘die vrou!’. Daar is duidelik 'n verwydering tussen hulle.

Uit dit word die verskriklike gevolge van die sonde duidelik sigbaar soos God dit ook aan hulle voorhou wanneer Hy vir die vrou sê: “Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”

Hierdie is nie 'n straf wat God teenoor die vrou uitgespreek het nie. Die straf vir sonde is die dood soos ons Gen. 2 v 17 hoor. God het hier vir haar vertel wat die gevolge van die sonde wat sy en haar man gepleeg het, is, naamlik die sondige oorheersing van vrouens deur mans. Dit is dus die sonde; waarvoor beide die man en die vrou verantwoordelik is; wat veroorsaak dat mans vrouens as minderwaardig beskou en behandel.

Die verdere gevolge is dat die aarde deur hulle toedoen vervloek is en derhalwe het dit nou moeisame arbeid meegebring om 'n bestaan te maak. God se skeppingsopdrag aan die mens was om die aarde te bewoon en dit te bewerk soos ons in Gen. 1 v 28 hoor. Die gevolge van die sonde is dat hierdie arbeid nou in hartverskeurende moeitevolle arbeid verander is.

As die verhaal hier geëindig het, sou dit 'n baie droewige hopelose verhaal gewees het. Maar die verhaal het nie hier geëindig nie. Ten spyte van die donker gebeure van die sondeval in hierdie verhaal, is dit 'n verhaal van hoop. Ons hoor hier hoe groot God se genade is.

In Gen. 3 v 20 hoor ons hoe die vrou nou ook 'n persoonlike naam kry:

Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense.

Ons hoor hier van God se genade, want die naam Eva, beteken lewe. In teenstelling met die swaard van die dood wat oor hulle koppe hang, is daar die hoop van lewe.

God se genade is dat Hy die finaliteit van die doodstraf uitstel. Daar is hoop vir lewe. Die doodstraf is uitgestel totdat Jesus Christus dit in ons plek kom dra het, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan kry en daardeur kan ontsnap van die vloek van die sonde. Mans het dus geen rede om op grond van Gen. 3 v 16 “   Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.” te dink dat hulle beter as vrouens is nie.

Toe Adam die naam Eva, wat hy vir die vrou gegee het, kwalifiseer met: “sy was die moeder van al die mense,” erken hy ook daarmee sy afhanklikheid van Eva vir die voortplanting van 'n nageslag en Eva is ook van Adam afhanklik daarvoor.

Hierin is God se genade ook duidelik sigbaar, want Christus is uit die nageslag wat deur Adam en Eva voortgebring is, gebore.

Buiten die rol as helper en metgesel, gee God ook vir die vrou 'n baie spesiale rol as moeder om te koester. God het bepaal dat die mensdom bestaan uit mans en vrouens en dat 'n man as vader vir sy nageslag sal wees tesame met sy vrou as moeder. Dis die basis van gesonde gesinsverhoudings, die bousteen van die samelewing.

Deur die sonde is dit krom en skeefgetrek, maar Christus het gekom om dit te herstel. Dit is slegs deur jou geloof in Jesus wat mans en vroue hul rol in die samelewing kan vervul soos God dit bedoel het in 'n gesamentlike gelyke verhouding met mekaar in afhanklikheid van God.

Jesus Christus maak dit vir ons moontlik om weg te breek van die gevolge van sonde, omdat Hy die mag daarvan gebreek het aan die kruis en Hy die dood oorwin het deur sy opstanding. In Jesus Christus kan mans en vrouens hulle verhouding met mekaar bou en uitleef soos God dit oorspronklik bedoel het.

Daarom moet die mans hulle vroue liefhê en nie die lewe vir hulle bitter maak nie. Sy is nie 'n vloerlap nie. Vrouens, weet dat God vir julle 'n baie spesiale rol in die lewe bepaal het as jou man se helper en metgesel. Net soos wat 'n mens twee bene nodig het om te loop, het God mans en vrouens geskep as gelyke medewerkers in sy Koninkryk.

Amen


15 Mei 2016

Die Heilige Gees is altyd by ons as ons Trooster, Helper, Bemoediger en Pleitbesorger.

Joh. 14:15-31 Teksvers Joh. 14:16 & 17a
Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.
Hemelvaart Don 5 Mei 2016 Erediens 8 Mei 2016 GKE



Sing:
Sb 18-6 v1-5
Ps. 119-2 v 5
Ps. 119-2 v 26 & 27
Lied 428 v 1 - 4

Wat beteken Jesus se hemelvaart vir ons? Voor sy hemelvaart het Jesus ’n baie belangrike belofte gemaak soos ons hoor in Joh. 14:18:
“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.
En in Joh. 16:7 hoor ons:
Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.
Jesus se hemelvaart beteken dat die Heilige Gees altyd by ons gaan bly.

In ons teksgedeelte hoor ons wat dit vir ons beteken. Daar hoor ons hoe Jesus sy dissipels voor berei op die gebeure wat binnekort gaan plaasvind. Daar is vier belangrike dinge wat hulle moet weet:
i      Hy moet gekruisig word,
ii     Hy sal opstaan uit die dood,
iii     Hy moet opvaar na sy Vader toe waar Hy aan sy regterhand sal sit as Koning van die heelal en
iv     Hy sal weer terug kom.
In Joh. 14 is Jesus veral besig om sy dissipels op sy Hemelvaart voor te berei. Na drie jaar wat hulle heeltyd saam met Hom was, moet hulle hoor dat hy nie maar saam met hulle gaan wees nie en daarom sê Hy twee keer in Joh. 14:1 & 27 dat hulle nie ontsteld of bang moet wees nie.  In ons teksverse hoor ons waarom hulle nie ontsteld moet wees nie.
Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.

Jesus gaan wel weg, maar in sy plek kom die Heilige Gees om altyd by ons as ons Trooster, Helper, Bemoediger en Pleitbesorger te wees. Die Griekse woord; Parakletos; wat in die 83 vertaling met Voorsorg vertaal is, is moeilik om met ’n enkele woord in Afrikaans te vertaal. In die 33/53 vertaling is dit met Trooster vertaal en in sommige Engelse vertalings word dit met Raadgewer vertaal terwyl ander dit weer as Helper vertaal. Al hierdie vertalings is reg want Parakletos dra al hierdie betekenisse. Verder beteken dit ook Bemoediger, Advokaat, Verdediger.

In die tyd van Jesus was daar ’n duidelike onderskeid tussen die ryk mense en die arm mense. Die ryk mense kon hulself in die samelewing handhaaf want hulle kon regsverteenwoordiging bekostig terwyl die arm mense absoluut uitgelewer was omdat hulle nie kon bekostig om hulle regte te verdedig nie. Daarom het die gebruik ontstaan dat daar ’n “Parakletos” vir hulle aangestel word. So ’n persoon het dan namens die armes opgetree om hulle regte beskerm. Dit is dan ook wat die Heilige Gees vir ons kom doen. Christus het ons nie as weeskinders agter gelaat nie. Hy het die Heilige Gees gestuur om ons te vertroos, te bemoedig, te help en namens ons in te staan by die Vader.

Watter troos hou die wete dat die Heilige Gees altyd by ons bly, vir ons in? Ons vind ons troos in die sekere beloftes wat die Here vir ons in hierdie teksgedeelte gee. Ons hoor dat ons nie as weeskinders agtergelaat sal word nie en dat die Heilige Gees altyd by ons sal bly. Hiermee saam ook die belofte van vrede soos ons hoor in Joh. 14:17
Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.

Dit gee aan ons die sekere wete dat ons nie alleen staan in hierdie wêreld nie. Maak nie saak hoe groot die aanvegtinge is nie, ons weet verseker dat God ons nooit in die steek sal laat nie. Die verskil tussen die ware vrede van God en die wêreldse vrede is die troos dat ons weet dat ons nooit alleen is nie. Die wêreld se troos bestaan uit leë woorde wat jou aanmoedig om jouself te help. Jy moet maar die probleme hanteer en allerlei sinlose selfhelp programme word aan jou voorgehou. Teenoor dit is die ware vrede van God wat jou verseker dat jy nooit alleen staan nie en dat die Heilige Gees jou dra deur die moeilikhede in die lewe.

’n Verdere troos wat die Heilige Gees vir ons inhou, is dat ons Christus sal sien ten spyte daarvan dat Hy nie meer vir die wêreld sigbaar is nie. Die wêreld wil met hul oë sien en met hul hande vat, maar ons sien Jesus deur ons geloofsoë. Die Heilige Gees gee vir ons die geloof wat God vra. Ons glo in die oorwinning en verlossing van Jesus Christus.

Hiermee saam is ook die belofte dat Christus weer sal terugkom. Ons hoef egter nie sy wederkoms te vrees nie, want dit hou geen oordeel in vir diegene wat in Hom glo nie. Die Heilige Gees plant die liefde vir God in elkeen van ons wat glo se harte en daarom is ons verseker van God se liefde soos ons hoor in Joh. 14:23:
“As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.
Elkeen wat in Jesus se soenverdienste aan die kruis en sy opstanding glo hoef nie bang te wees vir God se oordeel nie. Die wat egter nie in Jesus glo nie sal nie die liefde van God ervaar nie, maar wel die volle oordeel van God oor die sonde.

Saam met Christus se verlossing kom daar ook ’n verantwoordelikheid. Ons moet sy opdragte uitvoer soos ons telkemale in ons teksgedeelte hoor (vgl Joh. 14:15; 21; 23). Johannes spel ook baie duidelik uit wat Christus se opdragte is, soos ons hoor in Joh. 13:34:
Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.
en ook in Joh. 15:12
Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.
Hierdie opdrag word weer in Joh. 15:17 herhaal:
Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”
Ons verantwoordelikheid is dat ons mekaar moet liefhê soos wat God ons liefhet. Dit beteken dat ons bereid moet wees om vir mekaar te moet opoffer. Ons idee van liefde is so dikwels dat ek ander sal help solank dit net nie iets van my vra nie. Jesus wys egter vir ons wat ware liefde is. Hy het sy lewe vir ons opgeoffer! Ons kan Jesus se opdrag uitvoer omdat die Heilige Gees in ons woon soos ons ook hoor in Joh. 14:26:
wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

Christus se hemelvaart troos ons omdat ons die Heilige Gees as ons Trooster, Helper, Bemoediger en Pleitbesorger ontvang. Dit beteken dat ons nooit alleen is nie en dat ons daarom deur die krag van die Heilige Gees al die stampe en stote van die lewe kan hanteer, want Hy dra ons deur die swaar tye in die lewe.

Die krag van die Heilige Gees stel ons ook in staat om ons liefde aan God te bewys deurdat ons sy opdrag om mekaar lief te hê, kan nakom. Deur God se liefde wek die Heilige Gees ons op tot ’n nuwe lewe wat Christus deur sy soenverdienste aan die kruis vir ons verdien het. Christus se hemelvaart is ons versekering dat die krag van die Gees ook in ons lewe ’n werklikheid is. Ons deel daarin deur ons geloof in Jesus Christus. Laat ons daarom opnuut weer glo in Jesus se oorwinning en verlossing deur die kruis en opstanding heen.
Amen