Joh. 14:15-31 Teksvers Joh. 14:16 & 17a
Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.
Hemelvaart Don 5 Mei 2016 Erediens 8 Mei 2016 GKE
Sing:
Sb
18-6 v1-5
Ps.
119-2 v 5
Ps.
119-2 v 26 & 27
Lied
428 v 1 - 4
Wat beteken Jesus se
hemelvaart vir ons? Voor sy hemelvaart het Jesus ’n baie belangrike belofte
gemaak soos ons hoor in Joh. 14:18:
“Ek sal
julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.
En in Joh. 16:7 hoor ons:
Dit is
tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die
Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek
Hom na julle toe stuur.
Jesus se hemelvaart
beteken dat die Heilige Gees altyd by ons gaan bly.
In ons teksgedeelte hoor
ons wat dit vir ons beteken. Daar hoor ons hoe Jesus sy dissipels voor berei op
die gebeure wat binnekort gaan plaasvind. Daar is vier belangrike dinge wat
hulle moet weet:
i Hy moet gekruisig word,
ii Hy sal opstaan uit die dood,
iii Hy moet
opvaar na sy Vader toe waar Hy aan sy regterhand sal sit as Koning van die
heelal en
iv Hy sal weer terug kom.
In Joh. 14 is Jesus veral
besig om sy dissipels op sy Hemelvaart voor te berei. Na drie jaar wat hulle
heeltyd saam met Hom was, moet hulle hoor dat hy nie maar saam met hulle gaan
wees nie en daarom sê Hy twee keer in Joh. 14:1 & 27 dat hulle nie ontsteld
of bang moet wees nie. In ons teksverse
hoor ons waarom hulle nie ontsteld moet wees nie.
Ek sal
die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by
julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.
Jesus gaan wel weg, maar
in sy plek kom die Heilige Gees om altyd by ons as ons Trooster, Helper,
Bemoediger en Pleitbesorger te wees. Die Griekse woord; Parakletos; wat in die
83 vertaling met Voorsorg vertaal is, is moeilik om met ’n enkele woord in
Afrikaans te vertaal. In die 33/53 vertaling is dit met Trooster vertaal en in
sommige Engelse vertalings word dit met Raadgewer vertaal terwyl ander dit weer
as Helper vertaal. Al hierdie vertalings is reg want Parakletos dra al hierdie
betekenisse. Verder beteken dit ook Bemoediger, Advokaat, Verdediger.
In die tyd van Jesus was
daar ’n duidelike onderskeid tussen die ryk mense en die arm mense. Die ryk
mense kon hulself in die samelewing handhaaf want hulle kon
regsverteenwoordiging bekostig terwyl die arm mense absoluut uitgelewer was
omdat hulle nie kon bekostig om hulle regte te verdedig nie. Daarom het die
gebruik ontstaan dat daar ’n “Parakletos” vir hulle aangestel word. So ’n
persoon het dan namens die armes opgetree om hulle regte beskerm. Dit is dan
ook wat die Heilige Gees vir ons kom doen. Christus het ons nie as weeskinders
agter gelaat nie. Hy het die Heilige Gees gestuur om ons te vertroos, te
bemoedig, te help en namens ons in te staan by die Vader.
Watter troos hou die wete
dat die Heilige Gees altyd by ons bly, vir ons in? Ons vind ons troos in die sekere
beloftes wat die Here vir ons in hierdie teksgedeelte gee. Ons hoor dat ons nie
as weeskinders agtergelaat sal word nie en dat die Heilige Gees altyd by ons
sal bly. Hiermee saam ook die belofte van vrede soos ons hoor in
Joh. 14:17
Vrede
laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle
gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie,
en julle moet nie bang wees nie.
Dit gee aan ons die sekere
wete dat ons nie alleen staan in hierdie wêreld nie. Maak nie saak hoe groot
die aanvegtinge is nie, ons weet verseker dat God ons nooit in die steek sal
laat nie. Die verskil tussen die ware vrede van God en die wêreldse vrede is
die troos dat ons weet dat ons nooit alleen is nie. Die wêreld se troos bestaan
uit leë woorde wat jou aanmoedig om jouself te help. Jy moet maar die probleme
hanteer en allerlei sinlose selfhelp programme word aan jou voorgehou. Teenoor
dit is die ware vrede van God wat jou verseker dat jy nooit alleen staan nie en
dat die Heilige Gees jou dra deur die moeilikhede in die lewe.
’n Verdere troos wat die
Heilige Gees vir ons inhou, is dat ons Christus sal sien ten spyte daarvan dat
Hy nie meer vir die wêreld sigbaar is nie. Die wêreld wil met hul oë sien en
met hul hande vat, maar ons sien Jesus deur ons geloofsoë. Die Heilige Gees gee
vir ons die geloof wat God vra. Ons glo in die oorwinning en verlossing van
Jesus Christus.
Hiermee saam is ook die
belofte dat Christus weer sal terugkom. Ons hoef egter nie sy wederkoms te
vrees nie, want dit hou geen oordeel in vir diegene wat in Hom glo nie. Die
Heilige Gees plant die liefde vir God in elkeen van ons wat glo se harte en
daarom is ons verseker van God se liefde soos ons hoor in Joh. 14:23:
“As
iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê,
en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.
Elkeen wat in Jesus se
soenverdienste aan die kruis en sy opstanding glo hoef nie bang te wees vir God
se oordeel nie. Die wat egter nie in Jesus glo nie sal nie die liefde van God
ervaar nie, maar wel die volle oordeel van God oor die sonde.
Saam met Christus se
verlossing kom daar ook ’n verantwoordelikheid. Ons moet sy opdragte uitvoer
soos ons telkemale in ons teksgedeelte hoor (vgl Joh. 14:15; 21; 23). Johannes
spel ook baie duidelik uit wat Christus se opdragte is, soos ons hoor in Joh. 13:34:
Ek gee
julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet
julle mekaar ook liefhê.
en ook in Joh. 15:12
Dit is
my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.
Hierdie opdrag word weer
in Joh. 15:17 herhaal:
Dit
beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”
Ons verantwoordelikheid is
dat ons mekaar moet liefhê soos wat God ons liefhet. Dit beteken dat ons bereid
moet wees om vir mekaar te moet opoffer. Ons idee van liefde is so dikwels dat
ek ander sal help solank dit net nie iets van my vra nie. Jesus wys egter vir
ons wat ware liefde is. Hy het sy lewe vir ons opgeoffer! Ons kan Jesus se
opdrag uitvoer omdat die Heilige Gees in ons woon soos ons ook hoor in Joh.
14:26:
wanneer
die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle
alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
Christus se hemelvaart
troos ons omdat ons die Heilige Gees as ons Trooster, Helper, Bemoediger en
Pleitbesorger ontvang. Dit beteken dat ons nooit alleen is nie en dat ons
daarom deur die krag van die Heilige Gees al die stampe en stote van die lewe
kan hanteer, want Hy dra ons deur die swaar tye in die lewe.
Die krag van die Heilige
Gees stel ons ook in staat om ons liefde aan God te bewys deurdat ons sy opdrag
om mekaar lief te hê, kan nakom. Deur God se liefde wek die Heilige Gees ons op
tot ’n nuwe lewe wat Christus deur sy soenverdienste aan die kruis vir ons
verdien het. Christus se hemelvaart is ons versekering dat die krag van die
Gees ook in ons lewe ’n werklikheid is. Ons deel daarin deur ons geloof in
Jesus Christus. Laat ons daarom opnuut weer glo in Jesus se oorwinning en
verlossing deur die kruis en opstanding heen.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking