22
Mei 2016 GKE
Luk
15 v 11-32 tv’e 28-30
sing:
Ps.
111-2 v 1 & 3
Ps.
18-1 v 1
Ps.
42-1 v 1
Sb
2-4 v 1 tot 3
Die gelykenis van die
verlore seun is ’n baie bekende gelykenis. Ons hoor hier van ’n seun wat van sy
vader wegbreek. Hy vra sy erfdeel en gaan dan die wye wêreld in waar hy ’n
wilde lewe van oorvloed en partytjies leef. Nadat hy alles uitgeleef het en sy
mooiweersvriende hom verlaat het kom hy tot inkeer en keer terug na sy
vaderhuis waar sy vader hom vergewe en onvoorwaardelik terugneem. Dis die
gelykenis wat ons vertel van God se onvoorwaardelike liefde vir verlore
sondaars.
Ons kan maklik die fout
maak om al die aandag op hierdie deel van die gelykenis te vestig. Dit is egter
nie die hoof boodskap van hierdie gelykenis nie. Die vertelling van die jongste
seun fokus eintlik die aandag op die gehoorsame ouer broer, want die ouer broer
is net so verlore indien nie nog meer nie as die jonger broer. “Die gelykenis
van twee verlore seuns” sou ’n meer gepaste opskrif vir hierdie gelykenis wees.
Uit die vertelling is dit
duidelik dat die jongste broer verlore was. Ons sien maklik die jonger broers
raak in die lewe. Ons sien egter nie so maklik die verlorenheid van die ouer
broer raak nie, veral omdat ons self diep in ons harte ook ouer broers is!
Selfs jonger broers wat tot bekering gekom het loop ook die gevaar om soos die
ouer broer te word. Dit is die grootste gevaar wat elkeen wat hom of haarself
’n christen noem in die oë staar.
Die ouer broer in hierdie
gelykenis is op die oog af ’n goeie mens. Soos ons in Luk. 15: 29 hoor is hy
hardwerkend en getrou in sy diens. Hy is gehoorsaam en voer die opdragte van
die vader getrou en stiptelik uit. Die probleem lê egter in sy gesindheid. Uit
sy antwoord is dit duidelik dat hy meen dat sy getrouheid en gehoorsaamheid die
vader onder ’n verpligting plaas om hom te beloon daarvoor. Hy is veral kwaad
omdat sy pa sy jonger broer vergewe het. Hy wil vergelding en straf sien en nie
genade nie. Dit is egter straf vir sy broer want hyself lewe mos voorbeeldig.
Hy is so verhard in sy hart dat hy nie meer die jongste seun as sy broer erken
nie. Hy noem hom eerder “hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute
deurgebring het.”
Die probleem met die ouer
broer was dat alhoewel hy naby aan die vader was, het hy nie ’n verhouding met
die vader gehad nie. Hy het sy gehoorsaamheid gebruik as ’n manier om die vader
te manipuleer. Dit is ’n groot gevaar wat ons as gelowiges bedreig. Ons het in
die kerk grootgeword. Ons is godsdienstig. Ons lewe “goeie” lewens. Ons hou nie
wilde partytjies en drink ons dronk nie. Ons slaap nie rond nie.
Ons verval maklik in die
tendens om onsself as goed en die ooglopende sondaars as sleg te tipeer. As ons
van sondaars praat, dan is dit “hulle”. Kyk na daardie dronkaards. Daardie
mense wat homoseksualisme probeer regverdig verdien om in die hel te brand. Ons
eis vergelding en straf en in die proses vergeet ons dat onsself eintlik ook
maar net van genade afhanklik is. Ons is mos goed, God moet daarom ook vir ons
goed wees.
Hoe weet ek of ek aan die
ouer broer sindroom ly? Is daar onvergewensgesindheid by my aanwesig? Ek hou
boek van die kwaad? Ek sal jou vergewe, maar moenie dink ek gaan vergeet wat jy
gedoen het nie! Word ek kwaad wanneer die lewe nie verloop soos ek dit graag
sou wou hê nie? Sien ek net ander se foute raak? Vergelyk ek my “goeie” dade
met ander se sondigheid? Ek skinder darem nie soos so en so nie. Ek woon darem
die eredienste by ens ens.
Ek is baie krities oor
ander mense, veral as dit kom by die manier hoe ons moet aanbid. Ek kom my
godsdienstige verpligtinge uit pligsbesef na en ek ervaar nie werklik enige
vreugde daarin nie. Dit is vir my ’n moeite om eredienste by te woon maar ek
doen dit maar sodat die predikant en ouderling tog net kan sien ek kom ook in
die kerk.
My gebedslewe is maar
droog of bestaan glad nie. Ek kry nie juis tyd om Bybel te lees nie en wanneer
ek bid bestaan my gebed hoofsaaklik uit ’n versoek lysie wat God moet laat
gebeur. Daar is min of geen verwondering oor my belewenis met God nie. Op die
oog af lyk dit of dit goedgaan op godsdienstige vlak, maar dit is eintlik maar
net skyn sonder enige inhoud.
Daar is ’n gebrek aan
sekerheid oor die Vader se liefde. Ek dien God sodat ek nie sy straf hoef te
verduur nie, dit wil sê ek dien Hom omdat ek bang is vir Hom. En op ’n manier
probeer ek eintlik om God met my godsdienstigheid te manipuleer sodat Hy goed
moet wees vir my.
Solank as wat ek nie
werklik besef dat ek God se genade net soveel nodig het as die slegste sondaar
waaraan ek kan dink nie, sal ek steeds ’n ouer broer bly. Dit is waaroor
voorbereiding dan ook gaan dat ek opnuut weer gaan besin hoe nodig ek God het. Dat
ek insien dat ek ten spyte van my “goeie” lewe steeds verlore is as God nie sy
genade vir my gee nie.
Waarom was die oudste seun
nog verder so verontwaardig? Dat sy pa so onverantwoordelik was om die
vetgemaakte kalf te slag. Genade is nie goedkoop nie. Die vader het sy eie
waardigheid eenkant toe gestoot. Hy wat die hoof van die huis was het na die
jongste toe gehardloop, iets wat heeltemal benede die waardigheid van hoof van
huisgesin was in daardie tyd. Hy het die jongste weer ingeneem sodat hy weer
deel gehad het aan al die besittings van die Vader, ten spyte daarvan dat hy sy
deel reeds uitgemors het. Die vader het ook sy waardigheid vir die oudste seun
ingeboet. Hy wat die vader van die huis was het agter die oudste seun aan uit gegaan
en selfs met hom gepleit.
Vergifnis is nie goedkoop
nie. Die een wat vergewe moet die verlies dra van die kwaad wat Hom aangedoen
is. Jesus het sy waardigheid as God eenkant toe gestoot en ’n eenvoudige mens
geword sodat Hy die straf in ons plek kon dra. Hy het met sy lewe geboet sodat
ons kan lewe. Genade is verniet vir die een wat dit ontvang, maar dit is baie
duur vir die een wat dit gee. Met voorbereiding moet ons weer gaan besin wat
dit God gekos het om sy genade na ons toe uit te hou. Ons sal nooit die prys
kan betaal nie en daarom moet enige gedagtes wat ek het dat God my iets skuld
verban word.
Vir die jongste seun
eindig sy ontmoeting met sy vader op ’n hoë noot. Hy ontvang vergifnis en word
weer met die vader herenig. Die vader se ontmoeting met die oudste seun hang
egter in die lug. Wat het hy gedoen na sy vader se pleidooi oor die jongste?
Die vertelling eindig net daar sonder om te sê. Het hy ingegaan na sy vader toe
of het hy buite gebly? Die vraag hang in die lug, want wat gaan ons wat ook
maar net oudste broers is doen? Jesus se uitnodiging staan. “Kom na my toe.”
Wat gaan jy doen? Gaan jy ingaan of gaan jy buite bly?
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking