Wys tans plasings met die etiket ouer broer. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket ouer broer. Wys alle plasings

28 Mei 2016

Die grootste struikelblok wat tussen ons en God staan is ons eie godsdienstigheid.



22 Mei 2016 GKE
Luk 15 v 11-32 tv’e 28-30
sing:
Ps. 111-2 v 1 & 3
Ps. 18-1 v 1
Ps. 42-1 v 1
Sb 2-4 v 1 tot 3

Die gelykenis van die verlore seun is ’n baie bekende gelykenis. Ons hoor hier van ’n seun wat van sy vader wegbreek. Hy vra sy erfdeel en gaan dan die wye wêreld in waar hy ’n wilde lewe van oorvloed en partytjies leef. Nadat hy alles uitgeleef het en sy mooiweersvriende hom verlaat het kom hy tot inkeer en keer terug na sy vaderhuis waar sy vader hom vergewe en onvoorwaardelik terugneem. Dis die gelykenis wat ons vertel van God se onvoorwaardelike liefde vir verlore sondaars.

Ons kan maklik die fout maak om al die aandag op hierdie deel van die gelykenis te vestig. Dit is egter nie die hoof boodskap van hierdie gelykenis nie. Die vertelling van die jongste seun fokus eintlik die aandag op die gehoorsame ouer broer, want die ouer broer is net so verlore indien nie nog meer nie as die jonger broer. “Die gelykenis van twee verlore seuns” sou ’n meer gepaste opskrif vir hierdie gelykenis wees.

Uit die vertelling is dit duidelik dat die jongste broer verlore was. Ons sien maklik die jonger broers raak in die lewe. Ons sien egter nie so maklik die verlorenheid van die ouer broer raak nie, veral omdat ons self diep in ons harte ook ouer broers is! Selfs jonger broers wat tot bekering gekom het loop ook die gevaar om soos die ouer broer te word. Dit is die grootste gevaar wat elkeen wat hom of haarself ’n christen noem in die oë staar.

Die ouer broer in hierdie gelykenis is op die oog af ’n goeie mens. Soos ons in Luk. 15: 29 hoor is hy hardwerkend en getrou in sy diens. Hy is gehoorsaam en voer die opdragte van die vader getrou en stiptelik uit. Die probleem lê egter in sy gesindheid. Uit sy antwoord is dit duidelik dat hy meen dat sy getrouheid en gehoorsaamheid die vader onder ’n verpligting plaas om hom te beloon daarvoor. Hy is veral kwaad omdat sy pa sy jonger broer vergewe het. Hy wil vergelding en straf sien en nie genade nie. Dit is egter straf vir sy broer want hyself lewe mos voorbeeldig. Hy is so verhard in sy hart dat hy nie meer die jongste seun as sy broer erken nie. Hy noem hom eerder “hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het.”

Die probleem met die ouer broer was dat alhoewel hy naby aan die vader was, het hy nie ’n verhouding met die vader gehad nie. Hy het sy gehoorsaamheid gebruik as ’n manier om die vader te manipuleer. Dit is ’n groot gevaar wat ons as gelowiges bedreig. Ons het in die kerk grootgeword. Ons is godsdienstig. Ons lewe “goeie” lewens. Ons hou nie wilde partytjies en drink ons dronk nie. Ons slaap nie rond nie.

Ons verval maklik in die tendens om onsself as goed en die ooglopende sondaars as sleg te tipeer. As ons van sondaars praat, dan is dit “hulle”. Kyk na daardie dronkaards. Daardie mense wat homoseksualisme probeer regverdig verdien om in die hel te brand. Ons eis vergelding en straf en in die proses vergeet ons dat onsself eintlik ook maar net van genade afhanklik is. Ons is mos goed, God moet daarom ook vir ons goed wees.

Hoe weet ek of ek aan die ouer broer sindroom ly? Is daar onvergewensgesindheid by my aanwesig? Ek hou boek van die kwaad? Ek sal jou vergewe, maar moenie dink ek gaan vergeet wat jy gedoen het nie! Word ek kwaad wanneer die lewe nie verloop soos ek dit graag sou wou hê nie? Sien ek net ander se foute raak? Vergelyk ek my “goeie” dade met ander se sondigheid? Ek skinder darem nie soos so en so nie. Ek woon darem die eredienste by ens ens.

Ek is baie krities oor ander mense, veral as dit kom by die manier hoe ons moet aanbid. Ek kom my godsdienstige verpligtinge uit pligsbesef na en ek ervaar nie werklik enige vreugde daarin nie. Dit is vir my ’n moeite om eredienste by te woon maar ek doen dit maar sodat die predikant en ouderling tog net kan sien ek kom ook in die kerk.

My gebedslewe is maar droog of bestaan glad nie. Ek kry nie juis tyd om Bybel te lees nie en wanneer ek bid bestaan my gebed hoofsaaklik uit ’n versoek lysie wat God moet laat gebeur. Daar is min of geen verwondering oor my belewenis met God nie. Op die oog af lyk dit of dit goedgaan op godsdienstige vlak, maar dit is eintlik maar net skyn sonder enige inhoud.

Daar is ’n gebrek aan sekerheid oor die Vader se liefde. Ek dien God sodat ek nie sy straf hoef te verduur nie, dit wil sê ek dien Hom omdat ek bang is vir Hom. En op ’n manier probeer ek eintlik om God met my godsdienstigheid te manipuleer sodat Hy goed moet wees vir my.

Solank as wat ek nie werklik besef dat ek God se genade net soveel nodig het as die slegste sondaar waaraan ek kan dink nie, sal ek steeds ’n ouer broer bly. Dit is waaroor voorbereiding dan ook gaan dat ek opnuut weer gaan besin hoe nodig ek God het. Dat ek insien dat ek ten spyte van my “goeie” lewe steeds verlore is as God nie sy genade vir my gee nie.

Waarom was die oudste seun nog verder so verontwaardig? Dat sy pa so onverantwoordelik was om die vetgemaakte kalf te slag. Genade is nie goedkoop nie. Die vader het sy eie waardigheid eenkant toe gestoot. Hy wat die hoof van die huis was het na die jongste toe gehardloop, iets wat heeltemal benede die waardigheid van hoof van huisgesin was in daardie tyd. Hy het die jongste weer ingeneem sodat hy weer deel gehad het aan al die besittings van die Vader, ten spyte daarvan dat hy sy deel reeds uitgemors het. Die vader het ook sy waardigheid vir die oudste seun ingeboet. Hy wat die vader van die huis was het agter die oudste seun aan uit gegaan en selfs met hom gepleit.

Vergifnis is nie goedkoop nie. Die een wat vergewe moet die verlies dra van die kwaad wat Hom aangedoen is. Jesus het sy waardigheid as God eenkant toe gestoot en ’n eenvoudige mens geword sodat Hy die straf in ons plek kon dra. Hy het met sy lewe geboet sodat ons kan lewe. Genade is verniet vir die een wat dit ontvang, maar dit is baie duur vir die een wat dit gee. Met voorbereiding moet ons weer gaan besin wat dit God gekos het om sy genade na ons toe uit te hou. Ons sal nooit die prys kan betaal nie en daarom moet enige gedagtes wat ek het dat God my iets skuld verban word.
 
Vir die jongste seun eindig sy ontmoeting met sy vader op ’n hoë noot. Hy ontvang vergifnis en word weer met die vader herenig. Die vader se ontmoeting met die oudste seun hang egter in die lug. Wat het hy gedoen na sy vader se pleidooi oor die jongste? Die vertelling eindig net daar sonder om te sê. Het hy ingegaan na sy vader toe of het hy buite gebly? Die vraag hang in die lug, want wat gaan ons wat ook maar net oudste broers is doen? Jesus se uitnodiging staan. “Kom na my toe.” Wat gaan jy doen? Gaan jy ingaan of gaan jy buite bly?

Amen