Wys tans plasings met die etiket Eva. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Eva. Wys alle plasings

06 April 2025

God is die Skepper van die hemel en die aarde en jy is Beeld van God

 



6 Apr 2025

God is die Skepper van die hemel en die aarde en jy is Beeld van God

 

Skriflesing Gen. 1 v 1 tot 2v4 Teksverse Gen. 1v26 & 27

God praat met ons deur sy ewige Woord en in Gen. 1 hoor ons in die eerste plek van God en ons hoor ook `n paar belangrike dinge van die mens wat God geskep het.

1. Wat leer ons in Genesis 1 van God?

Hier hoor ons dat God die oorsprong van alles is en die fokus hier in Genesis 1 is in die eerste plek ten volle op God.

Die Bybel begin nie met `n verduideliking om te bewys dat God bestaan nie. Dit begin net dood eenvoudig met “In die begin het God.......” Hier leer ons dat God is. En dit is ook hoe Hy Homself aan Moses voorstel daar by die brandende braambos in die woestyn. “Ek Is wat Ek Is.” God is nie `n object wat ons kan evalueer en annaliseer nie. Hy is ons Skepper wat ons gemaak het.

As God ons en alles wat daar is geskep het, het dit groot implikasies vir elke mens. As God die Skepper is, kan ons nie maar net met ons lewens aangaan asof Hy nie bestaan nie of dat Hy nie eintlik belangrik is nie. As Hy die Skepper is, dan is elke mens verantwoordbaar teenoor Hom.

Die wêreld sê so maklik dat die Christene se God wat hulle aanbid maar net een is van vele ander godsdienste en gode. Dit is dieselfde probleem waarmee die Israeliete ook geworstel het met al die nasies om hulle se gode. Genesis 1 het vir Israel verseker dat daar net een ware God is en dit verseker ons vandag ook; te midde van al die warboel godsdienste; dat daar net een ware God is.

Die filosofie van die sekulere materialisme konfronteer ons met die gedagte dat daar geen God is nie, maar dit bied nie `n bevredigende antwoord op een van die groot lewensvrae waarmee die mens worstel nie, naamlik “waar kom ons vandaan?”

Volgens hierdie filosofie het alles maar net toevallig ontstaan en die mens toevallig ontwikkel d.m.v. `n ongereguleerde evolusie proses. As dit waar is, dan kan die mens maar net op homself fokus sonder om vir enigeiets of enige iemand anders om te gee. Hierdie denke is so algemeen in die samelewing dat Christene ook daardeur beinvloed word. Daardie selfsugtige neiging wat net op die eie ek fokus.

Teenoor hierdie denke sê God vir ons in sy Woord dat Hy die Skepper is en dat alles nie maar net toevallig ontstaan het nie.

Genesis 1 sê ook vir ons dat God verhewe is bo sy skepping. Ons hoor ook dikwels die vraag: “As God dan alles geskep het, wie of wat het God gemaak?” Dit is egter ‘n onsinnige vraag, want as God alles geskep het, hoe kan Hy gebonde wees aan die reël van oorsaak en gevolg wat inherent deel is van die Skepping? God is nie gebonde aan tyd wat `n begin en `n einde het nie, want Hy het tyd gemaak. God is ewig sonder `n begin of einde.

In die begin het God die hemel en die aarde geskep. In Gen. 2V2 hoor ons dat die skepping woes en leeg was. Daar was nog geen grense, vorm of orde nie. Dan hoor ons hoe God orde uit hierdie chaos voortgebring het. Dit het Hy gedoen deur te praat. In elk van die skeppingsdae hoor ons: “God het gesê.....”

Hieruit leer ons dat God nie `n afsydige veraf God is nie. Daar is ook `n gedagtestroom dat die skepping soos `n horlosie is wat God gemaak het en opgewen het. Daarna het Hy dit gelos om op sy eie voort te gaan sonder Hy daarby betrokke is. Nee, geliefdes, God is nie `n onbetrokke veraf God nie.

God het geskep deur te praat en nadat Hy vir Adam en Eva geskep het, het Hy persoonlik met hulle gepraat. God is persoonlik by sy skepping betrokke. Dit gee vir ons die wonderlike troos dat God in beheer is en dat ons nie maar net aan die wispelturigheid van die noodlot oorgelaat is nie.

Wanneer ons Genesis 1 lees moet ons onthou dat die Bybel nie `n wetenskap handboek is nie. Die primêre doel van die Bybel is om God te openbaar. Wie en wat is God en dit is dan ook wat ons hier Genesis 1 mee begin. Dit is `n tema wat dwarsdeur die Bybel loop en hoe verder mens deur die Bybel vorder hoe beter leer ons God ken.

Die beeld van `n roosknop wat metertyd oopvou is `n goeie vergelyking om dit te verduidelik. Aanvanklik is die roosknop nog styf toegevou in sy groen blaartjies en dit is wat ons hier in Genesis 1 vind.

Dan metertyd soos die roos ontwikkel en oopvou sien ons die volle glorieprag van die roos soos wat dit in al sy kleur en geur ontwikkel. Net so leer ken ons God en sy liefde en genade beter soos wat ons deur die Bybel vorder en dit is `n taak wat `n leeftyd neem om te voltooi. Moet dit nie afskeep nie! Maak tyd in jou lewe om God deur sy ewige Woord te leer ken.

Ons hoor ook hier dat daar net een God is en dit word verder dwarsdeur die Bybel herhaal. Tog is hier reeds in die begin `n voorsmakie dat die saak nie so eenvoudig is nie. Reeds hier in die begin hoor ons iets van die Drie-Eenigheid van God. In Gen. 1v2 hoor ons van die Gees van God wat oor die waters sweef en in Gen. 1 v26 hoor ons hoe God sê: “Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger.”

Weereens is dit nog net die groen roosknop wat ons hier van hoor. Wat dit wel vir ons sê is dat God nie eenvoudig is nie en dat ons Hom nie sommer met ons verstand kan vasvang nie. Op die uiteinde bly die Drie-Eenigheid `n misterie en die beste wat ons kan antwoord op die vraag: “Verstaan jy dit?” is “NEE, maar ek glo dit, want dit is hoe God Homself in sy ewige Woord aan ons openbaar.”

Verder leer Genesis 1 ons dat God goed is. Ten spyte van die lewe wat soms moeilik is, weet dit. God is goed! Nadat Hy alles geskep het, het Hy gerus. Daarmee sê God vir ons dat ons, ons rus net in Hom sal vind.

Samevating: Wat leer ons hier in Genesis 1 van God?

In die eerste plek leer ons dat Hy is. Ons leer dat Hy verhewe is bo sy skepping. Ons leer dat God nie `n veraf afsydige God is nie en ons kry so `n voorsmakie van sy kompleksiteit in terme van sy Drie-Eenigheid. Ons leer ook dat God goed is en dat ons, ons rus alleen in Hom moet vind.

2. Wat leer ons in Genesis 1 van die mens?

Genesis 1 vertel ons ook van `n paar belangrike dinge van ons as mense wat God geskep het.

In Gen. 1v26 & 27 hoor ons dat die mens die hoogtepunt van God se Skepping is:

Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

Ons leer hier dat God die mens as man en vrou geskep het en in Genesis 2 hoor ons hoe man en vrou mekaar aanvul om saam as `n eenheid te funksioneer. God het nie mans geskep wat as vrouens identifiseer nie en ook nie andersom nie. Toe jy as man of vrou gebore is, het God nie `n fout gemaak nie.

Ons leer ook dat God die mens geskep as sy verteenwoordiger om die wêreld namens Hom te bestuur. Dit beteken nie dat die mens nou maar kan maak en breek soos hy wil nie.

Wanneer die eienaar van `n maatskappy `n bestuurder aanstel dan het daardie bestuurder die die verantwoordelikheid om daardie maatskappy tot voordeel van die eienaar te bestuur en dat hy nog steeds verantwoording teenoor die eienaar moet doen.

As verteenwoordiger van God het ons steeds `n verantwoordelikheid teenoor God oor hoe ons hier op aarde dit wat aan God behoort verantwoordelik bestuur.

Die belangrikste is egter dat God die mens na sy beeld geskape het. Dit beteken dat daar `n spesiale band tussen God en die mens is. As beeld draer moet God in jou lewe sigbaar wees. God se liefde, sy omgee moet in jou lewe sigbaar wees.

Hoe doen jy dit? Die beeld van `n spiëel gee `n goeie verduideliking. Jy is soos `n spiëel Wat na die son toe gedraai is wat dan die son se lig reflekteer. As die spiëel nie na die son toe gedraai is nie, kan dit nie die son se lig reflekteer nie. Hoe kan ons regkry om God se liefde en omgee deur ons lewens sigbaar te maak? Ons kan dit alleen regkry deur op Jesus Christus te fokus.

In Kol. 1v15 & 16 hoor ons:

Hy(Jesus) is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.

In Christus het God sigbaar geword. God se onvoorwaardelike liefde en omgee het deur Jesus se offer aan die kruis sigbaar geword.

Weens die sondeval is die beeld van God in die mens skeefgetrek. Ons kan sê dat die spieël van die ware lig weggedraai is. Omdat jy beeld van God is, is dit inherent deel van jou menswees om na God te soek sodat jy in `n verhoeding met Hom kan leef.

Weens die sondeval soek die mens op al die verkeerde plekke na God. In die tyd van Israel het die mense allerlei afgode gehad en vandag nog is daar vele afgode.

Die grootste afgod van ons tyd is egter die eie ek. Net soos Israel so maklik agter Baal aangeloop het, loop ons net so maklik agter die afgod van die eie ek aan, waar ek my eie belange as hoogste prioriteit stel.

Dit is net deur Christus wat ons verlos kan word van die afgode van ons tyd. As beeld van God moet God in jou lewe sigbaar wees. Sy liefde en omgee moet in jou lewe sigbaar wees en dit kan slegs gebeur wanneer jou fokus op Christus is. Jy moet glo dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is.

Geliefdes, ons as die Gereformeerde Kerk Bloemfontein Suidheuwels moet God in ons lewens aan die wêreld sigbaar maak. Dit begin deur ons omgee vir mekaar wat dan oorfloei na omgee vir ons naaste buite die gemeente. Ons kan dit egter net doen wanneer ons, onself aan Jesus Christus vasbind deur geloof en om te begin lewe volgens daardie geloof.

Wat het ons vandag in Genesis 1 geleer?

Ons het geleer dat daar net een God is wat wat alles geskep het en dat Hy persoonlik in ons lewens betroke is. Hy is nie `n afsydige veraf God nie.

Ons het geleer dat God ons na sy beeld geskep het. Maak God in jou lewe sigbaar deur jou geloof in Jesus Christus en leef die liefde wat Hy aan ons betoon het uit.

Jy is beeld van God. Leef dit.

Amen


02 Augustus 2020

Vroue in die Bybel – 01 Eva

Datum: 2 Aug. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Gen. 2 v 18 – 3:24

Teksvers:  Gen. 3 v 20

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni

- volledige erediens 

2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni

- Preek alleen 

Ons begin vandag met 'n reeks preke oor vroue van die Bybel. Vroue word so maklik deur die samelewing as tweederangse burgers met 'n laer status beskou en eenkant toe gestoot. Die fokus in hierdie preek reeks is om vas te stel wat God se bedoeling is met vroue in die samelewing.

Die eerste vrou waarvan ons in die Bybel hoor, is Eva. Eva word dikwels blameer dat dit haar skuld was dat die hele mensdom in sonde gedompel was. Sy het immers vir die slang geluister en van die verbode vrug geëet. Hiermee saam kom die foutiewe gedagte dat die man minder skuldig was aan die sondeval en dat die man derhalwe so bietjie beter as die vrou is.

Wat ons egter moet onthou is dat God die opdrag om nie van die verbode vrug te eet nie vir die man gegee het. Hy was egter absoluut passief in daardie hele episode met slang. Hy het nie 'n woord gesê nie en het daarmee sy plig versaak om sy vrou te beskerm.

Hy kon haar beskerm het, want hy was reg langs haar terwyl die episode met die slang afgespeel het. Ons hoor in Gen. 3 v 6b:

Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.

Sonder om 'n woord te sê, het hy saam met haar geëet aan die verbode vrug. Die waarheid is dat albei ewe skuldig is en mans het geen rede om meerderwaardig teenoor 'n vrou te voel nie.

Wat is die skeppingsdoel van 'n vrou? In Gen. 2 v 18 hoor ons:

Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

God het nie die mens geskep om alleen te wees nie. Hy het die vrou gemaak uit die man se ribbebeen uit. Sy is dus net soos hy, een uit homself. Haar doel is om die man se helper te wees.

Ons moenie die fout maak om te dink dat sy 'n handlanger is nie. Nee sy is sy helper want sonder haar, sal die man nie reggekom het nie. Die Here sê baie duidelik hier dat Hy die vrou gemaak het as die man se gelyke.

Dink so daaraan. Daar is byvoorbeeld 'n trommel wat te groot en swaar is vir een mens om te dra. Daar is dus 'n helper nodig om die trommel te dra. Albei die persone is ewe belangrik in die proses. Die een is nie belangriker as die ander nie en nie een sou sonder die ander regkom om die trommel te dra nie.

Die verbrokkeling in die verhouding tussen man en vrou raak reeds sigbaar direk na hul sondeval. Daar tree 'n vreemdheid tussen man en vrou in en hulle probeer dit wegsteek deur vir hulself klere van vyeblare te maak.

Dit was egter tevergeefs, want ons hoor hoe hul verhouding verder verbrokkel wanneer hulle deur God gekonfronteer word. Die man beskuldig sy vrou en hy gooi haar as te ware vir die wolwe. Waar hy vantevore 'n liefdeslied vir haar sing: (“Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek”) beskuldig hy haar en verwys na haar as ‘die vrou.’ Nie meer my vrou nie, maar ‘die vrou!’. Daar is duidelik 'n verwydering tussen hulle.

Uit dit word die verskriklike gevolge van die sonde duidelik sigbaar soos God dit ook aan hulle voorhou wanneer Hy vir die vrou sê: “Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”

Hierdie is nie 'n straf wat God teenoor die vrou uitgespreek het nie. Die straf vir sonde is die dood soos ons Gen. 2 v 17 hoor. God het hier vir haar vertel wat die gevolge van die sonde wat sy en haar man gepleeg het, is, naamlik die sondige oorheersing van vrouens deur mans. Dit is dus die sonde; waarvoor beide die man en die vrou verantwoordelik is; wat veroorsaak dat mans vrouens as minderwaardig beskou en behandel.

Die verdere gevolge is dat die aarde deur hulle toedoen vervloek is en derhalwe het dit nou moeisame arbeid meegebring om 'n bestaan te maak. God se skeppingsopdrag aan die mens was om die aarde te bewoon en dit te bewerk soos ons in Gen. 1 v 28 hoor. Die gevolge van die sonde is dat hierdie arbeid nou in hartverskeurende moeitevolle arbeid verander is.

As die verhaal hier geëindig het, sou dit 'n baie droewige hopelose verhaal gewees het. Maar die verhaal het nie hier geëindig nie. Ten spyte van die donker gebeure van die sondeval in hierdie verhaal, is dit 'n verhaal van hoop. Ons hoor hier hoe groot God se genade is.

In Gen. 3 v 20 hoor ons hoe die vrou nou ook 'n persoonlike naam kry:

Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense.

Ons hoor hier van God se genade, want die naam Eva, beteken lewe. In teenstelling met die swaard van die dood wat oor hulle koppe hang, is daar die hoop van lewe.

God se genade is dat Hy die finaliteit van die doodstraf uitstel. Daar is hoop vir lewe. Die doodstraf is uitgestel totdat Jesus Christus dit in ons plek kom dra het, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan kry en daardeur kan ontsnap van die vloek van die sonde. Mans het dus geen rede om op grond van Gen. 3 v 16 “   Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.” te dink dat hulle beter as vrouens is nie.

Toe Adam die naam Eva, wat hy vir die vrou gegee het, kwalifiseer met: “sy was die moeder van al die mense,” erken hy ook daarmee sy afhanklikheid van Eva vir die voortplanting van 'n nageslag en Eva is ook van Adam afhanklik daarvoor.

Hierin is God se genade ook duidelik sigbaar, want Christus is uit die nageslag wat deur Adam en Eva voortgebring is, gebore.

Buiten die rol as helper en metgesel, gee God ook vir die vrou 'n baie spesiale rol as moeder om te koester. God het bepaal dat die mensdom bestaan uit mans en vrouens en dat 'n man as vader vir sy nageslag sal wees tesame met sy vrou as moeder. Dis die basis van gesonde gesinsverhoudings, die bousteen van die samelewing.

Deur die sonde is dit krom en skeefgetrek, maar Christus het gekom om dit te herstel. Dit is slegs deur jou geloof in Jesus wat mans en vroue hul rol in die samelewing kan vervul soos God dit bedoel het in 'n gesamentlike gelyke verhouding met mekaar in afhanklikheid van God.

Jesus Christus maak dit vir ons moontlik om weg te breek van die gevolge van sonde, omdat Hy die mag daarvan gebreek het aan die kruis en Hy die dood oorwin het deur sy opstanding. In Jesus Christus kan mans en vrouens hulle verhouding met mekaar bou en uitleef soos God dit oorspronklik bedoel het.

Daarom moet die mans hulle vroue liefhê en nie die lewe vir hulle bitter maak nie. Sy is nie 'n vloerlap nie. Vrouens, weet dat God vir julle 'n baie spesiale rol in die lewe bepaal het as jou man se helper en metgesel. Net soos wat 'n mens twee bene nodig het om te loop, het God mans en vrouens geskep as gelyke medewerkers in sy Koninkryk.

Amen