Gen. 1v1 tot 2v3
(Teksvers Gen 1v1)
Son 30 Des 2018
GKE
Samevatting
Ons
word ryklik getroos deur die wete dat God die almagtige, in beheer is van ons
toekoms en daarom het ons niks te vrees vir die onsekerhede wat die toekoms vir
ons inhou nie.
Woordverkondiging
Die
einde van 2018 is in sig. Dit is ʼn jaar waarin baie dinge oor ons pad gekom
het. Sommige goed en ander minder goed. Een ding wat duidelik uitstaan is God
se genade in ons lewens. Wanneer ons terugkyk dan sien ons hoe Hy ons in die
holte van sy hand gedra het deur die moeilike tye wat oor ons pad gekom het.
2018
is verby en 2019 is op pad. Ons wonder: “wat lê voor ons? Waarheen is op pad? Wat
gaan 2019 vir ons inhou?” As ons so na die omstandighede om ons kyk, dan is
daar inderdaad rede tot kommer.
Wat
gaan gebeur met die grondonteiening sonder vergoeding? Wat hou 2019 se
verkiesing vir ons in? Gaan die elektrisiteitstariewe nog verder styg? Wat gaan
die styging in brandstofpryse wees en met hoeveel gaan die wisselkoers verder
verswak? Die ekonomiese vooruitsigte is onseker. Ons politieke leiers boesem
ook nie juis veel vertroue in nie. Ons leef tans in onseker tye. As daar ’n
storm op die see dreig en die passasiers betwyfel die vermoëns van die
stuurman, dan is daar nie juis veel vertroue in dit wat vir ons voorlê nie.
As
ons so na die uitdagings vir die jaar wat voorlê kyk binne die huidige
omstandighede, dan kan mens nogal angstig voel oor dit wat vir ons voorlê en daarom
gaan ons vanoggend luister na wat God vir ons in Genesis 1 daaroor sê.
Ons
moet versigtig wees om nie die verkeerde vrae te vra wat Genesis nie ten doel
het om te antwoord nie. As ons dit doen, dan hoor ons nie die troosboodskap wat
God in Genesis 1 vir ons gee nie. Genesis 1 het in die eerste plek ten doel om
’n troosboodskap aan Israel te gee wat dikwels groot onsekerhede in die gesig
gestaar het. Israel was ook maar bang vir ’n onseker toekoms in onseker tye. In
Egipte was hulle blootgestel aan onvoorspelbare afgode.
In
Kanaän was daar weer ander afgode en terwyl hulle in Ballingskap was het hulle
kennis gemaak met Marduk die sogenaamde skeppergod van Babilonië. Dink net hoe bang
en onseker Israel moes gevoel het toe hulle met al hierdie afgode gekonfronteer
was wat gedreig het om die God wat hulle aanbid te vervang. Daarom het hulle
die troos van Genesis 1 nodig gehad om hulle te verseker dat daar net Een Ware
God was wat Skepper was van die hemel en die aarde.
Die
eerste hoofstukke in Genesis verskaf die agtergrond van die verhaal wat in die
Bybel ontvou en kan inderdaad as die fondament beskryf word vir dit wat God in
die res van die Bybel aan ons vertel. Hoofstuk een van Genesis dien dan ook as
’n inleiding vir die res van die verhale wat God in Genesis en die res van die
Bybel aan ons vertel. In Genesis 1 hoor ons hoe die Koning van die Heelal deur
sy skeppende Woord sy Koninkryk skep.
In
hierdie eerste hoofstuk in die Bybel hoor ons baie duidelik dat God die
Hoofkarakter in hierdie verhaal is. God skep deur slegs ’n Woord te spreek. Dit
is net God wat iets uit niks kan skep. Wanneer die mens iets maak, dan vorm hy
dit uit materiaal wat reeds bestaan. Daarteenoor is dit net God wat iets uit
niks tot stand bring deur sy skeppende Woord. Israel was gekonfronteer deur ’n
mengelmoes van afgode rondom hulle en daarom moes hulle die troosboodskap hoor:
“Daar is net een ware God wat die hemel en die Aarde uit niks geskep het.”
Ons
word vandag nie meer met die afgode van destyds gekonfronteer nie. Daar is
deesdae ’n groter en meer vreesaanjaende afgod. Die mens en sy eie verstand!
Israel moes aanhoor dat daar ander magtiger gode as die Here God was. Vandag gaan
daar al hoe meer stemme op wat ons probeer oortuig dat daar geen god is nie. Dan
hoor ons dat Godsdiens maar net verbeeldingsvlugte van die mens se verstand is.
Die oorsaak van alles wat ons hier rondom ons sien, word aan die blinde noodlot
toegeskryf.
Wanneer
mens ’n onseker toekoms tegemoet gaan is die blinde noodlot meer vreesaanjaend
as die afgode waarmee Israel gekonfronteer was. Daarom moet ons ook die
troosboodskap hoor wat Israel gehoor het: “Daar
IS ’n Ware God wat die hemel en die aarde uit niks geskep het.” Ons is nie
aan die blinde noodlot uitgelewer nie, want by God is daar GEEN toeval nie! Daarom
hou ons ook vas aan ons belydenis in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus
(vraag en antwoord 28)
28
Vraag: Wat baat dit ons
dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid
onderhou?
Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in
voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat
ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel
dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in
sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.
In
Gen. 1 v 1-3 hoor ons van die skeppingswonder:
1 In die
begin het God die hemel en die aarde geskep.
2 Die aarde
was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees
van God het oor die waters gesweef
3 Toe het
God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.
God
se skeppende Woord is die oorsprong van alles wat ons hier rondom ons sien. God
het die berge, die see, die bome en plante daarbuite geskep. God het die sterre
in die hemel geskep. Niks het maar net toevallig tot stand gekom nie. Uit die
chaos wat daar geheers het, het God orde geskep.
Die
mikrobioloog staan verstom oor hoe fyn beplan die kleinste lewende selletjie is
wat mens net deur ’n kragtige mikroskoop kan waarneem. Die sterrekundige staan
verwonderd oor die fyn balans van die natuurkragte daar buite.
Neem
bv. Swaartekrag wat die swakste natuurkrag is wat aan die mens bekend is. Tog
bepaal swaartekrag in watter posisie die sterre en planete teenoor mekaar lê.
As swaartekrag net ’n onmeetbare klein hoeveelheid sterker of swakker was, dan
was dit onmoontlik vir die heelal om te bestaan en was lewe hier op aarde nie
moontlik nie.
In
alles wat ons in die wêreld en die natuur rondom ons waarneem is dit duidelik dat
daar baie fyn beplanning en ontwerp by betrokke was. God het alles geskep en Hy
is elke dag betrokke by sy skepping.
In
Joh. 1 v 1-5 hoor ons weer dieselfde skeppingstaal van Gen. 1. Hier kry ons ’n
duideliker prentjie van God wat die hemel en die aarde geskep het.
1 In die begin was
die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.
2 Hy was reeds in die
begin by God.
3 Alles het deur Hom
tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand
gekom nie.
4 In Hom was daar
lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.
5 Die lig skyn in die
duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Deur
Jesus Christus het God alles geskep. In Jesus Christus het die Magtige
Skeppergod ’n slaaf geword ter wille van mense sodat die mense God kan ken.
In
Joh. 1 v12-14 hoor ons hoe groot God se genade werklik is.
12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat
in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
13 Hulle is dit nie
van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie,
maar hulle is uit God gebore.
14 Die Woord het mens geword en onder ons kom
woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun
van die Vader het, vol genade en waarheid.
In
Jesus Christus leer ons God op ’n baie intieme en persoonlike vlak ken as ons
Vader.
God
het nie net geskep nie. Hy het alles goed geskep. Ses keer hoor ons dat dit wat
God geskep het goed was.
ü
Die lig was goed
ü
Die droë land was goed
ü
Die plantegroei was goed
ü
Die lig van die son, maan en sterre was
goed
ü
Die visse en die voëls was goed
ü
Die landdiere was goed
En
dan skep God mense en dan hoor ons weer vir ’n sewende keer:
Dit was baie goed.
God
het die mens na sy beeld geskep om namens Hom hier op aarde oor sy skepping te
heers. Alles wat God geskep het, vorm deel van sy Koninkryk. Ons as mense het
nie maar net toevallig deur ’n proses van blinde evolusie ontstaan nie. As dit
waar was, dan het ons ook nie werklik ’n doel gehad nie en sou die lewe
sinneloos gewees het. Nee geliefdes, God het die mens na sy beeld geskep met ’n
baie spesifiek doel om sy skepping namens Hom te bestuur soos ons ook in Gen.
2v15 hoor.
Die Here God het
die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.
Hierin
lê vir ons ’n groot troos wanneer ons vorentoe kyk na die nuwe jaar wat voorlê.
Ons hoef nie bang te wees vir ekonomiese onsekerhede nie. Ons hoef nie bang te
wees vir die onsekerheid wat die toekoms vir ons inhou nie, want God wat alles
geskep het, is in beheer en dit is Hy wat saam met ons op pad is in die jaar
wat voorlê.
Vertrou
op God ons Vader. Hou vas aan die troos dat God die almagtige, in beheer is van
ons toekoms en daarom het ons niks te vrees vir die onsekerhede wat die toekoms
vir ons inhou nie.
Amen