Datum: 30 Aug. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt
Skriflesing: Joh. 1 v 1 - 18
Teksvers: Joh. 1 v 18
Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:
1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni
2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni
Waar kom ons vandaan? Hoekom is ons hier? Wat is die rede
vir my bestaan? Wat word van ons wanneer ons hierdie lewe op aarde verlaat? Dit
is die groot lewensvrae waarvoor elke mens vir hom of haarself antwoorde moet
kry. Het jy al vir jouself 'n antwoord op hierdie vrae?
Die antwoord op hierdie vrae bepaal hoe jy die lewe benader. Dit bepaal hoe jy die lewenskrisisse wat oor jou pad kom hanteer. Inderdaad bepaal dit jou hele lewe en dit bepaal hoe jy die dood benader.
Waar gaan soek jy antwoorde op hierdie vrae? Dwarsdeur die eeue het die mens antwoorde op hierdie vrae gesoek. Filosowe het hulle hele lewe daaraan gewy om antwoorde op hierdie vrae te kry en ten spyte daarvan kon hulle nie bevredigende antwoorde vind nie, want hulle het dit by die verkeerde plek gesoek.
Die enigste plek waar mens sinvolle antwoorde sal vind is by die Bron van alles. Ons leer Hom ken as die enigste ware God wat die hemel en die aarde geskep het soos Hy Homself in sy Woord aan ons openbaar.
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God,
en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom
tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand
gekom nie.
Wat hier baie duidelik gemaak word, is dat daar 'n verhouding tussen die persone van die Goddelike Eenheid is en dat uit dit, daar ook 'n verhouding tussen God en sy skepping is en dit het belangrike implikasies vir die rede en doel vir die mense in God se skepping.
Joh. 1 v 3a: “Alles
het deur Hom tot stand gekom:”
Joh. 1 v 10b: “die
wêreld het deur Hom tot stand gekom”
Die Logos is die rede vir die bestaan van lewe.
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.
Logos verwys na Jesus in wie God mens geword het. In Joh.
1 v 18 word dit duidelik dat Jesus die Seun van God is.
Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die
wêreld toe. Hy wás in die wêreld; die wêreld het deur Hom tot stand gekom; en
tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog
het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo,
het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
Om werklik by die sin en betekenis van hierdie lewe uit
te kom, moet jy glo in die Een wat die wêreld tot stand gebring het en aan dit
lewe gegee het. Jy moet in Jesus Christus glo as jou enigste Verlosser en Saligmaker.
Wat is die sin en betekenis van jou lewe? God het jou geskep om in 'n verhouding met Hom saam te leef, om Hom te ken, dien en lief te hê. Dit gee sin en betekenis in jou lewe. Jou verhouding met God en sy liefde spoel ook oor na jou medemens toe sodat ons ook in ons onderlinge verhoudings in vrede kan saamleef.
Deur jou geloof in Jesus Christus kry jy deel aan dit. Dit gee vir jou die vrymoedigheid om in afhanklikheid van God jou dag tot dag lewe te leef. Nie net in die groot dinge nie, maar ook in die klein dingetjies. Dit gee jou krag om sterk te staan wanneer jou lewe onstuimig raak. Dit help jou om nie moedverlore in hopeloosheid te verval wanneer jy met die dood gekonfronteer word nie.
Moenie die sin en betekenis in jou lewe mis leef nie. Leef
die lewe wat God vir jou uit sy genade gegee het.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking