Wys tans plasings met die etiket betekenis van die lewe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket betekenis van die lewe. Wys alle plasings

30 Augustus 2020

Wat is die sin en betekenis van my lewe?

Datum: 30 Aug. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Joh. 1 v 1 - 18

Teksvers: Joh. 1 v 18

 


Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni

volledige erediens 

2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni

Preek alleen

Waar kom ons vandaan? Hoekom is ons hier? Wat is die rede vir my bestaan? Wat word van ons wanneer ons hierdie lewe op aarde verlaat? Dit is die groot lewensvrae waarvoor elke mens vir hom of haarself antwoorde moet kry. Het jy al vir jouself 'n antwoord op hierdie vrae?

Die antwoord op hierdie vrae bepaal hoe jy die lewe benader. Dit bepaal hoe jy die lewenskrisisse wat oor jou pad kom hanteer. Inderdaad bepaal dit jou hele lewe en dit bepaal hoe jy die dood benader.

Waar gaan soek jy antwoorde op hierdie vrae? Dwarsdeur die eeue het die mens antwoorde op hierdie vrae gesoek. Filosowe het hulle hele lewe daaraan gewy om antwoorde op hierdie vrae te kry en ten spyte daarvan kon hulle nie bevredigende antwoorde vind nie, want hulle het dit by die verkeerde plek gesoek.

Die enigste plek waar mens sinvolle antwoorde sal vind is by die Bron van alles. Ons leer Hom ken as die enigste ware God wat die hemel en die aarde geskep het soos Hy Homself in sy Woord aan ons openbaar.

 Joh. 1 v 1 - 3 neem ons terug na die tydperk voor die skepping:

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.

 Die Skepper was van ewigheid nog altyd daar. Hier word na Hom verwys as die Woord. Hier word ook beklemtoon dat die Woord nie deel van die Skepping is nie en dat die Woord verhewe bo die skepping is.

 Die Woord was by God, maar ook die beklemtoning dat die Woord self ook God is. Dit is duidelik dat hier ook verhoudings ter sprake is en in hierdie gedeelte kom die gedagte van die Goddelike Drie-Eenheid na vore. Nie in volledigheid nie, want hier is nog net twee persone ter sprake. Die Heilige Gees as die derde persoon van die Drie-Eenheid kom later in die boek in hoofstukke 14 tot 16 ter sprake.

Wat hier baie duidelik gemaak word, is dat daar 'n verhouding tussen die persone van die Goddelike Eenheid is en dat uit dit, daar ook 'n verhouding tussen God en sy skepping is en dit het belangrike implikasies vir die rede en doel vir die mense in God se skepping.

 Die Griekse woord wat ons hier as ‘Woord’ vertaal het is ‘Logos’ en dit het 'n wye verskeidenheid van betekenisse soos 'n stelling wat gemaak word, om te praat, woorde, 'n boodskap gebring word, die rede of oorsaak vir iets.

 Om te bepaal watter spesifieke betekenis hier ter sprake is, is die konteks baie belangrik. Uit die konteks van ons teks soos ons in verse 3 en 9 hoor, is dit duidelik dat die betekenis wat hier ter sprake is, verwys na rede of oorsaak vir iets se bestaan.

Joh. 1 v 3a: “Alles het deur Hom tot stand gekom:”

Joh. 1 v 10b: “die wêreld het deur Hom tot stand gekom”

Die Logos is die rede vir die bestaan van lewe.

 Soos wat ons vorder in ons teks word dit duidelik wie die Logos is waarna hier verwys word. In Joh. 1 v 14 hoor ons:

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.

Logos verwys na Jesus in wie God mens geword het. In Joh. 1 v 18 word dit duidelik dat Jesus die Seun van God is.

 God openbaar Homself in die persoon van Jesus Christus. In Jesus leer ons God ken en in Hom leer ons God se liefde en genade ken. In Joh. 1 v 5 hoor ons dat daar duisternis in God se skepping ingekom het. Dit verwys terug na Genesis 3 waar ons van die mens se sonde hoor en hoe die mens teen God se gesag gerebeleer het.

 Die doel van die mens in God se skepping is om in 'n verhouding met Hom te leef, maar nou het daar duisternis gekom wat hierdie verhouding verwring en skeefgetrek het. Jesus is die Lig wat lewe gee en hierdie Lig skyn in die duisternis in en verdryf dit.

 Hierdie duisternis is juis die rede hoekom mense nie verstaan wat hul doel in die lewe is nie omdat hulle van God af wegdraai soos ons Joh. 1 v 9 tot 11 hoor.

Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld; die wêreld het deur Hom tot stand gekom; en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.

 Wanneer jy van God af wegdraai en net vir jouself begin leef, dan verloor die lewe sin en betekenis vir jou. Die duisternis versmoor jou en dit beroof jou van lewe.

 Tog is daar hoop. In Joh. 1 v 12 hoor ons:

Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Om werklik by die sin en betekenis van hierdie lewe uit te kom, moet jy glo in die Een wat die wêreld tot stand gebring het en aan dit lewe gegee het. Jy moet in Jesus Christus glo as jou enigste Verlosser en Saligmaker.

 Waar kom ons vandaan? Hoekom is ons hier? Wat is die rede vir my bestaan? God het jou geskep met die doel om in 'n verhouding met Hom saam te leef. Jy moet Hom dien, ken en liefhê. Jy leer God ken in Jesus Christus.

 Verder aan in die boek Johannes word hierdie inleidende gedagtes meer in detail uitgebrei. Ons leer dat jy deel kry aan die ewige lewe wat nou reeds vir jou beskikbaar is. Jy is nie alleen nie, want die Heilige Gees is met jou en lei jou.

 Ons leer dat hierdie aardse lewe nie al is wat daar is nie. Daar is lewe ander kant die dood. As jy in Jesus glo, wag daar ander kant die dood 'n ewige heerlikheid saam met God wat beter is as wat jy ooit kon droom of dink.

Wat is die sin en betekenis van jou lewe? God het jou geskep om in 'n verhouding met Hom saam te leef, om Hom te ken, dien en lief te hê. Dit gee sin en betekenis in jou lewe. Jou verhouding met God en sy liefde spoel ook oor na jou medemens toe sodat ons ook in ons onderlinge verhoudings in vrede kan saamleef.

Deur jou geloof in Jesus Christus kry jy deel aan dit. Dit gee vir jou die vrymoedigheid om in afhanklikheid van God jou dag tot dag lewe te leef. Nie net in die groot dinge nie, maar ook in die klein dingetjies. Dit gee jou krag om sterk te staan wanneer jou lewe onstuimig raak. Dit help jou om nie moedverlore in hopeloosheid te verval wanneer jy met die dood gekonfronteer word nie. 

Moenie die sin en betekenis in jou lewe mis leef nie. Leef die lewe wat God vir jou uit sy genade gegee het.

Amen