16 Augustus 2020

Vroue in die Bybel – 03 Ragab

 

Skriflesing: Jos.2; 6 v 22 - 25   

Teksvers: Jos. 2 v 11

 

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni

volledige erediens 

2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni

- Preek alleen

Ragab was 'n prostituut. Dit is nogal hoe ons geneig is om mense te onthou. Wie was Ragab nou weer? O, ja. Sy was mos daardie prostituut wat die twee verkenners weggesteek het toe die Israeliete vir Jerigo ingeneem het.

 Wanneer ons dit doen dan plaas ons die fokus op haar verlede en dit wat verkeerd was in haar lewe. En is dit nie hoe ons maar geneig is om na mense te verwys nie? Sy was 'n prostituut. En dan dink ons: “Ek is darem nie so sleg soos sy nie.”

 Die ongemaklike vraag waarmee ons vanoggend gekonfronteer word is: “Was Ragab die prostituut 'n groter sondaar as wat ek is?”

Wanneer die Bybel na Ragab die prostituut verwys, dan is die fokus heeltemal anders. In Heb. 11 ontmoet ons die geloofshelde van die Bybel, byvoorbeeld Noag, Abraham, Dawid om maar 'n paar te noem. Hulle en die ander wat saam met hulle genoem word, is die mense wat die Here met trots na verwys. Ons hoor in Heb. 11 v 16 dat God nie skaam is om hulle God genoem te word nie.

In hierdie lys name (vir wie God nie skaam is om hulle God genoem te word nie), word die naam van Ragab die prostituut ook genoem! Wanneer die Bybel na Ragab as 'n prostituut verwys, is die fokus egter heel anders.

Die Bybel vertel vir ons van haar geloof en God se genade vir haar. Wanneer die Bybel na haar as 'n prostituut verwys, beklemtoon dit God se genade. Dit sê vir ons, sy is een van die geloofshelde vir wie God nie skaam is om haar God genoem te word nie!

 Ragab was inderdaad 'n merkwaardige vrou en die Here het haar verhaal in die Bybel laat opteken omdat Hy daarmee vir ons in 2020 'n belangrike boodskap wil bring.

 Wat het van Ragab so 'n merkwaardige vrou gemaak? Voor ons by die detail van haar verhaal kom, net so 'n bietjie agtergrond geskiedenis van die leefwêreld waarin sy geleef het.

 God het Abraham geroep om in Kanaän te gaan woon en Hy het in sy oudag vir hom 'n seun Isak gegee. Isak het twaalf seuns gehad wat hul broer Josef verkoop het om 'n slaaf in Egipte te word.

 Weens 'n hongersnood in Kanaän het hulle in Egipte gaan woon nadat hulle met hul broer Josef versoen is. Daar het hulle 'n groot volk geword. Soveel so dat die latere Farao bang geword het vir hulle. Dit het meegebring dat hy van hulle slawe gemaak het.

God het hulle gered van die slawerny waaraan die Egiptenare hulle onderwerp het, deur die Egiptenare met plae te tref. Na die tiende plaag, die dood van die eersgeborenes, het Farao die Israeliete laat gaan onder die leierskap van Moses.

 Farao het egter spyt gekry en hy het sy weermag agter die Israeliete aangestuur om hulle weer as slawe terug te bring Egipte toe. God het hulle egter gered toe Hy die Rietsee se waters laat oopgaan het sodat die Israeliete op droë grond daardeur kon gaan. Toe die Egiptenare hulle agterna gesit het, het God die waters weer laat terugkeer en sodoende die hele Egiptiese weermag laat verdrink.

 Daarna het God hulle terug gebring na die beloofde land Kanaän toe. Dieselfde land waarvandaan Isak en sy seuns na Egipte toe vertrek het. Toe hulle na ongeveer 'n maand en 'n half by Kanaän aankom, het Moses twaalf verkenners (onder wie Josua en Kaleb was) uitgestuur om die land te gaan verken.

 Toe hulle terugkom het Josua en Kaleb berig dat hulle die land kan oorneem, maar die ander tien het nie met hulle saamgestem nie en die volk het in ongeloof na die tien verkenners geluister. Hulle het nie geglo dat God die Kananiete in hulle hand sou oorgee nie. Oor hierdie ongeloof het God die volk gestraf deur hulle vir veertig jaar in die woestyn laat rondtrek.

 Gedurende hierdie veertig jaar het die hele geslag (buiten Josua en Kaleb) wat uit Egipte gekom het, uitgesterf. Josua het die leierskap oorgeneem nadat Moses gesterf het, en nou het die Here hulle weer terug gebring na Kanaän toe om die land in te neem.

 Op pad terug Kanaän toe, het konings Sihon en Og van die Amoriete geweier dat die Israeliete deur hulle land trek en die Here het hulle toe in die hand van die Israeliete oorgegee om hulle te verslaan.

 Die verhaal van Ragab wat ons in Josua 2 hoor, begin waar die Israeliete oorkant die Jordaan kamp opgeslaan het om Kanaän binne te val. Die stad Jerigo waarin Ragab gewoon het, het die toegang tot Kanaän vir die Israeliete versper en hulle het hulle gereed gemaak om dit in te neem.

 Jerigo was 'n baie sterk vestingstad met sterk hoë mure wat die stad beskerm het. Ragab se huis was in die stadsmuur naby een van die ingangspoorte met 'n venster na die buitekant van die muur.

 Net soos Moses veertig jaar gelede, het Josua ook verkenners gestuur om inligting in te samel. Josua het egter net twee verkenners gestuur met die opdrag dat hulle inligting veral oor Jerigo moes inwin.

 Ragab het volgens die gebruik in daardie tyd heelwaarskynlik 'n oornagplek bedryf wat dan ook ingesluit het dat sy haar beroep daar bedryf het vir diegene wat daarin belang gestel het. Uit ons teks is dit egter duidelik dat die twee verkenners niks meer as net oornag verblyf daar gaan opsoek het nie. Dit was natuurlik ook die ideale plek om inligting in te samel.

 Die vraag wat hier opkom, is of Josua nodig gehad het om verkenners uit te stuur, veral in die lig van hoe die Here die stadsmure laat inval het nadat die Israeliete sewe dae om die stad marsjeer het? Uit 'n militêre intelligensie oogpunt was die verkenners nie nodig nie.

 Uit die verhaal word dit duidelik dat die redding van Ragab en haar familie die werklike doelwit van die verkenners was. Dit is nie toevallig dat die verkenners in 'n stad van 'n hele paar duisend mense, juis by Ragab opgeland het nie. Die Here het hulle spesifiek na haar toe gestuur, want Hy het haar uitgekies om deel van sy groter raadsplan uit te maak.

 Die twee verkenners het egter nie baie goed daarin geslaag om die stad ongesiens in te kom nie, want kort nadat hulle by Ragab aangekom het, het die koning te wete gekom dat daar verspieders in die stad was en ook waar hulle was.

 Hy het soldate na Ragab toe gestuur met die opdrag dat sy hulle moes uitlewer. Ragab het hulle versteek en die soldate wat na hulle kom soek het op 'n dwaalspoor weggestuur.

 Op hierdie punt van die verhaal wonder mens hoekom sy dit gedoen het? Hoekom het sy vir die vyand kant gekies?

 Die rede hoekom sy dit gedoen het, was omdat sy vreesbevange was. Die nuus oor wat met die Egiptenare by die Rietsee gebeur en ook hoe die Israeliete die Amoriete verslaan het, was algemeen bekend.

 Ragab het verstaan dat die werklike bedreiging nie die Israeliete self was nie. Sy het verstaan dat dit die Israeliete se God was wat aan hulle die oorwinning gegee het en dat Hy ook vir Jerigo in die hande van die Israeliete gaan oorgee.

 Sy het geglo dat die Israeliete se God die enigste ware God is, want volgens haar belydenis in Jos 2 v 11 is hulle God, die Here, die God, bo in die hemel en onder op die aarde.

 Sy het verstaan haar enigste kans op lewe was om op die Here te vertrou en sy het nie toegelaat dat haar vrees haar vertroue in God ondermyn het nie.

 Sy het die verhale oor God en die uitkoms wat Hy vir sy volk gegee het, gehoor en geglo. Haar geloof het haar aangespoor om aksie te neem. Sy het die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat ontkom. Dit is haar geloof wat haar daartoe gebring het om op die Here te vertrou vir uitkoms.

 Ragab het op die Here vertrou om haar lewe te spaar, maar in sy genade het Hy vir haar soveel meer gegee as dit waarvoor sy gevra het. Hy het vir haar die ewige lewe gegee.

 Sy het deel van die uitverkore volk geword. God het vir haar 'n kans gegee op 'n nuwe lewe en sy het dit met albei hande vasgegryp. Nie meer Ragab die prostituut nie, maar nou Ragab die geloofsheld vir wie God nie skaam is om haar God genoem te word nie.

 In die lig daarvan dat twee verkenners wat Ragab versteek het, spesifiek die opdrag gekry het om te verseker dat sy en haar familie gered word, sou ons graag wou hoor dat een van hulle Salmon was. Maar ons weet egter nie wie die verkenners was nie, want die Bybel sê nie vir ons wie hulle was nie.

 Wat die Bybel wel vir ons sê is dat sy met Salmon getrou het nadat sy deel van die verbondsvolk geword het. Hulle het 'n seun genaamd Boas gehad wat met Rut getrou het. Rut en Boas het 'n seun Obed gehad. Obed was die vader van Isai wat die vader van Dawid was. So is dit in die geslagsregister van Jesus opgeteken.

 Uit die nageslag van Ragab is vir ons 'n Verlosser gebore. Die Here het die lewe van Ragab die prostituut verander na meer as wat sy ooit kon hoop of droom.

 Hy kan jou lewe ook verander. Al wat Hy vra is dat jy moet glo soos Ragab geglo het, dat jy op Hom kan vertrou omdat Hy die enigste ware God is. Jy moet glo dat jy die ewige lewe sal verkry op grond daarvan dat Jesus (wat uit die nageslag van Ragab gebore is,) vir jou sy lewe gegee het sodat jy kan lewe.

 Is jy bereid om te glo dat God die enigste ware God is wat sy Seun gestuur het sodat jy kan lewe? Is jy bereid om jou geloof uit te leef? Is jy bereid om op God te vertrou wanneer die lewe vol onsekerhede is?

 Vertrou op God. Glo dat Hy vir jou in Christus die ewige lewe sal gee. Glo dat Hy jou toekoms kan verander, maak nie saak wat in jou verlede lê nie.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking