Wys tans plasings met die etiket geloof. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geloof. Wys alle plasings

10 Mei 2026

Leef deur geloof in verbondenheid met Jesus Christus



 


Lees: 

Kol. 2 Teksverse kol. 2v6&7

Inleiding

Leef deur geloof in verbondenheid met Jesus Christus. Hoe doen mens dit? Waar begin ons en hoe begin ons om in verbondenheid met Jesus Christus te leef?

Waar begin ons?

In Kol 2: 13 sê die Here vir ons waar ons begin:

Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie.

Wat ’n troostelose vooruitsig! Is daar vir ’n dooie enige hoop om vooruit te gaan? Nee, daar is geen hoop nie! Dit is ’n situasie waarin elke mens homself bevind. Hy besef dat hy binne homself geen rus of vrede kan vind nie. In homself vind die mens geen sin en betekenis in die lewe nie en daarom gaan soek die mens dit buite homself.

Die probleem is dat die ons altyd op die verkeerde plek gaan soek. Sommige van ons soek dit in geld en besittings. Dit hou egter geen bevrediging in nie, want mens kan nooit genoeg hê nie. Hoeveel geld en besittings is genoeg? Net nog ’n bietjie meer!

Ander soek dit weer in status en magsposisies in die samelewing. Dit is egter ook leeg sonder inhoud en bring geen bevrediging nie. Die soeke na mag en status laat mens altyd bang en swak voel. Hoe meer mag en status mens het, hoe groter is jou gebrek aan vertroue in mense. Jy vertrou niemand nie en daar is altyd die agterdog dat iemand jou van jou mag wil beroof en daarom soek mens net na al hoe meer mag om hierdie vrees te besweer.

Sommige van ons soek dit in ons uiterlike voorkoms. Vrouens in skoonheid en fietse lyfies en mans in spiere. Ook dit bring geen bevrediging nie. Hoe meer jy skoonheid en voorkoms najaag, hoe meer voel dit of jy lelik en onaantreklik is. Dink maar aan jong meisies wat so fanaties oor gewig raak dat hulle hulself letterlik so uithonger dat dit hul dood kos.

’n Ander plek waar die mens na sin en betekenis in die lewe soek is deur middel van sy intellek. Dit word ’n obsessie dat almal kan sien hoeveel kennis ek het en dit is op daardie kennis wat ek my sekerheid bou.

Ook dit is ’n gejaag na wind. Hoe meer ek my sekerheid in kennis soek, hoe meer voel dit vir my dat ek te min weet en jaag die vrees my dat almal eventueel gaan agterkom dat ek nie werklik soveel kennis het as wat ek voorgee nie.

Die hartseer is dat die mens se soeke na sin en betekenis hom al hoe verder daarvan wegneem. Ten spyte van die mens se beste pogings kan hy dit nie vind nie.

Hoe kan die mens lewend word uit die doodstoestand waarin hy homself gedompel het?

In Kol 2:13b-14 sê die Here vir ons:

God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak.

Deur God se genade en liefde gee Hy aan ons dit wat ons nooit self kan doen of verdien nie. Die mens is dood in sy sonde en kan daarom nie rus en vrede in sy gemoed vind nie.

Hy kan dit egter ook nie buite homself vind nie en daarom gryp God op ’n radikale wyse in. Christus gee sy bestaan op Godgelyke wyse prys deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem soos ons hoor in Fil. 2:5-8:

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Dit wat die mens nie kon doen nie het God self vir die mens kom doen. Hy bring die mens weer by die ware bron van rus en vrede uit naamlik Hyself. Dit is dan ook wat God op ’n sigbare wyse deur middel van die Nagmaal aan ons wys. God die Vader stuur sy Seun wat gewillig die straf vir die sonde in ons plek dra.

God die Heilige Gees wek die mens op uit sy doodsbestaan en gee aan die mens hierdie versoeningswonder. Die proses waardeur Hy dit doen is om aan die mens geloof te gee om daaraan vas te hou. Met Nagmaal versterk God daardie geloof wat Hy aan ons gee sodat ons die nuwe lewe kan leef wat Jesus vir ons verwerf het.

Hoe leef ons die nuwe lewe?

In Kol 2:14b hoor ons hoe Christus met sy soenoffer aan die kruis die mag van die sonde gebreek het:

Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.

Die mag van die sonde is gebreek, maar die mens is so geneig om terug te draai na sy sondige natuur. Die opdrag wat uit Nagmaal voortvloei is daarom ook dat die mens nie moet terugdraai na die valse gode van geld, mag, uiterlike voorkoms of intellek nie.

Moenie na sin en betekenis soek in die nakom van leë godsdienstige rituele nie soos ons hoor in Kol 2:16:

Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie.

Wanneer mens dit doen, dan word ons maar net weer vasgevang in die leegheid van godsdienstige rituele wat net so frustrerend en onbevredigend is as die wêreldse dinge waarin ons voorheen sin en betekenis gesoek het. Dit is ’n leë dop wat geen krag het nie. Godsdienstige rituele is nie die nuwe lewe wat God vir ons gee nie!

Die nuwe lewe wat God vir ons gee behels dat ons die aardse dinge doodmaak wat nog deel van ons lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is soos ons in Kol 3:5 hoor. Die nuwe lewe word geleef deur te breek met die ou sondige natuur soos ons hoor in Kol 3:8-10:

Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God

Slot

Ons kan ons self nie verlos uit die doodsheid van die sonde nie. Dit is alleen God se genade in Jesus Christus wat ons daaruit kan lewend maak. Uit die krag van Jesus Christus se soendood aan die kruis word ons lewend gemaak en kan ons die nuwe lewe leef wat God aan ons gee.

Ons kan dit maar alleen doen wanneer ons deur ons geloof leef in verbondenheid met Jesus Christus. Ons doen dit wanneer ons besef hoe groot ons sonde en ellende is en dat ons slegs deur Jesus Christus daarvan verlos kan word.

Wanneer ons dit doen dan wil ons ook in dankbaarheid die nuwe lewe leef wat God aan ons gee. Soek die sin en betekenis van die lewe in Jesus Christus en leef deur jou geloof in verbondenheid met Jesus Christus.

Amen


16 Augustus 2020

Vroue in die Bybel – 03 Ragab

 

Skriflesing: Jos.2; 6 v 22 - 25   

Teksvers: Jos. 2 v 11

 

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni

volledige erediens 

2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni

- Preek alleen

Ragab was 'n prostituut. Dit is nogal hoe ons geneig is om mense te onthou. Wie was Ragab nou weer? O, ja. Sy was mos daardie prostituut wat die twee verkenners weggesteek het toe die Israeliete vir Jerigo ingeneem het.

 Wanneer ons dit doen dan plaas ons die fokus op haar verlede en dit wat verkeerd was in haar lewe. En is dit nie hoe ons maar geneig is om na mense te verwys nie? Sy was 'n prostituut. En dan dink ons: “Ek is darem nie so sleg soos sy nie.”

 Die ongemaklike vraag waarmee ons vanoggend gekonfronteer word is: “Was Ragab die prostituut 'n groter sondaar as wat ek is?”

Wanneer die Bybel na Ragab die prostituut verwys, dan is die fokus heeltemal anders. In Heb. 11 ontmoet ons die geloofshelde van die Bybel, byvoorbeeld Noag, Abraham, Dawid om maar 'n paar te noem. Hulle en die ander wat saam met hulle genoem word, is die mense wat die Here met trots na verwys. Ons hoor in Heb. 11 v 16 dat God nie skaam is om hulle God genoem te word nie.

In hierdie lys name (vir wie God nie skaam is om hulle God genoem te word nie), word die naam van Ragab die prostituut ook genoem! Wanneer die Bybel na Ragab as 'n prostituut verwys, is die fokus egter heel anders.

Die Bybel vertel vir ons van haar geloof en God se genade vir haar. Wanneer die Bybel na haar as 'n prostituut verwys, beklemtoon dit God se genade. Dit sê vir ons, sy is een van die geloofshelde vir wie God nie skaam is om haar God genoem te word nie!

 Ragab was inderdaad 'n merkwaardige vrou en die Here het haar verhaal in die Bybel laat opteken omdat Hy daarmee vir ons in 2020 'n belangrike boodskap wil bring.

 Wat het van Ragab so 'n merkwaardige vrou gemaak? Voor ons by die detail van haar verhaal kom, net so 'n bietjie agtergrond geskiedenis van die leefwêreld waarin sy geleef het.

 God het Abraham geroep om in Kanaän te gaan woon en Hy het in sy oudag vir hom 'n seun Isak gegee. Isak het twaalf seuns gehad wat hul broer Josef verkoop het om 'n slaaf in Egipte te word.

 Weens 'n hongersnood in Kanaän het hulle in Egipte gaan woon nadat hulle met hul broer Josef versoen is. Daar het hulle 'n groot volk geword. Soveel so dat die latere Farao bang geword het vir hulle. Dit het meegebring dat hy van hulle slawe gemaak het.

God het hulle gered van die slawerny waaraan die Egiptenare hulle onderwerp het, deur die Egiptenare met plae te tref. Na die tiende plaag, die dood van die eersgeborenes, het Farao die Israeliete laat gaan onder die leierskap van Moses.

 Farao het egter spyt gekry en hy het sy weermag agter die Israeliete aangestuur om hulle weer as slawe terug te bring Egipte toe. God het hulle egter gered toe Hy die Rietsee se waters laat oopgaan het sodat die Israeliete op droë grond daardeur kon gaan. Toe die Egiptenare hulle agterna gesit het, het God die waters weer laat terugkeer en sodoende die hele Egiptiese weermag laat verdrink.

 Daarna het God hulle terug gebring na die beloofde land Kanaän toe. Dieselfde land waarvandaan Isak en sy seuns na Egipte toe vertrek het. Toe hulle na ongeveer 'n maand en 'n half by Kanaän aankom, het Moses twaalf verkenners (onder wie Josua en Kaleb was) uitgestuur om die land te gaan verken.

 Toe hulle terugkom het Josua en Kaleb berig dat hulle die land kan oorneem, maar die ander tien het nie met hulle saamgestem nie en die volk het in ongeloof na die tien verkenners geluister. Hulle het nie geglo dat God die Kananiete in hulle hand sou oorgee nie. Oor hierdie ongeloof het God die volk gestraf deur hulle vir veertig jaar in die woestyn laat rondtrek.

 Gedurende hierdie veertig jaar het die hele geslag (buiten Josua en Kaleb) wat uit Egipte gekom het, uitgesterf. Josua het die leierskap oorgeneem nadat Moses gesterf het, en nou het die Here hulle weer terug gebring na Kanaän toe om die land in te neem.

 Op pad terug Kanaän toe, het konings Sihon en Og van die Amoriete geweier dat die Israeliete deur hulle land trek en die Here het hulle toe in die hand van die Israeliete oorgegee om hulle te verslaan.

 Die verhaal van Ragab wat ons in Josua 2 hoor, begin waar die Israeliete oorkant die Jordaan kamp opgeslaan het om Kanaän binne te val. Die stad Jerigo waarin Ragab gewoon het, het die toegang tot Kanaän vir die Israeliete versper en hulle het hulle gereed gemaak om dit in te neem.

 Jerigo was 'n baie sterk vestingstad met sterk hoë mure wat die stad beskerm het. Ragab se huis was in die stadsmuur naby een van die ingangspoorte met 'n venster na die buitekant van die muur.

 Net soos Moses veertig jaar gelede, het Josua ook verkenners gestuur om inligting in te samel. Josua het egter net twee verkenners gestuur met die opdrag dat hulle inligting veral oor Jerigo moes inwin.

 Ragab het volgens die gebruik in daardie tyd heelwaarskynlik 'n oornagplek bedryf wat dan ook ingesluit het dat sy haar beroep daar bedryf het vir diegene wat daarin belang gestel het. Uit ons teks is dit egter duidelik dat die twee verkenners niks meer as net oornag verblyf daar gaan opsoek het nie. Dit was natuurlik ook die ideale plek om inligting in te samel.

 Die vraag wat hier opkom, is of Josua nodig gehad het om verkenners uit te stuur, veral in die lig van hoe die Here die stadsmure laat inval het nadat die Israeliete sewe dae om die stad marsjeer het? Uit 'n militêre intelligensie oogpunt was die verkenners nie nodig nie.

 Uit die verhaal word dit duidelik dat die redding van Ragab en haar familie die werklike doelwit van die verkenners was. Dit is nie toevallig dat die verkenners in 'n stad van 'n hele paar duisend mense, juis by Ragab opgeland het nie. Die Here het hulle spesifiek na haar toe gestuur, want Hy het haar uitgekies om deel van sy groter raadsplan uit te maak.

 Die twee verkenners het egter nie baie goed daarin geslaag om die stad ongesiens in te kom nie, want kort nadat hulle by Ragab aangekom het, het die koning te wete gekom dat daar verspieders in die stad was en ook waar hulle was.

 Hy het soldate na Ragab toe gestuur met die opdrag dat sy hulle moes uitlewer. Ragab het hulle versteek en die soldate wat na hulle kom soek het op 'n dwaalspoor weggestuur.

 Op hierdie punt van die verhaal wonder mens hoekom sy dit gedoen het? Hoekom het sy vir die vyand kant gekies?

 Die rede hoekom sy dit gedoen het, was omdat sy vreesbevange was. Die nuus oor wat met die Egiptenare by die Rietsee gebeur en ook hoe die Israeliete die Amoriete verslaan het, was algemeen bekend.

 Ragab het verstaan dat die werklike bedreiging nie die Israeliete self was nie. Sy het verstaan dat dit die Israeliete se God was wat aan hulle die oorwinning gegee het en dat Hy ook vir Jerigo in die hande van die Israeliete gaan oorgee.

 Sy het geglo dat die Israeliete se God die enigste ware God is, want volgens haar belydenis in Jos 2 v 11 is hulle God, die Here, die God, bo in die hemel en onder op die aarde.

 Sy het verstaan haar enigste kans op lewe was om op die Here te vertrou en sy het nie toegelaat dat haar vrees haar vertroue in God ondermyn het nie.

 Sy het die verhale oor God en die uitkoms wat Hy vir sy volk gegee het, gehoor en geglo. Haar geloof het haar aangespoor om aksie te neem. Sy het die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat ontkom. Dit is haar geloof wat haar daartoe gebring het om op die Here te vertrou vir uitkoms.

 Ragab het op die Here vertrou om haar lewe te spaar, maar in sy genade het Hy vir haar soveel meer gegee as dit waarvoor sy gevra het. Hy het vir haar die ewige lewe gegee.

 Sy het deel van die uitverkore volk geword. God het vir haar 'n kans gegee op 'n nuwe lewe en sy het dit met albei hande vasgegryp. Nie meer Ragab die prostituut nie, maar nou Ragab die geloofsheld vir wie God nie skaam is om haar God genoem te word nie.

 In die lig daarvan dat twee verkenners wat Ragab versteek het, spesifiek die opdrag gekry het om te verseker dat sy en haar familie gered word, sou ons graag wou hoor dat een van hulle Salmon was. Maar ons weet egter nie wie die verkenners was nie, want die Bybel sê nie vir ons wie hulle was nie.

 Wat die Bybel wel vir ons sê is dat sy met Salmon getrou het nadat sy deel van die verbondsvolk geword het. Hulle het 'n seun genaamd Boas gehad wat met Rut getrou het. Rut en Boas het 'n seun Obed gehad. Obed was die vader van Isai wat die vader van Dawid was. So is dit in die geslagsregister van Jesus opgeteken.

 Uit die nageslag van Ragab is vir ons 'n Verlosser gebore. Die Here het die lewe van Ragab die prostituut verander na meer as wat sy ooit kon hoop of droom.

 Hy kan jou lewe ook verander. Al wat Hy vra is dat jy moet glo soos Ragab geglo het, dat jy op Hom kan vertrou omdat Hy die enigste ware God is. Jy moet glo dat jy die ewige lewe sal verkry op grond daarvan dat Jesus (wat uit die nageslag van Ragab gebore is,) vir jou sy lewe gegee het sodat jy kan lewe.

 Is jy bereid om te glo dat God die enigste ware God is wat sy Seun gestuur het sodat jy kan lewe? Is jy bereid om jou geloof uit te leef? Is jy bereid om op God te vertrou wanneer die lewe vol onsekerhede is?

 Vertrou op God. Glo dat Hy vir jou in Christus die ewige lewe sal gee. Glo dat Hy jou toekoms kan verander, maak nie saak wat in jou verlede lê nie.

Amen

22 Maart 2020

Hoe vind jy kalmte binne die gekheid van 'n storm?


Datum: 22 Mar. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni
Skriflesing: Mat. 14 v 22 - 36
Teksvers: Mat. 14 v 27 “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”




Hoe vind jy kalmte binne die gekheid van 'n storm?

Verlede Sondagaand het ons president 'n ramptoestand aangekondig en streng maatreëls aangekondig om te probeer keer dat die virus ongehinderd duisende mense infekteer.

Dit het 'n paniek onder mense laat ontstaan. Sommige mense het die volgende dag die winkels ingevaar en met paniek aankope winkelrakke leeggekoop. Dis inderdaad of mens 'n gees van vreesagtigheid by mense waarneem.

Dit is nie seker hoe hierdie situasie ons lewens gaan beïnvloed nie, maar kenners is dit eens, dit gaan ons lewens drasties verander. Ons kan inderdaad sê dat die Korona storm in Suid-Afrika losgebars het.

Dit is hier waar ons roeping as Christene, as kerk van ons Here intree om ligdraers te wees. Om perspektief te bring binne 'n wêreld wat in chaos gedompel word. Dis ons roeping om hoop te bring aan 'n wêreld wat in donkerte toegevou word. Dis ons roeping om ligdraers te wees.

Hoe doen ons dit wanneer ons self ook benoud is? Met hierdie verhaal van Jesus se dissipels in 'n storm gee die Here vir ons die perspektief hoe ons, verby ons vrees en benoudheid gaan kom, want as jy 'n ligdraer wil wees moet jy eers kalmte en rustigheid in jou eie gemoed vind. Dan kan jy uitgaan in die wêreld en uit jou innerlike vrede hoop en lig in die wêreld indra.

In hierdie verhaal is daar 'n paar dinge waarop ons moet let. Jesus se dissipels het hulself binne in 'n storm bevind wat erg genoeg was om hulle te oorweldig.

Hoekom was hulle binne in hierdie storm? Het hulle iets verkeerd gedoen? Nee, geliefdes. Hulle was binne in hierdie storm omdat Jesus hulle uitgestuur het en hulle Hom gehoorsaam het.

Die storms in jou lewe is nie altyd omdat jy iets verkeerd gedoen het nie. Die Korona virus is nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie. Die siekte waarmee jy geteister word is nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie.

Ons hoor in Mat. 14 v 22 dat Jesus sy dissipels uitgestuur het. Het Hy geweet dat hulle binne in 'n storm gaan beland wanneer hulle wegvaar? Ja, geliefdes Hy het geweet.

Maak dit jou bang dat ons Here jou soms in 'n storm gaan instuur? Maak dit jou bang dat die Here ons binne in hierdie Korona virus storm geplaas het?

Die dissipels het heel nag teen die storm gestoei. Mens kan jou net indink hoe benoud hulle was. Jesus was nie saam met hulle in die boot nie. Beteken dit dat Hy hulle aan hulle eie lot oorgelaat het? Nee, geliefdes. Dit wat daar met die dissipels gebeur het was nog steeds binne God se beheer. Soms lyk dit of God ons binne die chaos van ons lewens in die steek gelaat het. Ons voel nie sy teenwoordigheid, maar Hy is daar. Hy het ons immers belowe dat Hy ons nooit alleen sal laat nie.

Nadat die dissipels die hele nag lank gestoei het, het Jesus met dagbreek die volgende oggend op die see na hulle toe aangeloop gekom. Was hulle bly toe hulle Jesus sien aankom? Nee, geliefdes, hulle het gedink Hy is 'n spook!

Sien jy vir Jesus raak binne die storms wat in jou lewe woed?

Was Jesus verontwaardig dat hulle Hom vir 'n spook aangesien het? Nee, geliefdes. Luister na wat Jesus vir die dissipels sê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Letterlik staan daar “Ek is” wat hier vertaal is met “dit is Ek.”

Dit is hoe God Homself in die Ou Testament aan Moses voorstel by die brandende braambos. “Ek is.” In die Nuwe Testament hoor ons hoe Jesus Homself noem “Ek is.” “Ek is die brood van die lewe. Ek is die Lig van die wêreld. Ek is die ingang na redding. Ek is die Goeie Herder wat na sy skape omsien. Ek is die opstanding en die lewe. Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Ek is die ware Wingerdstok. Julle is in My ingeënt.”

Jesus sê vir sy dissipels “Ek is.” Met ander woorde Hy sê vir hulle, Hy is almagtige God. Sien u raak dat die ewige almagtige God saam met u in die lewensstorm storm is?

Dan kom ons by daardie deel waar Petrus saam met Jesus op die water loop. Petrus het egter nie lank op die water geloop voordat hy begin sink het nie want hy het sy oë van Jesus afgehaal.

Hoekom het Petrus sy oë van Jesus afgehaal? Petrus antwoord Jesus se gerusstelling van “Ek is” met “Here, as dit regtig U is.....” Hoor u die ongeloof in Petrus se reaksie? Hy was nog nie oortuig dat Jesus werklik was wie Hy gesê het Hy is nie. Jesus bevestig Petrus se ongeloof nadat Hy hom gegryp het en hom sê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”  

Dis ongeloof wat maak dat ons in die golwe begin wegsink in die storms in ons lewens. God se genade is dat Hy ons nie maar net aan ons eie lot oorlaat nie. Jesus het Petrus se hand gegryp en hom in die boot in gehelp.

Glo jy dat Jesus die Seun van God is? Glo jy dat Hy aan 'n vervloekte kruishout gesterf het om vir jou sondes te betaal? Glo jy dat Hy die dood oorwin het en nou lewe? Glo jy dat Hy vir jou 'n nuwe lewe gee?

Christene leef vanuit hul geloof. Dit is hoekom Christene in die wêreld ingaan en 'n verskil gaan maak. Dit is hoekom gelowiges op praktiese maniere uitreik na hul naastes in krisis tye soos hierdie deur byvoorbeeld vir die wat afgesonder is en nie uit die huis mag uitgaan nie, te gaan inkopies doen. Dis hoekom gelowiges die nodige voorsorg maatreëls tref sodat hulle nie ander in gevaar stel nie. Christene doen hierdie dinge in geloof en nie uit paniek uit nie.

Geliefdes die verhaal sluit af waar die storm bedaar en die dissipels Jesus erken as Seun van God. Beteken dit dat hierdie storm met die korona virus gaan bedaar? Ja, dit gaan ook verbygaan.

Beteken dit dat dit nou binnekort gaan gebeur? Heel waarskynlik nie. Die dissipels het die hele nag lank in die storm gestoei. Die moontlikheid bestaan dat daar van ons ook deur die virus geïnfekteer gaan word.

Die moontlikheid bestaan dat daar van ons kan sterf as gevolg van die virus. Maar geliefdes selfs as dit sou gebeur hoef ons nie bang te wees nie, want Jesus belowe ons dat selfs die dood ons nie van sy liefde kan skei nie.

Onthou net dat dit steeds God is wat bepaal wanneer ons, ons laaste lewensasem gaan uitblaas. As dit jou tyd is, kan Hy moontlik die virus gebruik om jou te kom haal. As dit nie jou tyd is nie, kan geen virus hoe gevaarlik ook al, jou lewe neem nie, want jou lewe is binne God se hande.

Geliefdes, moenie dat hierdie pandemie u paniekerig en benoud maak nie. God is ook binne hierdie storm teenwoordig. Hou in geloof aan sy beloftes vas. Hou jou oë gerig op Jesus sodat jy nie in die golwe van vrees en wanhoop wegsink nie.
Amen 



23 Februarie 2020

Jou geloof maak jou vry

Datum: 23 Feb. 2020 GKE
Skriflesing:     Gal. 5 v 1 – 26
Teksverse:     Gal. 5 v 5 & 6 & 19 - 22


Wat is die verskil tussen om vry te wees teenoor om 'n slaaf te wees? Maar voordat ons dit beantwoord moet ons net eers uitmaak wat beteken vryheid.

In ons teks verduidelik die Here vir ons wat is ware vryheid en wat is valse vryheid. Valse vryheid kan na een van twee kante toe draai. Aan die een kant beteken dit dat jy nie van iemand afhanklik wil wees nie.

Dit is die probleem wat hier in die gemeentes in Galasië teenwoordig was. Daar was dwaalleraars wat as Judaïste bekend gestaan het. Hulle het geleer dat Christus se genade nie genoeg is nie.

Volgens hulle moes jy buiten Christus se genade die wet ten volle nakom om gered te word. Paulus maak dit egter hier duidelik dat daar nie so iets is soos Christus se genade en jou eie verdienste nie. Dis of die een of die ander. As jy die pad kies om deur eie verdienste gered te word dan verwerp jy Christus se genade. Hulle wou dus vry wees van hul afhanklikheid van Christus af om gered te word.

Met die wet het hulle dan ook bedoel al die reëls en regulasie wat die Joodse rabbi's opgestel het. Daar was meer as 600 sulke reëls en regulasies. Byvoorbeeld, jy mag nie op die Sabbat 'n stok gedra het nie, want dalk net dalk sleep die stok per ongeluk op die grond en maak 'n slootjie wat sou beteken dat geploeg het. Om te ploeg is werk en jy mag nie op die Sabbat werk nie.

Hulle het verder vereis dat jy besny moet word, want dit het jou in die Joodse volk ingelyf wat dan ook beteken het dat jy dan ook verplig was om al hierdie Rabbynse wette moes nakom om gered te word.

Wat ten diepste hier na vore kom is die mens se rebelse opstand teen God. Ons wil onafhanklik wees, dit wil sê ons wil nie van God afhanklik wees nie en dit is hierdie rebelse opstand wat ook by die Judaïste teenwoordig was.

Die ironie hiervan is egter dat in hulle strewe na vryheid deur onafhanklikheid het hulle nie vry geword nie. Hulle het slawe geword van mensgemaakte godsdienstige reëls.

Geliefdes, is jy 'n slaaf van mensgemaakte godsdienstige reëls? Die Galasiërs het hulself vasgebind aan die reëls en regulasies van die Joodse Rabbi’s. Dink bietjie daaroor na oor watter wettiese reëls en regulasies jy vir jouself opgemaak het. Is jy 'n slaaf daarvan?

In Gal. 5 v 5 hoor ons wat dit beteken werklik vry te wees.
Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word.
Dit is slegs deur Christus dat jy waarlik vry kan wees.

Jy kan slegs in Christus waarlik vry wees wanneer jy van God se genade afhanklik is. God se genade in Jesus Christus wat sy lewe aan die kruis opgeoffer en wat die dood oorwin het om vir jou 'n nuwe lewe van vryheid te gee. Dit is die Goeie Nuus, die Evangelie van Jesus Christus. Al wat God vra is dat jy dit glo en God se genade is so groot dat die Heilige Gees vir jou die geloof gee wat Hy vra.

Daar is egter ook 'n ander valse vryheid wat Paulus hier uitlig. In Gal. 5 v 13 hoor ons:
Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.
Dit is verkeerde siening van vryheid dat jy kan doen net wat jy wil. Ek is mos gered, dus kan ek nou doen net wat ek wil!

Kom ons gebruik 'n praktiese voorbeeld om te verduidelik hoekom dit verkeerd is om so te dink, want as jy net doen wat jy wil is jy nie vry nie. Jy is nog steeds 'n slaaf.

'n Vis wat in 'n dam swem is vry om te swem waar hy wil in die water. Nou kom die vis in opstand, want hy wil nie gebind wees aan die grense van die water nie. Hy wil vry wees om te doen net wat hy wil. As hy buite die water wil wees, dan wil hy vry wees om buite die water te gaan.

Wat gaan gebeur wanneer daardie vis buite die water gaan? Hy gaan doodgaan! Daar is grense waarby jy nie kan beweeg nie. Die grens waarby jy nie kan beweeg nie is God se liefde. In Christus is jy vry om binne God se liefde te leef.

In Gal. 5 v 13 hoor ons dat ons mekaar in liefde moet dien en
in Gal. 5 v 22 & 23 hoor wat liefde in praktyk is. Hoe dit prakties is in jou dag tot dag lewe tot uiting kom:
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Jy is vry om in vrede met jou medemens saam te leef. Jy is vry om geduldig te wees. Jy is vry om vriendelik te wees. Jy is vry om God se liefde in jou lewe uit te leef en wanneer jy dit doen dan sal ware vreugde en vrede in jou lewe ervaar.

Aan die ander kant is daar geen vryheid in die praktyke van die sondige natuur nie. In Gal. 5 v 15 hoor dat vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid veral 'n probleem in die gemeente was:
Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

Wanneer jy die praktyke van jou sondige natuur uitleef dan sal jy geen vreugde en vrede in jou lewe ervaar nie, want dan is jy maar nog steeds 'n slaaf van jou sondige natuur.

As jy op jou eie onafhanklik van God binne die grense van sy liefde wil bly sal jy vind dat dit onmoontlik is en daarom sê die Here vir ons in Gal. 5 v 16:
Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.

Jy laat jou lewe deur die Gees beheer wanneer jy die evangelie glo soos ons in Gal. 3 v 2 hoor:
Net een ding wil ek van julle weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo?

In Gal. 5 v 6 hoor ons dat net jou geloof in Jesus Christus is wat vir jou ware vryheid gee.
In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

Geliefdes, jou strewe na ware vryheid kan slegs bereik word wanneer jy in 'n lewende verhouding met God het. Dit is alleen moontlik deur jou geloof in die evangelie en jy kan slegs deur Jesus Christus ware vryheid smaak.

Geliefdes, is jy waarlik vry of is jy nog 'n slaaf? Jy is 'n slaaf wanneer jou godsdiens deur jou eie reëls en regulasies beperk word. Wanneer jy meer waarde daaraan heg om godsdienstige rituele en gebruike na te kom as om te glo en vertrou in die genade van Jesus Christus.

Dan sal jy ook vind dat godsdiens vir jou moeite is. Dis moeite om op Sondagoggend op te staan om 'n erediens by te woon. Dis moeite om jou Christenskap uit te leef. In die week is die praktyke van jou sondige natuur baie duideliker sigbaar as die liefdesvrug van die Gees. Dan sal jy ook vind dat jy uitgeput en oorlaai is.

Soek jou ware vryheid in Jesus Christus en aanvaar sy uitnodiging:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Amen

25 Augustus 2019

Van Geloofstwyfel tot Geloofsvertroue


Joh. 20 v 19 – 31
Teksverse: Joh. 20 v 24, 25, 27 & 28


Geloofstwyfel. Dis iets wat elke gelowige op een of ander tyd in sy lewe ervaar. Dit gebeur gewoonlik wanneer jou lewe op 'n laagtepunt is. Wanneer jy op jou kwesbaarste is. Dan kom die ou duiwel en hy probeer jou oortuig dat God nie werklik vir jou omgee nie. Sy grootste aanslag is om jou te probeer oorreed dat God nie werklik bestaan nie.


Die verhaal van Tomas help om jou perspektief te gee wanneer jy in 'n geloofskrisis beland. Ons weet nie veel van Tomas nie en tog is hy alom bekend in die volksmond as ongelowige Tomas. In ons teks ontmoet ons Tomas in 'n tyd wat sy hele wêreld omgekeer is.

Sy Heer en Meester is dood. Vir drie jaar het hy Jesus gevolg as een van sy dissipels en nou het die owerhede Hom as 'n misdadiger gekruisig. Dit het hom en sy mededissipels se leefwêreld omgedop. Hierdie gebeure het Tomas in 'n geloofskrisis laat beland want sy sekerhede en ankers in die lewe is afgestroop. Met Jesus se sterwe het hy al sy hoop verloor.

In ons teks hoor ons hoe Jesus aan sy dissipels verskyn na sy opstanding. Hulle was almal skepties toe die vroue vir hulle kom vertel dat Jesus opgestaan het soos ons ook in
Luk 24 v 22 tot 24 hoor:
22En nou het ’n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ’n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”

Dit is nie net Tomas wat skepties was nie. Al die dissipels was aanvanklik skepties. Hulle was almal oorweldig deur die gebeure van die vorige dae. In ons teks hoor ons wat die verskil maak wanneer mens geloofstwyfel beleef. 'n Ontmoeting met Jesus. Die dissipels wat daar was, is versterk in hul geloof en het die vrede van Jesus ervaar wat Hy oor hul uitgespreek het.

Vir een of ander rede was Tomas egter nie saam met die ander dissipels by daardie eerste ontmoeting nie. Ons weet nie wat die rede was hoekom hy nie daar was nie, maar wat wel duidelik is, is dat hy uitgemis het op die vrede, vertroosting en geloofsversterking wat die ander dissipels van Jesus ontvang het. Hier vind ons 'n baie belangrike rede waarom ons nie ons erediens bywoning moet afskeep nie.

Toe die ander dissipels vir Tomas vertel het van hul ontmoeting met Jesus was hy baie skepties soos ons ook in ons teks in
Joh. 19 v 25 hoor:
25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Die gebrek aan gemeenskap met sy medegelowiges het bygedra tot sy ongeloof, want hy het nie die geloofsversterking en vrede ontvang wat die ander gekry het nie. Wanneer jy jou erediens bywoning afskeep, doen jy dit tot jou eie nadeel.

'n Week later het Jesus weer aan sy dissipels verskyn. Die verwysing na agt dae dui op die manier waarop die Jode getel het. Hulle het by die Sondag van Jesus se eerste verskyning begin tel tot en met die volgende Sondag wat agt dae is. Deesdae sou ons vanaf die Maandag tel wat op die Sondag volg wat dan sewe dae is.

Met hierdie tweede verskyning was Tomas ook teenwoordig en hier hoor ons wat se dramatiese verskil 'n ontmoeting met Jesus in Tomas se lewe gemaak het. Ons hoor ook hier van die deernis en geduld wat die Here met hom gehad het. Jesus verwyt hom nie, maar spreek tot sy ongeloof.

Tomas het gesê: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Jesus kom na Tomas en sê vir hom: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

Tomas was die mees skeptiese van al die dissipels, maar na sy ontmoeting met Jesus spreek hy die kragtige belydenis uit: “My Here en my God!” In hierdie belydenis van Tomas leer ons wat dit beteken om jouself in geloof aan Jesus te bind.

In die eerste plek maak hy dit persoonlik. My Here, My God.” Baie keer haak mense net op 'n intellektuele akademiese vlak met die evangelie vas. Dit is egter eers wanneer jy dit persoonlik maak dat die evangelie jou lewe verander.

In die tweede plek hoor ons hoe Tomas homself aan die soewereiniteit van Jesus onderwerp. “My Here.” Hy erken dat Jesus nou Koning is in sy lewe en dat hy homself aan Jesus onderwerp. Jy kan nie 'n dissipel van Jesus word as jy jouself nie aan sy gesag oor jou lewe onderwerp nie.

In die derde plek erken hy die Godheid van Jesus. “My God.” Jesus is nie maar net 'n goeie voorbeeld vir ons nie. Hy is die tweede persoon van God Drie-enig, Die Skepper van die hemel en die aarde. Die Heerser oor die heelal en sodoende ook oor elke aspek van ons lewens.

Na Tomas se belydenis sê Jesus vir hom:
“Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”
Geliefdes, ons kan Jesus nie meer fisies sien soos wat sy dissipels kon nie. Dit beteken egter nie dat ons nie die geloofsversterking, vertroosting, seën en vrede kan ontvang wat sy dissipels ontvang het nie.

Ons kan Jesus nie vanoggend fisies met ons oë sien nie, maar Hy is hier. Ons sien Hom nie met ons fisiese oë nie, maar wel met ons geloofsoë. Deur sy Woord en die woordverkondiging ontmoet ons Jesus net so seker as wat Jesus se dissipels Hom daardie Sondag ontmoet het 'n week na sy opstanding.

In Joh. 19 v 30 & 31 hoor ons wat die inhoud van die seëninge is wat ons ontvang wanneer ons Jesus ontmoet. Wanneer jy jou geloofsvertroue in Jesus stel ontvang jy die ewige lewe. Die ewige lewe is nie iets wat net daar in die verre toekoms gaan gebeur nie. Dit begin nou reeds. Jy kan nou reeds die vrede beleef van God se teenwoordigheid in jou lewe.

Tydens ons eredienste ontmoet ons Jesus en Hy herinner ons gedurig aan die kruis en sy opstanding wat lewensveranderd in ons lewe werk. Deur ons geloofsoë sien ons die merke van die spykers in sy hande en die spieswond in sy sy.

Wanneer jy begin twyfel in God se liefde, onthou die kruis waar Jesus sy lewe vir jou gegee het. Wanneer jy twyfel en vrees dat jy dalk in die hel mag beland, onthou sy wonde. Kyk deur jou geloofsoë na die merke van die spykers in sy hande en na die spieswond in sy sy en onthou dat Jesus jou deur sy bloed reinig van die sonde wat tussen jou en God staan.

Geliefdes, moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.
Amen.

18 November 2018

Toets jou geloof – Voorbereiding

Son 18 Nov. 2018 GKE

2 Kor. 13 v 1 – 13 Teksvers 2 Kor. 13 v 5

Sb. 12-3 v 1 & 2
Ps. 119-1 v 3
Ps. 25-2 v 1 & 2
Ps. 119-2 v 1 & 27

Wat is die een ding in jou lewe wat belangriker is as enige iets anders? Wat is dit wat absoluut onontbeerlik is? Dit is dat God in jou lewe moet wees. Dat jy met God versoen moet wees en dat God in beheer van jou lewe moet wees, want as jy nie met God versoen is nie, staar die ewige verdoemenis jou in die gesig.

Dit is net ware geloof wat jou met God kan versoen. Daarom is dit belangrik dat jy moet stry vir ware geloof, want as jou geloof nie ware geloof is nie, kan jy nie met God versoen word nie. Ware geloof is die Evangelie van Jesus Christus. Dit is ook belangrik dat nadat jy met God versoen is om Hom beter te leer ken en daarom moet jy groei in geloof.

Jy moet ook jou geloof toets om seker te maak dat jy op die regte pad bly, want as jy op die verkeerde pad is, dan stuur jy op ʼn ramp af. In sy briewe aan die gemeente in Korinte waarsku Paulus hulle om terug te draai van ʼn verkeerde pad waarop hulle beland het.

Alhoewel hierdie brief as 2 Korintiërs bekend staan is daar goeie aanduiding uit die brief self dat dit nie die tweede brief is wat Paulus aan die Korintiërs geskryf het nie. Ons hoor in Handelinge 18 dat Paulus die gemeente in Korinte gestig het en nadat hy daarvandaan weg is het hy berig ontvang van sekere probleme in die gemeente. 1 Korintiërs is die brief wat Paulus aan die gemeente geskryf het om daardie probleme aan te spreek.

Daar was egter heelwat mense in die gemeente wat dit wat Paulus in sy brief geskryf het, verwerp het. Hulle het inderdaad Paulus se gesag verwerp. Daarna het Paulus weer die gemeente besoek, maar dit was nie ʼn goeie besoek nie. Soos ons in 2 Kor. 2:1 hoor het die besoek op droefheid uitgeloop. Na hierdie besoek het Paulus sy “tranebrief” aan hulle geskryf soos ons hoor in 2 Kor. 1:3-4 en 7:8-12 waarna die meeste van die mense wat teen Paulus was hul fout besef het en weer met hom versoen.

Paulus skryf die brief wat ons as 2 Korintiërs ken om die gemeente te verseker van sy liefde en toewyding aan hulle. In hoofstukke 1 tot 7 versterk hy sy versoening met hulle en verseker hy hulle dat hy hulle vergewe het en dat hy nog steeds lief is vir hulle. In hoofstukke 8 en 9 herinner Paulus hulle om geld te spaar vir hulp aan die gemeente in Jerusalem wat in armoede verval het. In hoofstukke 10 tot 13 daag hy diegene uit wat nog steeds teen hom gekant is.

Nadat Paulus weg is by die gemeente weg is, het daar ander leiers gekom wat volgens die Korintiërs meer indrukwekkend was. In vergelyking met Paulus was hulle ryk en indrukwekkende leiers wat baie welsprekend was teenoor Paulus wat arm was, sy lewe dmv handearbeid verdien het. Hy het baie gely en was dikwels haweloos. Verder was hy ook glad nie welsprekend nie. Derhalwe het hulle minder van Paulus gedink en hulself eintlik vir hom geskaam.

Diegene wat teen Paulus was het sy apostelskap bevraagteken en selfs sover gegaan om aanbevelingsbriewe te eis wat sy apostelskap sou bevestig. Nou in hierdie slotgedeelte van die brief verhang Paulus die bordjies. Hy daag hulle uit om hulself te beproef eerder as om heeltyd die vinger na hom toe te wys. Hy roep hul op om die egtheid van hulle verlossing te ondersoek eerder as om die egtheid van Paulus se apostelskap te bevraagteken soos ons hoor in 2 Kor. 13:5
Stel julle self op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.

Hierdie persone was so selfvoldaan dat hulle nie raakgesien het hoe ver hulle van God was nie. Om seker te maak dat ons nie ook so selfvoldaan is soos daardie persone wat teen Paulus was nie, is dit belangrik dat ons hierdie oproep tot selfondersoek ter harte neem. In 1 Kor. 10:12 waarsku Paulus die gemeente:
Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
Dit is ʼn waarskuwing wat ons ook ter harte moet neem.

Voor Nagmaal moet ons selfondersoek doen, maar dit mag nie net tot Nagmaalsvoorbereiding beperk word nie. Dit is iets wat jy aanhoudend moet doen sodat jy kan groei in die geloof en al hoe nader aan God beweeg sodat jy volwasse kan word in jou geloof. Toets jou geloof, want as jou geloof nie die toets deurstaan nie is die gevolge ondenkbaar. Stel jouself op die proef om die ware stand van jou geloof te bepaal deur dit aan ʼn toets te onderwerp. Die proef waarmee jy jouself moet toets is: “ondersoek julleself of julle in die geloof lewe”.

Hoe doen jy hierdie ondersoek? Vra jouself af of
ü jy vas en seker glo dat jy in lewe en in sterwe aan Jesus Christus behoort wat jou met sy bloed van die ewige verdoemenis losgekoop het? Verdiep jouself in God se genade en dink weer na oor sy liefde en alles wat Jesus vir jou opgeoffer het.
ü jy jou hele lewe as ʼn getroue dienaar aan God toewy?
ü jy jouself verloën en buig voor sy wil?
ü jy met alles wat in jou is stry teen die sonde?
ü jy ʼn absolute verlange het om ewig saam met God te wees?

Paulus vra dan verder: “Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie?” Met ander woorde, is Christus se teenwoordigheid in jou lewe sigbaar? Sien mense die vrug van die Gees, nl. liefde in my lewe raak? Word my lewe gekenmerk deur vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing? As Christus nie in my lewe sigbaar is nie het ek nie die toets deurstaan nie.

As ons eerlik is, hoe dikwels is die praktyke van ons sondige natuur eerder nog in ons lewens sigbaar? Hoe dikwels kom vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns in my lewe na vore? Dit is juis dit wat so kenmerkend was in die lewens van diegene wat so gekant was teen Paulus.

Paulus wys ook die valsheid uit van ʼn rede wat dikwels gegee word om sonde te regverdig. in 2 Kor. 13:7b hoor ons:
Ons wil hê dat júlle die goeie doen, selfs al sou dit lyk asof ons die toets nie deurstaan het nie.
Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons sê, “maar almal doen dit of julle doen dit, daarom is daar nie ʼn probleem as ons dit doen nie? Iemand anders se sondige optrede is nie regverdiging dat jyself ook sonde doen nie.

Maar hoe nou gemaak as ek sien dat ek nie die toets deurstaan nie? Christus en sy liefde kan alleen sigbaar in my lewe wees wanneer Christus in my is. Christus kan alleen deur geloof in die evangelie in my wees. Dit is alleen moontlik deur die Heilige Gees en daarom moet ek bly bid vir die Gees, bly bid dat die Heilige Gees vir my wys waar in my lewe ek nie die toets deurstaan nie. Bid dat die Heilige Gees my laat groei in die geloof sodat ek al hoe stywer aan die evangelie van Jesus Christus en God se genade kan vashou.

Ons herdenk DV volgende week weer die Heilige Nagmaal waar die Here vir ons deur die sigbare tekens van brood en wyn wys hoe Christus in jou is. Daarom geliefdes, Stel julle self op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe.

Amen