Wys tans plasings met die etiket geloof. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geloof. Wys alle plasings

11 Oktober 2026

Stry vir suiwer geloof

 


Skriflesing: Judas

Teksverse Judas v 20 – 23

Inleiding

Ons het verlede week gefokus op die ampte van ouderling en diakens. Vandag kyk ons so bietjie wat dit prakties beteken om in die amp van die gelowige te staan. D.w.s. Wat verwag die Here van elke gelowige in sy kerk?

Wanneer is die kerk nie meer relevant nie? Dit is wanneer die kerk maar net soos die wêreld begin lyk. Wanneer Christene hulle identiteit as Christene begin verloor. As daar geen verskil is tussen die kerk en wêreld nie, is die kerk nie meer nodig nie. Nou moet ons mooi onthou, ONS IS die kerk!

Dit wil sê wanneer my lewe maar net dieselfde as die ongelowiges se lewens lyk. Is dit nie die rede hoekom ons kerke al hoe kleiner word nie? Omdat die kerk nie meer relevant in die wêreld is nie omdat die kerk maar net soos die wêreld lyk.

Die prediker het gesê dat daar niks nuuts onder son is nie en hierdie opsig is dit ook waar. Dieselfde probleem waarmee ons vandag sukkel was ook ʼn probleem in die vroeë kerk gewees. In hierdie brief roep Judas die gelowiges op om te stry vir suiwer geloof  om die probleem van die kerk wat net soos die wêreld begin lyk aan te spreek. In Jud. 3 tot 19 word aangetoon hoekom ons moet stry vir ware geloof en dan hoor ons hoe om te stry vir ʼn ware geloof.

Die aanhef van die brief gee vir ons ʼn baie duidelike riglyn oor hoe om die brief te verstaan soos ons hoor in Jud. 1b & 2:

Aan dié vir wie God die Vader geroep het, wat Hy liefhet en deur Jesus Christus bewaar.

Mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed aan julle geskenk word!

In die brief wys Judas die gelowiges op hul roeping om vir die ware geloof te stry, maar voordat hy dit doen wys Judas eers op dit wat die gelowiges van God ontvang.

Net soos die eerste lesers van die brief gee God vir ons ook wat Hy aan hulle gegee het. God het ons geroep. Hy het ons lief en daarom bewaar Hy ons ook. God vra nie meer as wat Hy reeds gegee het nie. As Christen het jy reeds alles wat jy nodig het om as God se kind te kan lewe. Dit is belangrik dat jy moet verstaan dat jy nie moet stry vir die ware geloof om gered te word nie.

God het redding reeds vir ons uit sy liefde en genade gegee. Joh. 3:16:

God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Omdat Hy ons gered het vra Hy van ons om te leef soos kinders van God wat Hy uit die sonde gered het.

Hoekom moet ons stry vir ware geloof?

In Jud. 3-19 verduidelik Judas hoekom ons moet stry vir ware geloof. Die gevaar bestaan altyd dat dwaalleer die kerk ongemerk kan binnedring. Daar was mense wat voorgegee het dat hulle Christene is, maar uit die manier waarop hulle gelewe het, was dit duidelik dat hulle nie aan die ware geloof vasgehou het nie.

Hulle het hul losbandigheid en sonde probeer goedpraat. Dit gebeur vandag maar nog steeds. Mense van binne die kerk probeer die definisie van wat God met die huwelik bedoel het verander. God is die outeur van die huwelik en wanneer jy die huwelik anders benader as wat God bedoel het pleeg jy sonde. Bv. Die wêreld se benadering om eers saam te bly voor die huwelik bevestig word. Dink verder aan die groot debat wat probeer om ʼn huweliksverbintenis van dieselfde geslag te regverdig.

Judas bevestig dat mense wat willens en wetens sondig en aan God ongehoorsaam is, definitief gestraf gaan word deur drie voorbeelde. Die volk Israel wat uit Egipte verlos is, maar wat nie die beloofde land binnegaan het nie. Die engele wat alhoewel hulle rein en heilig geskape is en by God geleef het, teen Hom in opstand gekom het. Die inwoners van Sodom en Gomorra wat so vol sonde was dat die Here hulle van die aarde af verdelg het.

Judas haal ook uit ʼn paar buite Bybelse bronne aan om sy punt te staaf. Daarmee impliseer hy nie dat hierdie buite Bybelse boeke ook in die Bybel moet wees en daarom dieselfde gesag as die Bybel dra nie. Hy gebruik dit net as voorbeelde wat die eerste lesers goed ken om te beklemtoon dat God die goddelose dinge wat mense doen, straf.

Verder haal Judas ook uit die leer van die apostels aan om sy punt verder te bevestig. Een van die dwaalleringe wat vandag ook kop uitsteek is dat die mens niks van God se straf wil weet nie. In hierdie brief hoor ons van die werklikheid van God se straf en dat ons nie op sleeptou geneem moet word deur diegene wat God se straf afmaak as niks en dat sonde daarom nie so erg is nie.

Wat ook duidelik in hierdie brief uitgewys word is dat ons versigtig moet wees om onsself in die posisie van regter en bevelhebber te plaas nie. In Jud. 9 hoor ons:

Nie eens die aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou straf.”

Migael matig homself nie as regter of bevelhebber aan nie, maar erken dat die alleenheerskappy en gesag aan God alleen behoort.

Die plek om te begin is by myself. Dit gaan nie hier alleen oor sedeloosheid nie, maar oor alle gedrag wat die Christen sy identiteit laat verloor en hom/haar soos die wêreld laat lyk. Daar waar die praktyke van die sondige natuur soos bv. onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge ook my lewe teenwoordig is, moet ek teen stry.

Hoe moet ons stry vir ware geloof?

Die manier hoe om hierteen te stry is om die suiwer geloof te bewaar. In Jud. 20-23 hoor ons dan ook presies hoe om dit prakties te doen:

Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee.

Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.

Jou reaksie op vals leraars moet dus veral wees dat jy jou des te meer beywer om ’n intieme persoonlike en lewende verhouding met die Here te hê.  Dit is die beste manier om die invloed van vals leraars te neutraliseer. Jy bou jou eie geloof deur ʼn lewe van gebed en Bybel lees, ʼn lewe van liefde en ʼn lewe van verwagting.

Jy lewe ʼn lewe van gebed deur ʼn biddende Christen te wees wat in alles in afhanklikheid van God wil lewe. Die troos is wanneer jy deur die krag van die Heilige Gees bid is dat jy kan weet dat al is jou gebed ook krom en skeef, die Heilige Gees sal sorg dat jou diepste behoeftes perfek by God gehoor sal word. Jy kan van twee dinge seker wees. God hoor jou (deur die Heilige Gees) en God verhoor jou (deur Jesus Christus)! Jy luister na God se stem wanneer jy Bybel lees.

Jy lewe ʼn lewe van liefde wanneer jy self eers goed verstaan wat die Bybelse liefde is waarvan Judas hier praat soos ons ook in 1 Joh. 4 v 10 hoor:

Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Ware liefde is selfopofferend. Verdiep jou daarin dat jy God se liefde onverdiend uit genade ontvang en tree dan onselfsugtig, dienend en opofferend op teenoor jou naaste.

Jy lewe ʼn lewe van verwagting wanneer jy met opgewondenheid die ewige lewe wat God vir jou gegee het, omhels met die wete dat jy nou reeds die teenwoordigheid van God in jou lewe kan ervaar en dat jy daarom ook met opgewondenheid uitsien na die terugkeer van Jesus. Moedig jouself aan om getrou en gelowig aan die werk in die koninkryk van die hemel te bly.

Jy moet egter nie net na binne gefokus wees nie. Jy moet ook uitreik na ander. Dit is egter belangrik dat jou eie verhouding met God reg is sodat jy na ander kan uitreik. Jy reik uit na ander deur jou oor hulle te ontferm, nie te swyg oor dit wat verkeerd is nie.

Jy ontferm jou oor ander deur om te gee omdat jy besef hoe God Hom oor jou ontferm het en dat Hy jou ook as instrument gebruik om Hom oor ander te ontferm. Help mense wat twyfel deur hulle met woord en daad te wys dat ʼn lewe wat volledig op God vertrou moontlik is en dat dit tot vrede en blydskap lei.

Verder moet jy ook nie swyg oor dit wat verkeerd is nie. Dit is soms nodig om ernstig met ander oor hul sonde te praat. Dit sal egter eers vrugte afwerp nadat jy jou opreg oor hulle ontferm het en vir hulle gewys het dat jy regtig omgee. Verder is dit ook belangrik dat jy nie as regter optree wanneer jy dit doen nie.

Jy moet egter ook versigtig wees deur te onthou dat sonde ʼn aansteeklike siekte is. Paulus waarsku ons dan ook in 1 Kor.10v12:

Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.

Bly daarom altyd bewus van die feit dat dit nie jy is wat mense tot bekering bring nie, maar dat dit die Heilige Gees is wat dit doen. God gebruik jou bloot as boodskapper en instrument. Moet dus nie nalaat om die evangelie te verkondig wanneer jy mense tot bekering roep nie.

Judas se brief eindig soos dit begin met ’n positiewe versekering.  God se krag stel gelowiges in staat om teen vals leraars weerstand te bied. Daar is baie vals leraars en hulle is beslis gevaarlik, maar solank as wat jy op God vertrou en dit met jou lewe bevestig, sal vals leraars jou nie van stryk bring nie.

Maak erns daarmee om jou geloof nie net te bely nie, maar ook om dit uit te leef. Maak dit jou biddende voorneme, in die vaste verwagting dat jy sal beërf wat God in Christus beloof het:  die ewige lewe, terwyl jy as onbevlekte nie net die heerlikheid van Christus aanskou nie, maar ook daarin deel.

Stry vir die ware geloof

Amen



10 Mei 2026

Leef deur geloof in verbondenheid met Jesus Christus



 


Lees: 

Kol. 2 Teksverse kol. 2v6&7

Inleiding

Leef deur geloof in verbondenheid met Jesus Christus. Hoe doen mens dit? Waar begin ons en hoe begin ons om in verbondenheid met Jesus Christus te leef?

Waar begin ons?

In Kol 2: 13 sê die Here vir ons waar ons begin:

Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie.

Wat ’n troostelose vooruitsig! Is daar vir ’n dooie enige hoop om vooruit te gaan? Nee, daar is geen hoop nie! Dit is ’n situasie waarin elke mens homself bevind. Hy besef dat hy binne homself geen rus of vrede kan vind nie. In homself vind die mens geen sin en betekenis in die lewe nie en daarom gaan soek die mens dit buite homself.

Die probleem is dat die ons altyd op die verkeerde plek gaan soek. Sommige van ons soek dit in geld en besittings. Dit hou egter geen bevrediging in nie, want mens kan nooit genoeg hê nie. Hoeveel geld en besittings is genoeg? Net nog ’n bietjie meer!

Ander soek dit weer in status en magsposisies in die samelewing. Dit is egter ook leeg sonder inhoud en bring geen bevrediging nie. Die soeke na mag en status laat mens altyd bang en swak voel. Hoe meer mag en status mens het, hoe groter is jou gebrek aan vertroue in mense. Jy vertrou niemand nie en daar is altyd die agterdog dat iemand jou van jou mag wil beroof en daarom soek mens net na al hoe meer mag om hierdie vrees te besweer.

Sommige van ons soek dit in ons uiterlike voorkoms. Vrouens in skoonheid en fietse lyfies en mans in spiere. Ook dit bring geen bevrediging nie. Hoe meer jy skoonheid en voorkoms najaag, hoe meer voel dit of jy lelik en onaantreklik is. Dink maar aan jong meisies wat so fanaties oor gewig raak dat hulle hulself letterlik so uithonger dat dit hul dood kos.

’n Ander plek waar die mens na sin en betekenis in die lewe soek is deur middel van sy intellek. Dit word ’n obsessie dat almal kan sien hoeveel kennis ek het en dit is op daardie kennis wat ek my sekerheid bou.

Ook dit is ’n gejaag na wind. Hoe meer ek my sekerheid in kennis soek, hoe meer voel dit vir my dat ek te min weet en jaag die vrees my dat almal eventueel gaan agterkom dat ek nie werklik soveel kennis het as wat ek voorgee nie.

Die hartseer is dat die mens se soeke na sin en betekenis hom al hoe verder daarvan wegneem. Ten spyte van die mens se beste pogings kan hy dit nie vind nie.

Hoe kan die mens lewend word uit die doodstoestand waarin hy homself gedompel het?

In Kol 2:13b-14 sê die Here vir ons:

God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak.

Deur God se genade en liefde gee Hy aan ons dit wat ons nooit self kan doen of verdien nie. Die mens is dood in sy sonde en kan daarom nie rus en vrede in sy gemoed vind nie.

Hy kan dit egter ook nie buite homself vind nie en daarom gryp God op ’n radikale wyse in. Christus gee sy bestaan op Godgelyke wyse prys deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem soos ons hoor in Fil. 2:5-8:

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Dit wat die mens nie kon doen nie het God self vir die mens kom doen. Hy bring die mens weer by die ware bron van rus en vrede uit naamlik Hyself. Dit is dan ook wat God op ’n sigbare wyse deur middel van die Nagmaal aan ons wys. God die Vader stuur sy Seun wat gewillig die straf vir die sonde in ons plek dra.

God die Heilige Gees wek die mens op uit sy doodsbestaan en gee aan die mens hierdie versoeningswonder. Die proses waardeur Hy dit doen is om aan die mens geloof te gee om daaraan vas te hou. Met Nagmaal versterk God daardie geloof wat Hy aan ons gee sodat ons die nuwe lewe kan leef wat Jesus vir ons verwerf het.

Hoe leef ons die nuwe lewe?

In Kol 2:14b hoor ons hoe Christus met sy soenoffer aan die kruis die mag van die sonde gebreek het:

Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.

Die mag van die sonde is gebreek, maar die mens is so geneig om terug te draai na sy sondige natuur. Die opdrag wat uit Nagmaal voortvloei is daarom ook dat die mens nie moet terugdraai na die valse gode van geld, mag, uiterlike voorkoms of intellek nie.

Moenie na sin en betekenis soek in die nakom van leë godsdienstige rituele nie soos ons hoor in Kol 2:16:

Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie.

Wanneer mens dit doen, dan word ons maar net weer vasgevang in die leegheid van godsdienstige rituele wat net so frustrerend en onbevredigend is as die wêreldse dinge waarin ons voorheen sin en betekenis gesoek het. Dit is ’n leë dop wat geen krag het nie. Godsdienstige rituele is nie die nuwe lewe wat God vir ons gee nie!

Die nuwe lewe wat God vir ons gee behels dat ons die aardse dinge doodmaak wat nog deel van ons lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is soos ons in Kol 3:5 hoor. Die nuwe lewe word geleef deur te breek met die ou sondige natuur soos ons hoor in Kol 3:8-10:

Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God

Slot

Ons kan ons self nie verlos uit die doodsheid van die sonde nie. Dit is alleen God se genade in Jesus Christus wat ons daaruit kan lewend maak. Uit die krag van Jesus Christus se soendood aan die kruis word ons lewend gemaak en kan ons die nuwe lewe leef wat God aan ons gee.

Ons kan dit maar alleen doen wanneer ons deur ons geloof leef in verbondenheid met Jesus Christus. Ons doen dit wanneer ons besef hoe groot ons sonde en ellende is en dat ons slegs deur Jesus Christus daarvan verlos kan word.

Wanneer ons dit doen dan wil ons ook in dankbaarheid die nuwe lewe leef wat God aan ons gee. Soek die sin en betekenis van die lewe in Jesus Christus en leef deur jou geloof in verbondenheid met Jesus Christus.

Amen


16 Augustus 2020

Vroue in die Bybel – 03 Ragab

 

Skriflesing: Jos.2; 6 v 22 - 25   

Teksvers: Jos. 2 v 11

 

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni

- volledige erediens 

2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni

- Preek alleen

Ragab was 'n prostituut. Dit is nogal hoe ons geneig is om mense te onthou. Wie was Ragab nou weer? O, ja. Sy was mos daardie prostituut wat die twee verkenners weggesteek het toe die Israeliete vir Jerigo ingeneem het.

 Wanneer ons dit doen dan plaas ons die fokus op haar verlede en dit wat verkeerd was in haar lewe. En is dit nie hoe ons maar geneig is om na mense te verwys nie? Sy was 'n prostituut. En dan dink ons: “Ek is darem nie so sleg soos sy nie.”

 Die ongemaklike vraag waarmee ons vanoggend gekonfronteer word is: “Was Ragab die prostituut 'n groter sondaar as wat ek is?”

Wanneer die Bybel na Ragab die prostituut verwys, dan is die fokus heeltemal anders. In Heb. 11 ontmoet ons die geloofshelde van die Bybel, byvoorbeeld Noag, Abraham, Dawid om maar 'n paar te noem. Hulle en die ander wat saam met hulle genoem word, is die mense wat die Here met trots na verwys. Ons hoor in Heb. 11 v 16 dat God nie skaam is om hulle God genoem te word nie.

In hierdie lys name (vir wie God nie skaam is om hulle God genoem te word nie), word die naam van Ragab die prostituut ook genoem! Wanneer die Bybel na Ragab as 'n prostituut verwys, is die fokus egter heel anders.

Die Bybel vertel vir ons van haar geloof en God se genade vir haar. Wanneer die Bybel na haar as 'n prostituut verwys, beklemtoon dit God se genade. Dit sê vir ons, sy is een van die geloofshelde vir wie God nie skaam is om haar God genoem te word nie!

 Ragab was inderdaad 'n merkwaardige vrou en die Here het haar verhaal in die Bybel laat opteken omdat Hy daarmee vir ons in 2020 'n belangrike boodskap wil bring.

 Wat het van Ragab so 'n merkwaardige vrou gemaak? Voor ons by die detail van haar verhaal kom, net so 'n bietjie agtergrond geskiedenis van die leefwêreld waarin sy geleef het.

 God het Abraham geroep om in Kanaän te gaan woon en Hy het in sy oudag vir hom 'n seun Isak gegee. Isak het twaalf seuns gehad wat hul broer Josef verkoop het om 'n slaaf in Egipte te word.

 Weens 'n hongersnood in Kanaän het hulle in Egipte gaan woon nadat hulle met hul broer Josef versoen is. Daar het hulle 'n groot volk geword. Soveel so dat die latere Farao bang geword het vir hulle. Dit het meegebring dat hy van hulle slawe gemaak het.

God het hulle gered van die slawerny waaraan die Egiptenare hulle onderwerp het, deur die Egiptenare met plae te tref. Na die tiende plaag, die dood van die eersgeborenes, het Farao die Israeliete laat gaan onder die leierskap van Moses.

 Farao het egter spyt gekry en hy het sy weermag agter die Israeliete aangestuur om hulle weer as slawe terug te bring Egipte toe. God het hulle egter gered toe Hy die Rietsee se waters laat oopgaan het sodat die Israeliete op droë grond daardeur kon gaan. Toe die Egiptenare hulle agterna gesit het, het God die waters weer laat terugkeer en sodoende die hele Egiptiese weermag laat verdrink.

 Daarna het God hulle terug gebring na die beloofde land Kanaän toe. Dieselfde land waarvandaan Isak en sy seuns na Egipte toe vertrek het. Toe hulle na ongeveer 'n maand en 'n half by Kanaän aankom, het Moses twaalf verkenners (onder wie Josua en Kaleb was) uitgestuur om die land te gaan verken.

 Toe hulle terugkom het Josua en Kaleb berig dat hulle die land kan oorneem, maar die ander tien het nie met hulle saamgestem nie en die volk het in ongeloof na die tien verkenners geluister. Hulle het nie geglo dat God die Kananiete in hulle hand sou oorgee nie. Oor hierdie ongeloof het God die volk gestraf deur hulle vir veertig jaar in die woestyn laat rondtrek.

 Gedurende hierdie veertig jaar het die hele geslag (buiten Josua en Kaleb) wat uit Egipte gekom het, uitgesterf. Josua het die leierskap oorgeneem nadat Moses gesterf het, en nou het die Here hulle weer terug gebring na Kanaän toe om die land in te neem.

 Op pad terug Kanaän toe, het konings Sihon en Og van die Amoriete geweier dat die Israeliete deur hulle land trek en die Here het hulle toe in die hand van die Israeliete oorgegee om hulle te verslaan.

 Die verhaal van Ragab wat ons in Josua 2 hoor, begin waar die Israeliete oorkant die Jordaan kamp opgeslaan het om Kanaän binne te val. Die stad Jerigo waarin Ragab gewoon het, het die toegang tot Kanaän vir die Israeliete versper en hulle het hulle gereed gemaak om dit in te neem.

 Jerigo was 'n baie sterk vestingstad met sterk hoë mure wat die stad beskerm het. Ragab se huis was in die stadsmuur naby een van die ingangspoorte met 'n venster na die buitekant van die muur.

 Net soos Moses veertig jaar gelede, het Josua ook verkenners gestuur om inligting in te samel. Josua het egter net twee verkenners gestuur met die opdrag dat hulle inligting veral oor Jerigo moes inwin.

 Ragab het volgens die gebruik in daardie tyd heelwaarskynlik 'n oornagplek bedryf wat dan ook ingesluit het dat sy haar beroep daar bedryf het vir diegene wat daarin belang gestel het. Uit ons teks is dit egter duidelik dat die twee verkenners niks meer as net oornag verblyf daar gaan opsoek het nie. Dit was natuurlik ook die ideale plek om inligting in te samel.

 Die vraag wat hier opkom, is of Josua nodig gehad het om verkenners uit te stuur, veral in die lig van hoe die Here die stadsmure laat inval het nadat die Israeliete sewe dae om die stad marsjeer het? Uit 'n militêre intelligensie oogpunt was die verkenners nie nodig nie.

 Uit die verhaal word dit duidelik dat die redding van Ragab en haar familie die werklike doelwit van die verkenners was. Dit is nie toevallig dat die verkenners in 'n stad van 'n hele paar duisend mense, juis by Ragab opgeland het nie. Die Here het hulle spesifiek na haar toe gestuur, want Hy het haar uitgekies om deel van sy groter raadsplan uit te maak.

 Die twee verkenners het egter nie baie goed daarin geslaag om die stad ongesiens in te kom nie, want kort nadat hulle by Ragab aangekom het, het die koning te wete gekom dat daar verspieders in die stad was en ook waar hulle was.

 Hy het soldate na Ragab toe gestuur met die opdrag dat sy hulle moes uitlewer. Ragab het hulle versteek en die soldate wat na hulle kom soek het op 'n dwaalspoor weggestuur.

 Op hierdie punt van die verhaal wonder mens hoekom sy dit gedoen het? Hoekom het sy vir die vyand kant gekies?

 Die rede hoekom sy dit gedoen het, was omdat sy vreesbevange was. Die nuus oor wat met die Egiptenare by die Rietsee gebeur en ook hoe die Israeliete die Amoriete verslaan het, was algemeen bekend.

 Ragab het verstaan dat die werklike bedreiging nie die Israeliete self was nie. Sy het verstaan dat dit die Israeliete se God was wat aan hulle die oorwinning gegee het en dat Hy ook vir Jerigo in die hande van die Israeliete gaan oorgee.

 Sy het geglo dat die Israeliete se God die enigste ware God is, want volgens haar belydenis in Jos 2 v 11 is hulle God, die Here, die God, bo in die hemel en onder op die aarde.

 Sy het verstaan haar enigste kans op lewe was om op die Here te vertrou en sy het nie toegelaat dat haar vrees haar vertroue in God ondermyn het nie.

 Sy het die verhale oor God en die uitkoms wat Hy vir sy volk gegee het, gehoor en geglo. Haar geloof het haar aangespoor om aksie te neem. Sy het die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat ontkom. Dit is haar geloof wat haar daartoe gebring het om op die Here te vertrou vir uitkoms.

 Ragab het op die Here vertrou om haar lewe te spaar, maar in sy genade het Hy vir haar soveel meer gegee as dit waarvoor sy gevra het. Hy het vir haar die ewige lewe gegee.

 Sy het deel van die uitverkore volk geword. God het vir haar 'n kans gegee op 'n nuwe lewe en sy het dit met albei hande vasgegryp. Nie meer Ragab die prostituut nie, maar nou Ragab die geloofsheld vir wie God nie skaam is om haar God genoem te word nie.

 In die lig daarvan dat twee verkenners wat Ragab versteek het, spesifiek die opdrag gekry het om te verseker dat sy en haar familie gered word, sou ons graag wou hoor dat een van hulle Salmon was. Maar ons weet egter nie wie die verkenners was nie, want die Bybel sê nie vir ons wie hulle was nie.

 Wat die Bybel wel vir ons sê is dat sy met Salmon getrou het nadat sy deel van die verbondsvolk geword het. Hulle het 'n seun genaamd Boas gehad wat met Rut getrou het. Rut en Boas het 'n seun Obed gehad. Obed was die vader van Isai wat die vader van Dawid was. So is dit in die geslagsregister van Jesus opgeteken.

 Uit die nageslag van Ragab is vir ons 'n Verlosser gebore. Die Here het die lewe van Ragab die prostituut verander na meer as wat sy ooit kon hoop of droom.

 Hy kan jou lewe ook verander. Al wat Hy vra is dat jy moet glo soos Ragab geglo het, dat jy op Hom kan vertrou omdat Hy die enigste ware God is. Jy moet glo dat jy die ewige lewe sal verkry op grond daarvan dat Jesus (wat uit die nageslag van Ragab gebore is,) vir jou sy lewe gegee het sodat jy kan lewe.

 Is jy bereid om te glo dat God die enigste ware God is wat sy Seun gestuur het sodat jy kan lewe? Is jy bereid om jou geloof uit te leef? Is jy bereid om op God te vertrou wanneer die lewe vol onsekerhede is?

 Vertrou op God. Glo dat Hy vir jou in Christus die ewige lewe sal gee. Glo dat Hy jou toekoms kan verander, maak nie saak wat in jou verlede lê nie.

Amen

22 Maart 2020

Hoe vind jy kalmte binne die gekheid van 'n storm?


Datum: 22 Mar. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni
Skriflesing: Mat. 14 v 22 - 36
Teksvers: Mat. 14 v 27 “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”




Hoe vind jy kalmte binne die gekheid van 'n storm?

Verlede Sondagaand het ons president 'n ramptoestand aangekondig en streng maatreëls aangekondig om te probeer keer dat die virus ongehinderd duisende mense infekteer.

Dit het 'n paniek onder mense laat ontstaan. Sommige mense het die volgende dag die winkels ingevaar en met paniek aankope winkelrakke leeggekoop. Dis inderdaad of mens 'n gees van vreesagtigheid by mense waarneem.

Dit is nie seker hoe hierdie situasie ons lewens gaan beïnvloed nie, maar kenners is dit eens, dit gaan ons lewens drasties verander. Ons kan inderdaad sê dat die Korona storm in Suid-Afrika losgebars het.

Dit is hier waar ons roeping as Christene, as kerk van ons Here intree om ligdraers te wees. Om perspektief te bring binne 'n wêreld wat in chaos gedompel word. Dis ons roeping om hoop te bring aan 'n wêreld wat in donkerte toegevou word. Dis ons roeping om ligdraers te wees.

Hoe doen ons dit wanneer ons self ook benoud is? Met hierdie verhaal van Jesus se dissipels in 'n storm gee die Here vir ons die perspektief hoe ons, verby ons vrees en benoudheid gaan kom, want as jy 'n ligdraer wil wees moet jy eers kalmte en rustigheid in jou eie gemoed vind. Dan kan jy uitgaan in die wêreld en uit jou innerlike vrede hoop en lig in die wêreld indra.

In hierdie verhaal is daar 'n paar dinge waarop ons moet let. Jesus se dissipels het hulself binne in 'n storm bevind wat erg genoeg was om hulle te oorweldig.

Hoekom was hulle binne in hierdie storm? Het hulle iets verkeerd gedoen? Nee, geliefdes. Hulle was binne in hierdie storm omdat Jesus hulle uitgestuur het en hulle Hom gehoorsaam het.

Die storms in jou lewe is nie altyd omdat jy iets verkeerd gedoen het nie. Die Korona virus is nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie. Die siekte waarmee jy geteister word is nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie.

Ons hoor in Mat. 14 v 22 dat Jesus sy dissipels uitgestuur het. Het Hy geweet dat hulle binne in 'n storm gaan beland wanneer hulle wegvaar? Ja, geliefdes Hy het geweet.

Maak dit jou bang dat ons Here jou soms in 'n storm gaan instuur? Maak dit jou bang dat die Here ons binne in hierdie Korona virus storm geplaas het?

Die dissipels het heel nag teen die storm gestoei. Mens kan jou net indink hoe benoud hulle was. Jesus was nie saam met hulle in die boot nie. Beteken dit dat Hy hulle aan hulle eie lot oorgelaat het? Nee, geliefdes. Dit wat daar met die dissipels gebeur het was nog steeds binne God se beheer. Soms lyk dit of God ons binne die chaos van ons lewens in die steek gelaat het. Ons voel nie sy teenwoordigheid, maar Hy is daar. Hy het ons immers belowe dat Hy ons nooit alleen sal laat nie.

Nadat die dissipels die hele nag lank gestoei het, het Jesus met dagbreek die volgende oggend op die see na hulle toe aangeloop gekom. Was hulle bly toe hulle Jesus sien aankom? Nee, geliefdes, hulle het gedink Hy is 'n spook!

Sien jy vir Jesus raak binne die storms wat in jou lewe woed?

Was Jesus verontwaardig dat hulle Hom vir 'n spook aangesien het? Nee, geliefdes. Luister na wat Jesus vir die dissipels sê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Letterlik staan daar “Ek is” wat hier vertaal is met “dit is Ek.”

Dit is hoe God Homself in die Ou Testament aan Moses voorstel by die brandende braambos. “Ek is.” In die Nuwe Testament hoor ons hoe Jesus Homself noem “Ek is.” “Ek is die brood van die lewe. Ek is die Lig van die wêreld. Ek is die ingang na redding. Ek is die Goeie Herder wat na sy skape omsien. Ek is die opstanding en die lewe. Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Ek is die ware Wingerdstok. Julle is in My ingeënt.”

Jesus sê vir sy dissipels “Ek is.” Met ander woorde Hy sê vir hulle, Hy is almagtige God. Sien u raak dat die ewige almagtige God saam met u in die lewensstorm storm is?

Dan kom ons by daardie deel waar Petrus saam met Jesus op die water loop. Petrus het egter nie lank op die water geloop voordat hy begin sink het nie want hy het sy oë van Jesus afgehaal.

Hoekom het Petrus sy oë van Jesus afgehaal? Petrus antwoord Jesus se gerusstelling van “Ek is” met “Here, as dit regtig U is.....” Hoor u die ongeloof in Petrus se reaksie? Hy was nog nie oortuig dat Jesus werklik was wie Hy gesê het Hy is nie. Jesus bevestig Petrus se ongeloof nadat Hy hom gegryp het en hom sê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”  

Dis ongeloof wat maak dat ons in die golwe begin wegsink in die storms in ons lewens. God se genade is dat Hy ons nie maar net aan ons eie lot oorlaat nie. Jesus het Petrus se hand gegryp en hom in die boot in gehelp.

Glo jy dat Jesus die Seun van God is? Glo jy dat Hy aan 'n vervloekte kruishout gesterf het om vir jou sondes te betaal? Glo jy dat Hy die dood oorwin het en nou lewe? Glo jy dat Hy vir jou 'n nuwe lewe gee?

Christene leef vanuit hul geloof. Dit is hoekom Christene in die wêreld ingaan en 'n verskil gaan maak. Dit is hoekom gelowiges op praktiese maniere uitreik na hul naastes in krisis tye soos hierdie deur byvoorbeeld vir die wat afgesonder is en nie uit die huis mag uitgaan nie, te gaan inkopies doen. Dis hoekom gelowiges die nodige voorsorg maatreëls tref sodat hulle nie ander in gevaar stel nie. Christene doen hierdie dinge in geloof en nie uit paniek uit nie.

Geliefdes die verhaal sluit af waar die storm bedaar en die dissipels Jesus erken as Seun van God. Beteken dit dat hierdie storm met die korona virus gaan bedaar? Ja, dit gaan ook verbygaan.

Beteken dit dat dit nou binnekort gaan gebeur? Heel waarskynlik nie. Die dissipels het die hele nag lank in die storm gestoei. Die moontlikheid bestaan dat daar van ons ook deur die virus geïnfekteer gaan word.

Die moontlikheid bestaan dat daar van ons kan sterf as gevolg van die virus. Maar geliefdes selfs as dit sou gebeur hoef ons nie bang te wees nie, want Jesus belowe ons dat selfs die dood ons nie van sy liefde kan skei nie.

Onthou net dat dit steeds God is wat bepaal wanneer ons, ons laaste lewensasem gaan uitblaas. As dit jou tyd is, kan Hy moontlik die virus gebruik om jou te kom haal. As dit nie jou tyd is nie, kan geen virus hoe gevaarlik ook al, jou lewe neem nie, want jou lewe is binne God se hande.

Geliefdes, moenie dat hierdie pandemie u paniekerig en benoud maak nie. God is ook binne hierdie storm teenwoordig. Hou in geloof aan sy beloftes vas. Hou jou oë gerig op Jesus sodat jy nie in die golwe van vrees en wanhoop wegsink nie.
Amen 



23 Februarie 2020

Jou geloof maak jou vry

Datum: 23 Feb. 2020 GKE
Skriflesing:     Gal. 5 v 1 – 26
Teksverse:     Gal. 5 v 5 & 6 & 19 - 22


Wat is die verskil tussen om vry te wees teenoor om 'n slaaf te wees? Maar voordat ons dit beantwoord moet ons net eers uitmaak wat beteken vryheid.

In ons teks verduidelik die Here vir ons wat is ware vryheid en wat is valse vryheid. Valse vryheid kan na een van twee kante toe draai. Aan die een kant beteken dit dat jy nie van iemand afhanklik wil wees nie.

Dit is die probleem wat hier in die gemeentes in Galasië teenwoordig was. Daar was dwaalleraars wat as Judaïste bekend gestaan het. Hulle het geleer dat Christus se genade nie genoeg is nie.

Volgens hulle moes jy buiten Christus se genade die wet ten volle nakom om gered te word. Paulus maak dit egter hier duidelik dat daar nie so iets is soos Christus se genade en jou eie verdienste nie. Dis of die een of die ander. As jy die pad kies om deur eie verdienste gered te word dan verwerp jy Christus se genade. Hulle wou dus vry wees van hul afhanklikheid van Christus af om gered te word.

Met die wet het hulle dan ook bedoel al die reëls en regulasie wat die Joodse rabbi's opgestel het. Daar was meer as 600 sulke reëls en regulasies. Byvoorbeeld, jy mag nie op die Sabbat 'n stok gedra het nie, want dalk net dalk sleep die stok per ongeluk op die grond en maak 'n slootjie wat sou beteken dat geploeg het. Om te ploeg is werk en jy mag nie op die Sabbat werk nie.

Hulle het verder vereis dat jy besny moet word, want dit het jou in die Joodse volk ingelyf wat dan ook beteken het dat jy dan ook verplig was om al hierdie Rabbynse wette moes nakom om gered te word.

Wat ten diepste hier na vore kom is die mens se rebelse opstand teen God. Ons wil onafhanklik wees, dit wil sê ons wil nie van God afhanklik wees nie en dit is hierdie rebelse opstand wat ook by die Judaïste teenwoordig was.

Die ironie hiervan is egter dat in hulle strewe na vryheid deur onafhanklikheid het hulle nie vry geword nie. Hulle het slawe geword van mensgemaakte godsdienstige reëls.

Geliefdes, is jy 'n slaaf van mensgemaakte godsdienstige reëls? Die Galasiërs het hulself vasgebind aan die reëls en regulasies van die Joodse Rabbi’s. Dink bietjie daaroor na oor watter wettiese reëls en regulasies jy vir jouself opgemaak het. Is jy 'n slaaf daarvan?

In Gal. 5 v 5 hoor ons wat dit beteken werklik vry te wees.
Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word.
Dit is slegs deur Christus dat jy waarlik vry kan wees.

Jy kan slegs in Christus waarlik vry wees wanneer jy van God se genade afhanklik is. God se genade in Jesus Christus wat sy lewe aan die kruis opgeoffer en wat die dood oorwin het om vir jou 'n nuwe lewe van vryheid te gee. Dit is die Goeie Nuus, die Evangelie van Jesus Christus. Al wat God vra is dat jy dit glo en God se genade is so groot dat die Heilige Gees vir jou die geloof gee wat Hy vra.

Daar is egter ook 'n ander valse vryheid wat Paulus hier uitlig. In Gal. 5 v 13 hoor ons:
Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.
Dit is verkeerde siening van vryheid dat jy kan doen net wat jy wil. Ek is mos gered, dus kan ek nou doen net wat ek wil!

Kom ons gebruik 'n praktiese voorbeeld om te verduidelik hoekom dit verkeerd is om so te dink, want as jy net doen wat jy wil is jy nie vry nie. Jy is nog steeds 'n slaaf.

'n Vis wat in 'n dam swem is vry om te swem waar hy wil in die water. Nou kom die vis in opstand, want hy wil nie gebind wees aan die grense van die water nie. Hy wil vry wees om te doen net wat hy wil. As hy buite die water wil wees, dan wil hy vry wees om buite die water te gaan.

Wat gaan gebeur wanneer daardie vis buite die water gaan? Hy gaan doodgaan! Daar is grense waarby jy nie kan beweeg nie. Die grens waarby jy nie kan beweeg nie is God se liefde. In Christus is jy vry om binne God se liefde te leef.

In Gal. 5 v 13 hoor ons dat ons mekaar in liefde moet dien en
in Gal. 5 v 22 & 23 hoor wat liefde in praktyk is. Hoe dit prakties is in jou dag tot dag lewe tot uiting kom:
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Jy is vry om in vrede met jou medemens saam te leef. Jy is vry om geduldig te wees. Jy is vry om vriendelik te wees. Jy is vry om God se liefde in jou lewe uit te leef en wanneer jy dit doen dan sal ware vreugde en vrede in jou lewe ervaar.

Aan die ander kant is daar geen vryheid in die praktyke van die sondige natuur nie. In Gal. 5 v 15 hoor dat vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid veral 'n probleem in die gemeente was:
Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

Wanneer jy die praktyke van jou sondige natuur uitleef dan sal jy geen vreugde en vrede in jou lewe ervaar nie, want dan is jy maar nog steeds 'n slaaf van jou sondige natuur.

As jy op jou eie onafhanklik van God binne die grense van sy liefde wil bly sal jy vind dat dit onmoontlik is en daarom sê die Here vir ons in Gal. 5 v 16:
Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.

Jy laat jou lewe deur die Gees beheer wanneer jy die evangelie glo soos ons in Gal. 3 v 2 hoor:
Net een ding wil ek van julle weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo?

In Gal. 5 v 6 hoor ons dat net jou geloof in Jesus Christus is wat vir jou ware vryheid gee.
In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

Geliefdes, jou strewe na ware vryheid kan slegs bereik word wanneer jy in 'n lewende verhouding met God het. Dit is alleen moontlik deur jou geloof in die evangelie en jy kan slegs deur Jesus Christus ware vryheid smaak.

Geliefdes, is jy waarlik vry of is jy nog 'n slaaf? Jy is 'n slaaf wanneer jou godsdiens deur jou eie reëls en regulasies beperk word. Wanneer jy meer waarde daaraan heg om godsdienstige rituele en gebruike na te kom as om te glo en vertrou in die genade van Jesus Christus.

Dan sal jy ook vind dat godsdiens vir jou moeite is. Dis moeite om op Sondagoggend op te staan om 'n erediens by te woon. Dis moeite om jou Christenskap uit te leef. In die week is die praktyke van jou sondige natuur baie duideliker sigbaar as die liefdesvrug van die Gees. Dan sal jy ook vind dat jy uitgeput en oorlaai is.

Soek jou ware vryheid in Jesus Christus en aanvaar sy uitnodiging:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Amen

25 Augustus 2019

Van Geloofstwyfel tot Geloofsvertroue


Joh. 20 v 19 – 31
Teksverse: Joh. 20 v 24, 25, 27 & 28


Geloofstwyfel. Dis iets wat elke gelowige op een of ander tyd in sy lewe ervaar. Dit gebeur gewoonlik wanneer jou lewe op 'n laagtepunt is. Wanneer jy op jou kwesbaarste is. Dan kom die ou duiwel en hy probeer jou oortuig dat God nie werklik vir jou omgee nie. Sy grootste aanslag is om jou te probeer oorreed dat God nie werklik bestaan nie.


Die verhaal van Tomas help om jou perspektief te gee wanneer jy in 'n geloofskrisis beland. Ons weet nie veel van Tomas nie en tog is hy alom bekend in die volksmond as ongelowige Tomas. In ons teks ontmoet ons Tomas in 'n tyd wat sy hele wêreld omgekeer is.

Sy Heer en Meester is dood. Vir drie jaar het hy Jesus gevolg as een van sy dissipels en nou het die owerhede Hom as 'n misdadiger gekruisig. Dit het hom en sy mededissipels se leefwêreld omgedop. Hierdie gebeure het Tomas in 'n geloofskrisis laat beland want sy sekerhede en ankers in die lewe is afgestroop. Met Jesus se sterwe het hy al sy hoop verloor.

In ons teks hoor ons hoe Jesus aan sy dissipels verskyn na sy opstanding. Hulle was almal skepties toe die vroue vir hulle kom vertel dat Jesus opgestaan het soos ons ook in
Luk 24 v 22 tot 24 hoor:
22En nou het ’n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ’n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”

Dit is nie net Tomas wat skepties was nie. Al die dissipels was aanvanklik skepties. Hulle was almal oorweldig deur die gebeure van die vorige dae. In ons teks hoor ons wat die verskil maak wanneer mens geloofstwyfel beleef. 'n Ontmoeting met Jesus. Die dissipels wat daar was, is versterk in hul geloof en het die vrede van Jesus ervaar wat Hy oor hul uitgespreek het.

Vir een of ander rede was Tomas egter nie saam met die ander dissipels by daardie eerste ontmoeting nie. Ons weet nie wat die rede was hoekom hy nie daar was nie, maar wat wel duidelik is, is dat hy uitgemis het op die vrede, vertroosting en geloofsversterking wat die ander dissipels van Jesus ontvang het. Hier vind ons 'n baie belangrike rede waarom ons nie ons erediens bywoning moet afskeep nie.

Toe die ander dissipels vir Tomas vertel het van hul ontmoeting met Jesus was hy baie skepties soos ons ook in ons teks in
Joh. 19 v 25 hoor:
25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Die gebrek aan gemeenskap met sy medegelowiges het bygedra tot sy ongeloof, want hy het nie die geloofsversterking en vrede ontvang wat die ander gekry het nie. Wanneer jy jou erediens bywoning afskeep, doen jy dit tot jou eie nadeel.

'n Week later het Jesus weer aan sy dissipels verskyn. Die verwysing na agt dae dui op die manier waarop die Jode getel het. Hulle het by die Sondag van Jesus se eerste verskyning begin tel tot en met die volgende Sondag wat agt dae is. Deesdae sou ons vanaf die Maandag tel wat op die Sondag volg wat dan sewe dae is.

Met hierdie tweede verskyning was Tomas ook teenwoordig en hier hoor ons wat se dramatiese verskil 'n ontmoeting met Jesus in Tomas se lewe gemaak het. Ons hoor ook hier van die deernis en geduld wat die Here met hom gehad het. Jesus verwyt hom nie, maar spreek tot sy ongeloof.

Tomas het gesê: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Jesus kom na Tomas en sê vir hom: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

Tomas was die mees skeptiese van al die dissipels, maar na sy ontmoeting met Jesus spreek hy die kragtige belydenis uit: “My Here en my God!” In hierdie belydenis van Tomas leer ons wat dit beteken om jouself in geloof aan Jesus te bind.

In die eerste plek maak hy dit persoonlik. “My Here, My God.” Baie keer haak mense net op 'n intellektuele akademiese vlak met die evangelie vas. Dit is egter eers wanneer jy dit persoonlik maak dat die evangelie jou lewe verander.

In die tweede plek hoor ons hoe Tomas homself aan die soewereiniteit van Jesus onderwerp. “My Here.” Hy erken dat Jesus nou Koning is in sy lewe en dat hy homself aan Jesus onderwerp. Jy kan nie 'n dissipel van Jesus word as jy jouself nie aan sy gesag oor jou lewe onderwerp nie.

In die derde plek erken hy die Godheid van Jesus. “My God.” Jesus is nie maar net 'n goeie voorbeeld vir ons nie. Hy is die tweede persoon van God Drie-enig, Die Skepper van die hemel en die aarde. Die Heerser oor die heelal en sodoende ook oor elke aspek van ons lewens.

Na Tomas se belydenis sê Jesus vir hom:
“Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”
Geliefdes, ons kan Jesus nie meer fisies sien soos wat sy dissipels kon nie. Dit beteken egter nie dat ons nie die geloofsversterking, vertroosting, seën en vrede kan ontvang wat sy dissipels ontvang het nie.

Ons kan Jesus nie vanoggend fisies met ons oë sien nie, maar Hy is hier. Ons sien Hom nie met ons fisiese oë nie, maar wel met ons geloofsoë. Deur sy Woord en die woordverkondiging ontmoet ons Jesus net so seker as wat Jesus se dissipels Hom daardie Sondag ontmoet het 'n week na sy opstanding.

In Joh. 19 v 30 & 31 hoor ons wat die inhoud van die seëninge is wat ons ontvang wanneer ons Jesus ontmoet. Wanneer jy jou geloofsvertroue in Jesus stel ontvang jy die ewige lewe. Die ewige lewe is nie iets wat net daar in die verre toekoms gaan gebeur nie. Dit begin nou reeds. Jy kan nou reeds die vrede beleef van God se teenwoordigheid in jou lewe.

Tydens ons eredienste ontmoet ons Jesus en Hy herinner ons gedurig aan die kruis en sy opstanding wat lewensveranderd in ons lewe werk. Deur ons geloofsoë sien ons die merke van die spykers in sy hande en die spieswond in sy sy.

Wanneer jy begin twyfel in God se liefde, onthou die kruis waar Jesus sy lewe vir jou gegee het. Wanneer jy twyfel en vrees dat jy dalk in die hel mag beland, onthou sy wonde. Kyk deur jou geloofsoë na die merke van die spykers in sy hande en na die spieswond in sy sy en onthou dat Jesus jou deur sy bloed reinig van die sonde wat tussen jou en God staan.

Geliefdes, moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.
Amen.