13 November 2018

Groei in geloof


Son 11 Nov. 2018 GKE
Ef. 3 v 14 – 21

Sing:
Ps. 147-1 v 1 & 4
Ps. 71-1 v 1
Sb. 8-1 v 1 & 2
Sb. 15-1 v 1-4

Verlede week het ons uit Judas 20 gehoor:
Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees.
Iemand het op ʼn keer gesê, gebed is die asemhaling van ʼn gelowige se geestelike lewe. Geloof word deur gebed gebou. In hierdie gebed van Paulus hoor ons waarvoor om te bid sodat jy kan groei in geloof. Met hierdie gebed leer die Here ons hoe om te bid deur die krag van die Heilige Gees.

Paulus begin die gebed met “
Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het.
ʼn Erkenning teenoor God hoe afhanklik ons van Hom is. Hier is geen sprake daarvan dat God ons iets skuld of dat ons op iets van Hom geregtig is nie en daarom aan ons moet gee nie. Dis maar net God se genade wat maak dat ons enigsins tot Hom kan bid.

In Ef. 3 v 16-19 hoor ons dan waarvoor om te bid.
Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

Hierdie gebed is soos trappe wat met elke trap hoër en hoër reik. Die eerste trap is om te vra vir krag om innerlik sterk te word. Die tweede trap is om te vra om in liefde gegrondves te wees. Die derde trap vra om die liefde van Christus te ken en die vierde trap is om te vra om vervul te word met die volheid van God.

Vra vir krag om innerlik sterk te word:
Die eerste gebedstrap is:
Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon
Dit is alleen deur die Gees dat dit moontlik is dat Christus in ons harte kan woon. Geloof maak Christus ʼn werklikheid in jou lewe en dit is die Heilige Gees wat geloof gee. Bid vir geloof sodat jy kan glo in die krag van die Heilige Gees in jou lewe.

Die Griekse woord wat met woon vertaal is dra die betekenis om permanent in te woon. Dat Christus permanent in jou hart sal woon beteken dat Christus heer en meester van jou sal wees. Hy is nie net ʼn gas nie, maar die meester van die woonplek sodat Christus jou denke sal beheer, dat Hy jou lewe sal beheer en nie jou sondige natuur nie.

Vra om in liefde gewortel en gegrondves te wees.
Die tweede gebedstrap is:
dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
Hier vind ons die rede waarom jy moet bid dat Christus in beheer van jou lewe moet wees. Liefde is die basis van God se koninkryk en daarom moet liefde die basis van jou lewe wees. Om die liefde die basis van jou van jou lewe te maak het jy die krag van die Heilige Gees nodig en Christus moet in beheer van jou lewe wees.

Daar word twee beelde hier gebruik, nl. die fondasie van ʼn gebou en die wortels van ʼn boom. Die fondasie is die basis wat verseker dat die gebou stewig staan en die grond waarin die boom gewortel is bepaal hoe sterk die boom gaan staan. Liefde moet die grond wees waarin jy gewortel is en dit sal die kwaliteit van jou lewe bepaal. Liefde moet die fondasie wees waarop jy jou lewe bou. Liefde moet die kernbestanddeel van jou lewe wees.

Vra vir die insig om die liefde van Christus te ken
Die derde gebedstrap is:
Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan
Soos wat ons hoër gaan met die gebedstrappe kom ons nou by Christus se liefde uit. Hier leer ons wat die inhoud van die liefde moet wees waarin ons gewortel en gegrondves moet wees.

Ons sal in hierdie lewe nie die volle omvang Christus se liefde leer ken nie, maar hoe meer ons ʼn liefde lewe, hoe meer sal ons begryp wat Christus se liefde is. Deur Christus se liefde te leer ken en die uitleef daarvan leer ons wat liefde werklik is.

In 1 Joh. 4:9 hoor ons:
Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.
Liefde is opoffering en om lief te hê gaan van jou opofferings vereis. Dit gaan van jou vereis om uit jou gemaksone te kom. Dit is eers wanneer jy begin verstaan hoeveel Christus in liefde vir ons opgeoffer het, dat jy self kan begin om in liefde opofferings te maak.

Vra om vervul te word met die volheid van God.
Die vierde gebedstrap bring ons by die hoogtepunt waarna ons streef in geloofsgroei:
en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
Dit waarna ʼn Christin moet streef is om al hoe meer met die perfektheid van God gevul te word. Om al hoe meer soos Jesus te word, want Hy is in Homself die volheid van God. Die Here sê vir ons: “wees heilig want Ek is heilig” en dit is waarvoor ons moet bid dat die heiligheid van God al hoe meer sigbaar word in ons lewens.

Die gebed is ook om met die liefde van God gevul te word en dat die vrug van die Gees, nl. liefde al hoe meer sigbaar word in ons lewens. Hier vra ons dat die Heilige Gees ons al hoe meer verander na die beeld van Jesus. Dit moet ons daagliks doen.

Ef. 3 v 20-21 is die slot van die gebed.
Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.
Net soos die inleiding fokus die slot ook op God. Hy is die Vader wat oneindig ryk is in liefde en glorie. Hy is die Een wat kragtig in ons werk en hiermee erken ons dan ook dat Hy ons gebede kan verhoor omdat Hy in staat is om die werk te doen, want Hy is nie ledig, onaktief of dood nie.

Hy is in staat om te doen wat ons vra omdat Hy ons hoor en gebede verhoor. Hy weet wat ons vra of dink nog voordat ons vra. Hy gee vir ons oneindig meer as wat ons ooit kan dink of vra want daar is geen perke aan sy genade nie. Uit die oorvloed van sy genade gee Hy meer as wat ons ooit kan dink of droom.

God se visie vir ons is dat sy liefde eindeloos in ons lewens werk. God gee altyd vir ons meer liefde as wat ons uitdeel en hoe meer ons sy liefde uitdeel, hoe meer groei ons in die geloof.

Om te groei in die geloof moet ons bid dat ons die krag van die Gees en die heerskappy van Christus ontvang, dat ons lewens op die basis van liefde gebou word, dat ons werklik begin verstaan wat die volheid van Jesus se liefde is en dat ons heeltemal met God vervul word.

Met hierdie gebed doen Paulus voorbidding vir die kerk en daarom moet ons ook vir mekaar bid. Ons moet bid vir mekaar wat aktief en betrokke is in ons gemeente sodat ons met God se liefde kan uitreik na ons broers en susters wat begin wegraak en weggeraak het. Ons moet soveel te meer vir hulle wat weggeraak het bid dat hulle geloof sal groei sodat hulle weer aktief en betrokke in die gemeente kan word.

Wanneer jy jouself eenkant begin hou dan ontneem jy jouself daarvan om die liefde van Christus aan jou broers en susters uit te deel en jy ontneem hulle ook van die geleentheid om Christus se liefde aan jou uit te deel.

Geliefdes, bid vir geloofsgroei en doen voorbidding vir geloofsgroei by jou broers en susters.

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking