13 November 2018

Stry vir suiwer geloof



Son 4 Nov. 2018 GKE

Judas
Teksverse Judas v 20 – 23

Sing
Ps. 50-1 v 1
Ps. 119-1 v 49
Sb. 15-7 v 4 & 5
Ps. 1-1 v 1 tot 3

Inleiding
Wanneer is die kerk nie meer relevant nie? Dit is wanneer die kerk maar net soos die wêreld begin lyk. Wanneer Christene hulle identiteit as Christene begin verloor. As daar geen verskil is tussen die kerk en wêreld nie, is die kerk nie meer nodig nie. Nou moet ons mooi onthou, ONS IS die kerk! Dit wil sê wanneer my lewe maar net dieselfde as die ongelowiges se lewens lyk. Is dit nie die rede hoekom ons kerke al hoe kleiner word nie? Omdat die kerk nie meer relevant in die wêreld is nie omdat die kerk maar net soos die wêreld lyk.

Die prediker het gesê dat daar niks nuuts onder son is nie en hierdie opsig is dit ook waar. Dieselfde probleem waarmee ons vandag sukkel was ook ʼn probleem in die vroeë kerk gewees. In hierdie brief roep Judas die gelowiges op om te stry vir suiwer geloof  om die probleem van die kerk wat net soos die wêreld begin lyk aan te spreek. In Jud. 3 tot 19 word aangetoon hoekom ons moet stry vir ware geloof en dan hoor ons hoe om te stry vir ʼn ware geloof.

Die aanhef van die brief gee vir ons ʼn baie duidelike riglyn oor hoe om die brief te verstaan soos ons hoor in Jud. 1b & 2:
Aan dié vir wie God die Vader geroep het, wat Hy liefhet en deur Jesus Christus bewaar.
Mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed aan julle geskenk word!
In die brief wys Judas die gelowiges op hul roeping om vir die ware geloof te stry, maar voordat hy dit doen wys Judas eers op dit wat die gelowiges van God ontvang.

Net soos die eerste lesers van die brief gee God vir ons ook wat Hy aan hulle gegee het. God het ons geroep. Hy het ons lief en daarom bewaar Hy ons ook. God vra nie meer as wat Hy reeds gegee het nie. As Christen het jy reeds alles wat jy nodig het om as God se kind te kan lewe. Dit is belangrik dat jy moet verstaan dat jy nie moet stry vir die ware geloof om gered te word nie.

God het redding reeds vir ons uit sy liefde en genade gegee. Joh. 3:16:
God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Omdat Hy ons gered het vra Hy van ons om te leef soos kinders van God wat Hy uit die sonde gered het.

Hoekom moet ons stry vir ware geloof?
In Jud. 3-19 verduidelik Judas hoekom ons moet stry vir ware geloof. Die gevaar bestaan altyd dat dwaalleer die kerk ongemerk kan binnedring. Daar was mense wat voorgegee het dat hulle Christene is, maar uit die manier waarop hulle gelewe het, was dit duidelik dat hulle nie aan die ware geloof vasgehou het nie.

Hulle het hul losbandigheid en sonde probeer goedpraat. Dit gebeur vandag maar nog steeds. Mense van binne die kerk probeer die definisie van wat God met die huwelik bedoel het verander. God is die outeur van die huwelik en wanneer die jy die huwelik anders benader as wat God bedoel het pleeg jy sonde. Bv. Die wêreld se benadering om eers saam te bly voor die huwelik bevestig word. Dink verder aan die groot debat wat probeer om ʼn huweliksverbintenis van dieselfde geslag te regverdig.

Judas bevestig dat mense wat willens en wetens sondig en aan God ongehoorsaam is, definitief gestraf gaan word deur drie voorbeelde. Die volk Israel wat uit Egipte verlos is, maar wat nie die beloofde land binnegaan het nie. Die engele wat alhoewel hulle rein en heilig geskape is en by God geleef het, teen Hom in opstand gekom het. Die inwoners van Sodom en Gomorra wat so vol sonde was dat die Here hulle van die aarde af verdelg het.

Judas haal ook uit ʼn paar buite Bybelse bronne aan om sy punt te staaf. Daarmee impliseer hy nie dat hierdie buite Bybelse boeke ook in die Bybel moet wees en daarom dieselfde gesag as die Bybel dra nie. Hy gebruik dit net as illustrasie-materiaal wat die eerste lesers goed ken om te beklemtoon dat God die goddelose dinge wat mense doen, straf.

Verder haal Judas ook uit die leer van die apostels aan om sy punt verder te bevestig. Een van die dwaalleringe wat vandag ook kop uitsteek is dat die mens niks van God se straf wil weet nie. In hierdie brief hoor ons van die werklikheid van God se straf en dat ons nie op sleeptou geneem moet word deur diegene wat God se straf afmaak as niks en dat sonde daarom nie so erg is nie.

Wat ook duidelik in hierdie brief uitgewys word is dat ons versigtig moet wees om onsself in die posisie van regter en bevelhebber te plaas nie. In Jud. 9 hoor ons:
Nie eens die aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou straf.”
Migael matig homself nie as regter of bevelhebber aan nie, maar erken dat die alleenheerskappy en gesag aan God alleen behoort.

Die plek om te begin is by myself. Dit gaan nie hier alleen oor sedeloosheid nie, maar oor alle gedrag wat die Christen sy identiteit laat verloor en hom/haar soos die wêreld laat lyk. Daar waar die praktyke van die sondige natuur soos bv. onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge ook my lewe teenwoordig is, moet ek teen stry.

Hoe moet ons stry vir ware geloof?
Die manier hoe om hierteen te stry is om die suiwer geloof te bewaar. In Jud. 20-23 hoor ons dan ook presies hoe om dit prakties te doen:
Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee.
Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.

Jou reaksie op vals leraars moet dus veral wees dat jy jou des te meer beywer om ’n intieme persoonlike en lewende verhouding met die Here te hê.  Dit is die beste manier om die invloed van vals leraars te neutraliseer. Jy bou jou eie geloof deur ʼn lewe van gebed, ʼn lewe van liefde en ʼn lewe van verwagting.

Jy lewe ʼn lewe van gebed deur ʼn biddende Christen te wees wat in alles in afhanklikheid van God wil lewe. Die troos is wanneer jy deur die krag van die Heilige Gees bid is dat jy kan weet dat al is jou gebed ook krom en skeef, die Heilige Gees sal sorg dat jou diepste behoeftes perfek by God gehoor sal word. Jy kan van twee dinge seker wees. God hoor jou (deur die Heilige Gees) en God verhoor jou (deur Jesus Christus)!

Jy lewe ʼn lewe van liefde wanneer jy self eers goed verstaan wat die Bybelse liefde is waarvan Judas hier praat soos ons ook in 1 Joh. 4 v 10 hoor:
Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.
Ware liefde is selfopofferend. Verdiep jou daarin dat jy God se liefde onverdiend uit genade ontvang en tree dan onselfsugtig, dienend en opofferend op teenoor jou naaste.

Jy lewe ʼn lewe van verwagting wanneer jy met opgewondenheid die ewige lewe wat God vir jou gegee het, omhels met die wete dat jy nou reeds die teenwoordigheid van God in jou lewe kan ervaar en dat jy daarom ook met opgewondenheid uitsien na die terugkeer van Jesus. Moedig jouself aan om getrou en gelowig aan die werk in die koninkryk van die hemel te bly.

Jy moet egter nie net na binne gefokus wees nie. Jy moet ook uitreik na ander. Dit is egter belangrik dat jou eie verhouding met God reg is sodat jy na ander kan uitreik. Jy reik uit na ander deur jou oor hulle te ontferm, nie te swyg oor dit wat verkeerd is nie en ook om versigtig te wees.

Jy ontferm jou oor ander deur om te gee omdat jy besef hoe God Hom oor jou ontferm het en dat Hy jou ook as instrument gebruik om Hom oor ander te ontferm. Help mense wat twyfel deur hulle met woord en daad te wys dat ʼn lewe wat volledig op God vertrou moontlik is en dat dit tot vrede en blydskap lei.

Verder moet jy ook nie swyg oor dit wat verkeerd is nie. Dit is soms nodig om ernstig met ander oor hul sonde te praat. Dit sal egter eers vrugte afwerp nadat jy jou opreg oor hulle ontferm het en vir hulle gewys het dat jy regtig omgee. Verder is dit ook belangrik dat jy nie as regter optree wanneer jy dit doen nie.

Jy moet egter ook versigtig wees deur te onthou dat sonde ʼn aansteeklike siekte is. Paulus waarsku ons dan ook in 1 Kor.10v12:
Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
Bly daarom altyd bewus van die feit dat dit nie jy is wat mense tot bekering bring nie, maar dat dit die Heilige Gees is wat dit doen. God gebruik jou bloot as boodskapper en instrument. Moet dus nie nalaat om die evangelie te verkondig wanneer jy mense tot bekering roep nie.

Judas se brief eindig soos dit begin met ’n positiewe versekering.  God se krag stel gelowiges in staat om teen vals leraars weerstand te bied. Daar is baie vals leraars en hulle is beslis gevaarlik, maar solank as wat jy op God vertrou en dit met jou lewe bevestig, sal vals leraars jou nie van stryk bring nie.

Maak erns daarmee om jou geloof nie net te bely nie, maar ook om dit uit te leef. Maak dit jou biddende voorneme, in die vaste verwagting dat jy sal beërf wat God in Christus beloof het:  die ewige lewe, terwyl jy as onbevlekte nie net die heerlikheid van Christus aanskou nie, maar ook daarin deel.

Stry vir die ware geloof

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking