30 September 2018

Is daar hoop midde in lyding?

Job Preek 4

30 Sep. 2018 

Job 38:1-12; 39:34-38 & 42:1-6


Teksverse: Job 38:4; 42:5


Ons is vandag by ons vierde preek uit Job oor moeilike lewensvrae waarop daar nie altyd maklike antwoorde is nie. In die eerste preek het ons gehoor dat jy nie ʼn mooiweersgelowige moet wees nie. Dien God vir wie Hy is en nie vir dit wat jy van Hom ontvang nie.

In die tweede preek het ons gehoor dat ons nie altyd weet hoekom daar slegte dinge oor ons pad kom nie. Wat ons wel weet is dat God daar is en dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie.

In die derde preek het ons stilgestaan by wat die Here van ons verwag wanneer ons ly. God verwag dat ons Hom sal vertrou. Dat ons dankbaar moet wees in tye van voorspoed en geduldig in tye van teëspoed.

In die vierde preek staan ons stil by die vraag: 
“Is daar hoop midde in lyding?” 

Hoop is die een ding wat jou staande hou wanneer lyding oor jou pad kom. Hoop maak dit moontlik om die lewe in die oë te kyk en die pad enduit te stap. Job wys vir ons dat ongeag jou omstandighede daar altyd hoop is wanneer jy die pad saam met God stap.

Job is nie ʼn maklike boek om te lees nie. Hebreeuse poësie is nie maklik nie, veral nie as dit in ʼn verhaal gebruik word nie. Na die inleiding waar ons hoor van die rampe wat Job getref het, vind daar ʼn uitputtende tweegesprek tussen Job en sy vriende plaas wat vir 35 hoofstukke aanhou.

Dis ʼn gesprek wat al in die ronde gaan sonder dat daar enige antwoorde kom oor Job se rampe. Wat dit vir ons sê is dat die menslike deelnemers absoluut geen antwoorde het vir Job se probleem nie, maak nie saak hoe lank hulle daaroor praat nie.

Dit is eers wanneer God tot die gesprek toetree dat daar antwoorde kom, maar tog is dit nie die antwoorde wat ons verwag nie. Op die oog af klink dit of die vrae wat God aan Job oor sy skepping vra nie eintlik vir Job nuwe inligting gee nie.

Die gesprek bevestig wel God se onbeperkte mag en wysheid, maar dit is nie iets wat Job alreeds geweet het nie. Dieperliggend spreek God Job se twyfel dat God nie regverdig is nie aan. In Job 38:4-7 hoor ons:
Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?
Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet?
Weet jy dit? Wie het ’n maatlyn oor hom gespan?
Waarop is sy voetstukke neergesit?
Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre
saamgesing het en al die hemelinge gejubel het?

Hier beskryf die Here die vestiging van die aarde op so ʼn manier wat Job se aanklag teëspreek dat die wêreld in chaos ontaard en dat die bose die oorhand gekry het.

Job is so vasgevang in sy pyn dat hy net die negatiewe raaksien. Is dit nie maar ook dikwels met ons die geval nie? Ons raak so oorweldig deur ons omstandighede dat alles net verkeerd en lelik is. Ons raak so vasgevang in die negatiewe dat ons naderhand glad nie meer raaksien wat goed en mooi is nie.

Die beskrywing van die see in Job 38:8-11 is besonders treffend.
Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het?
Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak.
Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit.
Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie;
hier is die grens van jou magtige golwe.’
Die see is simbolies van chaos en boosheid. God is beheer van die see en Hy stel die perke. God het die boosheid oorwin.

Deur sy lyding het Jesus die mag van die boosheid gebreek. Hierin lê die groter hoop. Wanneer Jesus weer kom op die wolke gaan Hy die boosheid en lyding wat daarmee gepaard gaan finaal verban. In ʼn sekere sin deel ons met ons lyding in Jesus se lyding en daarom deel ons ook in sy oorwinning oor die boosheid.

Ons is nie maar net aan die noodlot uitgelewer is nie. Ons is nie op ʼn vliegtuig sonder ʼn loods nie. God is in beheer. Hy word nie onkant gevang nie. Dit is ʼn hoop waaraan ons vashou.

Die sekerheid dat God alles kan doen en dat sy raadsplan nie gekeer kan word nie is die hoop en troos wat ons nodig het midde in lyding. God laat nie maar alleen net lyding toe nie. Hy beheer dit. Hy laat nie toe dat lyding sy bose doelwitte bereik nie. Hy buig dit om sodat alles ten goede meewerk. God wat weet hoe om boosheid te gebruik om op die uiteinde sy doelwitte van goedheid te bereik, sal ook die donkerste lyding in my lewe gebruik om alles vir my ten goede te laat meewerk.

in Job 42:5 hoor ons:
Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê,
maar nou het ek U self gesien,
Job bely dat hy God op ʼn heel nuwe wyse leer ken het. Hy het in die verlede gedink hy ken God, maar toe besef hy dat hy net van God geweet het. Nou egter, het hy God persoonlik leer ken. Job bevestig dat sy verhouding met God heeltemal anders is as enige ander verhouding wat hy met mense het. Sy verhouding met God is kosbaarder as enigiets anders in sy lewe.

God gebruik lyding om jou nader aan Hom te bring. Wanneer jy ly en nie antwoorde kry oor hoekom nie, maar nogtans vashou aan jou verhouding sal jy ook God op ʼn heel nuwe manier leer ken.

Die hoop midde in lyding is dat God ʼn werklikheid word in jou lewe. Deur jou geloof in Jesus Christus leer jy om God te vertrou, selfs wanneer die lewe om jou deurmekaar is en jy nie verstaan hoekom nie. God word ʼn konkrete werklikheid en ʼn anker wat sin aan jou lewe gee.

Ons kry dikwels nie antwoorde op ons hoekom vrae nie. Job moes in die kookpot beland om getoets te word of hy opreg lewe ter wille van God. Hy moes leer om opnuut weer te sê: “Laat U wil met my geskied.”

Glo dat jou lewe in die hand van God is en berus daarin. Laat jou gebed ook wees “Laat U wil met my geskied.” Jou lewe word nie deur die noodlot bepaal nie, maar deur jou persoonlike verhouding met God.

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking