09 September 2018

Dien God en wees lief vir Hom omdat Hy God is

Job preek 1


9 Sep. 2018 GKE HKE
Skriflesing Job 1
Teksvers Job 1:9
Kyk na ʼn oorsig oor die boek Job by https://youtu.be/xQwnH8th_fs

Sing:
Toetredelied:                                      Lied 158 v 1 Bring my na u woning, Here.
Lofsang                                                 Ps. 46-1 v 1           
Verootmoediging                                Ps. 119-2 v 1 & 11
Geloofsbelydenis                                Sb. 12-3 v 1 & 2 / Lied 265 v 1 & 2 Enigste Here, enkele Wese.
Antwoord op prediking                     Ps. 42-1 v 1 / Lied 163 Soos ʼn wildsbok

Job is moontlik een van die Ou Testament se moeilikste boeke om te verstaan. Tog bied dit sinvolle antwoorde op lewensvrae wat moeilik is om te beantwoord.

Oor die volgende paar weke gaan ons op ʼn reis om saam met Job om antwoorde op lewensvrae te kry waarop daar nie altyd maklik antwoorde is nie.

Hierdie week staan ons stil by die vraag: Hoe help lyding jou om te verstaan hoekom jy God moet dien en vir Hom moet lief wees?

Mooiweersvriende. Almal weet wat ʼn mooiweersvriend is. Iemand wat net in voorspoed jou vriend is, op wie jy nie in teenspoed of by ongeleentheid kan reken nie.

Die satan beskuldig Job dat hy net ʼn mooiweersgelowige is. Wanneer God Job se vroomheid en opregtheid voorhou antwoord die satan Hom: Job 1:9 tot 11
9Toe antwoord die Satan die Here: “Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie! 10U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan. 11Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.”

Die satan se aanklag is, Job is maar slegs ʼn mooiweersgelowige. Hy dien God slegs omdat die Here hom seën. As die omgekeerde gebeur sal Job totaal anders reageer en sal hy sy rug op die Here draai.

Om hierdie gesprek reg te verstaan moet ons net eers bietjie stilstaan by agtergrond van die boek Job. Die boek Job is een van die wysheidsliteratuur boeke in die Bybel soos Spreuke ook is. Die doel van wysheidsliteratuur is om sekere groot lewensvraagstukke aan te spreek. Die vraagstuk wat in ons teks na vore kom is of jy sal aanhou om in ʼn verhouding met God te leef as die enigste voordeel wat jy uit die verhouding kry, God self is?

Dit gaan nie hier daaroor of God hier saam met die duiwel besig is met ʼn dobbelspel om die lotgeval van mense te bepaal nie. Die woord satan beteken letterlik “aanklaer.” In Hebreeus is die lidwoord die deel van die woord satan en in daardie konteks gee dit die betekenis van ʼn titel eerder as ʼn eienaam. Hiermee saam is die satan dan ook ʼn moeilikheidmaker. Hierdie gesprek tussen God en die satan bring die vraagstuk na vore. “Wat is jou motivering waarom jy God dien?”

Die aanklaer impliseer dat Job nie getrou en gehoorsaam is ter wille van God self nie, maar slegs omdat hy allerlei byvoordele uit die verhouding kry. Neem daardie byvoordele weg en Job sal God vervloek. Met ander woorde Job sal God verwerp omdat hy sal reken dat God vir hom waardeloos is. Neem net al die gunste en gawes weg en Job sal sy verhouding met God verbreek omdat hy dan sal reken dat God nie meer sy liefde en vertroue werd is nie.

Die valse evangelie van die voorspoedteologie moedig jou aan om ʼn mooiweersgelowige te wees. Jy moet net glo en dan sal God jou “seën” met rykdom, goeie gesondheid en dit sal baie voorspoedig met jou gaan. In ons teks word die valsheid van hierdie evangelie ontbloot.

Hierdie vraagstuk wat in Job na vore kom is nie maar net ʼn teoretiese akademiese vraagstuk nie. Dit is iets wat elkeen van ons ten diepste raak. Gaan jy God nog steeds dien as Hy alles van jou af wegvat. Jou besittings, jou gesondheid, jou kinders? As jy kaal gestroop word, gaan jy jou rug op God draai of nie?

Alles wat ons het is God se genade. Niks wat jy het, het jy gekry omdat jy dit verdien het deurdat jy ʼn goeie en vroom mens is nie. Jou gesondheid, jou verstand, jou talente en vermoëns, al jou besittings het jy enkel alleen op grond van God se genade. In Job leer ons die ongemaklike waarheid dat dit nie altyd goed gaan in jou lewe nie. Soms neem God tydelik sy materiële seëninge van jou weg en plaas Hy jou in ʼn posisie waar dit op die oog af lyk of Hy eerder jou vyand is.

Job het nooit insig gehad oor wat daar in die troonkamer van God gebeur het nie. Net so weet ons ook nie wat die rede is hoekom God sekere dinge in sy ewige raadsplan toelaat in ons lewens nie. Dit mag dalk voorkom asof God van jou vergeet het. Dat Hy nie omgee wat met jou gebeur nie.

Om sin te maak hiervan moet ons onthou wat die werklike perspektief van lyding is. In Job 1:1 hoor ons dat Job vroom en opreg was en dat hy God gedien het en die kwaad vermy het. Voorwaar ʼn navolgingswaardige voorbeeld. Tog was Job nie perfek nie soos wat ons verder aan in die boek hoor.

Daar was net een mens wat werklik onskuldig was en wat die allerverskriklikste lyding denkbaar deurgaan het. In die persoon van Jesus Christus het God self meer gely as wat Job of enige mens ooit gely het. Jesus het God verlatenheid ervaar sodat ons nooit weer deur God verlaat sou word nie. Hy het alles verloor, sy klere en al sy aardse besittings, selfs sy lewe en ook God se teenwoordigheid.

Jesus was nie die enigste wat gely het nie. In die perfekte verhouding wat daar tussen Vader Seun en Heilige Gees was, was daar nie meer harmonie nie. Die Vader en die Heilige Gees het saam met Christus gely. God het die ergste lyding wat daar denkbaar is verduur sodat Hy daardeur die gebroke verhouding tussen God en mens kon herstel.

Deur sy lyding het God Homself aan die mens terug gegee. Die doel van die evangelie is om die verhouding tussen God en mens te herstel, nie om allerhande beloftes van voorspoed en rykdom te verkry nie. Job het alles verloor, behalwe sy lewe omdat God die satan verbied het om Job se lewe te neem. Ten spyte daarvan dat Job alles verloor het, het hy een ding nie verloor nie, nl. God self. Job het niks anders as sy lewe en God gehad nie, maar nog steeds het God nie verwerp nie soos ons hoor in Job 1 v 20 tot 22:
20Toe het Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê en gesê:
21“Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit.
Die Here het gegee en die Here het geneem.
Prys die Naam van die Here.”
22Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.

Die troos wat ons het is dat al verloor ons alles in die lewe, selfs die lewe self, dan het ons nog steeds vir God. Elkeen wat in Jesus Christus glo kan absoluut vashou aan die troos van Rom. 8:38 & 39
38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Die teendeel is egter ook waar. As jy nie in Jesus Christus glo nie, gaan jy alles verloor, want as jy nie vir God het nie, dan het jy niks.

Geliefdes, Christus het aan die kruis gesterf sodat God deel van jou lewe kan wees. Moenie God verruil vir wêreldse dinge nie. Moenie val vir die leuens van die voorspoed teologie nie. Die feit dat ʼn boek in ʼn Christelike boekwinkel verkoop word, beteken nie dat dit noodwendig die waarheid bevat nie. As daar ʼn prediker of boodskap in ʼn boek is wat jou beloof dat dit net goed met jou sal gaan en dat jy ryk en voorspoedig sal wees omdat jy glo of dit van God opeis, weet dit is ʼn leuen.

Moenie ʼn mooiweersgelowige wees nie. Dien God en wees lief vir Hom omdat Hy God is.
Amen.




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking