23 September 2018

Wat verwag die Here van ons wanneer ons ly?


23 Sep. 2018 GKE (preek 3)
Skriflesing Job 19
Teksvers Job 19 v 25 tot 27
Kyk na ʼn oorsig oor die boek Job by https://youtu.be/xQwnH8th_fs




Ons is steeds besig met ʼn preekreeks uit Job oor moeilike lewensvrae waarop daar nie altyd maklike antwoorde is nie. In die eerste preek oor Job het ons gehoor dat jy nie ʼn mooiweersgelowige moet wees nie. Dien God vir wie Hy is en nie vir dit wat jy van Hom ontvang nie.

In die tweede preek het ons gehoor dat ons nie altyd weet hoekom daar slegte dinge oor ons pad kom nie. Wat ons wel weet is dat God daar is en dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie.

Vandag staan ons stil by die vraag: “Wat verwag die Here van ons wanneer ons ly?” In Job gee die Here vir ons ʼn antwoord wat verbasend eenvoudig is. In Job 1:11 hoor ons hoe die satan, die aanklaer voorspel het dat Job God sal vervloek as hy alles verloor. Met ander woorde Job sal sy verhouding met God verbreek en sy rug op God draai omdat hy God nie waardig genoeg sal ag om ʼn verhouding met God te hê nie.

Job doen egter net mooi die teenoorgestelde soos ons in Job 1:21 hoor:
“Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.”
Die Here het niks anders van Job verwag nie. Nêrens hoor ons dat God Job vir enige sonde vermaan nie. Al wat God van Job verwag het was dat hy God moes vertrou.

Wat verwag die Here van ons wanneer ons ly? Heel eenvoudig. Hou vas aan jou verhouding met Hom. Moenie opgee nie. Dit beteken egter nie dat die pyn van lyding vir God onbelangrik is nie. Dit beteken nie dat jy maar ewe gedwee net moet stilbly nie.

In Job 9:22 tot 24 hoor ons hoe Job sy diepste smart teenoor God uiter:
Eintlik is dit om ’t ewe, daarom dink ek: of ’n mens skuldig is of onskuldig, God vernietig jou tog. As ’n vloedramp skielik die dood bring, lag God oor die wanhoop van die onskuldiges. Hy gee die wêreld oor in die mag van die goddelose, en Hy maak die regters partydig. As dit nie Hy is wat dit doen nie, wie dan?

As mens so na hierdie aanklag luister sou mens verwag dat Job sy rug op God sou draai. Dat hy God sou vervloek. Maar verbasend genoeg, doen Job dit nie. Ten spyte van alles hou Job steeds aan God vas. Daar is steeds by hom hoop dat God sy saak sal opklaar.

Wat nog meer verbasend is, is hoe geduldig God met Job is. Alhoewel Hy vir Job sê dat Job homself moet voorberei soos ons hoor in Job 38:3, is dit duidelik dat God maar net hiermee vir Job sê dat Job nie weet waarvan hy praat nie. In sy gesprek met Job lei die Here vir Job om in te sien dat hy nie verstaan nie. In die lig van Job se aanklag teen God sien ons hier hoe groot God se genade is.

God sien in Job se hart dat hy in sy pyn en smart uitroep om te verstaan waarmee God besig is. Hierin sien ons hoe diep Job se verhouding met God is, dat selfs wanneer hy op die ashoop sit, hy God genoeg vertrou om sy hart teenoor God uit te stort.

Wat uitstaan is Job se vertroue. Job 13:15 & 16 hoor ons dat hy sy saak teenoor God mag stel. Dat God sal luister.
Al sou God my doodmaak, ek kan nie wag nie, ek moet my saak vir Hom stel. Dit kan selfs my redding wees, want geen godlose durf voor Hom kom nie.
Omdat Job nie sy rug op God gedraai het nie, weet hy dat hy nie ʼn godlose is nie en dat hy daarom met vrymoedigheid tot God kan nader.

In Job 19 v 25 tot 27 hoor ons dat Job ten spyte van sy omstandighede steeds hoop het.
Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer! Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien. Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie. Ek smag daarna met my hele lewe.
ʼn Losser was destyds min of meer soos ʼn voog vandag is. Wanneer iemand in armoede verval het, was daar ʼn verpligting op sy naasbestaande om hom los te koop uit sy omstandighede.

Job sien God as die een wat naaste aan hom is en hy het volle vertroue dat God hom sal loskoop uit sy benarde omstandighede. Job se vervalle en verrotte liggaam stoot sy vrou en broers af, lok selfs die spot van kindertjies uit en stoot sy getrouste vriende af. Daar is niemand na wie hy kan draai nie, maar hy het steeds hoop en daarom draai hy na God toe.

God het hom nie in die steek gelaat nie. In Jesus het God as ons Losser ons losgekoop van die elende waarin sonde ons gedompel het. Wanneer Job na God as sy Losser verwys, is dit ʼn profetiese heenwysing na Jesus Christus. Jesus is ons Losser, want Hy het ons met sy bloed vrygekoop. Deur Jesus kan ons ook met vrymoedigheid tot God nader.

Hou vas aan ons belydenis: Jesus is my enigste troos in lewe en in sterwe omdat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.

Deur Jesus kan ons net soos Job sê: “ek weet dat God my Losser is.” Hier is egter ʼn belangrike beginsel ter sprake. Job het naby aan God geleef toe dit goed met hom gegaan het en daarom het hy die vrymoedigheid gehad om sy pyn en smart na God toe te bring. Sy verhouding met God voor sy rampe was sy anker. Op grond van sy verhouding met God het hy sy hoop op God gestel.

Moenie wag dat die lewe jou omdop voordat jy na God toe draai nie. Bou jou verhouding met God in goeie tye deur dit te anker met jou geloof in die evangelie van Jesus Christus. Dit is jou verhouding met God wat jou anker is wanneer jy deur donker dieptes gaan.

Moenie eers wag tot jy binne in die donker dieptes vasgevang is voordat jy ʼn verhouding met God bou nie. Maar selfs as jy dit nie gedoen het nie is God se genade so groot dat jy steeds jou hoop op God kan stel. Dit is net makliker en minder pynlik as jy dit voortydig doen.

Wat verwag die Here van ons wanneer ons ly? Wanneer jy deur die donker dieptes van lyding gaan kom na God toe. Jy mag jou hart teenoor Hom uitstort. Nie noodwendig so beskuldigend soos Job nie. Job se beskuldigings het ook vir hom pyn veroorsaak soos ons hoor in Job 42:6
en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as.”

Wanneer jy in pyn is waarvoor daar nie ʼn verklaring is oor hoekom gebeur nie, stel jou vertroue in God as jou Losser. Stort jou hart teenoor God as jou Vader uit. Glo in Jesus Christus. Bring jou pyn en smart na God toe en moenie jou rug op Hom draai nie en Hy sal jou dra deur die donker dieptes van lyding wat oor jou pad kom.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking