16 September 2018

Hoekom is daar lyding in die wêreld?

16 September 2018

Job preek 2



Skriflesing Job 2 & 10:1 - 3
Teksvers Job 10:2b
Kyk na ʼn oorsig oor die boek Job by https://youtu.be/xQwnH8th_fs

Sing:
Toetredelied:                                      Ps. 33-1 v 11.
Lofsang                                                 Ps. 48-1 v 1           
Verootmoediging                                Ps. 119-2 v 7 & 10
Geloofsbelydenis                                Ps. 130-1 v 1 & 4
Antwoord op prediking                     Sb. 14-2  / Lied 516 Al sou dan ook die vyeboom nie bot nie.

Ons is op reis saam met Job om antwoorde op lewensvrae te kry waarop daar nie altyd maklik antwoorde is nie. Verlede week het ons stilgestaan by die vraag: “Hoe help lyding jou om te verstaan hoekom jy God moet dien en vir Hom moet lief wees?” Ons moet God alleen dien vir wie Hy is en nie vir dit wat ons van Hom ontvang nie. Moenie ʼn mooiweersgelowige wees nie.

Hierdie week staan ons stil by die vraag: 
Hoekom is daar lyding in die wêreld?” 

Dit is inderdaad ook die brandende vraag wat Job het soos ons hoor in Job 10:2b :
   maak aan my bekend waarom voer U hierdie stryd teen my.
Job wil weet HOEKOM Here?

En dit is ook dikwels die vraag wat ons vra wanneer ons ly. Hoekom het hierdie siekte my nou getref? Hoekom is daar soveel rampe in my lewe? Hoekom, hoekom, hoekom?

ʼn Antwoord wat dikwels op hierdie vraag voorgehou word, is dat slegte dade altyd gestraf word en goeie dade beloon word, met ander woorde daar is altyd vergelding vir jou dade. Jy moes iets verkeerds gedoen het en daarom het hierdie ramp jou getref.

Dis ʼn maklike manier om sin van die lewe te probeer maak en dit is inderdaad ook hoe Job se vriende die rampe in Job se lewe probeer verklaar het. Volgens hulle moes Job een of ander sonde gedoen het.

Dit is nie heeltemal ʼn ongeldige verklaring nie. Bv. Dawid se sonde met Batseba en hoe hy in pyn homself bekeer daaroor soos ons in Ps. 51 hoor. Soms bring jy baie elende oor jouself. Dink maar aan die persoon wat drank of dwelms misbruik. As jy onverskillig ry en jy kom in ʼn ongeluk, dan is dit redelik duidelik hoekom jy soveel skade moet ly. As daar enige sonde in jou lewe is wat swaarkry in jou lewe tot gevolg het, moet jy jouself van daardie sonde bekeer.

Dit is egter nie die rede vir Job se lyding nie. Dit is duidelik dat sonde by Job nie die oorsaak is van sy lyding was nie soos die Here in Job 2:3 bevestig:
Die Here vra toe vir Satan: “En my dienaar Job, het jy hom nou gesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad. Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.”

In Job leer ons dat die lewe baie meer kompleks is en dat elende en swaarkry in die lewe nie altyd ʼn direkte gevolg is van iets wat jy verkeerd gedoen het nie. Net so min as wat jy altyd die goeie verdien, net so gebeur daar soms ook sonder oorsaak rampe in jou lewe.

Job wou weet hoekom die rampe in sy lewe Hom getref het en ons wil dikwels ook weet “hoekom?” Daar is egter nie altyd ʼn antwoord op die vraag “hoekom” nie. Job vra hoekom, maar die Here gee nooit vir hom ʼn antwoord oor hoekom nie.

In die breë weet ons dat lyding ʼn oorsaak is van die sondeval. Dit beteken egter nie dat daar altyd ʼn een tot een oorsaak en gevolg afleiding gemaak kan word van ʼn spesifieke slegte gebeurtenis in jou lewe nie. Die lewe is baie meer ingewikkeld as dit.

Dit is inderdaad ook God se genade dat daar nie altyd ʼn een tot een oorsaak en gevolg verhouding is ten opsigte van dit wat ons in die lewe doen. Dink maar net as God elke verkeerde ding wat ons doen na meriete gestraf het. Die lewe sou onmoontlik gewees het. Deur God se genade in die evangelie van Jesus Christus is daar vergewing vir ons sondes.

Wat ons wel in Job leer is hoe jy ook deur lyding nader aan God beweeg. Deur ons verlies en verontwaardiging deur lyding gee God Homself aan ons op ʼn manier wat andersins nie moontlik is nie. Deur lyding kom daar ʼn dieper belewing van God wat mens op geen ander manier kan verkry nie.

Ons vra hoekom moet ons ly? In Job leer ons dat “hoekom” ʼn verkeerde vraag is. Waarom is dit ʼn verkeerde vraag? Job se talle hoekom vrae gerig aan God, bevraagteken God se regverdigheid. Bestuur God die wêreld regverdig? Hoekom laat Hy oënskynlik die goddeloses gedy, terwyl regverdiges moet ly?

In Ps. 73 hoor hoe Asaf ook met dieselfde vrae worstel:
In Ps. 73:13 & 14 hoor ons
13Dat ek die kwaad vermy het
en met ’n eed my onskuld verklaar het,
het dus niks gehelp nie,
14want elke nuwe dag
het vir my teenslae gebring
en elke nuwe môre straf.

In Ps. 73:16 hoor ons waar Asaf antwoorde gekry het:
Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan
en was dit vir my bitter moeilik
totdat ek in die heiligdom van God ingegaan het

In Job se gesprekke met sy vriende en sy vrae aan die Here hoor ons dat dit vir hom ook bitter moeilik was. Job eis antwoorde van God en dan antwoord God hom deur aan hom insig te gee oor die wonder van sy skepping. In Job 38-41 verduidelik God vir Job hoe kompleks die heelal is en dan gaan Hy verder deur die kompleksiteit van die lewende wesens wat Hy geskep het aan Job te verduidelik.

As te ware lei God vir Job in sy heiligdom in en Hy maak dit duidelik dat Job nie in ʼn posisie is om God te beskuldig nie. Job vra waarom is daar lyding? God se antwoord: “Ons leef in ʼn baie komplekse wonderlike wêreld wat nie ontwerp is om lyding te keer nie.”

Daar is nie maklike antwoorde op moeilike vrae nie. Dit is eers wanneer ons in die heiligdom van God ingaan en deur die bril van die evangelie kyk, dat ons leer om God te vertrou in dit wat ons nie verstaan nie. Deur lyding van Jesus Christus bring God versoening tussen die mens wat God in rebelsheid verwerp het en Homself.

Soms gebeur daar goed in jou lewe wat nie jou skuld is nie. Soms gebeur slegte dinge sonder dat jy enigiets gedoen het om dit te verdien. Wanneer dit gebeur wil ons net soos Job weet hoekom laat God dit toe? Hoekom moet dit nou juis met my gebeur? Wat het ek dan verkeerd gedoen?

Op al hierdie vrae antwoord God: “vertrou My. Vertrou dat Ek in beheer is, al lyk dit nie vir jou so nie. Vertrou my dat Ek jou nooit alleen sal laat nie. Vertrou dat Ek jou sal dra wanneer die lewe te swaar raak vir jou.”

As daar vyandskap tussen jou en God is, sal jy Hom nooit kan vertrou nie. Die evangelie is die enigste manier om met God versoen te word. Glo dat Jesus Christus jou Verlosser en Saligmaker is. Glo dat Jesus vir jou sondes aan ʼn vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy met sy opstanding vir jou ʼn nuwe lewe gee.

Elkeen wat in Jesus Christus glo kan saam met Dawid sê:
Selfs al gaan ek deur donker dieptes,
sal ek nie bang wees nie, want U is by my.
In u hande is ek veilig.

Ons weet nie altyd hoekom daar slegte dinge oor ons pad kom nie. Wat ons wel weet is dat God daar is en dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie. Vertrou in God. Vertrou dat Hy jou sal dra deur die donker dieptes van lyding wat oor jou pad kom.
Amen





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking